Bybelskool
https://bybelskool.com/job-3-job-vervloek-sy-geboortedag/
Export date: Tue Jul 27 6:00:32 2021 / +0000 GMT

Job 3 – Job vervloek sy geboortedag


Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.

Job-in-Despair - van "Drawings-for-the-Bible" deur Marc Chagall gepubliseer deur Verve.



In drie roerende gedeeltes begin Job om sy geboortedag te vervloek, soos Jeremia ook later sou doen (Jer. 20:14-18).  Job sou in die eerste plek verkies het om glad nie gebore te word, en dus nooit te bestaan het nie (3:1-10).  Hy sou in die tweede plek verkies het om by geboorte te sterf, en nooit te gelewe het nie, uitgedruk met ‘n reeks van drie waaroms (3:11-19).  Hy sou in die derde plek verkies het om eerder nou te sterf, as om verder te lewe, ook uitgedruk met ‘n reeks van drie waaroms (3:20-26 – die waaroms word veronderstel, hoewel dit eintlik net in vers 20 in die teks voorkom).

Hoewel Job dus nie direk die Here self vervloek nie – soos die Satan verkeerdelik voorspel het, en waartoe sy vrou hom aangemoedig het – veroordeel hy dit dat God hom in die lewe geroep het: “Waarom moes God dan die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry.” (3:20).

Dit is nie dat hy soseer God blameer vir sy lot nie.  Hy druk hier net die diepte van sy emosie uit.  Die lewe is vir hom geen plesier meer nie.  Waarom dan lewe?  Soos Clines (Word) opmerk: “here we are invited to view the man Job in the violence of his grief.

Let egter ook op dat Job besef dat hy nie enige gesag het om dié vervloeking uit te voer nie.  Daar is geen outomatiese krag in sy woorde nie, behalwe maar net die magtelose smart oor sy lot.  ‘n Vloek het immers ‘n agent nodig om uitgevoer te word, net soos dit van ‘n seën waar is.  En dié agent is God.  Job kan dus maar net wens …

Job sou verkies om glad nie gebore te word nie – 3:1-10

Job sou verkies dat die dag waarop hy gebore is nooit aangebreek het nie, dat daar geen vreugde by sy ouers oor sy geboorte moes gewees het nie.  Dié dag moes donker gewees het.  In plaas daarvan dat daar lig moes wees soos by die eerste skeppingsdag, moes God eerder ‘n sluier daaroor getrek het met ‘n sonsverduistering.  Die dag, sy skeppingsdag, moes nooit gebeur het of bestaan het nie.  Dit moes vervloek gewees het.

Die oerdier, die Leviatan, moes dié dag vernietig het.  Die môrester, die een wat die dag aankondig, moes vergeefs op sy geboorte gewag het.  Job wou die smart van geboorte gespaar gebly het.  Daar moes nooit ‘n geboortedag of ‘n verjaarsdag gewees het nie.

Let solank egter hier op dat Job temas aanroer wat die Here ook in sy uiteindelike gesprek met Job sal aanraak in hfst. 38-42:6: sterre, donkerte, geboorte, lig asook die mitologiese Leviatan (3:8; vgl. in 40:20; 41:3 waar die woord vertaal word as krokodil maar wel met mitologiese trekke beskryf word).  Dit onderstreep dat die Here intens bewus is van wat in ons aangaan, en dat Hy die vermoë het om insig te bring, deur letterlik die woorde te gebruik waarmee ons met Hom in gesprek tree.

Job sou verkies om nooit te gelewe het nie – 3:11-19

Met drie waaroms druk Job op retoriese wyse sy smart oor die lewe uit.  Hy sou verkies het om nooit te gelewe het nie:

  • Waarom het hy nie by geboorte gesterf nie?

  • Waarom het sy ma hom nie laat sterf nie, maar hom op haar knieë geneem en gevoed? Hy sou dan rustig in die graf kon lê, onbewus van die pyn van hierdie lewe, en as't ware soos konings of ryk mense die gelykstelling van die graf kon beleef.

  • Waarom was hy nie eerder ‘n misgeboorte wat sonder meer begrawe is nie? Dan sou hy rus van die kwaad van goddeloses kon hê in die plek waar klein en groot dieselfde rus ervaar en daar geen onderskeid is tussen slaaf en vryman nie.


Job sou verkies om eerder nou te sterf – 3:20-26

Met nog drie waaroms – hoewel die waarom eintlik net in vers 20 voorkom, word dit verder veronderstel – druk Job op retoriese wyse ook sy smart oor die voortsetting van sy lewe uit.  Hy sou verkies om eerder nou te sterf:

  • Waarom moes die Here die lewenslig gee aan ‘n man wat net swaar kry?

  • Waarom moes die Here die lewe gee aan ‘n man wat so bitter ly? Hy hunker tevergeefs na die dood.  Dit is vir hom soos ‘n verborge skat.  Hy sou maar te bly wees as hy die dood nou kon smaak.

  • Waarom moes die Here die lewenslig gee aan ‘n man wie se toekoms tot niet is? Daar is geen lig meer vir hom in die pad vorentoe nie, anders as wat Psalm 119:105 belowe.


Wat Job gevrees het, het gebeur: “Ek het geen rus en geen vrede nie, geen verposing nie, net angs.”  Sy goed en sy gesondheid is van hom weggeneem.  Waarom dan lewe?

Interessant is dat hy nie selfdood oorweeg nie, hoewel dit nie onbekend in die Bybel is nie.  Vgl. Abimelek (Rigt. 9:54), Saul (1 Sam. 31:4-5), Agitofel (2 Sam. 17:23), Simri (1 Kon. 16:18), en Judas (Matt. 27:5).  In sy smart verlaat hy homself egter op ‘n manier nog steeds op die genade van die Here, al is dit dan hier om te wens dat sy lewe tot ‘n einde kan kom.
Post date: 2016-01-15 04:00:20
Post date GMT: 2016-01-15 02:00:20

Post modified date: 2016-01-15 16:42:51
Post modified date GMT: 2016-01-15 14:42:51

Export date: Tue Jul 27 6:00:32 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com