This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Sat Jul 24 12:15:50 2021 / +0000 GMT

Jona 1:17-2:10 – God stuur ‘n groot vis, maar die Here red Jona na gebed



prayer-shawl Weereens moet ons kyk na die uitmuntende literêre karakter van hierdie Psalm van Jona. Daarin lê alreeds die diep dinge van God in opgesluit. Hierdie gebed van Jona openbaar nie net wie God is nie, maar veral ook wie Jona is, in die aannames wat opgesluit lê in sy pleitrede tot God. En in die antwoord van die “groot vis” lê ook weer nie net ‘n ware kykie in wie God is nie, maar ook wat sy plan is met die wêreld. Dit kan jou lewe verander deur dié teologiese visie op God te omarm!

Taal en simboliek

Om die taal en simboliek van Jona se gebed te verstaan, moet ons eers weer terug gaan na die wêreld agter die teks, spesifiek die wêreldbeeld van die Ou Nabye Ooste.

Die mense van die tyd het die wêreld gesien as bestaande uit drie verdiepings: die hemel, die aarde en die onderwêreld. In die hemel daarbo was daar 'n aantal pakkamers, stoorplekke, agter die uitspansel (Gen 1:7). Daar is sneeu en hael weggebêre (Job 38:22) en wind (Ps 135:7). Elke stoorplek het 'n sluis gehad waardeur die inhoud na die aarde toe kon kom (Gen 7:11-12). Die hemel self het op pilare gerus wat op die aarde gegrond was (Job 26:11), terwyl die aarde weer op pilare gerus het wat in die onderwêreld gegrond is (Job 9:6). Die onderwêreld het hoofsaaklik bestaan uit 'n watermassa wat baie diep is (Gen 7:11) en wat deur riviere gevoed is (Ps 24:2). Dit was na dié onderwêreld waarheen die dooies gegaan het en waar hulle in die vergetelheid geraak het. Soms is die onderwêreld sommer kortweg die “put” genoem.

In Jona se gebed word beelde uit dié voorstellingswêreld gebruik. Natuurlik is dit deels ‘n digterlike beskrywing en deels ‘n werklike beskrywing. Hy sien die fondamente van die berge, hy sak af in die diepte van die see, die watermassa het hom omring, die golwe het oor hom gespoel en die waters het hom toegevou. Hy was dus in die doderyk.

Maar, vertel hy, God het hom uit dié put opgetrek. Daarvandaan het God hom gaan haal. En om dit te kon doen, móés daar 'n vis wees om hom te gaan haal.

Interessant is dat daar 'n Sumeriese mite is waar die tyd wat dit neem om ná en ván die doderyk te reis ook drie dae en drie nagte is! Net soos die verhaal van Jona dit vertel.

Hoe dit ook sy, in dié proses van afdaal na die fondamente van die wêreld bid Jona. Hy hef 'n danklied (toda) aan.

Die opbou van sy gebed

Die gebed is baie kunstig opgebou:

Interpretasie van sy gebed

Bely Jona sy skuld?

Nou normaalweg sou 'n mens 'n toda aanhef as jy 'n skuldbelydenis gedoen het. Sou Jona sy skuld voor God bely het?

Sommige mense vertolk dit so en hulle verwys na die vroulike woord vir vis (daga) in vers 1 en wys op Jona wat sê dat hy uit die “skoot” van die doderyk terug gekom het, so amper 'n wedergeboorte.

Maar die gebed self vertel 'n ander verhaal.

Twee elemente van sy gebed staan uit:

'n Belydenis? Blykbaar nie!

Jona, die groot heroïese held wat bereid was om te sterwe vir sy eksklusiewe siening van God, sy Hebreërtrots, word maar net baie klein wanneer die oomblik aanbreek dat hy moet sterf. Daarom bid hy. Maar die oomblik as God begin om sy gebed te verhoor, dan slaan sy eie idee van wat aan die gang is, en wat nie, maar weer deur!

Waarom red God dan vir Jona?

Waarom red God dan vir Jona? Oor sy gebed? Nie noodwendig nie. God red hom omdat Jona se lewe belangriker was vir die saak van God as die saak waarvoor Jona bereid was om te sterwe.

Jona dink dat sy redding uit die kake van die dood sanksie verleen aan sy eie skeefgetrekte ideale. En ons sal dié sluimerende idees nog ten volle geopenbaar sien wanneer Jona vir God kwaad raak omdat Hy sy oordeel afwend as die Nineviete tot bekering kom. Maar Jona maak 'n fout! Hy interpreteer sy redding as sanksie van sy idees, maar die verhaal sal nog die waarheid hieroor aan hom en ons openbaar. Gee maar net tyd!

God red dus vir Jona omdat dit inpas in Sý plan met Jona, en veral met Sy plán met Nineve.

Boodskap

1. Wat leer ons van God?

God sanksioneer nie ons ideale nie!

Dit is ontnugterend om dié boodskap te moet verteer! Ons dink baie keer dit is so eenvoudig om ons eie lewens en God se rol daarin te interpreteer. Ons pas alles soos 'n legkaart netjies in mekaar. As sekere goed gebeur, dink ons die Here het ons gebed verhoor om dié of daardie rede. En as dit beter met ons gaan as met ander, dan voel ons God kies ons uit bó en ten koste van ander. En ons voel dan dat God óns projekte of óns planne gesanksioneer het. Dit is só maklik om dan te dink dat God sy seël daarop geplaas het.

En niks is verder van die waarheid nie!

Dit is ook op 'n breë vlak waar. Só het my kerk, die NG Kerk, ook vir 40 jaar die beleid van apartheid gesanksioneer uit die Bybel. En uit die voorleggings van teoloë wat ons blindelings vertrou het – of miskien was dit nie so blindelings nie, dit het ons miskien net te goed gepas – en uit die voorspoed in ons land het ons afgelei dat God dit ook gesanksioneer het. En moes ons uiteindelik bely dat ons verkeerd was en die Bybel verkeerd gelees het. Tot groot skade van mense en tot groot skade van die evangeliese boodskap. Mense kon God nie so duidelik raaksien vanweë ons volksideale nie.

Dit pas ons om maar versigtig te wees met ons interpretasies. Om dit versigtig en met oorleg en in die gemeenskap van ander gelowiges en met in ag neming van die hele gemeenskap van gelowiges, ook dié van ander tradisies se interpretasies, en oor tyd te doen, dit wil sê in 'n voortgaande proses.

2. God voorsien volgens sy eie plan

Maar daar is ook 'n troos in God se voorsiening vir Jona opgesluit. Maar dit is nie 'n troos soos wat ons soms graag wil hê nie. Die troos is dat God altyd gebede sal beantwoord, soos dit sy plan pas!

En ek verwys julle na 'n paar gebede in die Bybel wat op dieselfde wyse beantwoord is:

3. Hoekom red God dus vir Jona?

Jona het geleer dat dit onmoontlik is om van God se opdrag af weg te vlug. Sy ongehoorsaamheid het byna in 'n tragedie geëindig waarin onskuldige mense hulle lewens kon verloor. Maar danksy God se almag oor die ganse skepping en die feit dat Hy ook hierdie mag aanwend tot die behoud van menselewens, is die matrose en Jona gered. Dit dra die boodskap aan ons dat God se mag oor die hele skepping geld en deur niks aan bande gelê kan word nie.

Juis daarom kan sy mag al ons noodsituasies in reddingsgebeure verander.

 

 


Post date: 2015-02-27 04:00:26
Post date GMT: 2015-02-27 02:00:26
Post modified date: 2015-02-27 19:20:46
Post modified date GMT: 2015-02-27 17:20:46

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com