Numeri 13

Ons was soos sprinkane in ons eie oë

Teks en konteks

Met die aankoms van die Israeliete by Kades in die Paranwoestyn is die opdrag van die Here dat Moses twaalf leiers uit die twaalf stamme as verkenners moet aanwys. Moses se opdrag aan hulle was om deeglik te kyk na die land en sy mense om die volk opgewonde te maak oor wat die Here vir hulle gaan gee en ook inligting te kry vir hulle veldtog – Numeri 13:1-20. Die verkenning sluit die hele land in van die Sinwoestyn in die suide tot by Lebo-Hamat in die noorde met spesiale vermelding van Hebron waar God aan Abraham die belofte van die land gemaak het – Numeri 13:21-25. Met hulle terugkoms was hulle positief oor die moontlikhede van die land, maar negatief oor die gevaar wat die mense vir die Israeliete ingehou het. Kaleb se verweer dat hulle die land sál kan inneem, word getroef deur die slegte gerug wat die meerderheid van die verkenners onder die volk versprei: “Ons was soos sprinkane in ons eie oë, en so was ons ook in hulle oë.” – Numeri 13:26-33.

Twaalf verkenners – Numeri 13:1-20

In opdrag van die Here laat Moses die volk twaalf leiers kies om as verkenners op te tree. Die term wat gebruik word vir “verken” beteken in ander kontekste “ondersoek”. Dit is dus nie net op ‘n militêre verkenning gemik om die toeganklikheid van die stede en die paraatheid van sy mense te toets nie, maar ook op ‘n evaluasie van die vrugbaarheid en geskiktheid vir hulle toekoms. Hulle moes van die vrugte saambring as hulle kon.

Die twaalf leiers sluit Kaleb van die stam Juda in sowel as Hosea van die stam Efraim, een van die Josef-stamme. Albei sal van hier af belangrike rolle speel. Die redakteur verduidelik dat Hosea dieselfde man is wat deur Moses Josua genoem is, en wat al ‘n paar keer in die verhaal tot hier vermeld is. Moses het met hierdie naam Josua se verbintenis aan Jahwe duidelik gemaak met die voorvoegsel wat drie konsonante (JHW) van die naam Jahwe bevat. Hosea-Josua sou uiteindelik die volk in die beloofde land inlei met die tweede probeerslag.

In Deuteronomium 1:19-25 verwys Moses terug na hierdie gebeure in sy toespraak aan die tweede generasie van die volk op die vooraand van hulle Intog in Kanaän. Daar beklemtoon hy sterker die rol van die volk in die keuse van hierdie manne, anders as hier in Numeri waar God se rol sowel as sy eie sterk op die voorgrond is.

Terloops, Kades word met ‘n hele paar verskillende name in die Bybel aangetoon: Kades-Barnea (Num. 32:8), En-Mispat (Gen. 14:7), en figuurlik gesproke ook Meriba (Num. 27:14) soos dit ook die geval was met Refidim in die Sinwoestyn tussen Elim en Sinai wat deur Moses Meriba genoem is weens die rusie wat daar rondom water ontstaan het (Eks. 17:7).

Die verkenning – Numeri 13:21-25

Die roete wat hulle volg, is van die suide in die Sinwoestyn tot reg in die noorde by Rehob (stad in die latere stamgebied van Aser – Jos. 19:28) en Lebo-Hamat wat uiteindelik die noordgrens van die landgebied van Israel sou uitmaak in die tyd van Salomo (1 Kon. 8:65) en Jerobeam II (2 Kon. 14:25).

Dit val op dat spesiale vermelding gemaak word van Hebron en die Eskolspruit, want dit is waar Abraham by die groot bome van Mamre gebly het en Makpela van Efron, ‘n Hetiet, gekoop het as graf vir hom en sy mense (Gen. 13:18; 23:19). Ook Isak en Jakob het daar gewoon (Gen. 35:27; 37:14).

Drie van die mense (clans) wat in Hebron gebly het, word genoem: Agiman, Sesai, en Talmai. Hulle was afstammelinge van Enak, bekend as besondere lang mense, die “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm). Kaleb sou later juis hulle grondgebied kry en dié drie verslaan (Jos. 15:14; Rigt. 1:20).

Die redakteur gee ‘n bietjie verdere historiese agtergrond en verduidelik dat Hebron sewe jaar vóór die Egiptiese stad Soan gebou is, ‘n stad wat hulle in Egipte geken het, soos ons uit Psalm 78:12,43 kan agterkom. Geleerdes identifiseer Soan met die stad Tanis in Egipte. Daarmee bevestig die skrywer dat dié dinge regtig gebeur het.

Hebron verbind dus die Intog met die belofte wat aan Abraham gegee is dat die Here die land van Kanaän vir hom en sy nageslag gee. Die verwysing na die Eskolspruit dien dieselfde doel, want Eskol was die broer van Mamre met wie Abraham in ‘n goeie verhouding was. Maar weens die goeie vrugte wat hulle juis daar afgesny het – druiwe, granate, vye – en die feit dat Eskol in Hebreeus “druiwetros” beteken, dra dié verwysing ook die betekenis van die vrugbaarheid van hierdie land. Dit is dus ‘n vrugbare land wat die Here vir Israel gee.

Die slegte gerug – Numeri 13:26-33

Die verslag oor die land was aanvanklik redelik gebalanseerd. Die vrugbaarheid van die land het geblyk uit die vrugte wat hulle kon wys, veral uit dié deel waar Abraham vroeër gebly het. Dit het by wyse van spreke: “oorgeloop van melk en heuning.” Die melk verwys waarskynlik na bokmelk en die heuning na ‘n soort mos wat hulle van druiwe en dadels gemaak het.

Maar die uitdaging van die mense in hulle stede was ontsaglik. Nie net was die stede versterk en groot nie. Die mense was ook groot. Sommige was “reuse” (Griekse vertaling van Nefilîm), afstammelinge van Enak. Die Nefilîm is deur die Jode verbind met die “hemelwesens” van Genesis 6.

Hulle lys ook die groepe wat in die onderskeie streke gebly het:

  • Die Amalekiete, nasate van Esau (Gen. 36:12, 16), in die Suidland waarteen hulle al geveg het in die woestyn (Eks. 17).
  • Die Hetiete by wie Abraham Makpela gekoop het in Hebron.
  • Die Jebusiete wat net noord daarvan in die omgewing van die stad Jebus, later bekend as Jerusalem, gewoon het.
  • Die Amoriete wat in die Bergwêreld gewoon het van wie Jakob alreeds Sigem vir homself verower het en as erfenis vir Josef nagelaat is (Gen. 48:22). Later het die Amoriete dwangarbeid vir die Josefstam verrig wat hulle gebied ingeneem het (Rigt. 1:35).
  • Die Kanaäniete by die see en langs die Jordaan. Hier word hulle as aparte groep geïdentifiseer, maar die naam is ook as aanduiding van alle bewoners van Kanaän gebuik.

Kaleb kon egter sien in watter rigting dié verslag gaan en het kapsie gemaak teen die beklemtoning van die vermoëns van die mense van Kanaän met die woorde: “Ons moet beslis optrek en die land in besit neem, want ons kán dit doen.” Die aanspraak van Kaleb is egter in die wind geslaan uit vreesagtigheid: “Nee, ons kan nie teen daardie mense optrek nie, want hulle is sterker as ons.

Die manne het mense gaan werf vir hulle standpunt deur ‘n “slegte gerug” waarin hulle ‘n vreesaanjaende prentjie van die land geteken het as een: “wat die lewe vir sy inwoners onmoontlik maak.” Die direkte konflik tussen hulle aanvanklike beskrywing van die land as ‘n land van melk en heuning en nou as een waarin lewe nie moontlik is nie, het hulle nie gekeer nie. Ten alle koste moes die Intog teengestaan word.

Hulle het gevoel: “soos sprinkane in ons eie oë”, en daarom inderdaad: “so was ons ook in hulle oë.” Die tasbare teenwoordigheid van God in hulle midde het minder getel as die tragiese twyfel in hulle eie vermoëns. God se wondervoorsiening is nie met geloof begroet in hulle lewens nie.

Betekenis

Dit is duidelik dat leierskap ‘n onontbeerlike rol speel in die wel en weë van ‘n geloofsgemeenskap. Dit is een ding om verkennend op te tree om die konteks waarbinne ons leef beter te verstaan. Dit is ‘n heel ander ding om die Here te vertrou om die roeping wat Hy het, uit te voer as die uitdagings van die konteks dreig om jou te oorrompel en jy oor jouself dink dat jy maar net ‘n sprinkaan is, minderwaardig en klein.

Kaleb se moed en oortuiging was egter gebou op sy visie van God. Al het sommige leiers gedink dat hulle soos sprinkane is, het Kaleb vasgehou aan God se belofte en vanuit God se grootheid gedink en gelei. Hy het daarom ook nie omgegee om alleen te staan nie. Josua sou eers in die volgende rondte saam met hom vir gehoorsaamheid aan God se opdrag in die spervuur gaan staan.

Geen wonder dat Kaleb uiteindelik nie net die voorreg gegun word om die beloofde land binne te gaan nie, maar juis die land kry van die mense wat die grootste uitdaging gebied het, die land van die “reuse”, sowel as die plek waar Abraham vroeër gewoon het. En onthou dat uit Kaleb se stam, Juda, is die Messias gebore!

Kaleb het God gesien soos Hy in Psalm 2:4-5 geteken word: “Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop.” Dit is wat ons ook nodig het as ons Hom moet volg in ‘n situasie wat baie moed gaan verg.

Dit is uit hierdie hoek heerlik om die getrouheid van die twaalf dissipels raak te sien toe hulle deur die Here Jesus uitgestuur is om bekering te gaan preek, duiwels uit te dryf en baie te genees (Mark. 6:7-13; Matt. 10:1-15; Luk. 9:1-6). Dit is ook ons roeping om die evangelie van die koninkryk regdeur hierdie wêreld te neem, maak nie saak watter “reuse” daar op ons wag nie. Ons God jaag hulle by wyse van spreke “op loop” en bring hulle tot inkeer!

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Baie dankie vir die Skrif en bemoeding dat ons nie 45 jaar moet wag soos Kaleb om genoeg geloof bymerkaar te skraap en sdan nie eers ons erf porsie in besit wil neem nie.Is dit nie moontlik dat Noag se seuns se vroue die Nefilîm gene gedra het nie,daarom die melding van reuse na die vloed ?

    • Hi, daar is baie teorieë oor die Nefilîm (reuse – soos die Griekse vertaling van die Hebreeuse teks dit interpreteer). Die Joodse boek 1 Henog open die moontlikheid dat van Noag se skoondogters Nefilîm gebaar het om die voorkoms na die sondvloed te verklaar. Maar, die Bybelse weergawe is stil daaroor, en moet ‘n mens baie versigtig maak om só ‘n interpretasie te aanvaar. Dit klink vir my meer moontlik dat daar ná die sondvloed steeds aktiwiteit tussen engele en vroue was wat tot Nefilîm aanleiding gegee het. Dit is hoe ‘n mens die Sumeriese verhale oor die Anakim en Refaïm kan interpreteer. Maar, dit is baie spekulatief. Ons het nie veel inligting om op staat te maak nie.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Skakel in by Veritas!Hi Hanneke, ek het die skakel gestuur.
  • Hanneke Meyer on Skakel in by Veritas!Ek fasiliteer reeds vir n geruime tyd modules 1 en 2, maar sou graag tog n paar van die zoom-byeenkomste bywoon vir verryking. Ek het n handleiding. Vriendelike groete Hanneke Meyer
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
%d