This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Mon Feb 19 7:50:16 2018 / +0000 GMT

Josua 13 - Josua kry die opdrag om die hele land te verdeel



Die Here is bewus van die omvang van die uitstaande werk wat nog gedoen moet word in die land. Die Here deel dit met Josua. Hy erken dat Josua nie meer jonk is nie. Josua is immers al sedert die vroeë dae van die trek deur die woestyn ‘n gerekende krygsman (Eks 17). En daar wag nog ‘n groot deel van die land wat in ‘n “skoonmaak”-proses in besit geneem moet word.

Die Here beveel daarom vir Josua om dié hele gebied aan die volk toe te wys, selfs al is dit nog nie volledig onder hulle beheer nie. Hulle sou dit in die volgende fase van die “skoonmaak”-veldtog moes verower.

Gebruik gerus hierdie kaart om jou te help om die beskrywings hier geografies te plaas:

Die basis vir God se bevel bly die belofte

Die basis vir God se bevel bly die belofte wat Hy reeds in Numeri 34 (en vroeër aan Abraham) gegee het. Sy belofte sluit die gebied van die Filistyne in by die Middellandse see met hulle bekende vyf stede, die gebied van die Gesuriete oos van die See van Galilea, sowel as die twee ander groot streke onder die beheer van die Sidoniete (Fenesië en Lebanon) noord van die Filistynse gebied aan die kus, en die Amoriete in die noorde.

Die hele gebied van die Kanaäniete is alles deel van sy geskenk aan die volk, ‘n erfdeel wat Hy graag wil hê dat hulle in besit sal neem.

Die beloftes van God moet deur geloof in besit geneem word

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan die wyse waarop die Here in die NT ook vir ons as gelowiges sy oorvloedige seën beloof. Maar, om die beloftes van God te beleef, moet dit deur geloof in besit geneem word.

Jesus loof daarom die mense wat hulle kragtig inspan om die koninkryk in besit te neem (Matt 11:12). Talle van sy gelykenisse spel dieselfde waarheid uit. Dit is die getroue slaaf wat aangestel word oor alles wat die Here besit (Matt 24:47). Dit is diegene wat die geringstes van die Here se broers met barmhartigheid hanteer wat die koninkryk in besit neem (Matt 25:34) en die ewige lewe as beloning ontvang (Matt 25:46; vgl Jak 2:5).

Paulus spel hierdie geestelike stryd uit as ‘n wedloop waarin ons só moet hardloop dat ons die prys sal behaal (1 Kor 9:24). Dit sluit in dat ‘n mens jou liggaam onder beheer bring en met alles in jou fokus op die redding van mense (1 Kor 9:19-23). So ook die skrywer van die Hebreërbrief (Hebr 12:1-3).

Paulus se raad aan Timoteus is dat hy al sy kragte moet inspan om die ewige lewe as prys te behaal, want God het hom daartoe geroep (1 Tim 6:12). Van homself is Paulus aan die einde van sy lewe oortuig dat hy die goeie wedloop afgelê het, die wenstreep bereik het, en gelowig end-uit volgehou het (2 Tim 4:7).

Die land oos van die Jordaan

Die eerste deel van die land wat uitgedeel word, lê eintlik buite die grense van die beloofde land. Moses het dié gedeelte alreeds aan die stamme Ruben en Gad, sowel as aan die halwe stam van Manasse uitgedeel. Josua begin daarmee om dié besitting te erken, hoewel die skrywer ook eerlik is oor die feit dat hulle nie al die mense van Gesur en Maäka verdryf het nie. Hulle het dus nog tussen die Israeliete gewoon met die gepaardgaande probleme wat dit vir hulle veroorsaak het.

Let op die stukkies historiese inligting wat tussen-in gegee word, bv die verwysing na Bileam.

In die verbygaan word ook die stam van Levi genoem wat nie ‘n eie erfdeel gekry het nie. Let weereens op hoe diepsinnig hulle beskrywe word: “Die Leviete is offers aan die Here die God van Israel en hulle ontvang van wat Hom toekom, soos Hy hulle beloof het.” Dit vorm die agtergrond vir Romeine 12:1-2 se oproep aan alle gelowiges om hulleself volledig aan God te offer, liggaam en denke.

 

 


Post date: 2018-02-09 04:00:48
Post date GMT: 2018-02-09 02:00:48
Post modified date: 2018-02-09 05:11:26
Post modified date GMT: 2018-02-09 03:11:26

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com