Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervul
Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervul
6Aangesien julle dus Christus Jesus die Here aangeneem het, bly leef in Hom; 7in Hom is julle gewortel en in Hom word julle opgebou en versterk in die geloof, soos julle geleer is, terwyl julle oorvloedig is in dankbaarheid. 8Pasop dat niemand julle meevoer deur ‘n filosofie en leë bedrieëry, wat gegrond is op menslike tradisie en teorieë oor die kosmiese elemente, en nie op Christus nie. 9Want in Hom woon die hele volheid van die Godheid liggaamlik. 10En in Hom, wat Hoof oor elke heerskappy en mag is, is julle met hierdie volheid vervul. 11In Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis deur mensehande nie, maar deur die besnydenis van Christus, waardeur julle sondige bestaan weggeneem is. 12Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het. 13Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. 14Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het. 15Nadat Hy hierdeur die gesagvoerders en maghebbers ontwapen het, het Hy hulle in die openbaar tot skande gemaak toe Hy hulle in sy triomftog meegevoer het. 16Moet dus nie dat iemand julle oordeel oor wat julle eet of drink, of oor ‘n fees, ‘n nuwemaansfees of ‘n Sabbat nie. 17Hierdie dinge is net ‘n voorafskaduwing van dit wat aan die kom was, maar die werklikheid is Christus. 18Moenie dat iemand wat aandring op selfvernedering en die aanbidding van engele, en wat hom verdiep in visioene wat hy gesien het, julle van die prys beroof nie. As gevolg van sy sondige aard, dink hy sonder rede baie van homself, 19en hou nie vas aan die Hoof nie, uit wie die hele liggaam ontwikkel, ondersteun en saamgebind word deur gewrigte en spiere, met groeikrag wat van God kom. 20As julle saam met Christus die kosmiese elemente afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog as deel van die wêreld leef, steeds gebonde aan voorskrifte soos: 21“Moenie daaraan vat of proe of raak nie”? 22Dit is alles dinge wat deur gebruik tot niet gaan, en gebaseer is op mensgemaakte voorskrifte en leringe. 23Hoewel hierdie voorskrifte met hulle selfopgelegde godsdienspligte, geveinsde nederigheid en liggaamlike kastyding, die skyn van wysheid het, is dit heeltemal nutteloos, maar dien tot bevrediging van die sondige aard.
Hierdie gedeelte is die hart van die boodskap van Kolossense. Ons het al kennis geneem dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk – okkultiese en astrologiese beginsels, sowel as Joodse en asketiese reëls. Dit is egter nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie. Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan. Paulus verwys eers terug na die loflied op Jesus as Here – van beide die Skepping en Herskepping (Kol 1:15-20) – en gebruik dit dan as basis vir sy oproep aan hulle om hulle hele lewe te fokus op Christus Jesus. Aangesien hulle Hom as Here aangeneem het (nog beter gestel: Hom as Here ontvang het, soos dit in die Grieks staan), is dit net logies dat hulle verbonde aan Hom sal lewe: “Bly leef in Hom.”
Paulus gebruik die metafoor van ‘n boom: gewortel en opgebou in Hom, versterk in die geloof, en vervul tot oorlopens toe met dankbaarheid. Dit dui die onsigbare en persoonlike dele van ons geestelike lewe (wortels en voeding), sowel as die sigbare en publieke dele daarvan (takke en vrugte). In alles, waar jy alleen is, en waar jy in ander se geselskap is, moet dit duidelik wees dat jou lewe om die Here draai, dat Hy die eerste plek in jou lewe inneem, presies soos Hy die eerste plek in die heelal inneem (1:15-20). Dit wat God in jou lewe doen, is van onmeetbaar meer waarde as menslike filosofieë, teorieë en tradisies, want In Christus Jesus is ons met die volheid van God self vervul. Soos God se volheid in Christus liggaamlik gewoon het, doen Hy dit ook nou in jou, in dié mate wat Christus bewustelik in jou woon.
Die enigste fokus in die geestelike lewe is op die vereniging met Jesus Christus waarvan die doop die teken is, en wat ‘n nuwe lewe vir ons beteken. Selfs die Joodse voorskrifte moet vermy word. Dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie vat nie, feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag. Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele, en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – Kol 2:23). ‘n Swetterjoel invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval. In Christus is hulle egter dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (Kol 2:20). En hierdie leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie. Selfs nie eers die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (vgl Kol 3:10).
Lees meer: https://bybelskool.com/kolossense-26-23-geloof-en-gedrag-word-op-jesus-as-here-gebou/
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Eugene Beetge
Goeie dag kan u dalk verduidelik as die vroue predekant helder ligte en engele sien of engele wat tekens doen. Hoe moet n mens as Christen dit verwerk of interpreteer sonder om te laster teen die Heilige gees . U inset word opreg wardeer.
Chris van Wyk
Hi Eugene, alles moet getoets word aan die geskrewe Woord van God. As sy iets sien of sê wat daarmee in stryd is, is dit verkeerd. En as jy dit uitwys, is dit nie ‘n sonde teen die Heilige Gees nie.