PREKE: 2008 TOT 2018
Hier is ‘n seleksie van 313 van my preke die afgelope dekade wat jy kan lees en selfs ook gebruik as dit van toepassing is in jou eie konteks. Die preke – meesal in die vorm van eredienste met die volle liturgie – strek van 2008 tot 2018 en is in omgekeerde datumvolgorde (nuutste eerste) geplaas. Die laaste een is op 30 Desember 2018 gelewer. Die preke daarna kan jy by ngkerksomerstrand bereik.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Fransina Hashipala
Pastoor ek soek asb ‘n kort verduideleking oor Openbaring 3:20 groot asseblief
Chris van Wyk
Hi Fransina. Jy kan hier lees. Daar sê ek onder andere:
“Die boodskap aan Laodisea – “Wees dan ywerig en bekeer jou” – vers 14-22
Die skerpste oordeel van Jesus word gereserveer vir die boodskapper van die gemeente van Laodisea.
Die boodskap aan Laodisea was dat hulle nóg koud, nóg warm is, maar louwarm. Hulle was trots op hulle materiële voorspoed, maar het daarom nie hulle geestelike armoede raakgesien nie. Daarom raai Jesus hulle aan om eerder ryk in God te word (suiwer goud van Hom te koop), onberispelik te lewe (wit klere om hulle onsedelikheid te bedek) en in geestelike insig (salf vir hulle oë) toe te neem.
Die gebruik van die terme koud, warm en louwarm moes besonder treffend Jesus se boodskap gekommunikeer het, want almal in Laodisea het geweet dat hulle water nie met dié van Kolosse (heerlike koue waterbronne), so tien km oos van hulle, en dié van Hiërapolis (heerlike warm waterbronne), so tien km noord van hulle, vergelyk kon word nie. Hulle water het van die Danisli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom.
Hulle geestelike lewe was dus so louwarm en onsmaaklik soos hulle water! Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef. Só sou hulle deel kon hê aan die koninkryk van God saam met Jesus.”
Fransina Hashipala
Baie baie dankie ek hoop u sal nie moeg raak van my as ek geestelik versterking by u soek nie, nogmaals dankie Gods seeninge.
Fransina Hashipala
Goeie middag Pastoor, voorspoedige nuwe jaar en baie Gods seeninge vir die jaar. Veduidelik asseblief die volgende vrae: Wie is/was Jesus; wie was Sy familie en wat het Hy in die tempel geleer toe sy bloed familie Hom gesoek het? Markus 3:31-35.
Chris van Wyk
Hi Fransina, ek plaas vir jou wat ek by Markus 3:31-35 geskryf het in Prontuit in die Waarheid:
Markus het so pas vir ons vertel dat van Jesus se familie – die teks praat van “dié naby Hom” – gekom het om Hom te probeer keer om verder op te tree. Hulle het gedink Hy raak van sy kop af (Mark 3:20-21). Die skrifkenners weer het gedink Hy het ‘n onrein gees (Mark 3:22-30).
3:31-32 ‘n Deel van dié naby Hom – Jesus se moeder en broers (waarskynlik van sy susters ook, vgl Mark 3:35) – druk deur om Hom te probeer keer om met sy bediening voort te gaan. Hulle kom na die huis waar Hy besig is en laat Hom roep na hulle toe. Hulle wou Hom waarskynlik steeds uit die openbare oog verwyder dat Hy tot sy sinne kan kom. Die skare wat rondom Hom gesit het, het die boodskap van sy familie aan Hom oorgedra.
Volgens Markus 6:3 was Jesus se broers se name: Jakobus, Joses, Judas en Simon. Jesus het ook susters gehad, hoewel hulle name nie genoem word nie. Aangesien sy vader, Josef, nie genoem word nie, word veronderstel dat hy reeds oorlede was.
Jesus se moeder Maria bly egter aan sy sy regdeur die evangelie tot by die kruis en graf (Mark 15:47). Sy bid ook saam met die gemeente vir die uitstorting van die Heilige Gees (Hand 1:18) en neem deel aan die verspreiding van die evangelie daarna tot in Efese, soos die kerkgeskiedenis ons leer. Sy broers kom eers later tot bekering en raak ook deel van die uitbreiding van die evangelie.
3:33-35 Jesus reageer egter baie skerp op dié versoek. Hy vra ‘n retoriese vraag na wie nou eintlik sy moeder en broers is, kyk na dié wat in ‘n kring rondom Hom sit, en verklaar dat hulle sy moeder en broers is. Dit is dié wat die wil van God doen – en let op die enkelvoud – wat sy moeder en broer en suster is. Wie ook al dit waag om te doen wat God wil – individue uit die skares of uit sy bloedfamilie – dit is daardie mens wat waarlik deel is van sy familie.
In die geestelike lewe is die belangrike dus nie om in te pas by die verwagtinge van die samelewing nie, nie eers by dié van die godsdienstige leiers of jou eie familie nie. Dit is net belangrik om in te pas by die verwagtinge van God self. God skep eintlik ‘n nuwe alternatiewe gemeenskap met dié wat bereid is om sy wil te doen, en hulle nie steur aan dié van die samelewing of godsdienstige leiers nie.
Boodskap en betekenis
Let op hoe die mense hier drie sirkels rondom Jesus vorm. Sy bloedfamilie staan buite en probeer Hom keer om aan te gaan met sy bediening. Die skares sit rondom Hom, maar – soos ons nog sal agterkom – raak nooit werklik volgelinge van Jesus nie. Die dissipels sit egter in ‘n kring rondom Jesus, want hulle wil nie net luister na wat Jesus sê nie, maar dit leef.
Natuurlik is daar ook bewegings tussen dié drie sirkels. Van Jesus se familie kom van buite af en raak deel van die binnekring van sy dissipels. Van die dissipels verlaat die kring rondom Hom en verraai Hom uiteindelik, soos ons dit later van Judas sal lees.
Maar, dit is net diegene wat in ‘n kring rondom Jesus bly sit, wat doen wat Hy sê, wat deur Jesus sy moeder en broers en susters genoem word. Die boodskap is duidelik. Bly deel van die binnekring van Jesus se dissipels. Luister en Leef!
Die inherente konflik tussen dié wat God se wil doen en dié wat dit nie doen nie
Onthou Jesus se vorige gesprek met die godsdienstige leiers (Mark 3:22-30) waarin Hy helder is oor die feit dat Hy met hierdie werk van Hom besig is om die huis van die sterk man, die duiwel, te beroof. Daar is dus ‘n inherente konflik tussen dié wat die wil van die God doen, en dié wat nie bereid is om dit te doen nie, weens die implikasies wat dit vir hulle inhou in die gemeenskap.
“Jesus identifies his family on the basis of the response to him rather than on natural kinship. The response of his natural family who sought to take him into their custody reflected their rejection of his ministry regardless of their motivation, which in Mark is given as concern for his mental stability. The response of the crowd who sought his presence and gathered around him, doubtless to hear his teaching, reflected their acceptance of him.” (Guelich).
Let ook op hoe Jesus nie noodwendig sê dat dié wat rondom Hom sit sy familie is nie, maar dié wat die wil van sy Vader doen. Daar is immers ook ‘n onderskeid tussen die skares rondom Hom en die dissipelkring.
Die band wat jou deel maak van die nuwe dissipel- en daarom familiekring is die doen van die wil van God.
Dit gaan dus nie om die aanhang van Jesus as persoon nie, maar om die oorgawe aan God om Hom alleen te gehoorsaam. Diegene wat dit van harte doen, is voortaan kinders van God en broers en susters van mekaar.
Ons sien hierdie inherente konflik op ander plekke in die evangelies ook:
• Jesus as 12-jarige wat verbaas is dat sy ma nie weet dat Hy met Sy Vader se dinge besig moet wees nie (Luk 2:49–50).
• Jesus wat die dissipels leer dat die evangelie altyd die potensiaal het om verdeeldheid te bring binne ‘n huisgesin, want Jesus dwing keuses af by mense (Matt 10:34–36; Luk 12:51–53).
• Jesus se antwoord op Petrus se vraag of hulle ‘n beter lot as die ryk jongman kan verwag omdat hulle, anders as die jongman, alles verlaat het ter wille van die evangelie. Jesus leer hulle dat dié wat alles verlaat ter wille van die evangelie in hierdie lewe al reeds ‘n honderd keer meer ontvang, saam met vervolging, en in die bedeling wat kom die ewige lewe (Mark 10:28–30).
Chris van Wyk
Hi Fransina – jy is altyd welkom om te vra.
Fransina Hashipala
Geseende Kerfees en voorspoedige nuwe jaar Pastoor, ek soek asb kort verduideliking oor Joh. 8:49-59
Chris van Wyk
Hi Fransina. Oor Johannes 8:49-59:
Die Jode draai Jesus se woorde om en probeer dit teen Hom gebruik. Hy is kwansuis nou van die duiwel besete! Dit lyk ook asof hulle waarskynlik na sy gesprek met die Samaritaanse vrou verwys, om te wil beweer dat Hy self ’n Samaritaan is, en dus van onsuiwer afkoms en godsdiens.
Die Samaritane was juis in konflik met die Jode oor die stamvader Abraham. Die Samaritane het Abraham ook vir hulleself toegeëien. Iets wat die Jode teen die bors gestuit het.
Die Jode het hulleself as die enigste ware afstammelinge van Abraham beskou (wat die radikaliteit van Paulus se aanspraak in perspektief plaas, as hy in Gal 3:29 sê dat gelowiges nou ook kinders van Abraham is!).
Jesus troef hulle egter met sy verwysing na sy eerlike soeke na die Vader se eer, en maak ’n verdere openbaring van Homself. Voordat Abraham gebore was, was Hy al wat Hy is. ’n Duidelike toespeling op die uitspraak van God self aan Moses in die woestyn: “Ek is wat Ek is” (Eks 3:14).
In die volgende hoofstuk sal Jesus weer ’n blinde man laat sien om sy openbaring van Homself te bevestig: “Ek is die lig vir die wêreld.” Dws God self.
Elize Schoeman
Hallo pastoor.
Kan pastoor asb. vir my ‘n kort verduideliking gee oor wedergeboorte en wat die verskil tussen wedergeboorte en bekering is en hoe toets jy ‘n persoon of hy wedergebore is of nie.
Chris van Wyk
Hi Elize
Wat is die wedergeboorte? Wat is die verskil tussen wedergeboorte en bekering? Hoe toets jy of ‘n persoon wedergebore is of nie?
Wedergeboorte
Die wedergeboorte vind plaas as die Heilige Gees geloof in jou hart werk deur die Woord van God (Joh 3:5-8; Rom 10:8-13; 1 Pet 1:22-25). Die wedergeboorte was jou skoon van jou sonde (Tit 3:4-7; 1 Joh 1:5-10) en gee jou die sekerheid van die ewige lewe (Joh 3:16; 3:36; 1 Joh 5:12). Daardeur weet jy dat jy ‘n kind van God is (Joh 1:12-13; Rom 8:14-17).
Wedergeboorte en bekering
Die wedergeboorte is volledig God se werk, terwyl die bekering beide God se werk en jou gehoorsaamheid behels. Bekering kom deur die prediking – God se werk – wat jou aanspoor om gehoorsaam te word aan God se wil – jou werk (Matt 3:22; 4:17; Mark 6:11; Luk 24:47; Hand 2:38; 3:19; 17:30; 2 Kor 4:16-18; 7:9-10; Fil 2:12-13; Openb 2:5, 16, 21; 3:3, 19).
Vrug van wedergeboorte
Wedergeboorte raak sigbaar deur die vrug wat gelowiges dra (Matt 13:1-9; Joh 15:1-8). Dit behels dat jy doelbewus bekering, gehoorsaamheid en heiligmaking najaag (Gal 5:16-26; Rom 6:19-23; Ef 5:1-21; Fil 1:9-11; Kol 1:3-14; Hebr 12:12-15; Jak 3:13-18).
Haidi
More Pastoor, het jy dalk n lesing oor die bok azazel.
Ek verstaan nie mooi oor die bok wat in die woestyn ingejaag is.
Baie dankie
Haidi Lourens
Chris van Wyk
Hi Haidi. Ek het kortliks daaroor geskryf in Levitikus 16 – Die Groot Versoendag bring versoening met God en reiniging van die sonde. Hier is ‘n bietjie meer:
Levitikus 16 beskryf die versoening en reiniging van die volk aan die hand van drie seremonies. In die eerste seremonie is ‘n bul as sondeoffer en ‘n ram as brandoffer vir die hoëpriester en al die priesters as versoening geslag. In die tweede seremonie is twee bokramme as sondeoffer gebruik – die een is geslag, die ander weggejaag – wat versoening gedoen het vir al die sondes van die Israeliete en ook reiniging gebring het deurdat die sonde simbolies weggejaaag is. In ‘n derde en laaste seremonie is ‘n skaapram as brandoffer gebring wat die versoening voltooi het vir die hele volk in die teenwoordigheid van die Here.
In die tweede seremonie is die twee bokramme as volg hanteer:
1. Die een bokram is geloot om geoffer te word “vir die Here” en die bloed ook agter die voorhangsel ingeneem as teken van versoening.
2. Die ander bokram is geloot “vir Asasel”, maar moes bly lewe en is die woestyn ingejaag as teken van die reiniging en afstanddoening van die sonde: “So sal die bok al hulle sonde met hom saamdra na ‘n onherbergsame streek toe en daar in die woestyn moet hy agtergelaat word.” Die sonde is dus simbolies weggejaag en afgelê.
Die naam Asasel beteken “bok wat weggaan” wat waarskynlik sinspeel op die naam van ‘n vername bose gees, soos dit in die Intertestamentêre literatuur (bv. 1 Henog 8:1; 9:6; 10:4-8; 13:1-3 – lees dit hier) en die Talmoed beskryf word. Asasel was daarvolgens die leier van die “seuns van God” wat in Genesis 6:1-4 gesondig het.
Hierdie handeling met Asasel het die betekenis gedra dat daar van die sonde afstand gedoen is, dat dit teruggegee is aan die bron daarvan en dat die Israeliete daarmee van die bose se invloed gereinig is.
Die uitspraak in Spreuke 28:13 verwys waarskynlik na die geestelike betekenis daarvan: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”
Paulus se uitspraak in 2 Timoteus 2:19 kan ook hiermeer verbind word: “Die Here ken die wat syne is; en: Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid.”
Elaine
Wat beteken die skrif Genesis 3.15
Chris van Wyk
Hi – jy kan meer lees oor die konteks by: https://bybelskool.com/genesis-3-die-mens-kruip-vir-god-weg-weens-die-sonde/
Hier is wat ek oor die teks daar sê:
Episode 6: Die versteuring van verhoudinge in die skepping – 3:14-21
Let op hoe direk God in sy hantering van die ontstellende gebeure is. Ná Hy deeglik in gesprek getree het met die mens, tree Hy beslissend op.
1. Hy vervloek die slang nie net as ‘n slepende stofkruiper onder die diere nie, maar gee ‘n bedekte belofte in die vyandskap wat Hy tussen die slang se nageslag en die vrou se nageslag verklaar: “Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (3:15).
Dit staan volgens sommige bekend as die “moederbelofte” waarin die oorwinning van Christus aan die kruis oor die werk van die Satan voorspel word. In Gereformeerde kringe word die woord moederbelofte gewoonlik vermy onder andere weens ‘n ongemak met ‘n Rooms-Katolieke interpretasie wat dit aan die verhaal van Moeder Maria koppel sowel as ‘n ongemak om die gedeelte in die lig van die NT uit te lê.
Ek dink die ongemak is onnodig, want ‘n mens kan aan die een kant duidelik sien dat hier meer ter sprake is in die teks as maar net dat daar vyandskap tussen die slang en die mensdom is, iets wat in ‘n eerste rondte natuurlik ook deel van die teks se betekenis is. Jesus is na alles uit Maria gebore!
Dit is aan die ander kant ook duidelik dat die teks die onderbou vir die NT interpretasies vorm wat in Genesis 3:15 die begin van ‘n stryd tussen die mens en die Bose skets, wat in Christus sy toppunt bereik het. Daarom kan Paulus in sy Romeinebrief, onder andere op grond van hierdie teks, sê dat die Satan deur die werk van God en die genade van die Here Jesus onder hulle voete verpletter sal word: “Almal het gehoor van julle gehoorsaamheid aan die evangelie. Ek is baie bly oor julle, en ek sou graag wou sien dat julle alles weet van die goeie en niks wil weet van die slegte nie. God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle!” (Rom. 16:19-20). Dit is ook duidelik dat hy die boom van alle kennis ook as deel van sy interpretasie neem. Vergelyk ook Johannes hieroor in Joh. 8:44; 1 Joh. 3:18 en Openb. 12:9.
Ons kan dus gerus die teks Christologies lees. Jesus het immers op ‘n plek gesê dat die hele OT – die wet van Moses, die profete en die psalms – van Hom vertel en in Hom vervul is (Luk. 24:44).
Abe Stoltz
Ds Chris
n Paar jaar gelede het ek n artikel van u gelees oor die (Pasga) bekers van die OT. Jesus het een van die Bekers uitgesonder in die NT-iese Nagmaal en net een beker ingestel. Het u dalk so Artikel hieroor asb.
Gtoete Abe
Chris van Wyk
Hi Abe, ek kan nie nou vinnig my hand daarop lê nie, maar hier is ‘n verduideliking as deel van ‘n liturgie wat op my rekenaar is:
Die liturgie is gebaseer op die Paasmaaltyd wat deur Christen-Jode gevier word. Die belangrikste elemente het waarskynlik ook deel uitgemaak van die laaste maaltyd wat Jesus saam met sy dissipels gehad het die aand voor sy kruisiging.
GOD VERSAMEL ONS VOOR HOM
Aansteek van die kerse (’n groot wit Christuskers en 12 pers kerse)
Lofprysing
Prys die Here, ons God, die ewige Koning!
Hy het sy enigste Seun, Jesus die Messias, gestuur as die Lig vir die wêreld en as ons Paaslam.
Deur Hom mag ons lewe.
Aanvangswoord
Voorganger: Kom laat ons saam tot Jesus nader,
Hy wat gehoorsaam was tot in die dood
Almal: Ja, die dood aan die kruis. Amen.
Sang
Psalm 116:1, 7 en 10 “God het ek lief, want dié getroue Heer” (Totius-beryming)
Stil gebed
Verootmoediging
Voorganger: Genadige God, ons het U nie liefgehad met ons hele hart en met ons hele siel
en met al ons krag en met ons hele verstand nie.
Almal: Here, ontferm U oor ons.
Voorganger: Liefdevolle Here, ons het ons naaste nie liefgehad soos U ons geleer het nie.
Almal: Christus, ontferm U oor ons.
Voorganger: Hemelse Vader, ons het nie in volle oorgawe aan U gelewe nie.
Almal: Here, ontferm U oor ons.
Voorganger: Mag die Here genade aan julle betoon.
Mag Hy julle vergewe in sy troue liefde.
Mag Hy aan julle vrede gee.
Almal: Amen. Aan God die dank.
Sang
Lied 245:1 en 2 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
DIENS VAN DIE WOORD
Skriflesing
Johannes 13:1-17 en 31b-35
Stil gebed
DIENS VAN DIE TAFEL
Instelling van die eerste beker
Prys die Here, ons God, die ewige Koning!
Hy is die Een wat die vrug van die wingerd voortbring.
(Almal drink die wyn of druiwesap.)
Vraag: Waarom is hierdie aand anders as al die ander aande?
Antwoord: Ons was in Egipte die farao se slawe en die Here het ons daar deur sy magtige dade bevry toe Hy voor ons oë tekens en groot wonderdade gedoen het. Op hierdie aand dink ons terug aan daardie nag toe die Here ons gered het uit die mag van Egipte.
Ons was ook slawe van die sonde. Maar God het aan ons genade bewys. Deur die bloed van sy Seun Jesus Christus is ons verlos en is ons oortredinge vergewe. Op hierdie aand dink ons terug aan daardie nag toe die Here Jesus oorgelewer is om vir ons te sterwe.
Instelling van die tweede beker
Die tweede beker wat ons drink, is die beker van danksegging en ons drink dit as ‘n danksegging vir God se verlossingsdade. Neem, drink en dank God vir die verlossing wat Hy vir ons bewerk het.
Prys die Here, die ewige Koning!
Hy het ons trane in gelag verander, ons smart in vreugde.
(Almal drink die wyn of druiwesap)
Instelling van die brood
Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: “Dit is my liggaam, dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.”
Neem, eet, dink daaraan en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot volkome versoening van al ons sondes.
(Almal eet van die brood)
Instelling van die derde beker
Na die maaltyd het die Here Jesus die derde beker geneem en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.”
Prys die Here ons God, die ewige Koning!
Hy is die een wat ons verlos.
Neem, drink, dink daaraan en glo dat die bloed van ons Here Jesus Christus gestort is tot ‘n volkome versoening van al ons sondes.
(Almal drink van die wyn of druiwesap)
Instelling van die vierde beker
Die vierde en laaste beker rig ons oë na vore na die wederkoms van Christus. Mag dié dag spoedig kom.
Prys die Here ons God, die ewige Koning!
Neem, drink en leef vanuit die verwagting dat die Here Jesus spoedig weer sal kom.
(Almal drink van die wyn of druiwesap)
Sang
Lied 453:1-3 “Aan die Vader dank en ere, laat ons saam sy lof besing”
Gebed
Seën
Almal: Volgende jaar in Jerusalem!
UITSENDING
Sang
Lied 390: 1-4 “Ons kniel hier aan u voete neer”
Alle versierings (nagmaalservies, kanselkleed, baniere, ensovoorts) word uit die aanbiddingsruimte verwyder.
Die gemeente verlaat die kerkgebou in stilte.
Chris van Wyk
Hi Abe – hier is die artikel wat jy miskien na verwys: https://bybelskool.com/volgende-jaar-is-jerusalem-liturgie-gebaseer-op-elemente-van-die-joodse-paasmaaltyd/
Jan van zyl
Goeie dag Pastoor,soms voel dit of my gebede nie verhoor word nie,ek is wedergeboorte en is baie lief vir die Here,Ek weet nie waar die blokasie is nie.
Mooi dag.
Chris van Wyk
Hi Jan, vertroue in die beloftes van die Here neem die vrese en blokkasies in ‘n mens se lewe weg. Begin om een Psalm per dag te lees. Soek vir net twee goed daarin. ‘n Belofte van die Here wat jy vir jouself kan toeëien en vra dat die Here dit vir jou waarmaak; ‘n Opdrag wat jy kan uitvoer, soos om jou weg aan die Here oor te laat, óf Hom te loof vir wat Hy vir jou doen, óf soos om Hom te vertrou en op sy uitkomste te wag. Dit is terwyl ons met God besig is dat ons agterkom dat Hy al die tyd besig is met ons. Hy sal jou voete op ‘n vaste rots plaas sodat jy in vreugde en vrede kan lewe.
Wilma Heydenrych
Goeiemore Pastoor. Ek het iets wat my vreeslik pla en dis die verkoop van sterk drank deesdae by ons kerk kermisse/besaars… ek is lid van die NG Kerk…ek is nie daarmee gemaklik nie aangesien ek weet wat alkohol aan mense/families doen… kom uit so huwelik…
Ek weet en verstaan die gebruik van wyn in die OT en NT.
Groete
Wilma
Chris van Wyk
Die Bybel, soos jy weet, het geen probleem met die matige gebruik van drank nie, en verbind dit baie keer met feestelikheid, bv as drankoffer (Num 28:7) en tydens die fees van die tiendes (Det 14:26). Dit was wel verbode vir sommiges onder sommige omstandighede: vir Leviete wat in die tent van samekoms ingaan (Lev 10:9); vir diegene wat die Nasireër-gelofte aflê (Num 6:3; Rigt 13:4–14; Luk 1:15); vir konings en heersers, omdat dit hulle oordeel benewel (Spr 31:4). Wyse mense vermy dus om dronk te word (Spr 20:1), want dit kan verslawing tot gevolg hê (Jes 5:11, 22). Hulle vermy veral partyties waar drank ‘n groot rol speel (Gal 5:21 – dronkenskap en gefuif; Rom 13:13; 1 Pet 4:13), want dit is praktyke wat met die sondige natuur te make het en kan vir jou die koninkryk toesluit (1 Kor 6:10). Die Bybel sê dus nie nee vir drank nie (Jesus het wyn gemaak by ‘n bruilof – Joh 2), maar wel vir enige situasie waar drank ‘n probleem kan wees, veral waar dit ander kan laat struikel (Rom 14:13-23).