Bybelskool
https://bybelskool.com/levitikus-13-14-rituele-reiniging-na-onreinheid-deur-velsiektes-brandwonde-skimmel-of-swamme/
Export date: Sat Jul 24 11:38:31 2021 / +0000 GMT

Levitikus 13-14 – Rituele reiniging ná onreinheid deur velsiektes, brandwonde, skimmel of swamme


Die onderskeid rein en onrein word in Levitikus 13 tot 14 ook in terme van verskillende soorte velsiektes of brandwonde en skimmel of swamme beskryf.  Dit het ‘n effek op mense, klere (wol of katoen), artikels van leer, of mure van huise gehad.  Die Here gee in die twee hoofstukke riglyne vir die hantering en herstel daarvan.  Die deel oor die huise is waarskynlik later bygevoeg ná die Intog, omdat hulle hier in tente gebly het.

Die reinheid en onreinheid word volgens beide die polariteit van normaal en abnormaal as dié van lewe en dood beoordeel.  Veral die velsiektes was weens die moontlike aansteeklike en dodelike aard daarvan iets wat ‘n baie strenger optrede genoodsaak het.  Die voortbestaan van die geloofsgemeenskap was op die spel aangesien daar geen effektiewe mediese hulp daarvoor bestaan het nie.

Die woord wat gebruik word vir velsiekteṣārǎʿǎṯ – dui waarskynlik nie op melaatsheid nie.  Wat ons vandag as melaatsheid ken – tegnies staan melaatsheid vandag as Hanson se siekte bekend – het in antieke tye as elephantiasis bekend gestaan, en word as siekte eers baie later in die antieke wêreld beskrywe.  Só ‘n siekte sou ‘n mens natuurlik ook onrein gemaak het, maar wat Levitikus beskrywe is eerder velsiektes soos psoriase, dermatitis, ekseem, pitiriasis rosea en erger verwante siektes soos sere en dergelike velaandoenings.  Gelukkig het haarverlies of skurfheid as sodanig nie as ‘n onrein velsiekte gedien nie!

Dieselfde woord vir velsiektes – ṣārǎʿǎṯ – word wel vir Naäman se siekte gebruik in 2 Kon. 5:3 wat daarom ook daar waarskynlik op iets anders as melaatsheid dui (vgl. ook koning Ussia in 2 Kron. 26:16-21). Terloops, uit die beskrywing van hierdie velsiektes in Levitikus sou albinisme iemand nie onrein gemaak het nie, omdat dit net ‘n pigment probleem verteenwoordig.

Sommige van die gevalle van velsiektes in die NT kon dus tegnies melaatsheid gewees het, d.w.s. Hanson se siekte, omdat dit toe al bekend was, maar omdat die simptome van die “melaatses” in die NT nêrens beskryf word nie, kan ons nie seker wees nie.  Die term melaatsheid soos dit in die NT gebruik is, kon “regte” melaatsheid ingesluit het, maar was waarskynlik wyer bedoel en het allerhande aansteeklike en dodelike velsiektes ingesluit soos dit hier in Levitikus beskrywe is.

Let op dat die priester nie as ‘n kwasi-dokter optree nie daarom ook geen voorskrif vir genesing gee nie.  Hy beoordeel slegs die onderskeie simptome in terme van die effek wat dit op die Israeliet se reinheid en onrein het vir deelname aan die kultus saam met die ander lede van die geloofsgemeenskap.  Die priester tree as “hekwagter” vir die toegang tot die Tabernakel op.  Hy het ook die opsie om in gevalle waar dit onseker is ‘n week of twee te wag voor hy ‘n uitspraak lewer met sy volgende ondersoeke.

Tog het die priester se uitspraak dat iemand onrein is weens ‘n velsiekte nie net die persoon van die Tabernakel uitgesluit nie.  Dit het ook ‘n geweldige impak op die persoon se sosiale kontak met die res van die geloofsgemeenskap gehad.

  • Iemand wat 'n velsiekte gehad het wat hom of haar onrein maak, moes geskeurde klere dra en hulle hare onversorg laat. Hy of sy moes ook die onderste deel van die gesig – in die geval van ‘n man sy baard en snor – met een of ander doek of kledingstuk bedek het en ander mense gewaarsku het om nie naby hulle te kom nie deur uit te roep: “Onrein! Onrein!

  • Hulle het ook geen ander hulp van die priesters gekry om van die velsiekte genees te word nie – die priesters was immers nie dokters nie – en het daarom onrein gebly solank hy of sy die siekte het. Die ergste was dat hulle dan ook in afsondering moes lewe buite die kampplek. Voorwaar ‘n amper onmenslike kruis om te dra, al verstaan ‘n mens die gevaar wat dit vir die gemeenskap met sy gebrekkige mediese kennis kon inhou.  Die enigste moontlikheid vir herstel was deur die wonder van genesing.


Wanneer daar genesing gekom het vir iemand wat aan ‘n velsiekte gelei het, was daar ‘n besondere ritueel van reiniging.  Twee lewende rein voëls – duiwe bv. – is gebring saam met ‘n stukkie sederhout, bloedrooi garing en 'n hisoptakkie.  Die stukkie sederhout is waarskynlik gekies vir sy sterk aangename geur en die hisoptakkie om die bloed te kan sprinkel oor die persoon.  Die rooi gare is waarskynlik gebruik om die twee aan mekaar vas te bind wat die geur van die bloed sou demp.

Die een voël is doodgemaak en die ander lewend losgelaat.  Die voël wat doodgemaak is oor vars “lopende” water, het die einde van die “onreinheid” gesimboliseer wat as't ware weggewas word soos die water die bloed oplos.  Die vrylating van die ander voël het die verbanning van die velsiekte na die area van onheiligheid buite die kamp gesimboliseer.  Die “gereinigde” persoon was weer welkom in die gemeenskap van die volk en het toegang gehad tot die Tabernakel.

Dat dié aksies opgevolg is deur ‘n aantal verdere reiningingshandelinge (was, skeer) beteken dat die persoon as't ware as ‘n nuutgeborene deel word van die geloofsgemeenskap.

Dit is opgevolg deur vier van die normale offers wat gebring is: skuldoffer, sondeoffer, brandoffer, en graanoffer, uitgesonderd die maaltydoffer.  Die persoon het weer normale toegang gehad tot die Tabernakel en die liturgiese en kultiese aktiwiteite van die geloofsgemeenskap.

Die bloed aan die oor, duim en toon het die reiniging van die persoon gesimboliseer sodat hy of sy weer God se wil kan hoor, doen en daarin wandel.  Hulle kon nou weer in die teenwoordigheid van die Here leef en deelneem aan al die voorregte en verantwoordelikhede daarvan.

Dit is ‘n vraag of hierdie velsiektes met sonde geassosieer is, veral as ‘n mens die tipe offers in gedagte hou wat gebring is om die heropname in die geloofsgemeenskap te vier.  ‘n Mens sou só kon dink uit die paar gevalle waar mense deur die Here gestraf is met ‘n velsiekte in die OT (Miriam – Num. 12; Gehasi – 2 Kon. 5; Ussia – 2 Kron. 26).

Maar hier in Levitikus word die velsiekte sonder enige oorsaaklikheid bespreek, soos dit ook die geval was met Job wat aan ‘n erge velsiekte gelei het.  Dit is deur die Satan toegedien met die Here se toestemming, maar duidelik nie weens sy sonde nie, soos die verhaal duidelik uitspel.

Die offers het ook hier in Levitikus in die geval van die voëls ‘n simboliese waarde van heropname in die geloofsgemeenskap gehad, en in die geval van die vier ander offers eintlik net die hervatting van die normale handelinge van enige ander Israeliet gesimboliseer.  Die reiniging het dus die pad na die Tabernakel oopgemaak.  Die offers het weer die hervatting van die liturgiese en kultiese meelewing verkondig.  Daar was dus nie ‘n eksplisiete band met sonde in die beskrywing van die velsiektes in Levitikus nie.

Boodskap: Deur Jesus se wonde het daar vir ons genesing gekom

Ons kan ons nouliks indink in die verdoemende uitslag wat ‘n onrein oordeel van die priesters vir ‘n Israeliet ingehou het waar ‘n erge velsiekte geïdentifiseer is.  Dit het die persoon afgesny nie net van die Tabernakel en die voordele van skuldvergifnis nie, maar letterlik uit die midde van die geloofsgemeenskap verwyder.  Hulle kon selfs nie meer deel van hulle eie families wees nie.  Die geestelike en sosiale verwerping was omvattend en totaal.  Dit was om ‘n lewende dooie in Israel te word.

Maar, dit gee ‘n mens juis ‘n baie dieper waardering vir die betekenis wat Jesus se genesing van mense met velsiektes in die NT vir hulle beteken het.  Hulle is nie net genees na die liggaam nie, maar is ingetrek en weer herstel tot hulle regmatige plek binne die gemeenskap van gelowiges (‘n Melaatse man – Mark. 1:40-45; Matt. 8:1-4; Luk. 5:12-16; Simon die melaatse in Betanië: Mark. 14:3-9; Matt. 26:6-13; Joh. 12:1-8; Tien melaatse mans – Luk. 17:11-19; Ander in die algemeen genoem as tekens van die koninkryk – Matt. 10:8; 11:5; Luk. 4:27; 7:22).  Daarom het hulle ook die voorgeskrewe offers vir die reiniging gebring soos Jesus hulle die opdrag gegee het.

Jesus het dus met sy genesende invloed die beperking van die wet opgehef sodat alle mense, ongeag hulle fisiese toestand, deel kon word van die geloofgemeenskap.  Wat vir die vrou met bloedvloeiing gegeld het, het gegeld vir enige een wat aan een of ander velsiekte gely het, selfs die gevreesde “regte” melaatsheid.  Nog dieper, selfs dié wat geen velsiekte gehad het wat hulle uit die geloofsgemeenskap verwyder het nie, maar weens hulle sonde en skuld nie met God in ‘n regte verhouding gelewe het nie, is deur Hom genees van hulle sonde.

Soos Jesaja dit gevisualiseer het, sou die Messias: “die wonde van sy volk verbind en die seerplekke genees” (Jes. 30:26). “Deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom.” (Jes. 53:5).  En dít is presies wat in Jesus gebeur het.  Soos Petrus die tekste in Jesaja op alle gelowiges van toepassing gemaak het, nie net op dié met velsiektes nie: “Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees.” (1 Pet. 2:24).
Post date: 2017-05-08 04:00:19
Post date GMT: 2017-05-08 02:00:19

Post modified date: 2017-05-08 06:33:48
Post modified date GMT: 2017-05-08 04:33:48

Export date: Sat Jul 24 11:38:31 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com