Skip to main content

2 Konings 9-10 – God soek volledige gehoorsaamheid, en niks minder nie

Wat verrassend is vir my in die gedeelte, is die gemak waarmee die ander generaals Jehu se salwing as koning aanvaar.  ’n Mens wonder hoekom? Moontlik is dit vanweë die samesprekings wat hulle daar gehou het en wat heel moontlik oor ontevredenheid oor die koningshuis gegaan het.  Die profeet se opdrag om onmiddellik te vlug is weer moontlik om te keer dat hy vasgevang word in die konflik, wat ook die rede kon wees dat Elisa nie self gegaan het nie.  Vergelyk die bevel van Jehu in 9:15 dat niemand uit Ramot mag wegkom nie.  Dit was waarskynlik om te keer dat die nuus oor sy koningskap te vinnig versprei.  Jehu was heel moontlik ook nog aan die herstel van die oorlog en wou die voordeel van verrassing gebruik in sy veldtog teen die twee swaers, Joram en Ahasia.

Jehu was nou werklik nie ’n kat wat jy sonder handskoene aanvat nie: “hy dryf soos ’n mal mens”! (9:20).  Beide konings van Juda en Israel, Ahasia en Joram, bly in die slag op dieselfde dag, weens die oordeel wat oor die huis van Agab uitgespreek is.  Let op dat die oordeel ook aan die verhaal van Nabot verbind word.  Trouens dit gebeur op die einste stukkie grond!  Dit is daarom ook gepas dat Isebel, die aanstigter van Nabot se moord, in die slag bly, grimering en al.  Let tog op met hoeveel bravade sy optree, en Jehu se koningskap met dié van die 7-dag-lange-regeerder Simri vergelyk.  Maar die honde het haar verslind … in vervulling van God se woord.

Hierop volg die grusame uitwissing van die hele mansgeslag van Agab, 70 prinse in totaal in Samaria.  Let op hoe slim Jehu te werk gaan om die amptenare aan sy kant te kry, wat ’n paleisrevolusie veroorsaak.  Assirië het immers 3 jaar geneem voor Samaria in die laat 8ste eeu geval het.  Jehu oorwin deur die amptenary aan sy kant te kry.

En die oordeel sprei uit na Ahasia se kinders ook, 42 in getal, moontlik weens hulle verbintenis met Agab se dogter, waarskynlik ook die ma van ’n hele paar van hulle.  Hoe Jehu egter hieruit enige voordeel kon trek, is onduidelik, en hiervoor is hy deur die nageslagte veroordeel (Hos 1:4).

Op ’n verdere slinkse manier word die Baäldiens deur Jehu uit Israel verdelg.  Van die tempel se oorskot bou hulle kleinhuisies!  Maar, in die beoordeling van sy regering, kom ’n mens agter dat selfs dié grusame uitwissing nie genoeg was nie.  Jehu het ongelukkig die goue kalwers in Bet-El en Dan laat voortbestaan, die nalatenskap van Jerobeam, en so nie genoeg gedoen om sy gehoorsaamheid aan die Here end uit te voltooi nie.  Hoewel die Here nog sy kinders tot in die 4de geslag seën, word die grondgebied van Israel al hoe kleiner, weens die rol wat Gasael van die Arameërs begin speel, presies dit waaroor Elisa lang trane gehuil het.

Jehu se verhaal spel dus onomwonde uit dat die Here volledige gehoorsaamheid soek en niks minder nie.

2 Konings 8 – God bly getrou aan sy beloftes

Die eerste klein verhaaltjie van dié hoofstuk skets ’n ander kant van Gehasi, waar hy nie net oor sy eie voorspoed bekommerd is nie, maar ook oor dié van ander.  Hier help hy die Sunnemitiese weduwee (vgl hfst. 4) om haar grond na die droogte terug te kry.  Net jammer dat die koning nie uit dié en ander verhale van God se sorg tot gehoorsaamheid beweeg is nie!  ’n Mens wonder of Gehasi nog melaats is, maar die skrywers laat ons in die duister daaroor.

Ek dink baie mense wil heimlik weet wat die toekoms vir hulle en ander inhou.  Moontlik omdat dit jou sekerheid kan gee oor wat gaan gebeur, en jy jou beter daarop kan voorberei.  Dié verhaal van Elisa en Gasael wys my egter dat sulke kennis nie altyd iets is wat vrede en geluk bring nie.  Die openbaring van die Here laat Elisa in trane uitbars, omdat hy sien watter leed Gasael nie net in Aram gaan veroorsaak nie, maar ook in Israel.  En die visie word onmiddellik waar as Gasael vir Ben-Hadad vermoor.

Ek dink dit is een van die redes waarom Jesus later ons sou aanraai om te fokus op vandag en wat God se wil vir vandag is, en doelbewus die dag van môre in die hand van die Here te los en Hom daarvoor te vertrou.

God se getrouheid aan sy beloftes word te midde van die ongehoorsaamheid van Joram en Ahasia volgehou, volgens die skrywers as gevolg van hulle band met die Agabshuis.  Juda het dus nie enige aanspraak op beskerming vanweë hulle eie prestasie nie, maar net op grond van God wat genadig wil wees ter wille van Dawid.

2 Konings 6-7 – God kan met alles vertrou word

Die verhaal van Elisa as wonderwerker word voortgesit, waarin hy weereens nie net ’n impak het op die groter gebeure in die land nie – die Arameërs se bedreiging word twee keer afgeweer wanneer hulle met blindheid geslaan word en as die Here verwarring onder hulle saai – maar ook op die kleiner verhale van gewone mense – ’n verlore byl wat weer terugbesorg word aan ’n arm profeet.

Dit gee vir ons ’n visie op God, vir wie ’n mens met alles kan vertrou, omdat Hy nie net besorgd is oor die groot dinge wat almal se lewens raak nie.  Hy is ook besorgd oor die kleiner dinge wat in die alledaagse lewe verkeerd loop.  Dit is egter slegs vir die geloofsoog sigbaar.  Let op hoe Elisa vir Gehasi (in die eerste oorlog) help om dié aspek van God raak te sien, maar hoe die adjudant (in die tweede oorlog), ‘n vertroueling van die koning van Israel, die uitkoms wat God bring uiteindelik sien, maar weens sy gebrek aan geloof in God, nie kan geniet nie.  Sy gebrek aan geloof in God se belofte veroorsaak sy dood.

Die tydperk van die eerste oorlog tussen die Arameërs en die Israeliete word nie nader gedefinieer nie, en ook nie hulle konings nie.  Let op hoe naby Elisa aan die Here leef, sodat mense later dink dat hy alomteenwoordig is, en weet wat selfs in die Aramese koning se slaapkamer gebeur!  Hy is natuurlik bekend by die Arameërs deur die verhaal van Naäman.

Die Here se barmhartigheid word ook geïllustreer met die ete wat die Arameërs in Samaria te beurt val, eerder as die dood.

Die tweede oorlog waarin Ben-Hadad (III) Samaria beleër was in 797 vC, heel moontlik redelik lank na die vorige een (vgl 6:23 – “Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie”), wat ook met ’n droogte saamgeval het.  Dit lyk ook asof Elisa nie meer die koning van Israel (Joahas of Joas) se guns geniet nie (vgl 7:31 – hy wil Elisa doodmaak).

2 Konings 4-5 – God help gewone mense sowel as vernames

Dit tref my hoe gewone mense, veral vroue, in hierdie verhale aangeraak en gehelp word, die vrou van ’n profeet, die Sunemmitiese vrou, sowel as vernames soos Naäman.  Dit tref my verder dat Elisa nie bv. met die skuldeiser gaan gesels om die skuld van die vrou van die profeet af te skryf nie, maar dat hy haar in staat stel om haar skuld af te betaal met die wonder vermeerdering van die olie in die erdekannetjie.  Dit is ook gewone goed wat gebruik word in die wonders: olie by die weduwee, brood by die ete vir 100 mense, water by die genesing van Naäman.

Die broodvermeerdering laat ’n mens onmiddellik ook dink aan Jesus in die Nuwe Testament wat twee keer ’n soortgelyke wonder doen, met duisende mense wat daarby baat vind.  Let ook op dat  Elisa se slaaf ook beswaar maak teen die opdrag om die brood met so baie mense te deel, net soos die dissipels veel later in die evangelies.

Die opwekking van die seun van die Sunemmitiese vrou laat mens ook dink aan die soortgelyke verhale van Elia, Jesus, Petrus en Paulus wat ook by die opwekking van mense betrokke was.

WEEK 4: 2 Konings 2-3 – Die Here is in beheer

Elia wil die einde van sy lewe sonder Elisa tegemoet gaan, miskien om alleen te wees, anders juis as ’n toets aan Elisa of hy sy leier alleen sal laat of nie.  Ons weet nie regtig nie.

Die wonder by die Jordaan herinner ’n mens weer aan die ooreenkomste tussen Elia en Moses.  Maar let op dat die simboliese handelinge met die mantel begelei word deur die aanroep van die Here, beide hier met Elia en later met Elisa.  Die mantel het dus nie magiese krag wat outomaties wonderwerke doen nie.  Dit is God wat in beheer is en wonderlike dinge doen.

Elisa se versoek vir ’n dubbele deel van Elia se gees verwys moontlik na die dubbele erfporsie wat eersgeborenes kon kry (Deut 21:17), waarmee hy eintlik net vra dat hy Elia se opvolger sal wees en nie om twee keer meer effektief as Elia te wees nie.  Dit herinner ook aan die oordrag van die Gees op die 70 oudstes in Moses se tyd (Num 11).

Let op dat Elia in die stormwind weggeneem word, en nie in die wa en perde van vuur nie, soos dikwels verkeerdelik aangeneem word.  Die versoek van die profete om Elia te gaan soek, hoewel vrugteloos, het te make met die gebruik van daardie tyd dat ’n lyk begrawe moet word.

Die vloek oor Jerigo, wat ook die water besoedel het, word in ’n wonder deur Elisa opgehef.  Let weereens op dat die sout nie magiese krag het nie, maar dat dit die Here is wat die water bruikbaar maak.

Die straf vir die aantasting van Elisa se gesag as profeet klink vir ons baie wreed.  Hou egter in gedagte 1) dat dit die Here se eer is wat in gedrang is as ’n profeet geminag word en 2) dat dit in Bet-El gebeur waar sinkretisme beoefen is.  Die tragiese verhaal is dus ’n harde woord aan ’n omgewing wat die Here nie wil dien nie en bevestig ook die gesag van Elisa.

Die stryd tussen Moab en Israel is ook bekend uit ’n inskripsie op ’n gedenksteen wat by Dibon ontdek is.  Weereens is daar samewerking tussen Israel en Juda.  Elisa word egter opgesoek as die manskappe se water opraak.  Dat hy nie ontbied word, soos ons soms by Elia gesien het nie, wys dat die voorafgaande gebeure by die Jordaan en Jerigo, sowel as die tragiese gebeure met die kinders ’n ontsag vir Elisa geskep het, selfs by die konings.

Ons kom agter uit die lierspeler wat ingespan word, dat Elisa ’n ekstatiese profeet was wat ’n atmosfeer geskep het waarin hy die stem van die Here kon hoor.  Sy voorspelling dat die Here sal voorsien word waar, en hulle kan Moab verslaan.  Die kinderoffer vervul Israel egter met soveel afgryse dat dit hulle keer van ’n totale verwoesting van Moab.  Mesa interpreteer dit, volgens die inskripsie, as ’n oorwinning vir homself.

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏