Skip to main content

Openbaring 19:1-10 – Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam

19 Mei

Openbaring 19:1-10 – Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam

1Hierna het ek ‘n harde klank gehoor, soos ‘n groot skare, wat in die hemel jubel: “Halleluja! Die verlossing, die heerlikheid en die krag behoort aan ons God! 2Waar en regverdig is sy oordele, want Hy het die groot prostituut veroordeel, sy wat die aarde met haar hoerery verlei het, en Hy het die bloed van sy diensknegte wat deur haar hand omgekom het, gewreek.” 3‘n Tweede keer het hulle uitgeroep: “Halleluja! Haar rook styg op, vir ewig en ewig.” 4Die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval, en God wat op die troon sit, aanbid en gesê: “Amen! Halleluja!” 5En ‘n stem het vanaf die troon gekom wat sê: “Loof ons God, julle wat vir Hom ontsag het, al sy diensknegte – geringes en magtiges.” 6En ek het iets gehoor soos die klank van ‘n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep: “Halleluja! Die Here, ons God, die Almagtige, het sy koningskap opgeneem. 7Laat ons bly wees en jubel, en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilofsfees van die Lam het aangebreek, en sy bruid het haar gereedgemaak. 8En sy is toegelaat om blink klere van suiwer, fyn linne aan te trek. Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges.” 9Toe sê die engel vir my: “Skryf dit neer: ‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die Lam.’ ” Hy het ook vir my gesê: “Hierdie woorde van God is waar.” 10En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: “Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie.”

Openbaring 18 het die eerste ses van sewe uitvloeisels van die oordeelsaankondiging oor Babilon-Rome – die verpersoonliking van die politieke en ekonomiese mag wat met godsdienstige begronding mense regoor die wêreld in hulle gemeenskapslewe beïnvloed het – beskryf. Openbaring 19:1-5 voltooi die prentjie met die sewende uitvloeisel, ‘n loflied: die Drie Hallelujas vir die oordeel oor Babilon. Dié lied herinner sterk aan die soortgelyke loflied in die hemelse erediens waarvan ons in hoofstuk 4-5 lees. ’n Groot skare in die hemel besing God se regverdige verbreking van die mag van die “groot prostituut”, Babilon, in al sy historiese verskynings. Met twee grootse Hallelujas beklemtoon hulle die verlossende oordeel van God, waarna daar ook nog ’n Halleluja weerklink van die 24 ouderlinge en die vier lewende wesens – die verteenwoordigers van God in die skepping, sowel as die skepping se verteenwoordiging by God – terwyl hulle God aanbid.

Dit word opgevolg deur die bruilofsfees van die Lam van God waarmee Hy sy volle koningskap opneem en sy vrou, die kerk, haar gereedmaak om met Hom verenig te word – vers 6-10. (Hierna sal Jesus – die Woord van God op sy wit perd – met die leërs van die hemel afreken, sowel as met twee van die bose driemanskap [die antichris en die valse profeet]. Die draak se uitwissing kom in die volgende hoofstuk.) Die “vrou”, die kerk, word toegelaat om haar gereed te maak vir die bruilof met wit klere as simbool van die regverdige dade van die heiliges. Een van die grootste beloftes ooit wat vir hulle in vervulling gaan. Daarom word hulle as geseënd verklaar. Interessant, die Griekse woord “vrou” (gunē) word eintlik in die Griekse grondteks gebruik – in plaas van “bruid” soos die 2020-vertaling dit doen (numphē­ – ‘n vrou wat so pas gaan trou, of so pas getroud is) soos in ander visioene (vgl Openb 21:2, 9; 22:7) – om waarskynlik die geldigheid en status van die verbintenis uit te druk. In die volgende sin, verskuif die metafoor boonop na die bruilofsgaste wat uitgenooi word na die bruilofsfees, maar wat na alle waarskynlikheid op dieselfde geloofsgemeenskap dui wat ook die bruid van die Lam is. Gelowiges is dus beide die bruid asook die genooide gaste. Die hemelse Jerusalem sal ook nog die bruid van Christus genoem word (Openb 21:2, 9). Dit staan in skerp kontras met die prostituut Babilon (Openbaring 17-18) wat onreg en onsedelikheid soos ‘n magneet aangetrek en uitgedeel het.

Dit wys jou net weer hoe belangrik dit is om die breë prentjie van die simboliek in gedagte te hou en nie te verdwaal in die presiese detail van die beskrywings en metafore nie. Die punt is dat die geloofsgemeenskap van die kerk met die Here Jesus sy toppunt bereik en die twee metafore hier in Openbaring 19 dui die intimiteit en die eer van hierdie gemeenskap aan. Die stem van die troon af bevestig dan dat hierdie woorde van God eg en betroubaar is.  Die effek op Johannes is so groot dat hy neerval om die stem te aanbid, waarskynlik met die idee dat dit God self is, maar die stem sê dat hy eintlik net die aankondiger is en daarom nie aanbid mag word nie, omdat net God werd is om aanbid te word, dit ook die geval is met Jesus (Openb 1:2; 12:17). Die getuienis waarna hier verwys word, is waarskynlik die evangelie wat Jesus verkondig het, wat bevestig is in die regverdige dade van die heiliges, soos vroeër in die hoofstuk vermeld. Hierdie getuienis word gedra deur die gees van die profesie, waarskynlik ‘n verwysing na die Heilige Gees se bemagtigende werk.

Lees meer (dit is my boek oor Openbaring wat jy gerus gratis kan aflaai om die hele Openbaring deur te werk): https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar