Bybelskool
https://bybelskool.com/lukas-221-71-die-seun-van-god-ly-vir-ons/
Export date: Wed Jun 16 18:05:44 2021 / +0000 GMT

Lukas 22:1-71 – Die Seun van God ly vir ons


22:1-6
Die drama rondom Jesus verhoog al hoe meer in intensiteit.  Terwyl Hy nog vol in die bediening staan, en die volk gretig na sy woorde luister, word Jesus se dood deur die Joodse leiers beplan.  En 'n gulde geleentheid doen hom voor met die Satan wat in Judas invaar en aanbied om vir Jesus te verraai.  Judas doen dit waarskynlik omdat hy op een of ander manier teleurgestel is in Jesus – die Satan omdat hy onbewus was van God se plan met Jesus se kruisdood en opstanding.
22:7-13 Op die Donderdag, die eerste dag van die fees van die ongesuurde brood, of te wel die Paasfees, stuur Jesus vir twee van die binnekring dissipels, Petrus en Johannes, om alles reg te kry.  Waarskynlik doen Hy dit so sodat Judas nie die plek te wete sou kom nie, en Hy die Paasmaaltyd met sy dissipels sou kon eet, sonder inmenging van die Joodse leiers. Sommige geleerdes dink dat die bokamer wat gereedgemaak is, die huis van Maria was, die ma van Johannes Markus, waarvan ons later in Handelinge lees (12:12). 22:14-23 Let op dat Lukas die dissipels hier apostels noem – dit beteken gestuurdes – een van 5 keer wat hy dit doen (die ander kere is: 6:13 – albei titels reg aan die begin met hulle verkiesing; 9:10 – met hulle eerste volwaardige sending; 17:5 – terwyl hulle op reis is na Jerusalem; 24:10 – na die opstanding).  Dat dit by die pasga-nagmaal is, is nogal vir my betekenisvol, omdat dit iets sê van die feit dat die nagmaal dié samebindende teken van Christelike gemeenskap reg oor die wêreld is. By die paasmaaltyd is daar vier keer wyn gedrink as deel van die seremonie, waarvan Lukas hier twee spesifiek noem, waarskynlik die tweede en derde onderskeidelik (die derde was “die beker van danksegging” waarvan ons in 1 Kor 10:16 lees).   Let op dat Judas deel het aan die nagmaal, maar dat dit hom nie keer om Jesus te verraai nie – hoe tragies! 22:24-30 Hierdie gesprek oor wie die belangrikste is, is betekenisvol, omdat Jesus deur sy kruisdood sy punt gaan onderstreep, en dit is dat dié een wat dien, die grootste is.  Nogal iets wat ons Westerse waardesisteem op sy kop omkeer.  Tog belowe Jesus vir hulle ‘n wonderlike toekoms wat ‘n heersersposissie in die koninryk insluit. 22:31-34 Maar, dié gesindheid van diens is iets wat eers na die uitstorting van die Heilige Gees moontlik sou raak.  Petrus se bravade tot diensbaarheid word deur Jesus afgewys. Let op hoe Jesus vir Petrus alreeds ingetree het dat hy die geloof sou behou en tot inkeer sou kom. 22:35-38 Let op hoe Jesus se opdragte van vroeër, dat hulle geen kos vir die pad moet vat nie, hier verander word, om ‘n ander Skrifgedeelte te vervul.  Dit beteken vir my dat ‘n mens nie enige opdrag in die Skrif op jouself van toepassing moet maak, sonder om die konteks waarbinne Jesus iets gesê het, en jou eie in af te neem nie.  Veral nie met iets soos kos en klere nie. 22:39-46 Die intensiteit van Jesus se lyding neem toe, met die worsteling in Getsemane.  Die stryd is nie net swaar weens dít wat vir Hom voorlê nie, maar ook omdat dié wat Hy gekies het om saam met Hom te wees, nie in staat is om Hom bystaan nie, en Hy diep alleen en eensaam in sy stryd voel.  Selfs die engel wat Hom kom versterk, is nie genoeg om te keer dat sy sweet (in die nag!) soos bloeddruppels van Hom af tap nie. 22:47-53 Jesus se worsteling verdiep verder, met die verraad van een uit sy reisgenote, Judas.  Met die gebruiklike soengroet tussen ‘n rabbi en sy leerling wys Judas vir Jesus uit, en Hy word in hegtenis geneem. 22:54-62 Jesus se verhoor begin, maar eers fokus Lukas op die verloëning van Petrus, wat soos die verraad van Judas bydra tot Jesus se lyding.  In die vroeë oggendure van die Vrydag net voor die sabbatdag, faal Petrus se bravade hom. 22:63-71 Jesus word bespot en in ‘n skynverhoor veroordeel oor sy aanspraak dat Hy die Seun van God is.
Post date: 2011-08-15 00:00:47
Post date GMT: 2011-08-14 22:00:47

Post modified date: 2011-08-15 00:00:47
Post modified date GMT: 2011-08-14 22:00:47

Export date: Wed Jun 16 18:05:44 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com