Miga
Hoe om die Bybelboek te lees
Die Bybel moet ons lewe vorm. Daarvoor is dit nodig dat ons leer om die Bybel te leef terwyl ons dit lees. Daardeur hoor ons die stem van God in die Bybel, leer ons hoe om Jesus prakties te volg, en skryf die Gees ons in God se verhaal met die wêreld in.
Een van die maniere wat gelowiges deur die eeue gebruik het om die Bybel só te lees, dat dit jou lewe beïnvloed, jou transformeer, is Lectio Divina, geestelike of goddelike lees.
Gebruik die volgende metode om hierdie Bybelboek deur te werk:
RUS
- Raak stil. Dink na oor wat die afgelope 24 uur gebeur het. Dank God vir die goeie. Gee vir Hom die slegte.
HOOR
- Lees die gedeelte in die Bybel soos dit aangetoon word. Fokus op wat jou tref.
- Lees my bydrae oor die gedeelte.
- Kies een gedagte wat jou tref en dink daaroor na. Dink veral oor die praktiese betekenis daarvan vir jou.
- Antwoord die Here in gebed.
- Geniet ‘n paar oomblikke die teenwoordigheid van die Here sonder woorde.
LEEF
- Besluit op ‘n praktiese manier om op God se woord aan jou te reageer.
Anoesjka Kouter
Ek wil graag groei in God se woord
Chris van Wyk
Jy kan enigeen van die Bybelboeke gebruik om in God se Woord te begin groei. Dit is gratis en verniet.
May
Is dit gratis om in te teken “bydrae oor Al 4 evangelise”?
Chris van Wyk
Ja, dit is heeltemal gratis.
Jennifer Botha
Wat beteken die gedeelte in Miga 7 vers 6 asok Matt 10 vers 35 kan u dit dalk verduidelik
Chris van Wyk
Miga verwys hier na die konflik wat in huishoudings kan ontstaan waar die Here nie gedien word nie, dws waar die vyfde gebod nie nagekom word nie (Eks 20:12; Deut 5:16). Voorbeelde in die Skrif bv die “seun wat die vader minag” is volop. Dink onder andere aan Gam wat sy pa onsedelik aangerand het (Gen 9:22-24), Ruben wat by sy pa se vrou geslaap het (Gen 49:4) en Absalom wat by sy pa Dawid se byvroue geslaap het (2 Sam 16:22-23). Spreuke verwys na die dwaasheid van sulke minagting (Spr 15:20), selfs al is dit net vervloeking (Spr 30:11) of ‘n gespot (Spr 30:17). Esegiël verklaar dié minagting van vaders en moeders as een van die redes vir die ballingskap (Eseg 22:7). Dws die oordeel van die Here rus op dié wat nie hulle ouers eer nie.
Daarteenoor beklemtoon Maleagi dat God hierdie situasie sal omkeer en vaders met hulle kinders sal versoen in die bedeling wat met die Messias sal aanbreek (Mal 4:6). Lukas kondig die vervulling hiervan aan met die bediening van Johannes die Doper wat soos Elia versoening sal bring wat die ware volk van God sal bou uit alle ouderdomme (Luk 1:17). Almal wat in Jesus glo, sal dus ook daardie versoening ervaar met diegene wat op dieselfde wyse hulle toevlug neem tot Hom.
Maar, alles is nie daarmee reggestel nie, want daar sal steeds teenstand wees tussen dié wat Jesus as Here aanvaar en dié wat Hom verwerp, ook binne huisgesinne. Jesus self praat daaroor, soos jy tereg noem (Matt 10:21, 35-36; Luk 12:53; 21:16) sowel as Paulus (Rom 1:30; 2 Tim 3:2-3). Met daardie werklikheid sal ons ook toenemend moet rekening hou. Jou grootste vyande kan uit jou eie kring, selfs uit jou eie huisgesin kom.
Jennifer Botha
Baie dankie ek waardeer ek verstaan dit nou . Toe ek my oggend stilte tyd gehad het ek uit Matt 10 gelees en die vers 35 my bietjie laat dink. Hoe kan God wat so n liefdevolle God is dit dan toelaat , Maar ek so bly dat ek dit konteks nou verstaan , Mooi dag
Cornelia
Wil my graag verdiep in God Se woord
Chris van Wyk
Hi Cornelia, jy is welkom om hier in te skryf om my daaglikse bydraes te ontvang. Jy kan dit ook per Whatsapp ontvang. Kyk maar net vir die regte skakels op die voorblad. Jy kan ook enige boek in die Bybel hier deurwerk. Die skakels is op die boonste spyskaart (menu).