Skip to main content

Jona 1:1-16

God roep Jona na Nineve, maar Jona vlug weg

Ons fokus vervolgens op die boek Jona wat waarskynlik in die tyd van Jerobeam II geskryf is.

Die boek verkondig die ontferming van die Here oor diégene wat hulle tot Hom bekeer, selfs onder die nasies, en selfs as die profeet dit nie wil hê nie!

Die profeet Jona, seun van Amittai en afkomstig uit Gat-Gefer in Galilea, se onwilligheid om aanvanklik die opdrag as profeet na Nineve te aanvaar, en sy latere weerstand teen die Here se ontferming oor die stad, sy mense en sy diere, kan moontlik verklaar word uit die nasionalistiese ideaal wat hy gekoester het vir die volk Israel, soos uit die ander opgetekende profesie van hom blyk.

Ons lei dit af uit 2 Konings 14:25 waar dit duidelik is dat Jona geprofeteer het – in opdrag van die Here – dat die grense van Israel herstel sal word – “van Lebo-Hamat af tot by die see in die Jodaanvallei” – as deel van God se ontferming oor die ellende van Israel in die tyd van Jerobeam II, hoewel dit nie die uiteindelike ballingskap in 722/1 vC kon voorkom nie.

Jona het dit dus waarskynlik moeilik gevind om die genade van die Here teenoor vreemdelinge te versoen met dieselfde boodskap van genade aan sy eie mense. Hy vlug dus, met die ontvangs van die roeping na Nineve, weg van God se liefde af … ter wille van sy eie voorliefde.

Uit die geskiedenis weet ons dat die oordeel oor Nineve, hoofstad van die Assiriërs, uiteindelik voltrek word in 612 vC, soos in die boek van Nahum voorspel word, en in verskeie Joodse geskrifte beskryf word. Die pseudepigrafiese werk Tobit sowel as die Jerusalemse Talmoed wyt dié verwoesting aan die oppervlakkige bekering van die inwoners in die tyd van Jona.

Dit is ook interessant dat die twee boeke wat oor die toekoms van Nineve gaan, Jona en Nahum, albei eindig met ‘n vraag – die enigste twee boeke in die Bybel wat só geskryf is.

  • Jona verduidelik God se genade met die volgende argument: “Maar Ék mag nie besorg wees oor Nineve, die groot stad, waarin daar meer as honderd-en-twintigduisend mense is wat die verskil tussen regs en links nie ken nie, en boonop nog baie diere?
  • Nahum verduidelik God se oordeel oor Nineve met die volgende argument: “Wie het nie voortdurend onder jou wreedheid deurgeloop nie?” (Nah. 3:19).

Jesus verwys in die NT na die profeet Jona en sy boodskap teen Nineve en gebruik dit: 1) as getuienis teen die skrifgeleerdes en Fariseërs se onwilligheid om na Hom te luister en 2) as ‘n teken van sy dood en opstanding (Matt. 12:38-42).

Interessant genoeg is Jesus se tuisdorp Nasaret net 3 km suid van Gat-Gefer, Jona se geboortedorp. Dit is ook ironies dat die Fariseërs nie rekening gehou het met die feit dat Jona dus ‘n profeet uit Galilea was nie (Joh 7:52)!

Indeling

Geleerdes beskrywe die boek as ’n hemelse komedie. Die verhaal is vol van ironie. Dit ontlok ’n glimlag by ons as ons die vernuftige wegvlug poging van Jona lees en van die nog meer vernuftige planne wat God maak om Jona by sy roeping uit te bring.

Jona is baie kunstig opgebou en daar is baie literêre kenmerke wat bydra tot die unieke boodskap van die boek. Een van die uitstaande kenmerke is die onderlinge verbande tussen die hoofstukke:

Hoofstuk 1 se eerste drie verse vertel van die eerste roeping van Jona. Hoofstuk 3 van die tweede roeping van Jona.
Die res van hoofstuk 1 vertel van Jona en die heidense matrose. Hoofstuk 3 en die eerste deel van hoofstuk 4 van Jona en die Nineviete.
Hoofstuk 2 vertel van Jona en God buite die boot. Die laaste deel van hoofstuk 4 vertel van Jona en God buite die stad.

En die effek daarvan?

Dit wys vir ons wie God is. Hy sien nie af van sy roeping nie. Hy los nie sy doel met sy profete nie. Selfs die verkeerde pad wat Jona volg, word ’n pad van redding vir die matrose. Hy laat nie ’n enkele mens op aarde sonder meer verlore raak nie. Hy is tegelyk onwrikbaar en vol deernis. Hy is doelgerig en aanpasbaar. Hy is streng en vol begrip.

Dit wys ook vir ons wie ons is. Jona “cuts us to size”. Ons gee hoog op oor wat ons kan en wil en sal doen. Uiteindelik is ons mense wat reageer op God en wat Hy doen en is ons grootste mislukking en ons grootste sukses net getuienisse van God se werk in ons lewens. En dit wys ook vir ons dat ons effektief kan wees … en dit nie geniet nie! Die geheim van ware geluk is om tevrede te wees met wat God deur jou en met jou wil doen en op te hou om daaroor te kerm of dit anders te wil hê.

Teks en konteks

Die verhaal van Jona impakteer ‘n mens op baie verskillende vlakke. Dit is ongelooflik goed geskryf en net deur na die taalgebruik te kyk, word ‘n mens al ingetrek in die diepgang van dié boek. Dit vorm die invalshoek om die dieper teologiese boodskap van die boek te begin hoor, die wyse waarop God geteken word in die konteks van sy intieme besigwees met mense. En daaruit kom daar sekere perspektiewe op God wat beloftes vir ons lewe raak. Uitmuntende boek!

Begin deur te let op bepaalde kontraste in die eerste drie verse:

  • Die woord van die Here kom tot Jona – maar Jona gaan weg van die teenwoordigheid van God af (letterlik van sy aangesig af, wat beteken van die plek waar hy sy roeping gekry het en waar hy sy opdragte ontvang).
  • God stuur Jona oos – Jona gaan wes (Tarsis was die einde van die bekende wêreld, wat ons vandag ken as Spanje).
  • God stuur Jona – Jona vlug
  • God sê vir Jona staan op (dws maak klaar) – maar Jona gaan af na Joppe, en af in die skip.

En die effek van dié kontraste? Dit roep vrae na vore soos:

“Waarom?”

Wel die profeet verskil duidelik van God! En dít maak ons nuuskierig om te weet wat volgende gaan gebeur.

“Maar waarin verskil hy van God? Hoekom sê hy nee vir só ’n geleentheid? Hy is dan ’n profeet van die Here wie se roeping dit is om te sê wat God sê?”

Soos in enige goeie verhaal kom dié antwoord egter eers heel aan die einde van die boek, wanneer Jona sê: “Ek het geweet U is ’n genadige God …” Daarom wou ek nie na Nineve toe kom nie. En kyk nou, alles waarvoor ek bang was, het nou gebeur. Die mense het tot bekering gekom en nou is U genadig. Dit is om van te skreeu!

Dit beteken dat ons die begin in die lig van die einde moet lees en die einde in die lig van die begin.

En die boodskap van die kontraste?

Ons moet mooi kyk waarvoor ons ja sê en waarvoor ons nee sê in ons verhouding met die Here. Ons leer baie keer meer van onsself in waarvoor ons nee sê as waarvoor ons ja sê!

Kyk ook na die baie interessante herhaling in vers 4, 5 en 15:

  • Vers 4: “Maar die Here het ’n kwaai storm oor die see laat opkom (groot wind gegooi!)”
  • Vers 5: “Die matrose (letterlik “souties”!) het die vrag van die skip in die see gegooi …”
  • Vers 15: “Hulle vat vir Jona en gooi hom in die see.

Die effek van dié herhaling is dat die matrose se optredes gevolge is van God se optrede. God is aktief betrokke by wat hier gebeur. Dinge gebeur nie sonder rede nie en nog minder is daar enigiets uit beheer uit! Dit plaas nogal ’n ander perspektief op ons waarneming van storms in ons eie lewens! En help ons om sin te maak van wat ook met ons gebeur!

Kyk verder na die baie interessante (chiastiese = omgekeerde volgorde) rangskikking van die vertelling, wat op só ’n manier geskied dat die fokus volledig op Jona val:

  • Storm steek op en laat matrose bang word (vers 4-5a)
    • Matrose bid tot hulle eie gode (vers 5a)
      • Matrose probeer die skip red (vers 5b,6a)
        • Gesprek tussen matrose en Jona (vers 7-8)
          • Jona bely sy geloof en spreek sy vrees vir die Here uit (vers 9)
        • Gesprek tussen matrose en Jona (vers 10-12)
      • Matrose probeer die skip red (vers 13)
    • Matrose bid tot God (ver 14)
  • Storm bedaar en laat die matrose die Here vrees (vers 15-16)

Hieruit blyk duidelik dat die belydenis van sy geloof wat Jona voor die matrose as getuienis aflê, en dat hy sy ontsag vir die Here erken, die punt is waarom die hele gedeelte draai. Hoe verder Jona gaan, hoe nader kom God! En onthou dat die woord vir wind kan ook vertaal word met Gees. Dit is God se Gees wat Jona opsoek!

Dit gaan dus nie in die eerste plek in die eerste hoofstuk oor die vlugtende profeet nie, maar oor die teenwoordigheid van God waarvan jy nie kan wegkom nie, en wat net een doel voor oë het: ’n belydenis van geloof en ’n erkenning van wie Hy is. En dit gebeur met Jona … en op die koop toe ook met die matrose.

Ek weet nie of jy dieselfde ervaring het as ek nie … maar dít laat ’n mens nogal dink! God se doel met my is dat ek in Hom sal glo en dat ek Hom sal erken. En ek sal nooit daarvan kan wegkom nie. Dit vul my met ontsag, en dit maak my gerus. Wanneer ek droogmaak, sal God ’n wind op die see gooi!

Kyk ook na die name vir God in die gedeelte.

  • In vers 1 word God Jahwe genoem, die persoonsnaam van God. Heel duidelik is dit hoe Jona vir God geken het. Dit is ook Jahwe wat die storm op die see gooi in vers 4. Die persoonlike God, Jahwe, is dus ook die God van die natuur.
  • Dan bid die matrose tot hulle eie gode, die normale algemene naam god word gebruik, Elohim. Dieselfde is waar van die kaptein as hy in vers 6 vir Jona vra dat dié tog ook moet bid tot sy god.
  • Dan, wanneer Jona ontbloot is as dié een waaroor die storm op die see is, trek hy die twee name bymekaar en sê: “Ek dien die Here (Jahwe), die God (Elohim) van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.” Vers 9.
  • En dan wanneer die matrose moeg geroei is en nie verder raad weet nie, bid hulle tot Jahwe, Jona se God, en erken hulle ontsag vir Hom. En wanneer die storm in antwoord op gebed bedaar, dan offer hulle vir Jahwe en lê geloftes af aan Hom. Hulle lewens het dus onherroeplik verander. God het vir hulle Jahwe geword, die persoonlike een, die een wat, soos hulle dit sê, “doen wat Hy wil”.

Kyk laastens na die woord wat vir Jona se slaap gebruik word, dis in Hebreeus: radam. Dit beteken ’n diep slaap, ’n slaap soos toe Adam ’n ribbebeen verloor het om vir Eva ryker te word! Die woord word beide in ’n goeie sin gebruik – Adam kry vir Eva – as in ’n slegte sin – Sisera kry ’n tentpen deur sy kop by Jael toe hy in ’n radam verval in haar tent, Saul kry die skrik van sy lewe in só ’n slaap toe Dawid sy kruik by sy kop kom wegsteel het, en Jesaja sê daar is profete wat hulle insig in ’n radam kan verloor (Jes 29:10 – “Want die Here het oor julle uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë—die profete—toegesluit en julle hoofde—die sieners—toegebind.”). Daar skuil dus iets onheilspellend in Jona se diep slaap. Maar dit is nie God wat iets by hom wil kom wegneem nie! Jona self wil op dié manier die verantwoordelikheid vir die storm en die lewens van die matrose van hom afskud en só ook die verantwoordelikheid vir Nineve. Jona wil eintlik sy profeteroeping in sy diepe slaap, sy radam, verloor!

Dit is ’n baie diep ding wat in die woordjie binne sy konteks opgesluit lê. Hoeveel van die ongeluk op hierdie aarde van ons moet nie op die ou end op die rekening van ’n ontroue, voortvlugtende, ontwykende en selfs swygende kerk kom nie? Hoeveel van die lyding op aarde is nie maniere om ons uit ons slaap wakker te ruk nie?

Hoe anders is die matrose nie! Hulle gooi hulle vrag oorboord ter wille van Jona. Hulle spoor hom aan om te bid. As hulle met Jona praat is dit in die eerste plek oor sy roeping en in die laaste plek oor sy afkoms (vers 8), Jona daarenteen praat in die eerste plek oor sy afkoms (Ek is ’n Hebreër) en dán oor sy roeping (vers 9). Sy afkoms is belangriker as sy roeping en die mense rondom hom.

God se werk word dus in die wiele gery deur die profeet se politiek!

Maar, ironies, God laat dié radam, die diep slaap van Jona, nie toe om Sy doel met Jona en met die matrose en met Nineve in die wiele te ry nie! Jona word gedwing tot ’n belydenis van sy geloof voor die heidense matrose. En dit het ’n drastiese effek. Jona se skewe belydenis, gepolitiseer en ondeurdag, bring matrose tot geloof in God.

Wat moet ons met jou aanvang?” vra die matrose. “Vat my (tel my op)” – die eerste keer wat Jona “op” wil gaan soos God van hom gevra het, maar dan: “En gooi my in die see” – Jona wil op … om nog dieper af te kan gaan. Jona gaan oorboord ter wille van sy volk en mense!

Daar is iets heroïes in sy bloed-en-bodem teologie. Die punt is dat dit soms makliker is om ’n volksman te wees as ’n Godsman, Daarom speel ons ook soms eerder ’n Jona … as om ons eie groep te na te kom. Jona is so stylvol hierin, dat ’n mens amper dit as ’n voorbeeld van vasberadenheid wil aanprys!

Maar die see se stilte na die oorboord gooi, en die geloof by die matrose wys die interessante beweging in die teks: die regressie by Jona bring progressie by die matrose! Dit is wanneer die skeefgetrekte idees van die volksprofete uit die pad kom, dat God sy regmatige plek in mense se lewens kan inneem, dat God sigbaar kan word en nie meer verberg word agter ons volksteologie nie.

Boodskap en betekenis

Kom ons probeer dink wat dit vir ons prakties beteken.

Jona as voorbeeld en riglyn:

  • Hy wys hoe dinge nie gedoen moet word nie! ’n Mens kry eintlik lag vir jouself as jy Jona se doelgerigte dwarsheid gade slaan. En sy voorbeeld kan moontlik dinge in jou eie lewe ontbloot:
    • Dat jy miskien dink ’n roeping is iets wat aan en dan weer af geskakel kan word. Dat jy na gelang van die omstandighede as kind van die Here en as geroepene kan lewe of nie. Jona kon nie wegvlug van sy roeping nie. God was te sterk vir hom! ’n Afgeskakelde of uitgestelde roeping sal ’n kanker in jou word, ’n vuur wat in jou bene brand, soos Jeremia daaroor skrywe. Miskien is Jona se voorbeeld een wat jou waarsku en aanspoor om gehoorsaam te word. En dan moet jy luister! Of het ’n radam jou getref, en is jou oë toe in ’n diep slaap? Dan moet jy versigtig wees vir die wind …!
    • Dat jy miskien ’n bietjie te veel van jou eie mense dink en hulle belange stel voor ander s’n? Ons volksliefde (of soms die omgekeerde … ons gebrek daaraan) kan ons verblind vir wat God wil doen. Om die waarheid te sê, Jona se volksliefde het hom in opstand gebring teen God, omdat dié volgens hom te genadig was! Hy het letterlik oorboord gegaan ter wille van sy volk! God wil alle nasies intrek om Hom as die fokus en sentrum van hulle lewens te eer en dien.
    • Dat jy miskien neersien op mense wat nie glo soos jy nie? Dit is ongelooflik hoe baie keer ons onsself kan betrap dat ons neersien op mense wat nie in God glo nie. Jona wys egter hoe die kaptein en sy matrose meer “Christelikheid” in hulle “soutvelle” het, as wat Jona in sy hele wese het. En dit is ’n vraag hoe mense God kan begin raaksien as jy neersien op hulle? Is dit nie baie keer die probleem met ons getuienis teenoor mense uit die Moslem geloof nie? Dat ons hulle en hulle beskouings as minderwaardig beskou en uit die hoogte vir hulle wil reghelp? Erger nog, dat ons dink alle Moslems is soos die militantes van 9/11. En sou hulle nie baie meer geredelik in Jesus geglo het, as ons nie sulke lelike dinge oor hulle geglo en selfs kwytgeraak het nie?

Die Here is God en Hy doen wat Hy wil

  • Dit is God en Hy alleen wat dinge beweeg in hierdie eerste hoofstuk. Jona kon in die eerste plek gehoorsaam het, dan het die eerste twee hoofstukke se moeilikheid nie gebeur nie en die verhaal sou begin by hoofstuk drie! Maar nou was hy ongehoorsaam. Maar dit sit nie vir God af nie. Hy bly aktief betrokke en werk sy wil uit in die lewe van Jona. Wat ons dus van God leer, is dat God nie afsien van die pad wat Hy met ons ingeslaan het nie. Ons kan staatmaak op sy onwrikbare doelgerigte deursien van sy plan. Dit kan ’n paar ompaaie insluit, dit kan ’n ander uitkoms hê, Nineve kom tot bekering, maar die boodskap sal gelewer word … en dit deur Jona! Selfs ’n radam keer God nie! Dit is ’n troos.
  • Wat ons verder van Hom leer, is dat Hy genadig is. Waar Hy beweeg, al is dit in ’n storm, kom mense tot ’n besef van wie Hy is en raak Hy ook hulle God! Dit is die belofte wat in die teks opgesluit lê. Dit is nie soseer ons getuienis wat mense beweeg nie, maar die God in die getuienis! Dit is ook ’n troos.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on 2 SAMUEL 11:1-15Die Skrif is duidelik daaroor dat God nie sonde kan doen nie. Hy keur ook nie sonde ooit goed nie. Hy laat boonop geen sonde ongestraf nie (Eks 34). Dit is in dié lig wat 'n mens die profesie moet verstaan. God laat Dawid aan die gevolge van sy eie sondes oor, dit is dat Absalom onder andere in opst…
  • PHILIPPUS C FOURIE on 2 SAMUEL 11:1-152 Samuel 12 vers 11 waar God aan Dawid sê dat Hy sy vroue aan sy naaste sal gee om by te slaap en dit sal geskied in daglig sodat almal dit sal sien. Ek was deur my naaste hieroor gekonfronteer met die argument: Hoe kan God dit self toelaat en laat gebeur as Hyself hier owerspel toelaat? Dit is mos…
  • Chris van Wyk on Amos 9:1-10Waardeer.
  • Klazina Jacobs on Amos 9:1-10Dankie. Baie insiggewend!
  • Chris van Wyk on Jona 1:1-16Dankie Kobus, ek sien uit na module 4 waar ons saam dieper in die NT gaan delf!
  • Kobus De Wet on Jona 1:1-16More Dr Chris, vanmore is ek weer in verwondering oor die Woord van God na ek u stuk gelees het oor Jon 1:1-16. Ek het altyd in terme van Jona en die vis Jona gelees, uit my sondagskool perpektief, nou ontdek ek die diepte in Jona: die chiastiese rangskikking, God se name en natuurlik die Radam - di…
  • Chris van Wyk on Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike weseDankie Monique, dit is my voorreg!
  • Monique Steyn on Matteus 17 – Jesus word verheerlik as teken van sy Goddelike weseDie Bybelskool help my so vreeslik Baie, Om die Bybel en die Woord van Jesus better te verstaan. Ek Wil net Soo Baie dankie se. Wees geseend.
  • Chris van Wyk on 2 Kronieke 1Hi Ayden, verhale uit die OT is voorbeelde wat ons help om te verstaan hoe God in ander se lewens gewerk het - in dié geval Salomo - sodat ons kan kyk of daar raakpunte met ons eie lewe is, en ons die boodskap aan die mense van daardie tyd, ook op onsself van toepassing kan maak. Jy kan die boodskap…
  • Ayden Corbett on 2 Kronieke 1Ekt gebid en gevra dat die Here vir my n vers uit die bybel moet kies en my sal help verstaan wat ek lees en toe maak ek oop op 2 krinieke 1...dra die stukkie n spesifieke betekenis of boodskap buitens dat jy wysheid moet kies om die Here se volk te regeer inplaas daarvan om vir rykdom en n lang Lew…
  • Chris van Wyk on Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervulHi Eugene, alles moet getoets word aan die geskrewe Woord van God. As sy iets sien of sê wat daarmee in stryd is, is dit verkeerd. En as jy dit uitwys, is dit nie 'n sonde teen die Heilige Gees nie.
  • Chris van Wyk on 1 Konings 11:1-43;  2 Kronieke 9:29-31Jesus wys in Matteus 12 en Lukas 11 uit dat sy eie wysheid dié van Salomo oortref. Die koningin van Skeba sal dus in die oordeel opstaan en die geslag van Jesus oordeel, omdat sy op Salomo se wysheid gereageer het, en die Jode nie dieselfde gedoen het met Jesus nie (Matt 12:42; Luk 11:31). Die boods…
  • Chris van Zyl on 1 Konings 11:1-43;  2 Kronieke 9:29-31Chris, sê asseblief iets meer oor die laaste sin van vandag se bydrae. Groete
  • Eugene Beetge on Kolossense 2:6-23 – In Christus Jesus is ons met die volheid van God vervulGoeie dag kan u dalk verduidelik as die vroue predekant helder ligte en engele sien of engele wat tekens doen. Hoe moet n mens as Christen dit verwerk of interpreteer sonder om te laster teen die Heilige gees . U inset word opreg wardeer.
  • Chris van Wyk on Openbaring 19:1-10 – Gelukkig is hulle wat uitgenooi is na die bruilofsfees van die LamHi, dit is beelde wat gebruik word om dieselfde werklikheid uit te druk. In vers 7 word die kerk as 'n bruid uitgebeeld om die intieme verhouding tussen God en sy mense uit te druk. Die bruid is enkelvoud, maar die mense wat deel daarvan is natuurlik meervoud. Maar, dit is nie 'n probleem nie, want…