Skip to main content

Hoe werk die uitverkiesing?

Ek antwoord in sewe stellings gerugsteun deur aanhalings uit ons belydenisskrifte. Jy kan die Skrifverwysings ook nagaan.

EEN. God kies jou uit in Jesus Christus, ons Here. Hy wys daardeur dat Hy barmhartig en regverdig is. Hierdie uitverkiesing is uit louter goedheid sonder dat jy dit verdien. Die uitverkiesing staan vas in sy ewige en onveranderlike raad. Hy skryf jou naam in die boek van die lewe. Dit is ‘n bron van grenslose vreugde en dankbaarheid.

“Ons glo dat God, toe die hele geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig. God is barmhartig, aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle, uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here. God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het.

Rom. 3:12; 9:16; Deut. 32:8; 1 Sam. 12:22; Ps. 65:5; Mal. 1:2; 2 Tim. 1:9; Rom. 9:29; Tit. 3:4-5; Ef. 1:4-5; Rom. 11:5; Hand. 2:47; 13:48; 2 Tim. 2:20; Rom. 9:11; 1 Pet. 1:2; Rom. 9:21; Joh. 6:27, 44; 17:9,12; Joh. 13:9; 15:16; Rom. 11:34-35; Joh. 18:20; 15:19; Tit. 1:1; Ef. 1:3; Joh. 10:29; Matt. 15:24; 20:23.” (Nederlandse Geloofsbelydenis 16: DIE EWIGE VERKIESING VAN GOD)

TWEE. God gee deur die werk van die Heilige Gees ‘n opregte geloof in Jesus Christus in jou hart. In Hom besit jy die volle saligheid vir ewig en altyd.

“Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as na Hom nie. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, óóf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom. 3:28).

Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hýý reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Ps. 51:8; Ef. 1:17-18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20, 28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29, 33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3, 5, 9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24, 27; Filp. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.” (Nederlandse Geloofsbelydenis 22: ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF)

DRIE. ‘n Ware geloof aanvaar dat alles in die Woord waar is en vertrou God dat Hy in Christus die ewige lewe aan jou geskenk het.

“‘n Ware geloof is nie alleen ‘n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook ‘n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

(a) Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.” (Heidelbergse Kategismus Vraag 21: Wat is ‘n ware geloof?)

VIER. Die uitverkiesing raak duidelik waar mense tot bekering en geloof in Christus kom. Dit gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Dié wat die evangelie glo, ontvang die ewige lewe.

“Alle mense het in Adam gesondig en hulle skuldig gemaak aan die vloek en die ewige dood. Daarom sou God niemand verontreg het as dit sy wil was om die hele menslike geslag in die sonde en vervloeking te laat bly en vanweë die sonde te veroordeel nie. Daarom leer die apostel: die hele wêreld is voor God doemwaardig (Rom 3:19). Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God (Rom 3:23) en: Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23).

Die liefde van God is egter hierin geopenbaar dat Hy sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (1 Joh 4:9; Joh 3:16).

Om mense tot geloof te bring, stuur God uit louter goedheid verkondigers van hierdie vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word die mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde, want: Hoe kan hulle in Hom glo van Wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? (Rom 10:14,15).

Hierdie uitverkiesing het nie op grond van vooruitgesiene geloof, geloofsgehoorsaamheid, heiligheid of enige ander goeie hoedanigheid of geskiktheid van die mens tot stand gekom nie. Dit alles kan nooit vooraf as rede of voorwaarde vir die uitverkiesing van die mens vereis word nie. Die uitverkiesing is immers die oorsaak van geloof en geloofsgehoorsaamheid, heiligheid, ensovoorts. Daarom is die uitverkiesing die fontein van alle saligheid waaruit geloof, heiligheid en al die ander saligmakende gawes, en uiteindelik die ewige lewe self, as vrugte en gevolge daarvan voortvloei. Die apostel getuig immers: Om heilig en sonder gebrek voor Hom te wees (Ef 1:4), en nie ómdat ons alreeds so was nie.” (Dordtse Leerreëls 1.1.1-3,9)

VYF. Dié wat hierdie evangelie nie glo nie het self skuld aan hulle ongeloof en sal die ewige lewe nie beërwe nie. Hulle name is nie opgeskryf in die boek van die lewe nie.

“Die toorn van God bly op hulle wat hierdie evangelie nie glo nie. Hulle wat die evangelie egter aanneem en die Verlosser, Jesus, met ‘n ware en lewende geloof omhels, word deur Hom van die toorn van God en van die verderf verlos, en Hy skenk hulle die ewige lewe (Joh 3:36; Mark 16:16).

Die oorsaak of skuld van daardie ongeloof, net soos van alle ander sondes, lê beslis nie by God nie, maar by die mens. Die geloof in Jesus Christus en die saligheid deur Hom is egter ‘n genadegawe van God. Soos geskrywe is: Uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God (Ef 2:8), ook: Dit is aan julle genadiglik gegee om in Christus te glo (Fil 1:29).” (Dordtse Leerreëls 1.1.4-5)

SES. Die uitverkiesing is ‘n bron van sekerheid wat die dryfkrag gee vir ‘n heilige lewe voor die aangesig van God.

“Vir die kinders van God is die besef en die sekerheid van hierdie uitverkiesing daagliks steeds meer rede om hulle voor die aangesig van God te verootmoedig, om die diepte van sy barmhartigheid te aanbid, om hulleself te reinig en om Hom, wat hulle eerste so uitnemend liefgehad het, ook van hulle kant vurig lief te hê. Dit is dan ook onmoontlik dat hierdie leer van die uitverkiesing en die besinning daaroor die kinders van God sal laat ophou om die gebooie van God te gehoorsaam of dat hulle onverskillig sou word deur ‘n sondige lewe te lei. Deur die regverdige oordeel van God is dit juis die geval met hulle wat die genade van die uitverkiesing ligtelik vir hulleself toe-eien of ydellik en ligsinnig daaroor praat, sonder dat hulle begeer om in die weë van die uitverkorenes te
wandel.” (Dordtse Leerreëls 1.1.13)

SEWE. Hierdie evangelie word aan alle mense verkondig sonder enige onderskeid. In die praktyk kom sommmige tot bekering en geloof, en ander nie.

“Verder is dit die belofte van die evangelie dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. Hierdie belofte moet aan alle volke en mense, aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder enige onderskeid verkondig en bekend gestel word, met die eis tot bekering en geloof.

Baie wat deur die evangelie geroep is, bekeer hulle nie, glo nie in Christus nie, maar sterf in ongeloof. Dit gebeur, nie omdat die offer wat Christus aan die kruis volbring het, gebrekkig of onvoldoende is nie, maar deur hul eie skuld.

Almal wat egter waarlik glo en deur die dood van Christus van die sonde bevry en van die verderf gered word, ontvang hierdie weldaad slegs uit die genade van God. Hierdie genade is van ewigheid af in Christus aan hulle gegee, sonder dat Hy dit aan enigiemand verskuldig is.

Dit was immers die volkome vrye raadsbesluit, genadige wil en voorneme van God die Vader, dat die lewendmakende en saligmakende krag van die uiters kosbare dood van sy Seun al die uitverkorenes tot voordeel sal strek. So het God slegs aan die uitverkorenes die regverdigende geloof geskenk om hulle daardeur onfeilbaar salig te maak. Dit wil sê: Dit was die wil van God dat Christus deur die bloed van die kruis – waarmee Hy die nuwe verbond bevestig het – uit elke volk, stam, geslag en taal húúlle en hulle alleen kragdadiglik sal verlos, wat van ewigheid af tot die saligheid uitverkies en deur die Vader aan Hom gegee is. Ook was dit die wil van God dat Christus aan hulle die geloof sal gee wat Hy, soos ook die ander saligmakende gawes van die Heilige Gees, deur sy dood vir hulle verwerf het. Verder, dat Hy hulle van al hulle sondes – sowel die erfsonde as die daadsonde wat ná en vóór die geloof begaan is – deur sy bloed sal reinig. Ten slotte, dat Hy hulle tot die einde toe getrou sal bewaar, en uiteindelik sonder enige vlek of rimpel in heerlikheid by Hom sal neem.” (Dordtse Leerreëls 1.1.5-8)


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar