Skip to main content

2 Konings 15 – Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here

In ’n vinnige opeenvolging van 5 konings word die verhaal van Israel se wel en wee verder vertel, met 2 konings van Juda se verhale wat dit omraam en begin en afsluit.

Asarja van Juda, ook Ussia genoem (2 Kon 15:13; 2 Kron 26), het ’n baie lang regering gehad, hoewel ’n groot deel daarvan in afsondering was, weens melaatsheid wat hy weens ’n oortreding in die tempel opgedoen het (2 Kron 26). Dit is in sy sterfjaar dat Jesaja as profeet geroep is (Jes 6).  Dit is treffend die kontras tussen koning Ussia wat hom vergryp aan God se heerlikheid en gestraf word daarvoor, en Jesaja wat met ontsag vervul word deur God se heerlikheid en daardeur as profeet geroep word.  Die boodskap is duidelik: die konings faal die Here, en Hy doen sy werk deur die profete!

Sy seun Jotam het koning geword van Juda na sy dood, en moes onder andere die uitdaging van Peka van Israel en Resin van die Arameërs trotseer, waarvan ons ook in die profesie van Jesaja lees (hfst. 7), wat op die bekende belofte van die Immanuel wat uit ’n maagd gebore sou word, uitloop.

In teenstelling met Ussia, het Sagaria, seun van Jerobeam, weer net 6 maande geregeer in Samaria voor hy deur Sallum vermoor is, net soos die Here voorspel het.  Sallum is op sy beurt na net meer as ’n maand deur Menahem vermoor, ’n besonder wrede koning, wat selfs swanger vroue laat opsny het.

Hoe treffend beskryf die profeet Hosea dié tyd: “Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en amptenare’?  ‘Ek gee vir jou ’n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!’” (13:10-11)

En die oordeel van die Here word in geen onsekere taal uitgespreek nie: “Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly 6as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur ’n ambagsman gemaak, dit is nie ’n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.” (8:4-6).

’n Groot wêreldmag was egter aan die opstaan, die Assiriërs, onder leiding van Pul (15:19) of Tiglat-Pileser III (15:29), wat ’n ander beleid as vorige maghebbers gevoer het. Hulle het telkens mense in ballingskap weggevoer om die gebiede wat hulle verower het, onderdanig te hou.

Menahem moes aan hom belasting begin betaal wat eintlik die skrif aan die muur was vir die Noord-ryk.  Sy seun Pekahia is na net 2 jaar deur ’n sameswering van sy koningskap beroof deur ’n adjudant van hom, Peka, wat 20 jaar in Samaria geregeer het totdat ook hy vermoor is in ’n sameswering deur Hosea, in wie se tyd die ballingskap gebeur het, waarvan ons verder in hoofstuk 17 sal lees.

2 Konings 14 – God se genade word steeds weerstaan in die Noord-ryk

Die goeie werk wat Joas gedoen het, word voortgesit deur sy seun Amasia.  Nie net het hy gedoen wat reg is in die oë van die Here, maar hy voer ook die wet van Deuteronomium 24:16 uit, dat kinders nie vir die vaders se sondes gedood mag word nie, deur die amptenare wat sy pa vermoor het, dood te maak, maar die kinders te laat leef.  Hy was ook effektief teen die Edomiete, hoewel hy steeds nie die hoogtes vernietig het nie, wat hom verkwalik word.  Hy misreken hom egter lelik met Joas van Israel deur hom tot ’n oorlog uit te lok en lelik tweede te kom.  Hoewel Joas sy lewe spaar is dit ten koste van ’n deel van die muur rondom Jerusalem en ’n groot klomp goud en silwer uit die huis van die Here.  Ook ’n paar gyselaars is na Samaria geneem, waarskynlik om te verseker dat hulle aan hom belasting betaal.

Dieselfde lot wat sy pa getref het, ’n sameswering, tref egter vir hom ook, heel waarskynlik vanweë die dwase oorloë wat hy onderneem.  Sy vlugtog help niks nie, en hy sterf in Lakis.  Sy seun Asarja word koning, maar ons lees ons in hoofstuk 15 verder oor sy regering.

Met die dood van Joas van Israel word Jerobeam II koning van Israel en hy geniet ’n baie lang regeringstyd, trouens, hy was heel moontlik hulle beste koning, ten spyte van die feit dat hy steeds, soos sy voorsate, doen wat verkeerd is in die oë van die Here.  Die Konings skrywers dig darem een goeie ding aan hom toe, die herstel van ’n groot deel van die Dawidiese grense van Israel, wat Damaskus (histories gesproke het hulle weer ’n handelsarea daar gehad) en Hamat weer onder Israelitiese gesag gebring het.

Dit word egter steeds toegeskryf aan die genade van die Here wat deur die profesie van die profeet Jona aan Israel verkondig is.  Daarby het dit ekonomiese welvaart gebring wat tot ’n groot kloof tussen ryk en arm sou lei, wat veral deur die profeet Amos aangespreek is.  Amos se voorspelling dat Jerobeam deur die swaard sou val (Amos 7:11) word nie vir hom waar nie, maar wel vir sy nageslag, Sagaria (2 Kon 15:10).  Kort hierna het die ballingskap vir die Noord-ryk van Israel gekom, waarna daar geen herstel meer moontlik was nie.

2 Konings 13 – Die Here se genade seëvier telkens oor sy oordeel

Die verhaal van Joahas en Israel se wel en wee word in hierdie hoofstuk ietwat vreemd vertel met vers 10-13 wat bes moontlik beter aan die einde van die hoofstuk sou pas, en die verhaal van die redder wat nie regtig goed inpas in die lewe van Joahas self nie, eerder in die lewe van Joas, sy seun, of Jerobeam II, sy kleinseun.

Dit is onduidelik wie die redder was en wanneer die uitkoms gekom het.  Dit kan wees dat verwys word na Elisa se profesie aan Joahas se seun Joas, wat inderdaad teen die Arameërs geveg het en drie oorwinnings behaal en ’n paar stede teruggewen het van Ben-Hadad, seun van Gasael, af.   Dit kan ook Jerobeam II wees, Joas se seun, wat hy na sy oupagrootjie vernoem, waarvan ons spesifiek lees dat hy Israel gered het (hfst. 14).  Ander geleerdes dink dat na die opkomende Assiriese mag verwys word wat die Arameërs se mag begin inperk het.

Hoe dit ook al sy: beide Israel en Juda (hfst. 12) lei in hierdie tyd onder Gasael van die Arameërs, soos Elisa voorspel het.  Maar Joahas, ten spyte daarvan dat hy nie afgewyk het om sonde te doen nie, smeek die Here om genade.  En die Here verhoor sy gebed en gee ’n redder.  Tog word steeds negatief oor sy lewe geoordeel, omdat hy in die weë van Jerobeam gewandel het, en, wil dit voorkom, weer ’n Asjerabeeld in Samaria opgerig het, nadat Jehu dit verwoes het.

Anders as Elia word Elisa soos ’n gewone mens siek en sterf.  Op sy sterfbed is daar ’n roerende en tegelykertyd onthutsende ontmoeting met Joas, waar Joas Elisa as die militêre fundi van Israel eer (“u was vir Israel die strydwa met sy ruiters”), en Elisa vir hom kwaad word omdat hy die simboliese aksie wat Elisa hom beveel swak uitvoer.

Let op hoe Elisa selfs in sy dood wonderwerke doen, met ’n lyk wat weer lewend word toe dit aan sy bene raak.  Sy sterflikheid word ironies genoeg daardeur beklemtoon, want hy staan nie self op nie.  Let ook op hoe die Here steeds die verbond met Abraham, Isak en Jakob in gedagte hou in sy genadige redding van Israel, ten spyte van die sondes van die koning.

God se woord is sterker as mense se woorde

Ek het vanoggend ‘n lang tyd spandeer om na te dink oor die Bybelse siening van vloeke en seëninge.  Sommige gelowiges beskou dit as baie werklik, en ander as ‘n verouderde manier van dink.

Hier is ‘n paar van my gedagtes daaroor:

Psalm 109 handel oor die impak wat vloeke op die bidder het, maar bely die werklikheid dat God se seënende Woord kragtiger is as mense s’n.

God se woord is sterker as mense se woorde.

In ‘n wêreld waar geglo is woorde het ‘n werklike mag oor mense, beide woorde wat seën en woorde wat vervloek, het hierdie belydenis ‘n kragtige uitwerking gehad.  Dit was letterlik ‘n toevlug en verskansing teen die pyn wat woorde mense kan aandoen.

Maar ons moet versigtig wees om te dink dat die Bybelse skrywers en Bybelse gelowiges inderdaad almal só geglo het, dat woorde ‘n outomatiese magiese en bonatuurlike krag het.  Dit is immers een van die dinge wat die Bybelse geloof onderskei van die ander gelowe van daardie tyd, dat oor God gedink is as persoonlik en nie onpersoonlik nie.  Hy is ‘n God waartoe gebid word en met wie in gesprek getree word, nie een wat deur allerlei rites en rituele of woorde outomaties en onpersoonlik werk nie.

Vandag sal baie van ons dus nie só daaroor praat, asof daar ‘n stuk magiese krag in woorde sit wat outomaties kan werk nie, soos die antieke mense inderdaad geglo het. Ons leef immers nie meer in ‘n wêreld waar alles in terme van towerkragte verklaar word nie.

  1. Deur só ‘n beskouing gee ons aan die woorde van mense, om te vloek of te seën, ‘n groter krag as wat hulle in werklikheid het.
  2. Nog erger, ons gee daarmee aan mense ‘n idee dat woorde ‘n krag het wat onafhanklik van God se woorde van seën, veral in die lewe van ‘n gelowige, destruktief kan werk.  Dit skep onnodige vrees en onsekerheid. So laat ons mense goed glo wat onwaar, misleidend en destruktief is.
  3. Maar, nog belangriker, deur só ‘n wêreldbeskouing te omhels, word ons verstaan van God gedegradeer tot ‘n Godsbeeld wat op dieselfde vlak is as die gode van hierdie wêreld van kragte en magte, ‘n God wat onpersoonlik is eerder as persoonlik.  Dit is juis die wins van die Bybelse Godsbeeld, dat Hy ‘n persoon is, en nie maar net ‘n krag of mag nie.

Spreuke 26:2 sê immers alreeds:

“Soos voëltjies wat verbyvlieg en nie gaan sit nie, so gaan ’n vervloeking by jou verby as jy dit nie verdien nie.”

Daarom sal Jakob die seën wat hy oor sy kinders uitspreek in die vorm van ‘n gebed doen, omdat dit net sy krag kry in die antwoord en werk van die persoonlike God wat hy aanbid (Gen 49:25). Dit werk nie magies en outomaties nie.  God is in beheer van die vloek en die seën.

MAAR … dit is nie al nie:

Daar is op ‘n manier ook niks nuuts onder die son nie!

Die taalfilosowe praat vandag steeds van die wêreld wat woorde skep, die sogenaamde language-game (Thiselton).  En hoewel dit heel anders beredeneer word as in die magiese voorstelling van die antieke wêreld, tref dit my hoe eenders die uitwerking daarvan op mense is.  Hoekom?

Want, oral waar ‘n woord ter harte geneem word, word dit ‘n werklikheid vir mense, en skep dit letterlik ‘n wêreld waarin gewoon en geleef word.  Dit maak nie saak of dit empiries waar is of nie.  Dit maak saak wat jy daarvan glo of nie!

En dit tref my dat in só ‘n wêreld Psalm 109 steeds ongelooflike betekenis het, dat die verydelende vervloekende woorde wat mense teenoor jou uitspreek – woorde wat wil seermaak, verwond, wil doodmaak – deur God se woorde getroef word en uitgewis word, vir dié wat in Hom glo.

Ons hoef dus nie ‘n magiese interpretasie van die werklikheid te aanvaar om die betekenis van die Psalm vir onsself toe te eien nie.  Ons kan ‘n ander wêreldbeeld hê en steeds die Here loof vir sy woorde wat groter mag het as dié van die vervloekers, hoe ons die mag daarvan ook al definieer.  Ons kan dus leef in dié waarheid en werklikheid wat God se woorde aan ons skep en wat ander se woorde troef.

Hoe wonderlik dat ons kan glo dat ons vrygespreek is van die vloek van die wet (Gal 3:13) en die skuld en mag van die sonde (Rom 6:1-11; 2 Kor 5:21) en die effek van die bose in ons lewe, woorde en al!

En hoe nuut klink Jesus se raad vir ons nie:  In ‘n wêreld van verydeling en vervloeking word ons geroep om vervloeking met seën te ontmoet en te verander (Bergrede – Luk 6:27-28):

“Maar vir julle wat na My luister, sê Ek: Julle moet julle vyande liefhê; doen goed aan die mense deur wie julle gehaat word; seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word. “

So, of jy nou die language-game as werklikheidsbeskouing aanvaar, of ‘n antieke magiese beskouing, so lank as wat jy net by hierdie waarheid oor God uitkom, dat Hy persoonlik is, dat Sy woorde magtiger is as enige ander woorde wat oor jou uitgespreek is of word, en dat jy in die vryheid wat Hy gee, met jou woorde van hierdie wêreld ‘n beter plek kan maak.

WEEK 5: 2 Konings 11-12 – Platteland en stad verenig weer voor die Here in Juda

Die Israelitiese gemeenskap was sterk patriargaal, maar dit het nie gekeer dat ’n hele paar vroue sterk leierskapsrolle gespeel het nie.  Dink maar net aan Debora in die Rigtertyd, ’n sterk leier wat getrou was aan die Here en die volk vir ’n lang tyd gelei het.  Een van hierdie vroueleiers was Atalia, dogter van Agab en Isebel, wat die eerste en enigste vrou word wat Juda in die koningstyd regeer het.  Ongelukkig was sy net so ongehoorsaam soos haar pa en ma aan die Here, veral in terme van die Baäldiens wat sy in stand gehou het in Jerusalem.

Na die dood van haar man, koning Joram van Juda, én die dood van haar seun, koning Ahasia deur die toedoen van Jehu, bestyg sy die troon in Jerusalem en probeer haar bes om die res van die Dawidiese koningsgeslag – ’n hele paar was haar kleinkinders! – uit te roei.  Jehoseba, ’n ander sterk vrou maar gehoorsaam aan God, suster van Ahasia, en getroud met die hoëpriester Jojada (2Kron 22:11), beskerm egter Ahasia se eenjarige seun, Joas, en hou hom een kant, waarskynlik in die tempel, sodat daar een uit Dawid se nageslag kan oorbly om op die troon te sit.  Daarmee is die reële gevaar afgeweer dat vreemde vorste op die troon van Juda kon sit.

Jojada reël dan na ses jaar ’n priesterlike paleisrevolusie, heel moontlik gekombineer met steun uit die platteland, en nogal op ’n sabbatdag, waarmee Atalia se regering tot ’n einde kom en Joas op sewe jaar koning word.  Let op hoe pertinent gesê word “al die burgers van die land was bly” (11:20) en “die stad was weer rustig”.  Met die Baäldiens ’n gevoelige slag toegedien in die stadskonteks het die meer konserwatiewe platteland weer deel gevoel van die verbond, soos Jojada dit dan ook hernu het, en het die stadsmense tot rus gekom in hulle aanbidding van God.

Let op hoe Joas ’n goeie koning was “al die jare wat die priester Jojada sy leermeester was”.  Maar die ou siekte van die konings, om nie die hoogtes te verwyder nie, gooi uiteindelik wel ’n skaduwee oor ’n andersins uitstekende regeringstyd van 40 jaar.  Sy nalatenskap was veral dat hy die tempel herstel het, een van die belangrike kriteria wat die skrywers van die Koningsboek aanlê om te beoordeel of ’n koning goed of sleg gedoen het.  Dit was net die sinkretisme op die hoogtes wat tot sy nadeel genoem word (vgl 2 Kron 24:17 waar hy op tragiese wyse teen Jojada se seun Sagaria optree, nadat dié onder leiding van die Gees van die Here hom oor sy afvalligheid kom aanspreek).

Let ook op hoe hy die priesters aanvat oor hulle selfverryking, eerder as om die geld wat na die huis van die Here gebring word, te gebruik om die huis van die Here in stand te hou én hoe die eerlike voormanne vertrou word met die werk, sonder om boek te hou van die geld wat hulle daarvoor ontvang.

Joas kry dit reg om die bedreiging van Gasael die hoof te bied, egter teen groot onkoste, deur gewyde gawes aan hom te stuur, maar word uiteindelik self deur ’n paleisrevolusie getref, hierdie keer komende van die amptenary, en word in Bethlehem begrawe.  Die koningshuis van Dawid word egter in stand gehou met Joas se  seun Amasia wat hom opvolg en op sy beurt, na hy goed gevestig was, sy pa se dood wreek op die einste amptenare.

Onlangse kommentaar