Jesaja 21-23 – God se oordeel bereik alle nasies

5 volke is in die 3 hoofstukke in Jesaja se visier.

21:1-10 – Teen Babel: Die profesie teen Babel in 21:1-10 sluit aan by die vorige een in 13-14:23.  Eintlik word Babel nie in die eerste vers genoem nie.  Die profesie is gemik teen “die woestyn van die see”, wat waarskynlik by die Persiese idioom aansluit wat van die land om die Persiese golf as “die land van die see” gepraat het.  Vers 9 verbind dit egter aan Babel.  Weereens word die Mediërs (vandag soos die Perse deel van Iran) as instrumente in die oordeel op Babel genoem, hierdie keer in tandem met Elam (die Hoogland noord-oos van Babel) (vers 2).

Let op die angs wat die visioen vir die profeet bring – die rustigste deel van die dag (skemeraand) is nou vir hom ’n verskrikking (vers 4) – terwyl die ander begin eet en drink.  Hy sit daarom ’n wag uit om goed op te let wat aan die gang is.  Sy waarneming bring die afleiding dat Babel geval het, wat beteken dat Israel nie op hulle sal kan staatmaak nie.  Dit is egter baie moeilik om die val van Babel hier histories te plaas.

21:11-12 – Teen Edom: – Die teks is baie misterieus.  Duma kan vertaal word as “Stilte” en klink daarby in Hebreeus soos “Edom”.  As ’n mens dit verbind met die  verwysing na Seïr in vers 11 wat ’n berg in Edom was, lyk dit asof dié orakel waarskynlik teen die Edomiete gerig was, soos wat die opskrif by die teks aandui. Die Edomiete is die nageslag van Esua (edom beteken rooi, wat verwys na Esau se gelaatskleur, sowel as die kleur van die lensies – Gen 25) – wat suid-oos van die Dooie See gewoon het.  Maar dit is sover soos my begrip van dié teks gaan, want hoewel dit grammaties perfekte sin maak, maak dit as ’n boodskap geen sin vir my nie.  Waarskynlik is dit intensioneel, of ’n kodewoord wat mense van daardie tyd sou verstaan het.  Dit kan seker ook terugverwys na vers 6-9, maar dan is die plek waar dit in die hoofstuk geplaas is vreemd.  Sal graag meerdere wyse woorde wil hoor hieroor!

21:13-17 – Arabië: Die plekname kan almal met Arabië verbind word: Dedan, Tema (’n oase) en Kedar.  Die Here kondig ’n einde aan hulle rykdom aan met net ’n klein oorblyfsel wat sal oorbly.

22 – Teen Jerusalem: Let op dat Jerusalem “die plek waar visioene gesien word” genoem word in vers 1 en 5, ’n verwysing na profetiese aktiwiteite.  Maar ’n mens soek tevergeefs na mense wat dié visioene ernstig neem.

Dit wil voorkom asof die beleëring van Sanherib teen Jerusalem in 701 v C die historiese agtergrond gee vir die aanvang van hierdie orakel, ’n aanval wat afgeweer is, soos ons later in Jes 36 vv gaan lees. Die vreugde daaroor is egter dwaas, sê Jesaja met ’n seer hart, want daar is nog ’n bedreiging wat kom, omdat die volk nie regtig hulle tot die Here bekeer het nie.

Die bedreiging word geïdentifiseer van Elam en Kir af (vers 6).  Elam was deel van die Assiriese ryk (noord-oos van Babilon) en Kir was een van die stede van die Arameërs (die Siriërs vandag) waarheen Assirië gevangenes geneem het.  Hulle sal die oordeel kom voltooi, al lewe die mense van Jerusalem onbewus daarvan (vers 13).  Let op die kras taal van vers 14 – die Here sal hulle dié sonde, om fees te vier sonder om Hom in ag te neem, nooit vergewe nie.

Terloops: die Paleis van die Bos was een van Salomo se bouwerke (1 Kon 7:2; 10:16-17; 14:25-28) waarin wapens gestoor was.

23 – Tirus: Vers 1-14 vorm ’n eenheid en is ’n “begrafnislied” oor Tirus en Sidon waarin die oordeel oor hulle uitgespreek word.  Vers 15-18 vorm ook ’n eenheid en is ’n boodskap van hoop gekoppel – van alle dinge! – aan die lied oor die prostituut wat vir ’n nuwe begin vra.

23:1-14: So bietjie agtergrond om sin te maak van die eerste gedeelte: Tirus (Sur in hedendaagse Lebanon – onthou dat dit aanvanklik ’n eiland (vers 2) langs die kus was en eers later ’n skiereiland geword toe Alexander ’n pad tussen die eiland en die vasteland gebou het) en Sidon (Saida vandag) was almal groot hawestede in Fenisië, westelike kusstrook van Israel, vanwaar hulle handel gedrywe het.  Tarsis was waarskynlik ’n stad in Spanje waarheen hulle handelsware uitgevoer het.  Dit is ook die stad waarheen Jona op pad was toe hy in Joppe aanboord gegaan het op die skip (onderskei dit egter van Tarsus, die geboortestad van Saulus in Klein-Asië).  Kittiërland was die naam vir Siprus en Sigor in Egipte geleë in die Nyl-delta.  Die Galdeërs was die bevolking van Suid-Babilon.  Die woord is later gebruik vir die hele koninkryk van Babel.  Op hierdie stadium het Assirië oor hulle geheers (vers13).

Let op die wêreldwye impak van die oordeel.  Almal praat daaroor.  En dan kom hulle agter, dit is al die tyd die Here wat die verwoesting laat gebeur het (9).  En let ook weereens op, soos met so baie ander nasies, dit is hulle hoogmoed wat die Here tot oordeel beweeg.

23:15-18: Hier het ons ’n boodskap van hoop, nogal gekoppel aan die metafoor van ’n lied oor ’n prostituut wat om ’n nuwe begin vra.  Die profeet voorspel dat die oordeel 70 jaar, ’n leeftyd, sal duur waarna Tirus weer sal handeldryf.  Die droom is egter dat sy wins en verdienste dan vir die Here afgesonder sal word, bestem vir dié wat in die diens van die Here is (vers 18), wat histories gesproke nog nie gebeur het nie.

View all posts in this series

Jesaja


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (5)

  • My gedagtes gaan weer terug na Jes 7:12 waar koning Agas “nee, dankie” gese het vir ‘n teken van die Here – seker ondat dit sy eie keuses oor staatsbeleid sou ingeperk het. Nou dink ek net – wat sal die wereldleiers van vandag se vir ‘n uitnodiging om ‘n teken van God te ontvang oor bv. die vraag oor wat gedoen moet word oor groeiende verdedigings-begrotings aan die een kant en skryende armoede en verhongering van miljoene mense? Wie sou braaf genoeg wees om onvoorwaardelik ‘n teken te vra? En as ek aan myself dink? Ek bid dikwels vir die armes en huisloses in ons metro, maar is ek bereid om onvoorwaardelik vir ‘n “teken” te vra oor wat ek moet doen??

  • Oor verse 11 & 12. Ek lees in ‘n kommentaar dat die Edomiete hier na die profeet roep en vra hoelank hul onderdrukking deur die Babiloniers (die nag) nog gaan duur, en dan antwoord die profeet dat die more (uitredding) sal kom vir Jerusalem, maar vir Edom sal dit nag bly. Hy verwys na ander tekste soos Ps 137:7.
    Hierdie is nie my “wyse woorde” nie – dit kom uit Thesaurus of Sriptural Knowledge wat ook op my E-sword is. En dit pas in by verse 6-9 en maak nogal sin, of hoe dink jy?

    • Ja, dit is een manier om dit te verduidelik, hoewel die Psalm verwysing nie vir my sin maak nie. Die Bybel in Praktyk sê iets soortgelyks: “Die boodskap kom daarop neer dat dit vir hierdie gebied blywend nag is. In die loop van verdere gebeurtenisse sal daar rede wees om die versoek te herhaal (34:5–17). In die tyd van Jesaja is Edom ten minste drie keer deur die Assiriërs onderwerp.” Maar, dan bly die probleem steeds om Duma te interpreteer, waaraan ek wel my hand gewaag het, maar steeds onseker oor voel.
      Watts het die volgende daaroor te sê en stel eintlik voor dat ‘n mens die misterieuse karakter van die teks aanvaar:
      “Verse 11: A second burden has an even more ambiguous and mysterious title: “Silence.” The sound of the Hebrew word is similar to “Edom,” and the reference to Seir in the next line leads the lxx to insert that name here. Wildberger thinks it refers to a place name. Schlossberg has called attention to medieval rabbinic interpretations of this passage. Rav Saadia Gaon interpreted the text in terms of Dumah, son of Ishmael (Gen 25:14) and a place called Dumat al-Gandel in the northwestern area of modern Saudi Arabia. Other rabbis and Karaite commentaries follow his interpretation in relating this prophecy to Ishmael, though earlier Talmudic literature related the prophecy to Edom. However, the parallel to other ambiguous titles (21:1, 13; 22:1) suggests that it be allowed its mysterious character, especially in view of the ambiguity in the keeper’s response (v 12). The theme of a lookout or watchman is continued from vv 6 and 8. The question is broad and common.
      Verse 12: The answer says nothing specific, only recognizing that it is proper to ask, even when nothing can be given in reply. It reflects the times when people want to know what is happening, anxiously anticipating great and fearful events, yet recognizing that those events have not come into sight. Geyer provides a very thorough discussion of possible mythological connections.”

  • Hi ek is besig met bybelstudie..en ek kry va oggend Jesaja 21..maar ek kry nie n vers op toepassing van my nie..ek kan nie opsevasie maak nie..ook nie hoe dit op toepassing van my is nie. Kan u dalk dit vir my uiteensit?/verduidelik asb??

    • Die boodskap van die drie hoofstukke is dat God se oordeel werklik is en dat sy waarskuwings nie in die wind geslaan moet word nie. Dit geld ook sy volk om hulle te bekeer van hulle verkeerde weë. Hulle status as God se uitverkore volk moet nie ligtelik opgeneem word nie. Groter kennis van die waarheid vereis groter aanspreeklikheid. Soos Petrus ons in die NT waarsku: “Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet 4:17)

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
  • Elsa Steyn on 1 Samuel 28Hi Chris 1 Sam 28 vers 19 Saul en Samuel is saam in dieselfde plek, die doderyk. Saul het volhard in die afskakeling van sy verhouding met God, en het nie tot inkeer en berou gekom nie. Hoekom is hulle twee na dieselfde plek? Samuel is dan in die hemel?
  • Chris van Wyk on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysEk het al heelwat hieroor geskrywe op bybelskool.com. Jy kan in die soekenjin verder kyk. Hier is die skakel na wat die belydenisskrifte daaroor sê wat 'n goeie vertrekpunt is: https://bybelskool.com/wat-is-die-drie-eenheid-die-getuienis-van-die-belydenisskrifte/?highlight=drie-eenheid
  • Petrus on Genesis 12 – God roep vir Abraham na die land wat Hy vir hom sal aanwysBeste Chris "Ons" Gen 1: 26 -"Toe het God gese: Kom Ons maak...." Gen 11: 7 - "Kom laat Ons afgaan..." Ons praat v/d die Drie-eenhied en Jesus as God. Verstaanbaar. Wanner God na "Ons" verwys, is dit nie dat Jesus Sy Seun Die Woord is soos Johannes dit ook noem en Jesus fisies die Seun van God is so…
  • Chris van Wyk on AmosDankie Katrien, dit is my voorreg. Chris.
  • Katrien on AmosSo maklik verval ons ook in dieselfde gemaksone van ouds! Ons moet waak teen selfgenoegsaamheid in ons verhouding met God. Met die Heilige Gees binne my is daar nie wegkom kans vir God se kinders wat lou en koud word, in hul verhouding nie. Ek wil bid Heer bewaar my van gemaksugtigheid in my verhoud…
  • Chris van Wyk on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofHi Petrus, 'n mens kan die 666 simbolies verbind aan enige godsdiens wat Christene vervolg, ook dié tye en plekke deur die eeue waar Christene vervolg is in die naam van Islam. My gedagtes oor die 666 is soos volg: Die dier uit die aarde – die vals profeet (Openb 16:13 word die dier só genoem) – opp…
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 17Dankie Sarie, dit is 'n tikfout. Dit is vers 9 van 1 Samuel 21.
  • Sarie Cronje on 1 Samuel 171 Sam 21 het net 15 verse - Filistyn se wapens het hy in sy eie tent neergesit wat later in sy verhaal weer ‘n rol sou speel (1 Sam 21:19).
  • Petrus on Openbaring 13 – God gee insig in die Bose se planne sodat gelowiges kan volhard in geloofGoeie Dag Chris Ivm die nommer 666. Ek het 'n interessante video gesien oor iemand wat selfs 'n boek daaroor geskryf het en die nommer met Mohammad/Allah verbind. Denkend aan die Openbaring 13 skrywe waar die wat nie die merk dra nie van ekonomiese welvaart afgesny word kilnk dit vir my reg. Soos jy…
  • Chris van Wyk on Lukas 10:38-42 – Kies om na Jesus te luister, want dit sal nie van jou af weggeneem word nieMy voorreg, Reinette.
%d bloggers like this: