Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof

Hoofstuk 13 voltooi die prentjie van die Bose aanslag op die mensdom met die bekendstelling van twee diere, die dier uit die see (antichris) en die dier uit die aarde (vals profeet – vgl. 16:13).  Saam met die draak (Satan) vorm hulle ’n gedugte bose driemanskap wat die mensdom met hulle mag beïndruk en van God Drie-enig afvallig maak, behalwe dié wat God daarvan beskerm.  Hulle teenstand sal in die volgende hoofstukke prominent geteken word, veral in die effek wat hulle op die mensdom het, sowel as op die gelowiges, totdat die wederkoms aanbreek en God hulle in die finale oordeel sal oorwin.

Die dier uit die see – die antichris

Die dier uit die see kan met die antichris verbind word in terme van die mag wat hy uitoefen op almal wat nié in die boek van die lewe van die Lam van God opgeskryf is nie.  Hy is dus ’n direkte teenstander van die Here Jesus Christus, soos die draak die direkte teenstander van God self was (hfst. 12). Sy beskrywing kom in breë trekke ooreen met die vierde dier in Daniël 7 (10 horings, maar sewe koppe inplaas van vier), maar omvat eintlik die beskrywing van al vier diere van Daniël (leeu, beer, luiperd en die sterk dier – as hierdie drie diere in Daniël ingereken word, was daar ook sewe koppe in totaal in Daniël ter sprake).

Omdat die vier diere in Daniël 7 op vier koninkryke dui wat ’n mens kan identifiseer (Galdeërs, Mediërs-Perse, Grieke, Romeine), dui Openbaring se dier uit die see waarskynlik in die eerste plek op die Romeinse ryk (sterk dier van Daniël = dier uit die see in Openbaring), maar in die tweede plek tog ook op die somtotaal van alle teenstand teen die geloofsgemeenskap, deurdat die dier uit die see in Openbaring trekke van al die koninkryke van Daniël bevat, d.w.s. ’n politieke mag.

Hy boots die Christus na in ’n poging om die mensdom te mislei om hom te aanbid.  Selfs die opstanding uit die dood word deur die dier nageboots wat lei tot groot bewondering en ’n groot aanhang.  Enigiets wat dus téén Christus en sy navolging gesê word, word deur hulle opgeslurp en geglo wat die geloofsdeling van die kinders van God in die skadu stel, hoewel daar genadiglik ’n beperkte tyd daarvoor gegee word.

Dit is waarom dit so belangrik is vir gelowiges om hiervan kennis te neem, sodat hulle nie verras word deur die teenstand en die verguising wat daarmee gepaard gaan nie en hulle in geloof kan volhard tot die einde toe.

Die dier uit die aarde – die vals profeet

Die dier uit die aarde opponeer die ander persoon in die Triniteit, die Heilige Gees, wat gesien kan word in die lewe wat dié dier gee aan die eerste een, sowel as aan die beeld wat van hom opgerig is.  In Openbaring 16:13 word dié dier die vals profeet genoem, dié een wat sorg dat daar ’n godsdienstige begronding geskep word vir die aanbidding van die draak, die Satan, en die dier uit die see, die antichris.  Hierdie dier is dus ’n direkte teenstander van die Heilige Gees, want soos die Heilige Gees die Here Jesus verheerlik, doen die dier uit die aarde dit vir die dier uit die see en die draak.

Daar is baie interpretasies oor presies waarop die simboliek van die vals profeet dui.  In Johannes se tyd kan dit waarskynlik die beste met die keiserkultus verbind word, maar in die verlengde van dié interpretasie kan dit eintlik met enige groot godsdienstige beweging verbind word wat nie net ’n ander god aanbid nie, maar spesifiek ook anti-christelik in opset is.

Die godsdienstige begronding word gesoek in wondertekens (vuur uit die hemel soos Elia van ouds), magsvertoon (genesings) en afgodery (beeld word aanbid) waarmee demoniese verskynsels (beeld praat) gepaard gaan.

Die uitwerking daarvan is dat die denk– en werkvermoë van die mensdom wat hulle volg, in diens van die bose driemanskap geplaas word, wat een van die maniere is om die merk op die voorkop en die merk op die hand se simboliek te verklaar (Du Rand).  Dit beteken dan ook dat dít die manier is waarop gelowiges van die ekonomie uitgesluit kan word, as hulle nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie, soos reg deur die eeue gebeur het in lande waar dit verbied word om die Here Jesus te dien en volg.

Die getal 666 moet dus in die lig van hierdie interpretasie uitgelê word, eerder as dat die numeriese getalwaarde van name uitgewerk word, om ’n persoon daarmee te verbind (soos wat bv. die geval sou wees met keiser Nero, wie se naam se letterwaardes 666 is – hy was egter teen dié tyd al dood).  666 staan dus vir die doel van die dier se agenda om die gelowiges ekonomies te isoleer.  Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak.

View all posts in this series

Openbaring


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (7)

  • Marianne Lottering

    Hallo Chris. Ek het sopas vir die eerste keer op hierdie blad afgekom. Ek wil graag op Jan van Zyl se vraag van 15 Januarie reageer.
    Ek het net soos Jan gevoel, nadat my man in Junie 2012 al byna 3 jaar sonder werk was. Ons het op daardie stadium reeds ons huis en 3 motors verloor. Ek het die “Onse Vader” onophoudelik as volmaakte gebed gebid. Ek het nie meer woorde en trane gehad het nie. Ek was opgebid en opgehuil. God het my in daardie tyd twee keer in ‘n hoorbare stem gevra: “Vertrou jy my dan nie?” Dit het my telkens baie skaam laat voel. Ek moes bely dat my geloof op daardie stadium kleiner as ‘n mosterdsaadjie was.
    God wys my toe in Gen 12:3 dat, wanneer ons Israel seën, Hy ons ook sal seën. Ons het dit begin doen. Wat ‘n deurbraak! Op 12 Aug 2012 het my man weer begin werk en ons lewe het handomkeer verander.
    Ek kan getuig dat die Here Sy belofte gestand gedoen het en dit steeds elke dag doen! Maak ook Psalm 122:6 jou eie en bid vir die vrede van Jerusalem. Lees in Jesaja 62 hoe lief God Sy uitverkore volk, Israel (en Jerusalem) het! Hy het hulle nié vergeet nie (Rom 11). Hoe kan ons dan nie ook Sy volk liefkry en ondersteun in gebed nie?
    God wíl en sál jou gebede verhoor, wees net gehoorsaam en vertrou op Hom!
    Shalom
    Marianne

  • Deon Raubenheimer

    Beste Chris, ons dank God vir jou onwrikbare geloof, insig, wysheid en lering. Mag jy en jou geliefdes gesond bly, ook in dié tyd en nog lank gespaar bly om Sy werk voort te sit. Geseënde Paastyd, Groete in Christus, Deon

  • Môre Chris, Met my Bybelstudie daagliks verwys ek dan na jou Bybelskool onder dieselfde hoofstuk vir beter begrip. Dan gaan al die ligte aan ! Dankie ! Ek loop nog al die jare wye draaie rondom Openbaring maar helaas, is en nou by Openbaring 13. Ek is verby middel 60 en ons gesin van 4 wil nie inent teen Covid nie. Sonder benadeling van regte sal ek graag jou gedagte hieroor wil verneem m.b.t. die merk v/d dier.
    Groete,

  • Goeie Dag Chris
    Ivm die nommer 666. Ek het ‘n interessante video gesien oor iemand wat selfs ‘n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy ook noem in jou verduideliking dat dit wel in dele vd wereld waar is. Ons weet Moslems doen dit ea, maar weet ook dat Allah die naam van ‘n afgod is hoewel hul dit met God verbind. (Op. 13)
    Hoe dink jy?

    • Hi Petrus, ‘n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg:

      Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opponeer die ander persoon in die Triniteit, die Heilige Gees, wat gesien kan word in die lewe wat dié dier gee aan die eerste een, sowel as aan die beeld wat van hom opgerig is. Hierdie dier is die een in die onheilige driemanskap wat sorg dat daar ’n godsdienstige begronding geskep word vir die aanbidding van die draak, die Satan, en die dier uit die see, die antichris.

      Hierdie dier is dus ’n direkte teenstander van die Heilige Gees, want soos die Heilige Gees die Here Jesus verheerlik, doen die dier uit die aarde dit vir die dier uit die see en die draak. En sy getal is 666.

      Daar is baie interpretasies oor presies waarop die simboliek van die vals profeet dui (vgl Jesus in Matt 24:24 wat ook van vals profete praat). In Johannes se tyd kan die vals profeet waarskynlik die beste met die keiserkultus verbind word, maar in die verlengde van dié interpretasie kan dit eintlik met enige groot godsdienstige beweging verbind word wat nie net ’n ander god aanbid nie, maar spesifiek ook anti-christelik in opset is, ook met die Islam deur die eeue.

      Die 666 merk op die voorkop en die hand moet dus verbind word met die wyse waarop sulke godsdienste mense in hulle denk- en werkvermoë beïnvloed om die bose driemanskap te volg. Gelowiges wat nie saamspeel daarmee nie, kan dan van die ekonomie waar dié godsdienste die botoon voer, uitgesluit word, as hulle nie aan die heersende godsdienspraktyke wil deelneem nie. Weereens kan ‘n mens dit reg deur die eeue sien gebeur, en ook in die lande waar Christene deur verskeie godsdienste, en in die Weste nou ook deur diegene wat die sekularisme aanhang, vervolg word.

      Die getal 666 moet dus aan hierdie godsdienstige teenstand verbind word, eerder as dat die numeriese getalwaarde van name uitgewerk word, om ’n persoon daarmee te verbind. 666 staan dus vir die doel van die dier se agenda om die gelowiges ekonomies te isoleer. Wie hierin insig het, kan planne maak om die dier se invloed minder te maak.

      Dit is natuurlik moontlik dat ‘n mens die getal op ‘n simboliese wyse kan verbind aan iemand soos keiser Nero. Hy was ‘n bloeddorstige vervolger van die vroeë Christus-volgelinge. Sy naam en titel in Hebreeus (Nero Ceasar – נרונקסר) het ‘n numeriese waarde van 666.

      Maar, selfs as ‘n mens Nero só sou interpreteer, gaan dit ook meer oor die feit dat hy simbolies is van alle toekomstige vervolgings deur heersers en hulle regerings, as dat dit direk op hom dui.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
%d bloggers like this: