Bybelskool
https://bybelskool.com/levitikus-10-die-dood-van-nadab-en-abihu-illustreer-god-se-onverbiddelike-heiligheid/
Export date: Fri Apr 16 7:51:28 2021 / +0000 GMT

Levitikus 10 – Die dood van Nadab en Abihu illustreer God se onverbiddelike heiligheid


Die verhaal van Nadab en Abihu maak ‘n kookpot van emosies in ‘n mens los.  Die straf vir hulle oortreding is al erg genoeg.  Maar om van ‘n pa te verwag dat hy nie oor sy seuns se dood mag treur nie, is vir ons gevoel amper onmenslik wreed.  Om dan amper nóg ‘n tragedie te beleef met die oortreding van Aäron se ander twee seuns, Eleasar en Itamar, laat ‘n mens met ‘n diep ontsteltenis in jou gemoed.  Hy het amper al vier sy seuns op een dag verloor!  As die heiligheid van God só ‘n destruktiewe effek op die gebrekkige diens van priesters – wat na alles sy dienaars is – kan hê, hoe sal enigiemand ooit met vrymoedigheid Hom kan of wil dien?

Tot jy agterkom dat dit juis die punt van hierdie verhaal is.  Dat dit presies die emosie is wat die verhaal by jou moet wakkermaak.  Hierdie verhaal wil reg aan die begin van die offerkultus die boodskap aan die volk deurgee dat God se heiligheid onverbiddelik is.  Hy vereis onverdeelde trou.

Genadiglik is dit so dat Hy reiniging en vergifnis gee deur die verskillende offers.  Maar sy genade moet ‘n mens op geen manier verlei om te dink dat sy wil op enige manier geïgnoreer of gedwarsboom kan word nie.  Jy kan nie self besluit hoe jy Hom wil dien nie.  Hy het alleen die soewereine gesag om nie net die wet neer te lê nie, maar te verwag dat dit nagekom sal word.  Sy genade is nie goedkoop nie en word nie uitgedeel sonder dat die straf vir oortredings deur iets of iemand gedra word nie (Eks. 34:7).

Hartley gebruik die voorbeeld van elektrisiteit (Word kommentaar).  Elektrisiteit is ‘n wonderlike nuttige krag as ‘n mens versigtig en nougeset daarmee omgaan.  Die oomblik as jy egter die reëls van die hantering van elektrisiteit verbreek – aan ‘n oop lewendige draad raak – raak elektrisiteit ‘n potensieel destruktiewe krag.  Dieselfde in ons verhouding met God.  Sy heiligheid gee lewe.  Waar ons egter nie ontsag het vir sy heiligheid nie, daar verteer dit ons.

Dit sien ‘n mens ook in die soortgelyke verhaal in Numeri 16 waar Korag, Datan en Abiram deur die aarde ingesluk word, en die 250 manne wat saam met hulle in opstand teen Moses gekom het met vuur verteer is.  En dit is nie net woestynverhale dié nie.  Ons sien dieselfde onverbiddelike optrede van God in die tragedie van Ussa wat gedurf raak het aan die ark om dit te stabiliseer toe dit op ‘n wa in die tyd van Dawid vervoer is na die Godstad (1 Kron. 13:7).

Geen wonder Dawid was diep ontsteld en het die ark eers by Obed-Edom laat bly voordat hy die moed gehad het om die ark na die “tent” in Jerusalem in te bring nie.  Hy het besef dat die ark in die eerste plek nie op ‘n wa vervoer mag word nie, en het die Bybelse riglyne nougeset nagevolg met die tweede probeerslag.  Die Leviete het dit volgens voorskrifte tot in die “tent” gedra.

Moses probeer vir Aäron verduidelik wat hier gebeur het: “Die Here het gesê: Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”  Na watter uitspraak van die Here hy presies verwys, is nie seker nie, maar dit was duidelik iets wat ‘n groot impak op Moses gemaak het.  Hy verwys weer later daarna in Levitikus (Lev. 22:32) en tot sy eie skade in Numeri (Num. 20:13).  Ook Esegiël verwys na die heiligheid van God as iets wat vir alle nasies duidelik moet wees (Eseg. 20:41).

Hoe roerend staan Aäron se reaksie hierop nie in Levitikus nie: “Aäron was sprakeloos.” Hy is amper uitgewis met sy eie oortreding by die verhaal van die goue kalf.  Hier het sy seuns die hoogste prys betaal vir hulle oortreding.  Hy gehoorsaam die Here hierdie keer deur nie te treur nie.  En sy stilte word deur die Here aanvaar soos ons in vers 8 sien.

Wat was Nadab en Abihu se oortreding?

Die tragiese lot wat Nadab en Abihu tref onderstreep die erns van die verbod op enige ander tipe offer of “ongeoorloofde vuur” (waarskynlik weens ongeoorloofde kole) wat hulle in ‘n vuurpan vir die Here aangebied het.  Maar wat was die oortreding spesifiek?  Die inligting in die teks is immers baie kripties.

In ‘n mens se antwoord moet jy die inligting van Eksodus oor die gebruik van wierook verreken.  Die wierookaltaar was, soos ons in Eksodus 30 1 en Eksodus 37 2 gesien het, net voor die voorhangsel wat die Heilige van die Allerheiligste geskei het waarop elke oggend en aand wierook gebrand moes word terwyl aandag aan die menora met sy lampies gegee is.  Geen ander offer moes daarop gebring word nie, behalwe een maal ‘n jaar ‘n sondeoffer vir Aäron en ná hom vir die ander hoëpriesters.  Dit was ‘n besondere gewyde item in die Heiligste deel van die Tabernakel.

Die probleem met Nadab en Abihu se offer kan dan op verskillende maniere verstaan word.

  1. Eerstens het hulle eintlik ongeoorloofde kole gebruik in plaas van net wierook soos dit voorgeskryf is in Eksodus 30.

  2. Tweedens het hulle die kole met wierook gemeng wat eintlik net vir die wierookaltaar in die Heilige deel van die Tabernakel bedoel was.

  3. Derdens het hulle dit vir die Here aangebied wat waarskynlik beteken dat hulle in die Heilige of selfs die Allerheiligste ingegaan het, iets wat net vir Aäron bedoel was. Hulle het dus sy gesag daardeur ondermyn sowel as God se voorskrifte geminag.


Soos die Here hier verklaar: “Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”  God se heiligheid is onverbiddelik.  Hy laat geen verontagsaming daarvan toe nie.

En voordat ons dink dit is net iets wat in die OT gegeld het.  Dieselfde sentiment word in die NT uitgespreek.  Die Hebreërskrywer praat steeds van God as ‘n verterende vuur aan wie ons met eerbied en ontsag uit dankbaarheid gehoorsaam moet wees: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29; vgl. Deut. 4:24; 9:3; Jes. 33:14; Die beeld van God as ‘n verterende vuur word ook een keer gebruik teen Israel se vyande – Jes. 29:6; 30:30).  En Ananias en Saffira se dood toe hulle vir die Here gelieg het, wys dat God se heiligheid ook in die NT  onverdund geld (Hand. 5:1-11).

Waarom mag Aäron nie gerou het nie?

Weereens is daar min gegewens in die teks, behalwe die kriptiese opmerking dat die salfolie hulle aan God gewy het.  Die afleiding wat ‘n mens maak, is dat dit beteken dat hulle dienswerk hulle menswees só aan God se Goddelikheid verweef het dat hulle soos Hy oor die gebeure moes dink en nie soos hulle vanuit hulle menslike oorwegings oor die straf van God sou dink nie.  Hulle eenheid met God was van só ‘n aard dat hulle God se heiligheid en God se beoordeling van sake na die volk en die wêreld moes uitstraal.  Die familie en die res van die volk mag getreur het, soos dit menslik noodsaaklik was, maar nie Aäron en sy ander twee seuns nie.

‘n Mens sien spore van hierdie oortuiging in die NT waar gelowiges gewaarsku word om niks met onsedelikheid of afgodediens te doene te hê nie.  Want vanuit hulle eenheid met God – deurdat sy Heilige Gees in hulle as sy tempel bly – deel hulle in sy heiligheid en maak hulle Hom deel van onheiligheid en onreinheid as hulle onheilig of onrein optree in hulle gedrag in hierdie wêreld (1 Kor. 6:12-20; 2 Kor. 6:14-7:1).  Dit sluit enige iets in wat met ons liggaam of gees te make het.

Aäron se stilte word goedkeurend deur die Here aanvaar as ‘n erkenning van God se oordeel.

Die Here praat met Aäron

Dié gebeure lei tot die enigste direkte gesprek van die Here met Aäron alleen in Levitikus, ‘n gepaste ingrype van die Here waarin Hy vir Aäron eintlik verklaar wat so pas gebeur het, al word dit eintlik met ‘n verskerping van die instruksies wat die Here vir hom gee, gedoen.

  1. God verduidelik eerstens dat ‘n mens ‘n helder gemoed moet hê wanneer jy diens doen voor die Here. Geen wyn en bier in die tent van ontmoeting nie!  Sommige rabbi's het hieruit afgelei dat alkoholmisbruik juis die sonde van Nadab en Abihu was, maar die teks is daaroor stil.

  2. God verduidelik tweedens dat daar ‘n helder onderskeid moet wees tussen dit wat heilig en onheilig is, en dit wat rein en onrein is. Dié dinge wat in hoofstuk 11 af en verder presies uitgespel sal word.

  3. God verduidelik derdens dat dié dinge aan elke Israeliet geleer moet word sonder uitsondering en sonder partydigheid.


Dié opdragte van die Here is eintlik tydloos, want Paulus praat ook van die nugterheid waarmee alle gelowiges moet lewe (1 Tes. 5:6,8), maar veral die leiers, mans en vroue (1 Tim. 3:2,11; 2 Tim. 4:5; Tit. 2:2).  Daarmee waarsku Paulus nie net teen alkoholmisbruik nie, maar ook in die algemeen teen ondeurdagte denke.  Ook Petrus praat in laasgenoemde sin oor die gebruik van ons denke (1 Pet. 1:13; 4:17; 5:18).  Gelowiges moet verstandelik wakker wees en selfbeheers in hulle stryd teen die vyand, die duiwel, wat rondloop soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.

Hierin is onderskeiding en lering fundamenteel belangrik in ons priesterlike funksie as gelowiges.  Dit is ‘n voorreg om dieper in die dinge van God ingelei te word, maar dit verhoog die verantwoordelikheid om dié onderskeid wat dit ‘n mens leer tussen dit waarop dit regtig aankom en dit wat gelaat moet word, saam met ander te omarm.

Soos Paulus in Filippense bid: “dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees, en deur Jesus Christus sal julle geheel en al in die regte verhouding met God wees, tot sy lof en eer.” (Fil. 1:9-11).  Let op die ooreenkoms in taal tussen dít wat Paulus hier oor die verhouding met God sê – die klem op onberispelikheid en blaamloosheid – en die taal in Levitikus wat die agtergrond vir sy uitsprake vorm.

Moses vind uit dat die sondeoffer verkeerdelik verbrand is

Die verhaal is egter nog nie klaar nie!  Moses vind op die koop toe dat die sondeoffer heeltemal verbrand is deur Eleasar en Itamar en die voorskrifte rondom die eet van sekere dele daarvan nie nagekom is nie.  Dit het volgens Moses die versoening wat die sondeoffer bring in gedrang gebring.

Aäron praat vir die eerste keer en wys Moses daarop dat die offers van vroeër die dag nie voorkom het dat die ramp van die dood van sy twee seuns hom tref nie.  Sy vraag aan Moses is dus: “Sou dit dan enige verskil gemaak het as ék die sondeoffer geëet het?”  Waarop Moses tevrede was dat dit nie enige verskil sou gemaak het nie.  Hulle almal het genoeg deurgemaak op dié eerste dag van die offerkultus en nie net baie geleer nie, maar kon ook beter onderskei tussen wat geoorloof is en wat nie.

Daaruit kan ons ook aflei dat daar ongeoorloofde afwykings was van God se voorskrifte waarvan Nadab en Abihu se ongeoorloofde kole ‘n helder voorbeeld was.  Daar was ook geoorloofde afwykings van God se voorskrifte waarvan Eleasar en Itamar se volledige verbranding van die sondeoffer met die instemming van hulle pa Aäron ‘n voorbeeld was.  Daar was ‘n duidelike rede vir die afwyking wat sin gemaak het en deur Moses, en by implikasie deur die Here, aanvaar is.

Verder aan in die woestynverhaal sou daar nog sulke voorbeelde kom, selfs gevalle waar die wet as sodanig verander is, soos ons bv. in die verhaal van Selofgad se dogters sien wat deur hulle bevraagtekening van die erfreg die wet self verander het (Num. 26), ‘n proses wat by verdere denke daaroor self tot ‘n tweede verandering van dieselfde wet gelei het (Num. 36).

Boodskap: die heiligheid van God is ‘n onverbiddelike verterende vuur

Ek het hierbo talle voorbeelde aangehaal van plekke in die NT waar dieselfde gedagtes oor God se heiligheid van toepassing gemaak word op gelowiges wat in Jesus Christus glo.  Julle kan dit rustig deurlees om die boodskap van dié gedeelte te omarm.  Ek lig net drie aspekte weer uit.

  1. Levitikus sê: “Wie 'n offer vir My bring, moet besef dat Ek heilig is; sy ontsag vir My moet vir die hele volk duidelik wees.”  Hebreërs sê: “Laat ons God dankbaar dien met eerbied en ontsag, soos Hy dit wil, want ons God is 'n verterende vuur.” (Hebr. 12:28-29).  God se heiligheid is onverbiddelik.  Hy laat geen verontagsaming daarvan toe nie.  Ananias en Saffira se dood toe hulle vir die Here gelieg het, wys dat God se heiligheid ook in die NT  onverdund geld (Hand. 5:1-11).

  2. Waar die rituele reinheidsreëls van Levitikus nie meer op ons van toepassing is nie, is dit egter ook duidelik dat die verbod op losbandigheid of onsedelikheid sowel as afgodery steeds deel is van die moreel-etiese gebooie van God wat Hy verwag dat ons sal nakom.

  3. Ook die aandrang daarop dat ons nougeset sal onderskei dié dinge waarop dit regtig aankom en saam dié lering sal bevestig en bevorder.  Ons moet wakker wees en verstandelik nugter in ons navolging van die Here.

Links:
  1. http://bybelskool.com/eksodus-30-elke-deel-van-die -tabernakel-en-elke-priester-word-geheilig-aan-die -here/
  2. http://bybelskool.com/eksodus-37-besaleel-neem-die -voortou-met-die-maak-van-die-heilige-toebehore-va n-die-tabernakel/
Post date: 2017-05-02 04:00:19
Post date GMT: 2017-05-02 02:00:19

Post modified date: 2017-05-02 06:41:20
Post modified date GMT: 2017-05-02 04:41:20

Export date: Fri Apr 16 7:51:28 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com