This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Tue Mar 9 1:43:08 2021 / +0000 GMT

Matteus 2 – God stel sy herderleier, Jesus, bekend en beskerm Hom



Matteus vervolg die geboorte verhaal van Jesus deur te fokus op die reaksies van 'n wye reeks mense op God se bekendstelling van sy herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes.  Die hele hoofstuk kom uit sy eie versameling van Jesusverhale.  Die verhale van die volkstelling en die geboorte in die krip, met die herders wat die eerste menslike getuies daarvan word, word weer net in Lukas gevind. Die reaksies op Jesus sluit in die eerste plek verteenwoordigers van die nasies in (sterrekenners) en in die tweede plek verteenwoordigers van die Joodse volk (koning Herodes, die hele Jerusalem, die leierpriesters en skrifkenners).  Die nasies bewys aan Hom eer en bring vir Hom geskenke.  Die volk is egter ontsteld oor die nuus en Herodes só briesend dat hy 'n tragiese kindermoord pleeg in 'n poging om Jesus uit die weg te ruim. Let op na 'n paar uitstaande kenmerke van Jesus se verhaal:

Sterrekenners uit die Ooste bewys eer aan Jesus en bring vir Hom geskenke – 2:1-12 Ons weet min van hierdie sterrekykers af, of soos die Nuwe Afrikaanse Proefvertaling dit vertaal: “sterrekenners”.  In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior and Balthazar, maar daar is geen historiese getuienis wat dit bevestig nie.  Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie.  Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het.  Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.” Daar is 'n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n nuwe monoteïstiese godsdiens in wat vandag bekend staan as Iran.  Die Jode het reeds tydens die ballingskap in Babilonië met hierdie beweging kennis gemaak.  Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad.  Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was 'n Zoroaster.  Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen. Indien hierdie “wyse manne” (na aanleiding van die Latynse vertaling van die Grieks met die woord magi) dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor.  Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer.  Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel (Rodney Stark, The triumph of Christianity). Hoe dit ook al sy, hulle het met passie hulle doelwit nagestreef, om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys.  En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes. Terloops, ons weet nie baie van die ster af nie.  Dit kon 'n supernova of 'n samekoms van 'n paar planete of doodgewoon 'n natuurwonder gewees het.  En hoe hulle die ster se pad bereken het en toe gevolg het – dit weet ons ook nie. Die feit is dat die sterrekenners daardeur gelei is tot by 'n ontmoeting met Jesus.  Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, behalwe die klompie mense vergader rondom Josef en Maria. Let ook op dat Herodes nie die vraag van die sterrekenners bestry nie.  Trouens, dis ironies dat Herodes self verwys na die geboorte van “die Christus”, d.i. die Messias (Christus is die Griekse vertaling van die Hebreeuse woord Messias). Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys. Die feite was doodgewoon dat Herodes nie eers 'n ware Jood was nie.  Hy was van Edomitiese ('n Idumeër uit die nageslag van Esau) en Arabiese afkoms en is deur die Romeine as Koning aangestel, nie deur die Jode nie.  Sy posisie was dus altyd in die weegskaal en kon net deur geweld in standgehou word. Die leierpriester en skrifkenners is weer interessant genoeg tevrede om net die Bybel te lees, die regte antwoord daaruit te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie.  Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie.  Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. God beskerm Jesus in Egipte – 2:13-14 God tree steeds beslissend op met die groeiende bedreiging van Herodes en laat Josef met die Kind en sy moeder na Egipte vertrek.  Let op dat Jesus vóór sy ma genoem word, 'n aanduiding van die voorrang van dié Kind.  Toe die tyd ryp is, laat God Josef weer terugtrek, en dien dié trek sommer tegelykertyd ook as vervulling van die belofte in Hosea 11:1. Herodes pleeg kindermoord – 2:15-18 Herodes was regtig 'n wrede en magsbehepte karakter. Van hom het keiser Augustus gesê hy sal eerder Herodes se vark as sy seun wees ("vark" en "seun" is 'n woordspel in Grieks – die twee woorde eindig dieselfde: choiros en uios). Die rede was dat Herodes nie gehuiwer het om sy eie familie en vriende te laat vermoor nie. Naas 'n klomp ander onskuldiges, het hy by verskillende geleenthede drie van sy seuns en selfs sy gunstelingvrou koelbloedig laat vermoor. Vir hom was geweld 'n oplossing vir enige probleem, die enigste manier om te regeer. Ons teks vertel vir ons hier van sy heftige reaksie op die sterrekenners se verraad. Hy kom agter dat hulle met 'n ander pad teruggekeer het na hul land sonder om hom te vertel waar die nuutgebore kind tuisgaan. Sy komplot om hulle te gebruik om Jesus te vind, misluk dus. Herodes gee daarom 'n wraaksugtige en koelbloedige bevel dat alle seuns van twee jaar en jonger in die omgewing van Bethlehem doodgemaak moet word.  Dié gebeure word ook as vervulling van die ontsteltenis van die profeet Jeremia (31:15) oor Ragel se kinders geïnterpreteer. Jesus word 'n Nasarener – 2:19-23 God lei hulle uit Egipte na 'n veiliger plek in die land Israel, na die klein dorpie Nasaret.  Die dorpie in Galilea is ná die dood van Herodes onafhanklik van Juda deur Antipas ("Herodes" genoem in Matt 14:1-12), 'n ander seun van Herodes, geregeer. Dié skuif word deur Matteus aan die vervulling van die woorde van die profete (meervoud – dui op die hele boodskap van die OT) verbind (2:23). Dit is daarom ook die hoogtepunt van ons teksgedeelte.  En die toppunt daarvan is dat Matteus Jesus die Nasarener noem.  Die lank verwagte Messias, dié een wat selfs Herodes se aandag gevang het, sê Matteus, is die Nasarener. Nou, ‘n mens moet dié woord onderskei van die woord Nasireër, soos dit in die OT die geval was met Simson (vgl. Rigt. 13:5, 7; Num. 6; Jer. 7:29). Jesus het nie volgens die Nasireër-eed geleef nie.  Hy het sy hare geskeer, en wyn gedrink. Wat Matteus hier doen met die woord Nasarener, is waarskynlik om iets oor Jesus te sê aan die hand van 'n woordspeling tussen die dorpie se naam Nasaret en die Hebreeuse woord neser wat loot of takkie beteken.  In Jes. 11:1 word die woord neser gebruik in 'n Messiaanse betekenis: “'n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra ...” En daarby word gevoeg: “Die Gees van die Here sal op hom rus ...”.  In die NT word die vervulling hiervan direk op Jesus betrek (vgl. ook Jes. 53:2). Die term "Nasarener" het hier dus waarskynlik die dubbele betekenis dat dit ironies op Nasaret sinspeel – ‘n plek waarvan niemand iets goed verwag het nie – en op ‘n dieper vlak sinspeel op die Messias, die takkie van Isai, dié Een op wie die Gees van die Here sal rus, wat verandering bring vanaf 'n plek waar niemand dit verwag nie, en wat die Verlosser van die wêreld is. Nasaret was immers 'n onbenullige dorpie van skaars 480 inwoners genestel in die heuwels van Galilea. Dit was skaars ses km van Seporis, 'n groeiende Hellenistiese stad, die hoofstad van Galilea.  Dit is egter van dié plek wat die Messias kom – die Nasarener – sê Matteus. Dié uitspraak is dus die slotsom van die tweede hoofstuk van Matteus: Jesus van Nasaret is die langverwagte Messias van Bethlehem, die uitverkore herderleier van God. Wié sou dit nou kon verwag?!

 

 


Post date: 2014-01-20 00:00:15
Post date GMT: 2014-01-19 22:00:15
Post modified date: 2014-01-20 00:00:15
Post modified date GMT: 2014-01-19 22:00:15

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com