This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Wed Nov 25 22:36:31 2020 / +0000 GMT

Lukas 21:1-38 – Volhard in waaksaamheid en gebed



Die tempel bly die middelpunt van hierdie fase van Jesus se bediening.  Hy lewer 'n kort stukkie kommentaar op die gawes wat mense bring (21:1-4 – die klein gawe van die arm weduwee) en 'n langer profetiese rede in 6 dele:
Die profetiese rede Dit is belangrik om die profesieë oor Jerusalem in die konteks van die eindtyd te verstaan. Sommige profesieë rondom Jerusalem is in die leeftyd van die dissipels bewaarheid.  Ander wag nog steeds om finale vervulling, waarvan die belangrikste die wederkoms is. 21:7-19 Dit tref my dat Jesus vroeër vrylating vir gevangenes verkondig het as 'n integrale deel van sy bediening (4:18), en inderdaad ook gevangenes bevry het, bv van siekte of besetenheid, maar NIE fisiese vrylating noodwendig vir Homself of sy dissipels in die vooruitsig stel nie.  Hy staan aan die vooraand van sy eie inhegtenisname (22:47 vv) en spel die pad van sy volgelinge in die profetiese rede uit as een wat baie keer juis in die gevangenis sou eindig (21:12), soos Johannes die Doper al aan die begin van sy bediening ervaar het (3:20), en Petrus, Johannes (Hand 4 en 5), Stefanus (Hand 6 en 7), Paulus, Silas (Hand 16) en nog talle ander sou ervaar hierna. Die koninkryk kom dus nie deur prag en praal nie, en verseker nie sonder lyding en opoffering nie. Daarom is die arm weduwee se geskenk ook so belangrik, omdat sy juis uit haar gebrek vrygewig is, want dit is hoe die koninkryk kom, deur mense wat alles feil het vir God. Sulke geleenthede is gulde geleenthede vir getuienis (21:13), en kan letterlik soms IN die gevangenis vir mense vrylating beteken (Hand 5 – bv deur engele).  Maar daarby moet 'n mens ook onthou dat Jesus se woorde nie net op letterlike bevryding dui nie, maar ook – en moontlik is dit nog belangriker – die vrylating van vergifnis en 'n verhouding met die Here self. 21:20-24 Lukas verbind die verdrukking wat aan die kom is aan God se straf oor hierdie volk, wat Hy deur die heidennasies sal uitvoer.  Lukas gee dus ook duidelik ‘n Joodse interpretasie aan hierdie verdrukking wat direk met die verowering van Jerusalem in 66-70 nC verbind kan word. 21:25-28 Lukas praat hier van kosmiese tekens (son, maan, sterre word ontwrig) wat die wederkoms sal voorafgaan, en van die radeloosheid en angs van die mense vir die “gebulder van die see en sy vloedgolwe”(tsunamis?).  Hy bemoedig die gelowiges egter met die boodskap dat hierdie dinge eintlik ‘n teken is dat hulle verlossing naby is.  Daarom moet hulle regop staan en hulle koppe oplig! 21:29-33 Jesus gebruik dan die voorbeeld van die vyeboom se seisoenale verandering in die lente wat as teken dien dat die somer naby is, om die dissipels op die regte wyse na dié tekens te laat kyk.  “Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur,” sê Jesus.  Die natuurlikste interpretasie van “hierdie geslag” is dat dit na die Jode van Jesus se tyd verwys (vgl Mark 8:12). Dws, die profetiese rede sal in die Joodse volk van daardie tyd se leeftyd vervul word.  En dit op sigself is ‘n teken dat die Wederkoms naby is.  Maar uiteraard is daar dele wat nog wag om vervulling. 21:34-38 Jesus sluit af deur sy dissipels te waarsku teen die gevare wat beide die lekker en die sorge van die lewe inhou (onthou die gelykenis van die saaier) en moedig hulle aan om te volhard in waaksaamheid en gebed. Let op dat die hoofstuk afsluit met 'n beskrywing van Jesus wat in 'n ritme van lering in die tempel bedags, en stilword op die Olyfberg snags besig is, terwyl die Joodse leiers ook besig is … om sy dood te beplan (22:2).

 

 


Post date: 2011-08-12 00:00:20
Post date GMT: 2011-08-11 22:00:20
Post modified date: 2011-08-12 00:00:20
Post modified date GMT: 2011-08-11 22:00:20

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com