Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis
Hoofstuk 10 het gefokus het op die verkondigingstaak van die kerk, gesimboliseer deur die boekrolletjie wat Johannes van die sterk engel in ontvangs neem, internaliseer en verkondig.
Hoofstuk 11 fokus nou op die bevestiging en beskerming van gelowiges as God se eiendom (die tel van die aanbidders in die tempel) en die inhoud van die getuienis van die kerk, gesimboliseer deur die twee getuies (priesterlike en koninklike getuienis, of die getuienis van die wet en die profete) wat martelaarskap na binne sowel as bekering na buite tot gevolg het.
Dit word opgevolg deur die blaas van die sewende trompet wat die heerskappy van “ons Here en sy Christus” laat aanbreek om die finale oordeel oor die dooies te vel en gelowiges te beloon.
Twee getuies
Johannes kry ‘n meetstok om dié deel van die tempel waar God se mense aanbid te meet en die mense te tel. Dié daar buite word buite rekening gelaat. Die aksie kan in die lig van soortgelyke beskrywings in Esegiël 42-44 (geskryf in die Babiloniese ballingskap) en Sagaria 2 (geskryf met die herbou van die tempel in Serubbabel se tyd ná die Babiloniese ballingskap) as simbolies van God se beskerming van sy mense geïnterpreteer word, soos dit inderdaad ook in Openb. 21:15-21 van die hemelse Jerusalem die geval sal wees.
- In Esegiël 43:7-9 word dié “meet”-aksie van die tempel se doel as volg beskryf: “Mens, dit is die plek waar Ek my troon het, waar Ek vir altyd teenwoordig is tussen die Israeliete … As die volk nou hulle afgodery laat staan … sal Ek altyd tussen hulle woon.”
- In Sagaria 2:5 kry ‘n mens dieselfde, hoewel dié keer op die stad van toepassing, soos in Openb. 21: “Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.”
Die beskerming beteken natuurlik nie dat hulle van alle fisiese gevare en bedreiginge beskerm word nie. Gelowiges was nog steeds blootgestel aan teëstand en selfs martelaarskap. Maar hulle verhouding met God word deur God self in stand gehou, sodat hulle nie geestelike skade opdoen nie. Du Rand verbind dié toedrag van sake – beskerming sowel as vervolging – met die soet smaak van die boekrolletjie en die bitter effek in die maag.
Die twee getuies voer God se verkondigingsopdrag uit vir ‘n bepaalde tyd, 1 260 dae lank, d.w.s. drie en ‘n half jaar lank, ‘n simbool van ‘n tyd van swaarkry.
Daar is baie verskillende interpretasies van wie dié twee getuies is. In die teks van Openbaring self word hulle geïdentifiseer met die twee olyfbome en die twee kandelare wat voor die Here van die aarde staan. As agtergrond hiervoor moet ’n mens veral na Sagaria 4 kyk:
- In Sagaria 4 word ook van twee olyfbome (4:3,11) gepraat wat daarby as die twee gesalfdes (4:14 – letterlik “seuns van olie”) beskryf word wat in diens van die Here staan aan wie die hele aarde behoort. In die konteks van dié visioen van Sagaria verwys dit waarskynlik na die goewerneur en afstammeling van Dawid, Serubbabel (4:6-10) en die hoëpriester Jesua (4:10), die gesalfdes van die Here wat op politiese en godsdienstige vlak leiding neem. Saam verteenwoordig hulle die volk by God en God by die volk. Sommige verklaarders interpreteer hulle daarom as simbole van die priesterlike getuienis (Jesua) en die koninklike getuienis (Serubbabel) van die kerk, soos dit inderdaad ook van die kerk in Openbaring gesê word (1:6; 5:10; 20:6). Ander verklaarders (bv. Du Rand) verbind die twee getuies van Openbaring 11 egter met die getuienis van Moses (wet) en dié van Elia (profete) omdat hulle die twee figure uit die OT bedeling was wat as getuies van Jesus se status as God se Seun op die Berg van Verheerliking opgetree het (Mark. 9:2-8; Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36). Daar het hulle die OT getuienis van die wet en die profete verteenwoordig.
- Sagaria 4 praat ook van ’n kandelaar met sewe tuite en sewe lamppitte in elkeen (4:2) wat waarskynlik die volk van God simboliseer. In Openbaring 1-3 word die simboliek uitgebrei deurdat elke gemeente met ’n kandelaar voorgestel word. Die twee kandelare van Openbaring 11 staan dus waarskynlik op soortgelyke wyse vir die kerk, moontlik met verwysing na die samevoeging van die ou en die nuwe verbond, soos die 24 ouderlinge onder andere uitgelê kan word.
Watter keuse ’n mens ook al maak tussen die verskillende interpretasie moontlikhede vir die twee getuies en die twee kandelare, dit simboliseer na alle waarskynlikheid die getuienis (deur leierskap en die Woord) van die kerk in die wêreld wat aan die eenkant met baie groot krag en impak sy rol speel – dit het selfs ‘n impak op die natuur, nie net op die mense nie – en aan die ander kant onderhewig is aan teenstand en verguising, selfs aan oënskynlike uitwissing.
Die dier uit die bodemlose diepte (waarskynlik Abbadon/Apollion, soos in hfst. 9) kry aan die einde van hulle tyd van bediening wel die oorhand oor hulle, d.w.s. oor hierdie getuienis, maar die vreugde daaroor is van korte duur, omdat die Here deur sy lewegewende asem die getuienis weer laat herleef wat nie net tot groot vrees onder die aardbewoners lei nie, maar ‘n deel van hulle oortuig om die boodskap te aanvaar en aan God heerlikheid te betoon. Die ligpunt is dat hulle dus nie net hulle volle boodskap kon aflewer en daarom in hulle doel geslaag het nie, maar ook uiteindelik weer opgewek word.
Sewende trompet
Die tweede hoofdeel van Openbaring, hoofstuk 4-11, word afgesluit met die blaas van die sewende trompet wat die koningskap van God oor die heelal aankondig en in werking stel.
Dit ontlok lofprysing by die hemelse wesens vir God se koningskap sowel as aanbidding by die 24 ouderlinge dat God nou sy finale oordeel oor die dooies sal vel, die gelowiges sal beloon vir hulle volharding en die vernietigers van die aarde tot niet sal maak.
Die heerskappy van God word nou oral sigbaar met die visie op die verbondsark, die simbool van God se teenwoordigheid. Dit word ook oral erken en beteken die vernietiging van enige teenstand, soos die stormagtige oordeel simboliseer.
View all posts in this series
- Die Openbaring aan Johannes – Jesus Christus se testament en agenda - September 9, 2013
- Inleiding op Openbaring - October 16, 2013
- Openbaring 1 – Jesus Christus maak bekend wat hierna gaan gebeur - October 17, 2013
- Openbaring 2 – Bly getrou tot by die Wederkoms - October 18, 2013
- Openbaring 3 – Fokus op gemeenskap met Jesus - October 21, 2013
- Opsomming van Jesus se boodskap aan sy kerk
- Openbaring 4 – God word as Skepper in die hemelse troonsaal aanbid - October 22, 2013
- Openbaring 5 – Die Lam van God is waardig om God se agenda uit te voer - October 23, 2013
- Openbaring 6 – God se oordeel ontvou met ses seëls - October 24, 2013
- Openbaring 7 – God beskerm en versorg die kerk as geloofsgemeenskap - October 25, 2013
- Openbaring 8 – God hoor die gebede van die heiliges en verskerp sy verlossende oordeel - October 28, 2013
- Openbaring 9 – God se oordeel bring nie die mense tot bekering nie - October 29, 2013
- Openbaring 10 – Die kerk het die taak om die verlossing en die oordeel van God te verkondig - October 30, 2013
- Openbaring 11 – God beskerm sy mense en vestig sy heerskappy deur hulle getuienis - October 31, 2013
- Openbaring 12 – God beskerm sy kerk teen alle aanslae van die draak - November 1, 2013
- Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloof - November 4, 2013
- Openbaring 14 – Die oes van gelowiges en ongelowiges word ingesamel - November 5, 2013
- Openbaring 15 – Die oordeel breek onafwendbaar aan - November 6, 2013
- Openbaring 16 – God se oordeel tref die hele kosmos en vernietig Rome - November 7, 2013
- Openbaring 17 – Die omvang van Rome se bose invloed op die nasies word ontbloot - November 8, 2013
- Openbaring 18 – Die oordeel oor Babilon-Rome bring bevryding vir die kerk van die eeue - November 11, 2013
- Openbaring 19 – Gelowiges jubel oor die bruilofsfees van die Lam en God se regverdige oordeel en uitwissing van die Bose - November 12, 2013
- Openbaring 20 – Die oordeel oor die Satan baan die weg vir die bekendmaking van die mense in die Boek van die Lewe - November 13, 2013
- Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem - November 14, 2013
- Openbaring 22 – God bring lewe en genesing – Die Here Jesus is op pad terug - November 15, 2013
- Opsomming van die boodskap van Openbaring
- Gemeentes in die weegskaal - July 29, 2019
- Pinkster 2020 – “Ek kom gou!” - May 8, 2020
- “Ek kom gou” – ‘n boek oor Openbaring deur Chris van Wyk - May 14, 2020
- Die “see van glas” soos kristal in Openbaring 4 - April 30, 2022
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Nicolene
Dis ‘n wonderlike voorreg om sulke inligting te kan lees …baie dankie
Chris van Wyk
Dankie!
jan Smith
Openbaring 11 – Kan dit wees dat die twee getuies tans lewendig word? in die lig van die chaos wereld-wyd
Chris van Wyk
Hi Jan, daar is baie verskillende interpretasies hiervan. As ‘n mens die getuies as ‘n simbool van die hele kerk neem, is hulle opstanding eerder ‘n verwysing na die opstanding van die gelowiges aan die einde van die tyd.