Skip to main content

Indeling van die boek Jesaja

Jesaja teken God as die Lewende (Jes 37:4).  Hy is die God van beide die Skepping (Jes 40:28) en die Geskiedenis (Jes 1:1; 43:15).
  • In terme van die Skepping is Hy beide Skepper (Jes 40:28) as Onderhouer (Jes 27:3, 40:26) van alles wat bestaan.
  • En in terme van die Geskiedenis tree Hy op as Regter (Jes 33:22) en Verlosser (Jes 41:14) van almal wat leef, ook die nasies (Regter: Jes 13-23;  Verlosser: 56, 60).

Deel 1: Jesaja 1-39

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4).  Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs (7de eeu v C), en later voltrek deur die ballingskap in Babilon (6de eeu v C).

Juda se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6 ) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8 ) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word.  Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1; 2:1; 6:1; 7:1–25; 14:28; 20:1–6; 22:14–25, and 36:1–39:8.) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

1.       Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk (, wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722 v C gedateer moet word;

2.       Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik in 711 v C;

3.       Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 v C kon afweer.  Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat daarna plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

Deel 2: Jesaja 40-66

In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienaar van die Here (Jes 42, 49, 50, 52‑53) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40).  Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek.  En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56, 60).

Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ‘n oorblyfsel

Ek is baie bewus van hoe belangrik dit is om:

  1. SELF die Woord te lees en die Here stem daarin te hoor … en hoe noodsaaklik dit is om ook
  2. te GROEI in ’n mens se begrip van die Woord.

Jou inskakeling by ’n Bybelskool kan maklik die tweede aspek – die inligting wat jou kan laat groei in begrip – verhef bo die eerste – die vormende element van luister na wat God vir jou wil sê.

Ek herinner jou dus aan een van die metodieke wat ek voorstel: Stop, Kyk, Waardeer, Lees, Leer, Luister, Antwoord.  Dit integreer albei aspekte wat belangrik is.  Jy kan meer daaroor hier lees.

Jesaja 3-4 – God se oordeel laat altyd ’n oorblyfsel

Hoofstuk 3-4 vorm ’n eenheid.  Dit word saamgebind deur die klem op “daardie dag” (3:7, 18; 4:1, 2) en opgebou deur 4 perikope:

1.       Jerusalem en Juda gaan in duie stort – 3:1-12;

2.       die Here begin ’n strafregtelike saak teen die volk en sy leiers – 3:13-15;

3.       die Here oordeel ook die vrouens van die volk – 3:16-4:1;

4.       die Here sal egter ’n oorblyfsel laat bly en met hulle nuut begin – 4:2-6.

Let op hoe die Here se oordeel die leiers van die samelewing – burgers, soldate, regters, profete, raadgewers ensomeer (3:1-4) – sowel as die modewêreld veral dié van die vrouens – versierings, reukwater, handsakkies ensomeer (3:18-23) – in duie laat stort. Die mense wat standvastigheid en omvattende welvaart bring sowel as die besittings wat die lewe mooi maak word weggeneem.

Die gevolg van die gebrek aan leierskap is verwarring en anargie – ek kan my indink in die dilemma van die broer wie se enigste kwalifikasie vir leierskap die feit is dat hy darem nog behoorlike klere het (3:6-7)!  Dit is tekenend van hoe die volk in duie gestort het.

Die gevolg van die gebrek aan estetiese (luukse) voorwerpe (Jesaja noem 21!) is verwaarlosing en ’n fokus op oorlewing – sewe vroue wat ’n man beetpak ter wille van sy naam en sekuriteit, wys op desperaatheid (4:1).  En hulle bring hulle eie kos en klere … dit is wat gebeur in ’n samelewing wat nie meer reg funksioneer nie en niemand meer veilig voel nie.

John Watts het my nogal laat nadink oor aspekte van ons leefwêreld, waar hy in sy kommentaar die volgende sê:

“All society is held together by invisible bonds—common concerns that have a moral base. When these disappear, the body politic disintegrates. Judgment on a people may be passive. It does not have to come by external invasion. It may, and often does, come through internal atrophy. The passage suggests that God is responsible for this deterioration. It is his judgment on those who forget that they are all ultimately dependent on him.”[1]

Wat my hoop gee, is dat Jesaja in hoofstuk 4 aandring daarop dat God se oordeel – passief of aktief – nie ‘n totale vernietiging is nie, maar ‘n suiwering.  Daar bly altyd ‘n oorblyfsel wat weer sy genade en sorg ervaar, wat deur Hom geheilig word.

En dit is ongelooflik om te hoor dat dié oorblyfsel dié mense is “wat vir die lewe opgeskryf is.” (4:3).  Daarby tref dit my dat die Here sy teenwoordigheid op dieselfde manier as eens in die woestyn nou nie net in die midde van die volk sal laat blyk deur die wolk bedags en vlammende vuur snags nie, maar oor by elke woonplek op Sionsberg.  Sy teenwoordigheid sal alles beskut.  Hy sal skuiling bied regdeur die dag en nag, selfs teen stortbuie en reën.

Dit sê vir my dat God só by my teenwoordig is, metafories natuurlik, maar ook werklik in die persoon van Sy Gees wat in my bly.  Met só ’n bewussyn kan ek dié dag pak en iets positiefs doen aan die verwarring en anargie en verwaarlosing en fokus op oorlewing in ons samelewing!


[1]Watts, John D. W.: Word Biblical Commentary : Isaiah 1-33. Revised Edition. Nashville : Thomas Nelson, Inc, 2005 (Word Biblical Commentary 24), S. 66

Jesaja die profeet

Jesaja se naam beteken: “die Here bewerk redding”. Hy word die seun van Amos genoem, waarskynlik om hom te onderskei van ander persone met dieselfde naam (vgl 1 Kron 3:21; 25:3,15). In teenstelling met die vroeëre profeet Amos (sy naam word anders gespel as Jesaja se pa s’n) wat ‘n boer was, was Jesaja ’n stedeling. Hy woon en werk as profeet in Jerusalem (vgl. Jes 7:3; 22:15; 37:2; 38:1; 39:3). Behalwe dat hy getroud was (Jes 8:3) en ten minste drie kinders gehad het (Jes 7:3,14; 8:3,18), is daar baie min verder oor hom bekend.

Jesaja se profetiese bediening strek oor ’n tyd van meer as vyftig jaar. Hy is as profeet geroep in die sterfjaar van koning Ussia (Jes 6:1), ongeveer 740 v C.  Toe die Assiriese koning Sanherib in 701 v C die land binneval en Jerusalem beleër, was Jesaja nog steeds op sy pos (Jes 37:5). Ons weet nie hoe lank hierna hy nog opgetree het nie. Daar is ‘n Joodse tradisie dat hy in die tyd van koning Manasse (696–642 v C) ‘n marteldood gesterf het en middeldeur gesaag is (vgl Hebr 11:37).  Interessant genoeg word daar nêrens van enige literêre aktiwiteit van Jesaja in die boek gepraat nie, net van sy oratoriese aktiwiteit.  .  Hy skryf wel op ‘n stuk leer ‘n kort boodskap (Jes 8:1).

Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd as profeet op. Die wêreldmag van die Assiriërs het ook vir Israel en Juda bedreig.  Geen wonder dat die kleiner volkere koalisies probeer vorm het om hulle te beskerm nie.  Maar dit is juis die aanleiding tot die boodskap van Jesaja.  God sal vir Juda sorg, maar dan moet hulle op Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes 7:9).

Jesaja 2 – geroep as ontmoetingsplek vir die nasies met God

Ons kry ’n stukkie ekstra inligting oor Jesaja in vers 1.  Hy is die seun van Amos (vgl die inligting oor Jesaja in die bydrae oor hom hierna).  Dit vorm deel van die openbaring (anders as in 1:1 word die woord dabar [woord] met die werkwoord sien verbind – letterlik: “Die woord wat Jesaja gesien het”) wat hy oor Juda en Jerusalem – ’n woordpaar wat gereeld in Jesaja voorkom – ontvang.

Die hoofstuk word in drie dele opgedeel:

1.       ’n profesie oor die toekoms wat God in Sion vir die nasies skep – vers 2-5;

2.       ’n oordeel oor die volk wat hulleself met afgode verneder – vers 6-11;

3.       ’n oordeel oor die aarde wat selfs die afgode insluit – vers 12-22

Vers 2-5 kom grootliks ooreen met ’n profesie van Miga in Miga 4:1-4. Miga was ’n tydgenoot van Jesaja.  Let op hoe die volk opgeroep word in vers 5 om in die lig van hierdie openbaring, hierdie lig wat van die Here af kom, te lewe. En die visie wat God vir sy volk het, is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3).

Maar, dié roeping wat God vir sy volk het, het nie hulle harte en lewens in beweging gebring nie.  Daarom dat die oordeel oor hulle in vers 6-11 aangekondig word wat hulle verstoting insluit.  En die rede daarvoor lê in die feit dat die volk soos heidene geword het, en in towery en bygeloof verval het.  Dit is egter gelukkig nie ’n finale woord oor of ewige verwerping van hulle nie (Paulus skryf ook daaroor in Romeine 9-11).

Dit alles mond uit in vers 12-22 op ’n finale oordeel oor die aarde wat moontlik Johannes se woorde in Openbaring 6 geïnspireer het, waarmee God sy unieke karakter en plek as God ten toon sal stel vir almal om te sien.  En die afgode (nietighede) sal daarmee verdwyn.  Die profesie sluit af met die toepassing, dat só ’n omvattende oordeel oor mense jou versigtig moet maak om hulle staat te maak.  Die Here is die enigste vaste punt waarop vertrou kan word.

Vir dieperdelwers

Om die eenheid van die boek te illustreer, kan jy vandag die volgende verwysings na die kenmerkende titel wat Jesaja vir God gebruik – die Heilige van Israel – naspeur.  Die frase kom net 6 keer in die res van die OT voor (2 Kon 19:22; Ps 71:22; 78:41; 89:18; Jer 51:5; Eseg 39:7), maar gereeld in Jesaja, altesame 26 keer.  En interessant genoeg kom dit eweveel keer voor in beide hoofstuk 1-39 (13 keer) as in hoofstukke 40-66 (13 keer).  Vergelyk ook Jes 35:10 met Jes 51:11 en Jes 11:9 met Jes 65:25.

Hier is die lysie van tekste waar die frase die Heilige van Israel voorkom:

  • Jes 1:4
  • Jes 5:19
  • Jes 5:24
  • Jes 10:17
  • Jes 10:20
  • Jes 12:6
  • Jes 17:7
  • Jes 29:19
  • Jes 30:11
  • Jes 30:12
  • Jes 30:15
  • Jes 31:1
  • Jes 37:23
  • Jes 41:14
  • Jes 41:16
  • Jes 41:20
  • Jes 43:3
  • Jes 43:14
  • Jes 45:11
  • Jes 47:4
  • Jes 48:17
  • Jes 49:7
  • Jes 54:5
  • Jes 55:5
  • Jes 60:9
  • Jes 60:14

In die Nuwe Testament haal die apostel Johannes op een plek ook uit “beide dele” van die boek Jesaja aan en plaas dit, in omgekeerde volgorde, langs mekaar.  Gaan kyk na Jes 53:1 en Jes 6:9 wat in Joh 12:38-41 aangehaal word.  Dit wys dat die boek as ’n eenheid hanteer is deur die vroeë Christene.

Onlangse kommentaar