Bybelskool
https://bybelskool.com/jeremia-1914-2018-vervloek-is-die-dag-waarop-ek-gebore-is/
Export date: Sat Nov 28 20:20:16 2020 / +0000 GMT

Jeremia 19:14-20:18 - Vervloek is die dag waarop ek gebore is


Jeremiah lamenting - Rembrand van RijnDie boodskap van die Here by die Moorddal verhoog egter die teenstand teen hom as profeet.  In hierdie hoofstuk hoor ons hoe dié teenstand deur die priesterlike gesag, komende van die priester Pasgur, teen Jeremia verhoog (19:14-20:6). Ons hoor ook hoe Jeremia nie net op Pasgur reageer nie, maar hoe hy sy hart uitstort voor die Here in twee “Konfessies”.

Met die sesde “Konfessie” kry Jeremia dit nog reg om ook sy dank vir die Here se regverdigheid uit te spreek (20:7-13), maar met die sewende “Konfessie“ is daar soveel rou emosie dat hy net sy lot bekla, en die Here dit onbeantwoord laat (20:14-18).

19:14-20:6 - Pasgur slaan Jeremia en skroef hom vas in 'n blok

Jeremia stap terug van Tofet af om die boodskap van die ramp wat God bring ook aan die gemeenskap van gelowiges by die tempel te bring.  Hy kon dus hier nog in die tempel kom, maar is later deur Jojakim die tempel belet (Jer. 34).  Maar, Jeremia word deur die priester Pasgur, seun van Immer, die hoofopsigter oor die tempel wat vermoedelik vir sekuriteit verantwoordelik was, gekonfronteer en in hegtenis geneem.  Ironies dat God se geroepene, die een wat hy as “opsigter” oor die nasies aangestel het (Jer. 1:10), hier deur die tempel “opsigter” verneder word.

Pasgur het Jeremia geslaan - persoonlik of deur die wagte weet ons nie - en hom daarna vir 'n dag lank laat vasskroef in die blok wat in die boonste Benjaminpoort van die huis van die Here was.  Dit het hom dus boonop vir 'n dag lank in die publiek se oë verneder.  Almal kon vir 'n dag lank na hom kyk en hom spot.  Hierna was Jeremia waarskynlik die tempel belet.  'n Mens dink onwillekeurig aan Jesus wat op soortgelyke wyse aan 'n kruis tot publieke spektakel gemaak is ...

Die volgende dag het Jeremia egter 'n verdere woord van die Here, 'n woordspeling op die naam van Pasgur.  Hy sal nou nie meer Pasgur genoem word nie, maar Mâgôr, “Angs (van-alle-kante)”.  Die angs wat hy vir Jeremia laat beleef het, sal op sy eie kop gewreek word.  Pasgur sal nou self 'n teken word van die ramp wat God oor die volk bring.  Soos hy getref sal word, só sal sy vriende en die volk deur die Here uitgeroei word en in ballingskap weggevoer word.  In Babel sal Pasgur sterf.

20:7-13 - U woord is 'n brandende vuur in my hart en gebeente

Die vertaling van “mislei” is regtig ongelukkig, omdat die woord wat in die Hebreeus gebruik word op verskillende maniere vertaal kan word, en die betekenis uit die konteks baie meer dui op “oortuig” as “mislei”.  Dit is dan ook hoe ek dit graag sal wil vertaal.  Jeremia kla dus hier dat God hom oortuig het om die roeping om 'n profeet vir die nasies te word, te aanvaar, en dat hy “boots and all” daarvoor geval het.  Hy het hom laat oortuig: “U was te sterk vir my, U het gewen.”

Maar, en dit is sy hele probleem, “Ek word heeldag uitgelag, almal spot met my.” Hier verwys hy waarskynlik in die eerste plek na die episode in die blok, maar ook wyer na sy ervaring as profeet.  Die mense aanvaar nie sy woorde nie, en verneder en bespot hom elke keer as hy sy mond oopmaak.

Die ergste is dat hy nie kan loskom van sy instemming met die pad wat die Here vir hom uitgestippel het nie, want as hy probeer om hom nie aan die Here te steur nie, dan “word dit in my soos 'n vuur wat brand en waarvan ek nie kan loskom nie.”  Die OAV sê dit nog helderder: “dan word dit in my hart soos 'n brandende vuur, opgesluit in my gebeente.”

Jeremia kla daarom dat hy net nie meer kan nie ... maar tog ook nie van sy roeping kan loskom nie.  Soos vele vóór hom en vele ná hom.  Die geskinder, selfs deur sy vriende, maak hom seer en daar is boonop die dreigemente dat hulle hom by die koning sal verkla, iets wat waarskynlik inderdaad gebeur het, geoordeel uit Jojakim se reaksie op Jeremia.

Tóg wel daar in sy hart 'n stuk dankbaarheid op wat hy in 'n kort danklied tot God rig dat God regverdig is en tóg by hom is.  “Hulle sal teleurgestel staan, want hulle sal nie in hulle doel slaag nie.”  Soos die Here raaksien wat diep in 'n mens is, só sal Hy diep raaksien wat in ander aangaan en vir Jeremia se saak opkom.  Dit is die gebed en verwagting van Jeremia.

Daarom sluit hy af met 'n enkelsin loflied: “Sing tot eer van die Here, loof Hom!  Hy red die arme uit die mag van die slegte mense.”

20:14-18 - Vervloek is die dag waarop ek gebore is

Hierdie blootstelling van Jeremia se hart waar hy in absolute ontsteltenis worstel met sy bestaan en die rede vir sy bestaan, roer my soos min ander dele in Jeremia, trouens in die res van die Bybel.  Want, Jeremia worstel hier nie net met die werklikheid van menswees nie, maar met God wat hom vir 'n spesifieke roeping voorberei en gevorm het.  Hy worstel met die prentjie wat God van hom gehad het, nog vóór hy gemaak is.

Jeremia wens dat hy nooit was nie, nooit gebore is nie, nooit die roeping van die Here gehoor en nog erger, nooit daarvoor ja gesê het nie.  Sy ma en pa se geluk het vir hom net ellende en pyn gebring, want hy ervaar dat hy sy hele lewe lank verneder word.  Hy is 'n oujongkêrel, beperk in sy omgee en meeleef met ander mense, met 'n boodskap wat op geen manier ingang vind in die harte van mense nie.  Almal staan hom teë van die kleinste af tot die grootste.

Hy weet dat dít is hoe God voel.  Hy weet dat sy lewe iets van God se hart weerspieël.  Hy weet dat Hy ingetrek word in God se werkinge op 'n wyse wat min ander mense ooit die voorreg gehad het of sou hê.  Maar dit is net té swaar.  Die gewig daarvan is net té neerdrukkend genadeloos.  Dit pers die lug uit sy longe; dit maak hom lam in sy knieë; hy krepeer in sy ellende.

Jeremia vervloek dus die dag waarop hy gebore is, omdat hy net ellende, pyn en vernedering in die uitvoering van sy roeping belewe ... En ons sien dat die boek geen direkte antwoord op dié “Konfessie” gee nie.  Dit is asof die Here geweet het van Sy Seun wat dieselfde tipe worsteling aan die kruis sou hê, ses eeue later, waarop God ook nie 'n antwoord sou kon gee nie.  Daarom antwoord Hy ook nie nou vir Jeremia nie ...

Boodskap

Dit is een ding om 'n woord te hê vir dié wat jou verneder - Pasgur word Mâgôr.  Maar, wyse woorde wis nie die publieke vernedering uit nie.  Dié woord aan Pasgur dra boonop verder by om Jeremia in konflik te bring met sy mense.  Hy sou kon kies om stil te bly, sê Jeremia.  Maar, as hy stilbly, verbeter dit nie sy situasie nie; dit vererger eerder!  Want, dan brand die vuur van God se woord in sy binneste.  God se woorde kan net nie binne gehou word nie.

In die “catch 22” van só 'n ervaring van God se roeping, lê egter vir my die insig van die betekenis van ons bestaansdoel ook opgesluit.  Jy kan probeer om jou ellende vry te spring deur mense ná die mond te praat en hulle eerder te probeer vermaak met mooi en stigtelike woorde, alles in die naam van die Here.  Maar dan stel jy jouself bloot aan die groter ellende dat jy jou bestaansdoel sal mis.

Dit lyk dus vir my asof die teenstand van Pasgur op 'n manier 'n beskerming van Jeremia se roeping is, iets wat teen sy sin gebeur, maar tot sy beswil is.  Hoekom?  Want, daar is eintlik nie 'n manier vir hom om terug te gaan op sy boodskap nie.  Jeremia het net een opsie oop vir hom, en dit is om voort te gaan met wat God op sy hart lê.   En daarin lê sy verlossing, al is dit asof deur vuur heen.
Post date: 2014-08-14 00:01:31
Post date GMT: 2014-08-13 22:01:31

Post modified date: 2014-08-13 17:18:51
Post modified date GMT: 2014-08-13 15:18:51

Export date: Sat Nov 28 20:20:16 2020 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com