Skip to main content

WEEK 2: 1 Samuel 8 – Samuel se kinders was nie soos hy nie

Hoe tragies dat die geskiedenis homself so herhaal.  Eli se kinders was nie soos hy nie.  En Samuel se kinders was weer nie soos hy nie.  Hulle is as leiers aangestel, maar het hulle eie belange gedien.

Dit is die een rede in die volk se versoek om ‘n koning wat ek begryp.  Maar om darem te sê: “Ons wil ook soos al die nasies wees.”  Hulle is dan juis anders omdat hulle God se nasie is!  Dit wys net vir my hoe domastrant ons kan wees.  Ons waardeer nie genoegsaam die wonder van God se teenwoordigheid in ons lewe nie, soos bv. in hoofstuk 7 met die ingrype in die geveg met die Filistyne bewys is, en met die vrede met die Amoriete.

My nekhare rys as ek die Here hoor sê: “Gee nou maar toe aan hulle versoek.” Want dit beteken dat ons eintlik toegelaat word om ons koppe te stamp, sodat ons hopelik uit skade en skande uit wys kan word. Dit laat my weereens vasgryp aan die Hebreërskrywer se opdrag (13:5):

” Wees tevrede met wat julle het.

1 Samuel 7 – Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …

Dit tref my dat 20 jaar verloop het na die tragiese buitmaak van die ark en die verdrukking van die Isaeliete na die dood van Eli en sy twee seuns. Miskien moes Samuel eers groot word vir Israel om regtig vertroue in hom te kon hê. Of miskien het dit hulle so lank gevat om hulle afhanklikheid van die Here te besef.

Darem ook interessant dat die Filistyne met kategese oorwin word – Samuel onderrig die Israeliete oor wat reg en verkeerd is, lei hulle in ‘n “met julle hele hart” (die setel van denke en besluite, nie emosies nie) hertoewyding aan die Here en bid vir hulle. En dan veg die Here vir Israel met ‘n groot donderweer wat die Filistyne verwar. Sukses in die stryd teen die Filistyne gaan dus om die lewende teenwoordigheid van die Here, en nie oor die ark per se nie. En bevryding kom deur ‘n naby verhouding met Hom en nie deur militêre krag in die eerste plek nie.

“Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red …”

Rama word nou ook ‘n heiligdom met die bou van ‘n altaar daar, hoewel Samuel steeds by ander heiligdomme die regspraak behartig het: Bet-El, Gilgal en Mispa. Binnelands en buitelands was daar nou vrede, en God het weer sy regmatige plek in die lewe van die volk ingeneem. Waarom sou daar dan ‘n koning nog nodig wees in Israel? Die volgende hoofstuk gee die antwoord daarop.

1 Samuel 5 en 6 – Wie kan bestaan in die teenwoordigheid van die Here?

Tragies vertel die skrywer: “Ja, die Filistyne het die ark van God gevat.” Maar dan word met toenemende ontsag vertel van die effek wat die ark op almal het: Dagon, die god van die Filistyne, buig voor die ark neer; pes breek uit in elke stad waar die ark heen gestuur word; selfs die mense van Bet-Semes op Israelitiese grondgebied word swaar getref deur die Here.

Die Filistyne word dus gedwing om eer aan God te gee ( 6:5) en die Israeliete om ontsag vir sy teenwoordigheid te bewys. Eers in Kirjat-Jearim by die huis van Abinadab, met die wyding van Eleasar om die ark van die Here op te pas, word die toorn van die Here afgewend.

In Levitikus 10:3 word ‘n soortgelyke storie vertel van mense wat in God se teenwoordigheid sterf. Die skrywer spel die betekenis daarvan só uit:

“Wie ’n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”

Ek word aangegryp deur die noodsaak van ontsag vir die Here en die navolg van sy wil tot in die fynste besonderhede. Dit is slegs diegene wat Hom volg, wat in sy teenwoordigheid kan bestaan.

1 Samuel 4 – Ikabod :: die eer is weggevat uit Israel

Dit is ‘n tragiese verhaal. Israel veg sonder om seker te maak die Here is met hulle. Hulle word verslaan. Dan neem hulle die Ark saam op die volgende veldtog, maar weereens sonder om die Here te raadpleeg. Hulle word weer verslaan en die ark buit gemaak. Die Here is wel “behind the scenes” in die oorlog betrokke … om sy oordeel oor Eli en sy seuns te voltrek. Daarmee wys die Here dat Hy nie gemanipuleer kan word nie.

Dit is die begin van dekades van oorlog teen die Filistyne (seevolke) wat eers in die tyd van Dawid tot ‘n einde kom. Die Filistyne het aan die kus gebly, nadat hulle min of meer dieselfde tyd as die Israeliete hulleself daar gevestig het.

Dit tref my hoe verweef die lewe is. Alles is met alles verbind. ‘n Klomp Israeliete gaan in die proses dood, weens hulle eie dwaasheid en bygeloof (Ark is ‘n soort talisman) , maar ook weens die priesters, Eli, Hofni en Pinehas se dwalings en sondes. Selfs die skoondogter, vrou van Pinehas, se swangerskap word daardeur geraak, en word op ‘n ontstellende grafiese manier ‘n verwoording van Israel se afgryse, toe sy die seun Ikabod (”Waar is die eer?”) noem, en sê:

“Die eer is weggevat uit Israel.”

Selfs Silo, as dorpie, het in die slag gebly, en speel hierna nie weer ‘n rol nie.

1 Samuel 3 – Ek gaan ‘n ding doen wat ore sal laat tuit

Twee geestelike leiers word hier in kontras met mekaar geskets, die bejaarde Eli en die seun Samuel.

Eli het in sy bediening horende doof en siende blind geword. Die minagting van sy kinders vir God is deur hom oorgesien en die ongeregtigheid waarvan hy gehoor het, het geen aksie by hom ontlok nie

Samuel dien van kleins af die Here, maar hoor hier die eerste keer die stem van die Here. Ten spyte van die vrees wat die eerste woorde by hom ontlok, vertel hy vir Eli wat God gesê het. En soos ons in hfst 4 gaan sien, gaan die woorde in vervulling. En die proses herhaal hom telkens in Samuel se lewe, sy woorde gaan in vervulling, sodat die volk hom as betroubare profeet kan beskryf.

Die resultaat is dat God se woord weer gehoor kon word in Israel.

Wat my tref, is dat hierdie eerste woord aan Samuel ‘n kras en harde woord was, ‘n woord wat die ore sal laat tuit, soos die Here sê. En hoewel dit leed en smaad in die kleiner kring oor Eli en sy huis bring, bring dit lewe in Israel in die breër gemeenskap

Woorde van bestraffing is dus ook woorde van bevryding.

Onlangse kommentaar