Levitikus 27

Buitengewone geloftes en normale tiendes

Teks en konteks

Levitikus 27 vul die Heiligheid Gedragskode aan met ‘n uitgebreide bydrae oor geloftes – Lev. 27:1-29 – en ‘n kort bydrae oor die gee van tiendes – Lev. 27:30-34 – wat hulle verpligtinge in buitengewone omstandighede (geloftes – voorwaardelik of onvoorwaardelik) sowel as in die normale gang van die lewe (tiendes) gereël het.  Daar was in baie gevalle die moontlikheid van ‘n los- of terugkoop van iets wat as ‘n gelofte of ‘n tiende belowe of gegee is.  Die hoofstuk word afgesluit met ‘n finale opmerking dat dit saam met al die vorige voorskrifte van die boek Levitikus die gebooie is wat die Here deur Moses by die Sinaiberg vir die Israeliete gegee het.

Geloftes in buitengewone omstandighede – Lev. 27:1-29

Let op dat geloftes in besondere of buitengewone omstandighede gemaak is. So staan dit in vers 1 in die Hebreeus: ’n besondere of buitengewone gelofte.”

  • In die geval van mense wat aan die Here in ‘n gelofte gewy is (bv. Simson en Samuel) kon hulle op die voorgeskrewe manier losgekoop word. Die ouderdom en geslag van die persoon wat toegewy is word in ag geneem sowel as die vermoë van die persoon wat die gelofte gemaak het.
  • In die geval van ‘n rein dier wat geoffer is, kon die dier nie omgeruil word nie. ‘n Poging daartoe het beteken dat jy die plaasvervanger dier ook moes offer.  In die geval van ‘n onrein dier kon die priester ‘n beslissing vel.
  • In die geval van ‘n huis kon die huis ook losgekoop word volgens die toestand van die gebou. Die een wat die gelofte gemaak het, kon dit terugkoop vir die waarde plus twintig persent.
  • In die geval van grond het die drakrag en nabyheid al dan nie aan die Jubeljaar die loskoopwaarde bepaal. As dit egter nie teruggekoop is in die Jubeljaar nie, het dit deel van die priesters se grond geraak, behalwe in die geval van erfgrond wat weer teruggegaan het na die oorspronklike eienaar.

Eerstelinge het nie getel nie, want hulle het in elk geval aan die Here behoort.  Dieselfde het dinge en persone wat geban is, gegeld.

Voorbeelde van geloftes in die OT en NT

Ons lees by een van die voorvaders, Jakob, van ‘n gelofte wat afgelê is vir beskerming, hoewel daar uiteraard nog geen voorskrifte was vir hoe dit nagekom is nie.  Ons lees wel daarvan dat dit die Here se goedkeuring weggedra het (Gen. 28:20; 31:13).

Die nakom van geloftes vir vroue het van hierdie voorskrifte verskil deurdat ‘n pa ‘n vetoreg ten opsigte van ‘n gelofte van sy ongetroude dogter gehad het.  Dieselfde het gegeld vir ‘n man ten opsigte van sy vrou.  As die mans nie saamgestem het met die gelofte nie kon hulle dit ongeldig verklaar, behalwe as hulle nie betyds opgetree het nie (Num. 30).  Weduwees en geskeide vroue was hiervan uitgesluit en is aan hulle geloftes gehou.

Moses het later die volk baie spesifiek geleer om nie te talm om geloftes na te kom nie, en eerder geen gelofte te maak as wat hulle in gebreke bly om dit na te kom (Deut. 23:21-23).  Hierby het die Prediker ook aangesluit en gewaarsku teen ligsinnige geloftes wat nie betaal word nie.  Dit kon jou suur bekom (Pred. 5:3).  Maleagi het ook gewaarsku teen ‘n gelofte offer wat van minderwaardige kwaliteit was: “en dan ’n verminkte ding aan die Here offer.” (Mal. 1:14).

Die verhaal van die rigter Jefta wat sy dogter geoffer het weens ‘n gelofte wat hy gemaak het, bly ‘n raaisel vir my, aangesien hierdie loskoop voorskrifte van Levitikus beskikbaar was en hy haar sou kon loskoop. Hy het óf hom nie daaraan gesteur nie, óf net nie daarvan geweet nie.  Voorwaar ‘n tragiese deel van die geskiedenis van Israel (Rigt. 10:6-12:7).

Die verhaal van Hanna is egter ‘n wonderlike voorbeeld van die waarde van geloftes soos Levitikus dit aan die volk voorgehou het.  Sy het die Here vertrou en belowe dat Samuel aan God gewy sal wees.  Die Here het haar gebed verhoor met die geboorte van Samuel, waarna Elkana, haar man, namens hulle albei die voorgeskrewe gelofteoffer gebring het (1 Sam. 1:11-23).

Dieselfde geld koning Lemuel van Massa oor wie sy ma ‘n gelofte gedoen het (Spr. 31:2) om hom te begelei om die regte vrou te trou, wat ‘n neerslag gevind het in die beskrywing van die besondere knap vrou van Spreuke 31.

Nasireërs wat hulle aan die Here toegewy het of ‘n verpligting op hulle geneem het (Num. 30:2), het ook bykomend ‘n gelofte afgelê om geen alkohol te gebruik nie, nie te skeer nie, en nie naby lyke te kom tydens hulle gelofte tydperk nie.  Hierdie gelofte kon ook vir ‘n mens se hele lewe geld, soos in die geval van Simson, ‘n onvoorwaardelike gelofte (Rigt. 13).  Vgl. ook die Rekabiete wat ‘n soortgelyke gelofte afgelê het om geen alkohol te gebruik of huise te bou en gewone boere te word nie.  Hulle het in tente gebly en met hulle vee rondgetrek uit lojaliteit aan hulle voorvader Jonadab (Jer. 35).

Dawid se verbintenis aan die Here om vir Hom ‘n tempel te bou, is ook met ‘n gelofte belowe, hoewel die Here in die geval die gelofte omgekeer het – soos mans dit met hulle dogters of vroue kon doen – en Dawid nie toegelaat het om sy gelofte na te kom nie, aangesien die Here self vir Dawid sou seën met ‘n dinastie van konings uit sy geslag, en Dawid se hande nie rein genoeg was om dié heilige plek te bou nie (2 Sam. 7).  Die gesprek tussen God en Dawid is verewig in ‘n pelgrimslied Psalm 132.

Ons lees twee keer in die NT van die nakom van geloftes hoewel die presiese omstandighede nie uitgespel word nie.  Albei kere is Paulus betrokke, een keer as die een wat die gelofte gemaak het, en ‘n ander keer as iemand wat ‘n gelofte namens ander betaal het.  Dit getuig egter daarvan dat geloftes nog van krag was in die NT bedeling (Hand. 18:18; 21:23).

Tiendes in normale omstandighede – Lev. 27:30-33

‘n Kort opsomming van die gee van tiendes in normale omstandighede word ook gegee met die oog op die voorskrif vir ‘n “terugkoop” wat jy kon doen deur die waarde te betaal plus twintig persent.  Dit het graan, vrugte, beeste en kleinvee gegeld.  Interessant is dat die keuse ewekansig gedoen is sonder om te kyk of bv. ‘n dier nou goed of sleg is.  As jy egter probeer het om ‘n dier om te ruil, het jy albei diere verloor!

Hierdie voorskrif sal nog uitgebrei word in Numeri 18 en Deuteronomium 26 waaruit dit duidelik sal blyk dat die tiendes aan die Leviete en priesters behoort het, omdat hulle deur die Here opdrag gegee is om nie ekonomies aktief te wees nie, maar hulle lewe volledig te wy aan die diens van die heiligdom.  Hulle moes egter op hulle beurt ‘n tiende vir die Here uit die tiendes van die Israeliete gee, waarvan ‘n deel die hoëpriester toegekom het (Num. 18:21-32).  Elke derde jaar se tiendes het ook die vreemdelinge, weeskinders en weduwees gebaat (Deut. 26:12-15).

Boodskap: Geloftes en Tiendes verbind gelowiges aan God se voorsiening en betroubaarheid

Levitikus 27 is ‘n gepaste afsluiting van die boek.  Elke gelofte wat iemand gemaak het, het vertroue in die Here se voorsiening uitgespreek sowel as ‘n verbintenis om Hom te dien, kom wat wil. Wanneer die gelofte sy doel gedien het, is die Here vir sy betroubaarheid geloof met die voorgeskrewe offer.  Dieselfde het die tiendes gegeld.  Elke tiende wat iemand gebring het, het ‘n dankbaarheid vir die Here se voorsiening uitgespreek en as verbintenis gedien om die Here te dien, kom wat wil.

Die feit dat die wet voorsiening gemaak het vir die los- of terugkoop van persone, diere of besittings het wel ‘n genadige omgang daarmee verteenwoordig, maar steeds die verbintenis van die gelofte en die tiende bevestig.  Geloftes maak skuld!  Dieselfde het die tiende gegeld.  Geloftes was vrywillig.  Tiendes was steeds gewillig, maar verpligtend.

Daarom is geloftes nie sommer ligsinnig gemaak nie. Dit kon jou suur bekom.  In sommige gevalle kon dit selfs tragies wees vir ander, soos in die geval van Jefta se dogter.  Die Here het dus geloftes verwelkom, tiendes geëer, maar telkens in sy aanvaarding daarvan gelowiges gewys op die erns van hulle verbintenis aan Hom.  Dat hulle dit vrywillig gemaak het, of gewillig gebring het, het hulle nie kwytgeskeld van die verpligting wat hulle self op hulle geneem het nie.  Die genade van ‘n loskoop voorskrif het nie die uitvoering van die gelofte of die betaling van die tiende gesystap nie.

Die NT maak meer van die tiendes as van geloftes, maar albei het steeds gegeld as maniere om jou verbintenis aan en afhanklikheid van die Here mee uit te druk.  Tiendes speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van ‘n gemeente se roeping om hierdie wêreld met die evangelie te bereik.  Geloftes speel ‘n belangrike rol in die verbintenis wat gelowiges maak aan ‘n roeping of taak wat hulle in opdrag van die Here aanvaar.

Geloftes verbind ons aan God se voorsiening en Tiendes vier dit.  Die God wat ons dien, kan vertrou word om ons verbintenis aan Hom te eer en ons sy seën te gee, soos die vorige hoofstuk reeds uitgespel het.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeiedag,
    Dit klink asof die bring van menslike offers, soos wat Jefta onderneem het om te doen, ‘n aanvaarde praktyk in daardie tyd was, kan dit wees?

    • Menseoffers is in verskeie antieke kulture en selfs in meer onlangse kulture beoefen. Green het sy omvattende studie van menslike offerandes in die antieke Nabye Ooste opgesom met die algemene stelling dat “menslike offerande dwarsdeur hierdie streek opgespoor kan word,” d.w.s. dwarsdeur Mesopotamië, die Indusvallei, Egipte en Siro-Palestina.

      Verskeie frases word deur die Hebreeuse Bybel gebruik om na die praktyk van menslike offerande te verwys (vgl Jer. 32:35; 2 Kon. 16: 3; 17:17; 21:6; Eseg. 20:31; 2 Kon. 23:10; Rigt. 11:31; 2 Kon. 3:27; Esg. 23:37; Deut. 12:31; 2 Kon. 17:31; Jer. 7:31; 19:5; Ps. 106:37; Esg. 16:20). Die Wet het hierdie heidense praktyk verbied, en die profete het dit veroordeel as een van die gruwelike sondes wat bygedra het tot die val van Israel en Juda. Die historiese boeke teken insidente van menslike offerandes aan, maar hulle stel of impliseer altyd ‘n sterk veroordeling van die praktyk. Hierdie gedeeltes toon duidelik dat die praktyk wel plaasgevind het en dat dit aan die kaak gestel is.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: