Skip to main content

1 Korintiërs 2 – God oortuig deur getuienisse

Daar is altyd die gevaar dat ’n mens sal dink dat geleerdheid en welsprekendheid mense sal oortuig eerder as die kragtige werking van die Gees wat deur die boodskap van Jesus Christus self werk.  Paulus herinner ons daaraan dat ’n oortuiging gegrond op menslike redenasies aards bly en ontoereikend is.  ’n Oortuiging wat van God af kom, kom per definisie nie van menslike wysheid af nie, maar word aan jou geopenbaar.

Daarom het Paulus – en onthou sy ervaring op die Areopagus in Atene, waar hy argumentatief gewerk het en min sukses gehad het (Hand 17:16 vv), hoewel daar geleerdes is wat hiervan verskil – hom hier voorgeneem om by die inhoud van die boodskap van Jesus Christus te bly, en die Here te vertrou vir die uitwerking daarvan op die mense wat na hom luister.

Dit herinner my net weer daaraan dat ’n mens versigtig moet wees wanneer jy met ongelowiges in gesprek tree oor die Here, en nie te veel tyd moet spandeer aan argumente vir die geloof nie, maar veel eerder aan getuienisse oor geloof en oor God (die vertaling in vers: “geheimnisvolle waarheid” word letterlik as “getuienis” in die oorspronklike aangegee!), want daarin lê die krag van ’n openbaring van God se Gees.  Argumente vir die geloof het immers meer betekenis vir gelowiges as vir ongelowiges.

Dat Paulus hier op Jesus as die gekruisigde fokus het te make met van die probleme wat hy met die gemeente ervaar, spesifiek dat hulle nie hul eie voorkeure in terme van leiers kruisig en die eenheid in Christus belangriker ag as hulle eie “wysheid” nie.  Tog kan hy nie anders as om later voluit te praat oor die opstanding en ook die wederkoms nie (hfts 15), omdat dit die kruis in perspektief plaas en die sentrum van ons hoop vorm.

Dit is interessant dat sy bewussyn van sy swakheid, nie net terugverwys na sy ervaringe in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene nie, maar die opening laat vir God om Sy krag te demonstreer.  Dit is juis hier waar hy die gesig gekry het van God wat hom aanmoedig om aan te hou met die bediening (Hand 18:9).  En in 2 Korintiërs sal Paulus uiteindelik skrywe oor swakhede, sowel die swakhede waarvoor die Satan verantwoordelik is (die doring in die vlees), as swakhede wat inherent aan jouself of jou omstandighede is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” (2 Kor 12:9).  Daarom sê Paulus: “sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.” (12:10).

“Heersers van hierdie wêreld” dui waarskynlik hier die politieke leiers van sy tyd aan (dieselfde woord word gebruik as in Rom 13:3, waar dit onteenseglik op aardse leiers dui), hoewel die gedagte van die gevalle engele wat ’n rol speel in wêreldsake ook op die agtergrond is, waaroor Paulus meer uitgebreid sal skrywe in sy brief aan die Efesiërs (hfst 6).

1 Korintiërs 1 – Partyskappe skend die Eenheid in Christus

Let op hoe Paulus sy brief begin met ’n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming begin gebruik.  Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree.

Sostenus, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het (1 Kor 16:21).

Let op hoe Paulus God dank vir die wyse waarop Sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis.  Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in hfst. 15 tog weer hieroor gesels).  Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Maar hy kan hulle nie loof vir hulle gebrek aan eenheid nie.  Die onderlinge liefde ontbreek dus.  Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tes 1:3; 2 Tes 1:3-4).  Geen wonder dat hy ’n hele hoofstuk later sou afstaan aan die onderwerp van die liefde nie, want dít is wat hulle kort gekom het (1 Kor 13).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het.  Dit is immers hulle roeping, om met mekaar “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (’n uitstekende redenaar uit Aleksandrië), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels) en dié vir Christus (die werklik vromes?!).  Let op dat die verskille nie leerstellig was nie, maar groepvorming of partyskappe rondom leiers.  Paulus gril by dié gedagte en gaan direk oor tot ’n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag en die wysheid van God.  Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ’n gemeente mag staan.

Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo.  Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis – die Jode neem aanstoot daarin omdat hulle eerder ’n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die kruis gefokus het); die Grieke dink dis onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God.

Hoewel Paulus in hoofstuk 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is.  Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Eenheid is ononderhandelbaar in die kerk wat God tot stand bring in ’n gebied.

Die ding wat my dus uit hierdie eerste hoofstuk by bly, is die klem op eenheid.  Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ’n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ’n getwis.  En elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom.  En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie …

Week 4: 1 Korintiërs 1-6

Ons lees die eerste deel van hierdie brief as volg:

  • 1 Korintiërs 1 – Donderdag 12 Augustus
  • 1 Korintiërs 2 – Vrydag 13 Augustus
  • 1 Korintiërs 3-4 – Maandag 16 Augustus
  • 1 Korintiërs 5 – Dinsdag 17 Augustus
  • 1 Korintiërs 6 – Woensdag 18 Augustus

1 Korintiërs – inleiding

Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 54 nC.

In die brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.  Julius Ceasar het in 44 vC die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 vC verwoes).  Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit gou in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg.  Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prositute in tempeldiens was.  Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander wêrelddele geraak wanneer na prostitute verwys is.  Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Isthmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is.  Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Kor 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is.  En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie.  Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief.  Let bv. op na die taal van konfrontasie (4:18-21), appèl (10:31 vv), sarkasme (6:5) en ironie (1:26-27) wat hy gebruik.  En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (16:17).  Dit is sake soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11) en prostitusie (6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (11:2-16) en die nagmaalviering (11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op ‘n vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (7:1).  Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het.  Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (7:1), ongetroudes (maagde – 7:25), offers aan afgode (8:1), geestelike gawes en die erediens (12:1), offergawes (16:1) en oor Apollos (16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstandingsliggaam gee in hoofstuk 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daaroor wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel.  ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms.  As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik hier mos maak wat jy wil.  Dit maak dan nie saak, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (hfst 7) of immoreel (hfst 5) nie, solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (hfst 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1:17-2:16) begrond hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word.  Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

Hoofstuk 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

Die briewe aan die Korintiërs

Ons lees in Handelinge 18:1-18 van Paulus se bediening in die gemeente van Korinte. Dit was in die jare 51-52 nC.

Uit sy eerste brief aan die Korintiërs blyk dit dat Paulus daar aangekom het: “bewus van my swakheid, en met groot angs en huiwering” (1 Kor 2:3).  Hy verwys hier waarskynlik na die impak wat die voorafgaande gebeure in Filippi, Tessalonika, Berea en Atene op hom gehad het.  In Filippi is hy geslaan en in die tronk gegooi (Hand 16:11-40); in Tessalonika is hy sterk teengestaan deur die Jode (17:1-9), sowel as direk daarna in Berea waarheen dieselfde Jode hom agtervolg het en ook daar uitgedryf het (17:10-15); en sy bediening in Atene op die Areopagus het maar ’n flou respons uitgelok (17:16-34).

Hoewel daar in die eerste drie stede groeiende gemeentes gestig is, is dit onseker of daar op hierdie stadium ’n lewensvatbare gemeente in Atene ontstaan het. Net Dionisus, ‘n lid van die Areopagus, ‘n vrou Damaris en ‘n paar ander het daar gelowig geword.  Dit is ook hier waar Timoteus weer by Paulus aangesluit het, nadat hy in Filippi agtergebly het om na die gelowiges daar om te sien, hoewel Paulus hom direk weer teruggestuur het na Tessalonika en die ander gemeentes in Masedónië. Na Timoteus se besoek aan hierdie gemeentes, het hy weer in Korinte by Paulus-hulle aangesluit, vanwaar Paulus se briewe aan die Tessalonissense geskryf is.

Dat Paulus hom ook hier in Korinte voorgeneem het om nie “met hoë woorde of groot geleerdheid” (1 Kor 2:3) met hulle te praat nie, verwys waarskynlik ook terug na sy toespraak op die Areopagus in Atene, die stad.  Hy wou egter ook fokus op die kern van die boodskap van Jesus Christus, spesifiek die kruis (2:2), en dit in die krag van die Heilige Gees doen (2:4), ’n teologiese perspektief wat broodnodig was in die lig van die afwykende idees van sommige van die gemeentelede wat mettertyd kop uitgesteek het.  Dieselfde geld sy lering oor die opstanding in hfst 15, maar daaroor eers later.

Die mense van Korinte het hom goed behandel en sy boodskap is met goeie gevolg ontvang.  Hy kon ‘n hele jaar en ‘n half hier bly en sake het regtig baie goed verloop. Lukas wyt hierdie goeie ontvangs aan die werk van die Here wat een nag in ‘n gesig vir Paulus bemoedig het om nie stil te bly nie, maar die evangelie te verkondig (Hand 18:9).  In woorde wat herinner aan God se woorde aan Elia (1 Kon 19:18), verseker die Here Paulus dat daar baie mense in hierdie stad aan Hom behoort (Hand 18:10).

Paulus het by Akwila en Priscilla, wat tentmakers was net soos hyself – en boonop vermoënd, wil dit voorkom, want hulle het ook ‘n huis in Efese (1 Kor 16:19) gehad – gaan bly. Met die groeiende verset van die ongelowiges Jode in die sinagoge (die gebou is steeds daar), het Paulus die Joodse gemeenskap verlaat en in die huis van Titius Justus, ironies genoeg net langs die sinagoge, sy bediening voortgesit.  En in nog ‘n stukkie ironie kom die hoof van die sinagoge, Krispus, en sy hele huisgesin tot bekering en sluit by die groeiende Christelike gemeenskap aan.

Met die wisseling van goewerneurs het die Jode probeer om Paulus voor die nuwe goewerneur Gallio aan te kla, maar dié wou niks daarvan weet nie, en het hulle uit sy hof gejaag.  Uit woede het die Jode die hoof van die sinagoge, Sostenes, aangerand, maar kon nie in hulle doel slaag om Paulus-hulle in diskrediet by die stadsbestuur te bring nie.  As dit dieselfde Sostenes is as wat in 1 Korintiërs 1:1 genoem word, het hy tot bekering gekom en deel van die bediening geword aan sy tuisstad.

Dit is op sy derde sendingreis, nadat Paulus die gemeentes in Galasië en Frigië  besoek het, dat hy weer in Efese aangekom het en meer as 2 jaar daar kon bly. Terwyl hy daagliks in die saal van Tirannus besprekings gehou het (Hand 19:1-20), het hy waarskynlik sy briewe aan die Korintiërs geskrywe (1 Korintiërs was sy tweede brief aan hulle – vgl 1 Kor 5:9 wat na die eerste brief verwys). Dit is ook moontlik dat hy Korinte hierna weer besoek het (Hand 19:21-20:6), voordat hy in Masedonië 2 Korintiërs geskrywe het.

Ek skryf later meer oor 2 Korintiërs.

Onlangse kommentaar