Bybelskool
https://bybelskool.com/job-7-in-my-bittere-beproewing-soek-ek-vergifnis/
Export date: Sat Jul 24 12:14:50 2021 / +0000 GMT

Job 7 – In my bittere beproewing soek ek vergifnis


Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.



Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net ‘n asempie is – 7:1-10

Dat dié beproewing van Job al ‘n geruime tyd voortduur, sien ‘n mens in die verwysing in vers 3 na die “maande” wat hy al deurbring met swaarkry.  Hy voel soos ‘n dagloner wat smag na ‘n stukkie koelte en verlang na betaaltyd, sodat hy verlossing kan kry van sy harde lewe.

Daarom wend hy hom tot die Here, want hy weet dit is al plek waar hy enige rus sal kan vind.  Sy smart is immers so groot dat hy nie eers rus kry in die nag nie.  Hy weet dit sal net in ‘n ontmoeting met God kan gebeur.

Hoe goed kan ‘n mens nie jouself indink in sy situasie waarin hy oortrek is van wurms, vol rowe en stof, met sy vel vol barste wat aanhoudend etter (7:5).  “Die nag sleep stadig verby en ek rol rusteloos rond tot dagbreek toe.” (7:4).

Daarom vra hy dat die Here aan hom sal dink.  Job is immers baie bewus van sy verganklikheid.  Sy dae loop vinnig uit.  Sy lewe is maar net ‘n asempie: “U sal nog so na my kyk, dan is ek nie meer daar nie.” My plek sal vir altyd leeg wees.

In my bittere beproewing soek ek vergifnis – 7:11-21

Daarom kan Job nie stilbly nie en soek Hy ‘n antwoord van die Here.  Sy beproewing en lyding dwing hom om te praat met God.

Dit is asof die Here besluit het dat hy metafories soos die see is wat aan bande gelê moet word (vgl. Ps. 104:7-9), of soos ‘n seemonster  wat bewaak moet word.

Die woord vir seemonster wat hier gebruik word, is tannîn.  Die woord het verskillende betekenisse in die Bybel: slang (Eks. 7:9); draak (Jer. 51:34); see- of riviermonster (Gen. 1:21; Ps. 74:13 [figuurlik gebruik vir die Egiptenare]; Jes. 27:1 [waar dit ook parallel met die Leviatan gebruik word]; Eseg. 29:3; 32:2; Ps. 148:7 [waar die seemonster opgeroep word om die Here te loof!]).  Dit is waarskynlik laasgenoemde betekenis wat hier van toepassing is.

Selfs as hy op sy bed lê kry hy nie verligting van sy pyn nie, want die Here verontrus hom met drome en nagmerries.  Hy sou eerder dood wou wees: “Ek wil nie meer nie ... laat my staan; my lewe is niks meer werd nie.

In ‘n tragiese parodie – ‘n spottende nabootsing – van Ps. 8 se verheerliking van die status van die mens verwoord Job sy bittere beproewing in die tweede helfte van dié gedeelte.  In plaas daarvan om in verwondering te vra: “Wat is die mens dan dat U aan hom dink ... U het hom met aansien en eer gekroon” (Ps. 8:5-6), spot Job in verwonding daarmee: “Wat is die mens dat U soveel van hom maak, dat U hom so op die hart dra, dat U hom van dag tot dag toets, hom van oomblik tot oomblik op die proef stel?” (Job 7:17-18).

Waarom het die Here hom sy teiken gemaak.  Kan die Here hom dan nie maar vir ‘n oomblik uitlos, vir ‘n oomblikkie laat asem skep nie?  Ek wil nie langer ‘n las vir die Here wees nie!  As ek gesondig het, vergewe en vergeet dan tog maar, Here.  Anders sal ek dit nie maak nie.

Weggesluit in hierdie versoek dat die Here hom moet uitlos – Job wil nie langer ‘n las vir die Here wees nie – lê die evangelie van hierdie gedeelte opgesluit.  Want, dit is in die proses wat Job die Here direk vra dat Hy hom moet uitlos, dat Job nader skuif aan die Here, en só die weg begin oopmaak dat die Here hom in sy nood kan ontmoet.

Uiteindelik sal Job ervaar dat die Here hom inderdaad nooit gelos het nie, dat Hy in beheer is van Job se lot, selfs in die pyn van al die tragedies wat hom getref het.
Post date: 2016-01-20 04:01:29
Post date GMT: 2016-01-20 02:01:29

Post modified date: 2016-01-20 09:09:34
Post modified date GMT: 2016-01-20 07:09:34

Export date: Sat Jul 24 12:14:50 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com