Psalm 119:121-128 – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid
Psalm 119:121-128 – Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid
ע AJIN 121Ek doen wat billik en reg is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie. 122Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie. 123My oë smag na u verlossing, na u belofte van geregtigheid. 124Handel met u dienskneg volgens u troue liefde, en leer my u voorskrifte. 125Ek is u dienskneg; gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken. 126Dit is tyd vir die Here om op te tree – hulle maak u wet kragteloos. 127Daarom het ek u bevele lief, ja, meer as goud, as suiwer goud. 128Daarom volg ek alle opdragte oor alles; elke pad van bedrog haat ek.
Die kumulatiewe gewig van die getuienis van Psalm 119 dat God se openbaring saak maak, begin in hierdie sestiende deel van die Psalm my bewussyn só diepsinnig binnedring dat dit vir my voel asof die Psalmis se ervarings en gebede my eie raak.
- Aan die een kant oorrompel die geheelboodskap van die Psalm my dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here. “Hoe strelend is u woorde teen my verhemelte, selfs strelender as heuning vir my mond … U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my lewenspad.” (Ps 119:103,105).
- Aan die ander kant is ek net so intens bewus van die pyn en verguising wat saamgaan daarmee om die openbaring van die Here onwrikbaar en sorgvuldig na te kom (119:128). En bid ek ook die gebed van die Psalmis: “Ek doen wat reg en billik is; moet my nie aan my verdrukkers oorlaat nie.” (Ps 119:121).
En kan ek vandag elkeen van hierdie verse van harte bid: “Waarborg die goeie vir u dienskneg; vermeteles moet my nie verdruk nie.” (Ps 119:122). As dit dan só is dat dit goed gaan met dié wat wandel volgens die woord van die Here, soos die Psalm sê, waarborg dit dan vir my; sorg dat dit vir my in vervulling laat gaan; sorg dat die goeie my nie verbygaan nie …
- “My oë smag na u verlossing, na u belofte van geregtigheid.” (Ps 119:123).
- “Handel met u dienskneg volgens u troue liefde.” (Ps 119:124a).
Die oplossing vir die pyn van dissipelskap lê egter nie in die vermyding van die pyn van gehoorsaamheid nie, maar in die omhelsing daarvan, om IN die pyn te leer wat God se voorskrifte is. Want, dit is dié wat ly wat gehoorsaamheid leer ken, wat deur God geleer word, hoe nou verder. Dit is die punt van dié Psalm. Ons is God se diensknegte beide in die ervaring van sy troue liefde as in die ervaring van die pyn van gehoorsaamheid. Daarom, steeds die versugting, selfs en veral in die pyn van navolging: “en leer my u voorskrifte …” (119:124b).
Daarom is my behoefte vandag dieselfde as die Psalmis s’n: “gee aan my insig sodat ek u bepalings kan ken.” (119:125). Want, ek leer hier dat kennis nie net met verklaring te make het nie, hoe belangrik dit ook al is. Kennis het met insig te make, en dié insig kom baie keer eers tot jou as jy pyn in jou gehoorsaamheid van God se openbaring ervaar. Insig lê anderkant die pyn van gehoorsaamheid. Daarmee saam bid ek ook dat die Here in sy regverdigheid sal optree, omdat dit net só duidelik is vir my vandag dat mense rondom ons die openbaring (wet) van God kragteloos maak met hulle oortredings daarvan. (119:126). Soos dit in die Psalmis se tyd was, só is dit ook vandag. Daarteenoor moet die Psalmis natuurlik homself aan God se bevele en opdragte oorgee om dit sorgvuldig na te kom, soos dit ook gevra word van elkeen van ons (119:128a). Daarom sê die Psalmis, het hy God se bevele lief: “ja, meer as goud, as suiwer goud.” (119:127). En die omgekeerde is net so waar: “En elke pad van bedrog haat ek.” (119:128b).
Lees meer: https://bybelskool.com/psalm-119121-128-ajin-insig-le-anderkant-die-pyn-van-gehoorsaamheid/
Marinda Hattingh
Wat ñ belydenis; báie dankie!
Chris van Wyk
Voorwaar!