This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Apr 16 8:06:03 2021 / +0000 GMT

Hosea 4:1-5:7 – Die Here het ‘n regsaak teen die leiers en die volk



prayer-shawl Die Here se regsaak teen die Israeliete, die inwoners van die land, word in vier dele in dié gedeelte uitgepak:

4:1-3 – Geen betroubaarheid, geen troue liefde, en geen kennis van God in die land

Die regsaak word ingelei met ‘n samevatting van God se beoordeling van die situasie in die land en die oordeel wat hy gevolglik oor hulle uitspreek en voltrek. God is dus aanklaer, regter en uitvoerder van die oordeelsvonnis.

Omdat die volk mank gaan aan die regte kennis van God kan hulle nie betroubaar teenoor Hom optree nie, en betoon hulle geen troue liefde of lojaliteit aan Hom nie. Daarom verval hulle in dinge soos meineed (perjury in Engels – “om te lieg onder eed” bv. deur valse getuienis te gee, waarmee hulle God se naam in gedrang bring), bedrog, moord, diefstal en egbreuk en geweld (BDV: “bloedbad volg op bloedbad” – NAV: “is die vergieting van onskuldige bloed aan die orde van die dag”).

Hosea verwys hier na vyf dinge wat veral in die tweede tafel van die wet aangespreek word. In volgorde word oortredings van die derde, negende, sesde, agste, en sewende gebod aangespreek, met die laaste en sesde een oor geweld eintlik ‘n samevatting van die effek wat die ongehoorsaamheid in die land op die gemeenskap het.

Terloops, die Hebreeuse woord “bloedbad” kan ook met “afgod” vertaal word, wat sou beteken dat die laaste oortreding eintlik ‘n oortreding van die tweede gebod verteenwoordig, en baie goed in die konteks van die veroordeling van hulle afgodediens inpas (Stuart).

Omdat die volk dus nie God se voorskrifte vir die lewe volg nie, is daar droogte en kwyn almal weg, selfs die diere, voëls en visse. Let op dat die NAV praat van die visse wat vrek, maar in die oorspronklike staan eintlik dat die visse “bymekaargemaak word”, wat op ekologiese uitbuiting kan dui. Die uitbuiting van bronne begin immers by ‘n gebrek aan ‘n raamwerk van waardes.

Soos Philip Yancy in sy onlangse boek Vanishing Grace: What ever happened to the Good News? (2014) die probleem van ateïsme aandui: waar God uit die prentjie is, is daar eintlik geen waardes meer oor nie, niks om dinge soos ons verantwoordelikhede of selfs dinge soos “regte” te verantwoord nie. ‘n Samelewing val uitmekaar as die Godsbewussyn taan.

4:1-14 – Die priesters en profete is verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis

Die konsep van verantwoording (accountablitity) is nie ‘n nuwe begrip uit die korporatiewe wêreld nie. Dit lê ingebed in die basiese waarderaamwerk van die OT. God hou die leiers – priesters, profete en konings (vgl. 5:1) – verantwoordelik vir die volk se gebrek aan kennis. Hulle het hulle primêre taak om woordvoerders vir God te wees, om die volk te leer hoe om God te ken en te dien, versaak.

Die hart van die saak is dus dat die Godsvolk omkom weens ‘n gebrek aan kennis (vers 6), nie net omdat hulle nie geleer is nie, maar ook omdat die priesters self die kennis van God verwerp het. Daarom kan die Here nie anders as om hulle ook te verwerp nie, en hulle nie langer in sy diens te gebruik nie.

‘n Ontstellende prentjie word geteken van wat die leiers, meer spesifiek die priesters, gedoen het. Hulle het geteer op die sonde en sondeskuld van hulle mense. Trouens: “hulle smag daarna dat die volk nog meer moet sondig,” want dan word die offers meer, en omdat hulle daarvan geleef het, floreer hulle ekonomies weens die groter omset van offers. Sieklik!

Daarom gaan die Here rekenskap van die leiers eis oor hulle optrede en hulle vergeld vir hulle dade. Hulle manier van doen was direk verantwoordelik daarvoor dat die volk hulle tot afgode gewend het, want die offerdiens was openlik korrup. Die gevolg was dat hulle die Here verlaat het en Hom nie meer geraadpleeg het wanneer hulle die pad vorentoe moes onderskei nie.

‘n Volk wat dus nie met die regte Godsbewussyn leef nie, gaan ten gronde. En dié wat nie op God e waarskuwing ag slaan nie, sal vernietig word.

4:15-19 – Moenie die slegte voorbeeld van die noordryk volg nie, Juda

Die Here waarsku die suidryk, Juda, om terwyl hulle nog ‘n kans het, te leer uit die lot wat die noordryk, Israel, gaan tref. Hulle moenie die ongesanksureerde heiligdomme in Gilgal en Bet-El – die Here noem dié heiligdom Bet-Awen, dws. “huis van onreg” in plaas van “huis van God” soos dit eintlik bedoel is om te wees! – besoek en die Here daar gaan dien nie, want dit dra nie sy goedkeuring weg nie.

Die volk se ongehoorsaamheid dwarsboom die sorg en voorsiening van die Here. God laat hulle daarom hulle gang gaan. Die oordeel sal hulle soos ‘n stormwind tref wat hulle in die skande sal bring.

5:1-7 – Die leiers se nalatigheid maak dit onmoontlik vir die volk om die Here te ken

Die Here herhaal sy klag teen die leiers van Israel. Let op hoe Hosea drie groepe leiers uitwys: die priesters, die leiers (“huis van Israel”), en die koninghuis. Dié leiers het ‘n strik geword vir hulle eie mense, uitgedruk met drie metafore wat daarmee verband hou: ‘n wip in Mispa (‘n belangrike vergaderplek in die Rigtertyd [10; 11; 20; 21] sowel as in Samuel se tyd [1 Sam. 7], ook later in die tyd van Jeremia [Jer. 40]), ‘n vangnet oor die berg Tabor (‘n belangrike berg in die noordryk), en ‘n vanggat in Sittim (die plek vanwaar Josua Kanaän binne gegaan het – Jos. 2).

Maar vir dié leiers het die Here nou self ‘n strik geword. Hy gaan hulle almal straf, saam met die volk wat hulle mislei en versaak het.

Die gevolg is dat die volk só vasgeval het in hulle gebrek aan ‘n Godsbewussyn dat hulle nie meer die lewenswyse wat hulle gekies het, kan verlaat nie. Soos die BDV vers 4 vertaal: “Hulle dade laat hulle nie toe om na hulle God terug te keer nie, want ‘n gees van hoerery heers in hulle midde en hulle ken die Here nie.” Watter verskriklike toestand om in te verval!

Dit bring die onvermydelike oordeel van die Here dat hulle Hom nie sal vind as hulle Hom soek nie, want Hy het Hom van hulle onttrek. Hulle gaan binnekort vernietig word en as teken daarvan gaan hulle gesaaides met die nuwemaan verwoes wees, waarskynlik met verwysing na die droogte.

Boodskap

‘n Samelewing val uitmekaar as die Godsbewussyn taan. Uiteraard kan ‘n samelewing met ‘n verkeerde verstaan van God, selfs al is dit baie godsdienstig, ook destruktief optree. Vergelyk maar die voorbeelde deur die geskiedenis in Joodse, Christelike en Islamitiese kontekste.

Maar waar die regte Godskennis geleer word, waar betroubaarheid, en lojaliteit, en liefde teenoor God EN teenoor medemense uitgeleef word, dáár gedy gemeenskappe en uiteindelik die samelewing. Die regte Godsbewussyn is juis bedoel om dinge soos meineed, bedrog, moord, diefstal, egbreuk en geweld te keer. Waar dié dinge dus voorkom, kan ons by voorbaat weet, is daar juis nie die regte Godsbeeld en –bewussyn teenwoordig nie. En kan God en godsdiens nie geblameer word vir die onreg en geweld wat baie keer ons wêreld kenmerk nie. “'n Volk wat nie begrip toon nie, gaan ten gronde.

Wat beteken dat ons werk moet maak van ons Godsverhouding. Jan Johnson (Invitation to the Jesus Life: Experiments in Christlikeness. Navpress: Colorado Springs, 2008) sê die volgende: “When we put our effort into whatever it takes to help us connect with God, we quite naturally do good things without thinking about them.” Sy noem dit: “accidental obedience”.

Terwyl ons met die Here die pad stap, raak ons gehoorsaam, ‘n mens kan amper sê, sonder dat ons ons instel daarop! En leef die Here eintlik deur ons!

 

 


Post date: 2015-02-01 17:00:30
Post date GMT: 2015-02-01 15:00:30
Post modified date: 2015-02-02 16:07:54
Post modified date GMT: 2015-02-02 14:07:54

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com