Bybelskool
https://bybelskool.com/levitikus-22-die-priesters-moes-sorg-dat-alle-offers-vir-god-aanneemlik-is/
Export date: Mon Sep 16 20:11:25 2019 / +0000 GMT

Levitikus 22 – Die priesters moes sorg dat alle offers vir God aanneemlik is


Levitikus 22:1-16 handel oor ‘n vierde riglyn vir die priesters, naamlik hoe hulle die kos wat vanaf die offers aan hulle toegedeel is, moes hanteer en wie dit mag eet.  Die gedagte was dat die priesters nougeset sorg dat die offers vir die Here aanneemlik is, en dat die priesters se lewenskoste daaruit voorsien word.  Levitikus 22:17-33 handel oor die voorskrifte vir die offers wat die aanvaarbaarheid al dan nie van diere met allerlei gebreke gereël het.  God se heiligheid moes ten alle koste beskerm en bevestig word.

Oor die eet van gewyde gawes – 22:1-16

Die beginsel is reeds neergelê dat die priesters en Leviete nie so seer ekonomies aktief sal wees nie, maar as bemiddelaars van die geestelik-godsdienstige lewe van die Israeliete sal optree.  Priesterskap was ‘n lewenslange roeping (Eks. 40:15).  Dit was ‘n geskenk van die Here aan Aäron se nageslag (Num. 18:7).  Die priesters sou wel grond kon besit en mettertyd kon daaraan ook bygevoeg word deur bv. die jubeljaar se reëlings dat grond op verskillende maniere aan die Here gewy kon word (Lev. 27:12).  Maar hulle sou nie grond verkry met die verdeling van grond in die beloofde land nie (Deut. 18:1).

Die gedagte was dus dat hulle moes leef uit die offers wat na die heiligdom gebring word, uitgesonderd die brandoffers wat heeltemal verbrand is.  Van al die ander offers het hulle op die voorgeskrewe manier ‘n deel vir eie gebruik gekry. Die konings het telkens die volk ook aangespoor om vir die priesters te sorg, soos ‘n mens by Hiskia (2 Kron. 31:4) lees, en later selfs ook by Nehemia (Neh. 12:47; 13:10).  Dieselfde beginsel wat vandag nog in die meeste kerke gevolg word met predikante en ander geestelike werkers.

Vandaar hierdie reëlings dat die priesters omsigtig moes omgaan met die gewyde gawes wat die Israeliete na die heiligdom gebring het.  Aan die een kant was hulle taak om seker te maak die offers word op die regte wyse gebring dat die toorn van die Here nie teen hulle ontvlam weens een of ander onbedoelde oortreding nie.  Dit het veral met die reinheidsreëls te doene gehad.

Maar aan die ander kant, en dit is die hoof gerigtheid van hierdie perikoop, moes die priesters self toesien dat hulle nie in die proses oortree en die gawes vir die Here op ‘n onverantwoordelike manier hanteer nie.  Hulle moes self volledig rein wees om in die diens van die Here te kan staan, anders het hulle die voorreg vir altyd ontbeer.  Daar was nie tweede kanse nie.

Van die reëls wat reeds aan die ander Israeliete gegee is in die Heiligheid Gedragskode, word nou eksplisiet van toepassing gemaak op die priesters: velsiektes, afskeidings, kontak met lyke en saadvloeiings, die eet van gevrekte of roofdier verskeurde vleis, of selfs net die aanraking van iemand wat onrein was.  Die priesters moet absoluut nougeset hierdie voorskrifte nakom in gehoorsaamheid aan die heilige Here.

Dit het ook beteken dat niemand van buite die priesterlike geslag voordeel mag getrek het uit die offers van ander Israeliete nie.  Die gewyde gawes was net bedoel vir die gebruik van die priesters en hulle families.   Slawe kon daarin deel as hulle deel van ‘n priester se familie was, maar as selfs ‘n dogter uit die priesterlike geslag met iemand anders sou trou, mag sy nie meer daaraan gedeel het nie.

Nie dat dit haar familiebande heeltemal afgesny het nie.  Dit het slegs beteken dat sy nie meer bevoeg was in die oë van die Here om daarin te deel nie.  Haar nuwe familie moes vir haar sorg.  Sy kon egter ook terugkeer na haar pa se familie as sy ‘n weduwee sou word of selfs sou skei, en nog nie kinders gehad het nie.

‘n Oortreding van hierdie voorskrifte was darem nou ook nie doodsake nie, want as ‘n mens per ongeluk van die gewyde gawes eet, kon jy daarvoor betaal – die waarde plus twintig persent.  Priesters wat egter doelbewus hierdie reëls sou oortree, is deur die Here self gestraf, hoewel dit nie hier uitgespel is presies hoe nie.

Dit laat ‘n mens met meer begrip die verhaal van Dawid lees wat van die gewyde gawes by die heiligdom in Nob vir sy manskappe wou gee.  Agimelek, die priester, was doodbenoud, want sy voortbestaan was op die spel.  Dawid se versekering dat sy manskappe rein was, het hom laat ingee (1 Sam. 21:4-5). Al word Agimelek uiteindelik uitgewis deur Saul weens hierdie weldaad (1 Sam. 22:11-19), ‘n mens weet nie watter rol dié Levitikus voorskrifte in die donkerte van Saul se gemoed gespeel het nie, vlug sy seun Abjatar met die skouerkleed en word so een van Dawid se vertrouelinge.

Abjatar kon egter nie die versoeking weerstaan vir ‘n bietjie politiek aan die einde van ‘n lang termyn as deel van Dawid se koningskap nie.  Met sy ondersteuning van Adonia as koning in Dawid se plek, kruis sy pad die Here se keuse as koning, Salomo, en dié tree met groot beslistheid op deur Abjatar as priester af te dank.

Abjatar se einde lê egter ook in die verlengde van die Here se oordeel oor die huis van Eli wat met sy afdanking voltrek word (1 Kon. 2:27).  Voorwaar ‘n geskiedenis vol van intriges, maar waar agter die hand van die Here agter die skerms waarneembaar is.

Hierdie voorskrifte vorm die agtergrond vir die wyse waarop die NT geloofsgemeenskap leraars en geestelike leiers in hulle bediening ondersteun het in terme van hulle lewensonderhoud.  Jesus het al die beginsel neergelê vir sy dissipels (Matt. 10:10; Luk. 10:7), en Paulus praat verskeie kere daaroor (2 Tess. 3:9; Fil. 4:15 waar hulle ‘n aandeel gehad het aan sy rekening van inkomste en uitgawes; 1 Kor. 9:6 – waar hy juis die voorreg opsê ter wille van die evangelie; Rom. 4:4; 1 Tim. 5:18 waar dit op ouderlinge wat preek  en onderrig gee, van toepassing gemaak word).

Oor die aanneemlikheid van offers by God – 22:17-33

Die opdrag van die priesters om nougeset te waak oor die aanvaarbaarheid van die offers sluit nou hierby aan.  Die offers moet vir die Here aanneemlik wees. Dit geld die brandoffers vir hulle sondes, en enige maaltydoffer wat as ‘n gelofte aan die Here gebring is, sowel as enige ander vrywillige offer wat hulle uit erkenning of dankbaarheid aan die Here wou gee.  God se heiligheid moes deur hulle offers gerespekteer word.

In alle gevalle moes die diere sonder enige liggaamsgebrek wees, behalwe met ‘n vrywillige offer waar gebreklike diere ook aanneemlik sou wees.  Diere mag, soos dit die geval was met die priesters, nie blind wees of 'n afpoot hê of 'n seerplek of vratjies of brandsiek of enige velkwaal of gekastreer nie.

Die voorskrifte rondom die offers lei sommer tot ‘n les in dieresorg wat insluit dat ‘n skaap- of boklam ‘n week by hulle ma gegun word voor hulle as ‘n offer gegee mag word.

Reeds in die OT het hierdie gedagtes van aanneemlike offers alreeds gelei tot ‘n begrip by veral die Psalms dat dit ook geld van ‘n mens se innerlike lewe.  Hoe pragtig sê Dawid dit nie: “Mag wat ek sê en wat ek dink tog vir U aanneemlik wees, Here, my Rots en my Verlosser.” (Ps. 19:15; vgl. Ps. 104:34 waar die Psalmis dit ook van sy bepeinsinge sê).

Dit is hierdie gedagtes wat saam met die gedagtes uit Levitikus opgeneem is in die wyse waarop die NT ook oor offers van liggaam, gedagtes en gedrag praat wat vir God aanneemlik moet wees.

Boodskap: Geestelike leiers en gelowiges werk mee dat alles wat ons doen vir God aanneemlik is

Die boodskap van Levitikus 22 het ‘n impak op twee terreine in die NT.  In die eerste plek vorm dit die agtergrond vir beide ‘n verstaan van die bediening van geestelike leiers in die NT geloofsgemeenskap sowel as vir die wyse waarop die kerk in hulle lewensonderhoud voorsien het.  Dit is ‘n ou en gevestigde tradisie in beide die OT as die NT, iets wat deur die eeue in die kerk in stand gehou is.

In die tweede plek gee hierdie voorskrifte uit Levitikus ‘n mens die nodige agtergrond om die klem op gelowiges se gedagtes en gedrag wat vir God aanneemlik moet wees, te verstaan.

Paulus dring by gelowiges in die nuwe bedeling daarop aan dat hulle seker moet maak dat hulle hele lewe vir God aanvaarbaar is.  Dit sluit hulle liggame in as: “lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is”.  Dit sluit ook hulle gedagtewêreld in wat nie deur die “skemas” van die wêreld gevorm moet word nie: “Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” (Rom. 12:1-2).

Paulus praat ook oor sy bediening onder die heidene as ‘n manier om uit hulle ‘n offer vir die Here voor te berei wat vir Hom aanneemlik sal wees: “Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies 'n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is.” (Rom. 15:16).  Let op die taal wat hy gebruik wat onder andere Levitikus 22 as agtergrond het.

Selfs die wyse waarop die mense van Filippi by sy lewensonderhoud betrokke geraak het, word in terme geskets wat met Levitikus 22 ooreenstem: “Julle gawe is voor God 'n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.“ (Fil. 4:18).  Dit is die tipe sinergie wat tussen geestelike leiers en hulle geloofsgemeenskappe bewerk moet word.

Trouens, gelowiges word opgeroep om hulleself die hele tyd af te vra of iets vir die Here aanneemlik is (Ef. 5:10) wat met dieselfde gedagtegang werk as dié in Levitikus.  Ook hulle lewenswandel moet vir God aanneemlik wees, soos die Hebreërskrywer beveel: “Moenie nalaat om goed te doen en mededeelsaam te wees nie, want dít is die offers wat vir God aanneemlik is.”  (Hebr. 13:16).
Post date: 2017-05-18 04:00:53
Post date GMT: 2017-05-18 02:00:53

Post modified date: 2017-05-18 07:35:24
Post modified date GMT: 2017-05-18 05:35:24

Export date: Mon Sep 16 20:11:25 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com