HEBREËRS 1:1-4; 2:5-12

LEES

Raak stil voor die Here in gebed.

Lees die teksgedeelte deeglik deur, selfs 2 of 3 keer, hardop as dit kan. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Skryf dit in jou joernaal neer.

HEBREËRS 1:1-4; 2:5-12

Ek gee albei hoofstukke vir konteks.

GOD SE OPENBARING DEUR SY SEUN

11In die ou tyd het God baie keer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete, 2maar in hierdie eindtyd het Hy met ons gepraat deur sy Seun.

Hom het Hy aangestel

as erfgenaam van alle dinge,

en deur Hom het Hy

ook die wêreld geskep.

3Hy is die uitstraling

van God se heerlikheid,

en die ewebeeld van sy wese.

Hy hou alles in stand

deur sy magtige woord;

en nadat Hy die reiniging

van sondes bewerk het,

het Hy gaan sit aan die regterhand

van die Majesteit in die hoogtes.

4Hy is hoog bo die engele verhef,

net soos wat Hy ‘n Naam geërf het

wat uitnemender as hulle s’n is.

DIE SEUN VERHEWE BO ENGELE

5Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê:

“Jy is my Seun;

vandag het Ek jou verwek.”

En ook:

“Ek sal vir Hom ‘n Vader wees,

en Hy sal vir My ‘n Seun wees.”

6Maar wanneer Hy die •Eersgeborene weer in die wêreld inlei, sê Hy:

“En laat al die engele van God

Hom aanbid.”

7Oor die engele sê Hy:

“Hy maak sy engele stormwinde,

en sy dienaars vuurvlamme.”

8Maar vir die Seun sê Hy:

“U troon, o God,

is vir ewig en ewig,

en die septer van geregtigheid

is die septer van u koninkryk!

9U het •geregtigheid lief,

en U haat wetteloosheid;

daarom, o God, het u God

U gesalf met olie van vreugde,

meer as u vriende.”

10En:

“U het aan die begin, o Here,

die aarde se fondamente gegrondves,

en die hemele is die werk van u hande.

11Hulle sal vergaan,

maar U bly bestaan.

Soos ‘n kledingstuk

sal hulle almal verslyt,

12en soos ‘n mantel

sal U hulle oprol;

soos ‘n kledingstuk

sal hulle vervang word,

maar U bly dieselfde, en u jare

sal nie tot ‘n einde kom nie.”

13Aan wie van die engele het Hy ooit gesê:

“Sit aan my regterhand,

totdat Ek jou vyande

‘n voetbank vir jou voete gemaak het.”

14Is hulle nie almal dienende geeste, wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan nie?

ERNSTIGE VERMANING

21Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie. 2Want as die boodskap wat deur engele verkondig is, inderdaad bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatige straf ontvang het, 3hoe sal ons ontvlug as ons so ‘n groot verlossing verontagsaam? Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, 4terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.

JESUS BROER VAN MENSE

5Want Hy het die komende wêreld waarvan ons praat, nie aan engele onderwerp nie. 6Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê:

“Wat is die mens

dat U aan hom dink,

of die mensekind,

dat U na hom omsien?

7U het hom vir ‘n kort rukkie

minder as engele gemaak,

en hom met heerlikheid

en eer gekroon;

8U het alles onder sy voete gestel.”

Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir ‘n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar.

10Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring. 11Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, 

12wanneer Hy sê:

“Ek sal u Naam

aan my broers verkondig,

in die byeenkoms

sal Ek u lof besing!”

13En ook:

“Ek sal my vertroue

steeds in Hom stel.”

En ook:

“Kyk, hier is Ek en die kinders

wat God My gegee het!”

14Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, 15en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. 16Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. 17Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy ‘n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. 18Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.

Teks en konteks

Die brief-boodskap aan die Hebreërs word geskrywe aan huisgemeentes in ’n stad in Italië, waarskynlik Rome.  Dit is ’n “Boodskap van aansporing” of ’n “Boodskap van bemoediging” (hfst. 13:22) aan ’n diverse groep gelowiges wat onder baie druk verkeer.

Hierdie gelowiges het tot bekering gekom deur die werk van eerstehandse getuies van die boodskap van Jesus (hfst. 2:3;13:7).  Hulle was veral Jode (vgl. die titel: “Aan die Hebreërs”, hoewel dit eers later bygevoeg is), goed bekend met die Joodse geloof en tradisies, maar het waarskynlik ook gelowiges uit die heidene in hulle geledere gehad (“dié wat van Italië is” – hfst. 13:24). 

Die sestiger- of sewentigerjare van die eerste eeu is die mees waarskynlike tyd vir die brief, hoewel dit nie meer presies gedateer kan word nie.  Teen die middel negentigs haal Klemens van Rome al uit die brief aan, so dit moes voor daardie tyd geskryf gewees het.

Die gelowiges het traag geword om te luister weens teenstand

Hoewel hierdie gelowiges die verligting van die Heilige Gees en die “goeie woord van God gesmaak het” (hfst. 6:4-5), het hulle ironies genoeg “traag geword om te luister” (hfst. 5:11) en onder andere ’n “behoefte aan melk en nie vaste kos nie” (hfst. 5:12) gehad.

Hoekom?  Dit is duidelik dat hulle baie teenstand in die gemeenskap ervaar het: ’n “geweldige stryd van lyding”.  Hulle is nie net “deur beledigings en verdrukking openlik bespotlik gemaak” nie, maar daar is ook vroeër op hulle besittings beslag gelê (hfst. 10:32-36 – keiser Claudius het in 49 n.C. Joodse Christene uit Rome verdryf).  Baie van die gelowiges het dus die gevaar geloop om weens hierdie volgehoue druk uit die publieke gemeenskap van die geloof en die geloofsgemeenskap afvallig te raak.

Een van hulle geestelike leiers bemoedig hulle met die skrywe

Die skrywer, wat een van hulle eie leiers was (vgl. die “ons” in hfst. 13:17-19 en dat hy binnekort na hulle teruggebring wil word), kom sy pastorale en geestelike verantwoordelikheid teenoor hulle na met dié brief-boodskap, soos dit uit die slotgedeelte blyk (“aanvaar hierdie boodskap van aansporing, want ek het maar kortliks vir julle geskryf” – hfst. 13:22).  Dit is egter só goed saamgestel dat dit eintlik die karakter van ’n goed uitgewerkte preek of selfs teologiese bydrae aanneem.

Hebreërs 1 – God praat met ons deur sy Seun

Die skrywer begin direk met die hart van sy bemoedigende boodskap aan die gemeente, die feit dat God met hulle deur sy Seun praat.  Daar is niemand belangriker as Hy nie.  Daar is geen boodskap belangriker as Syne nie.

Hy verdeel die begronding van dié deel van sy boodskap in vier afdelings:

  • 1:1-4 – God praat deur sy Seun
  • 1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele
  • 2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing
  • 3:1-11 – Jesus is die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

1:1-4 – God praat deur sy Seun

Die boodskap van God se Seun word gekontrasteer met die talle en verskillende wyses – ’n mens kan dit ook as “broksgewyse” vertaal – waarop God in die verlede met sy mense, die voorvaders van die gelowiges, gepraat het.  Profete staan hier eintlik vir enigiemand wat ’n openbaring aan gelowiges gebring het.  In hierdie laaste dae, sê die skrywer – die dae wat met Jesus se eerste koms aangebreek het – het God finaal met ons gepraat deur die Seun. 

Let op dat die Seun eers in hoofstuk 2 met sy naam Jesus bekend gestel sal word.  Hier word sy Godheid onomwonde as Seun van God beskryf.  Vier kenmerke van Hom word uitgelig:

  • SKEPPER SEUN: God het sy Seun aangestel as “erfgenaam van alle dinge”, want Hy het in die eerste plek deur Hom die wêreld geskep, ’n verwysing na Ps. 2:8 (vgl. my hantering van Psalm 2: Geseënd is dié wat op God vertrou).  Die Seun van God se pre-eksistensie word dus onomwonde bely.
  • GOD SE EWEBEELD: “Hy is die uitstraling van God se heerlikheid  en die ewebeeld van sy wese.”  Die Seun is die sigbare gestalte van God, die een wat ons mag sien.  Maar dit is nie net ’n afbeelding van God, soos ’n skildery of ’n beeldhouwerk nie.  ’n Mens sien God self in die Seun.  Hy is die ewebeeld van wie God in sy wese is.
  • ONDERHOUER VAN ALLES: “Hy hou alles in stand deur sy magtige woord.”  Die Seun het nie net ’n krip-na-kruis bediening gehad nie.  Hy was intiem betrokke by die Skepping en is steeds by die onderhouding van alles betrokke.  Iets om in gedagte te hou as ’n mens bid!
  • HOOGSTE STATUS VAN ALMAL: Natuurlik is die kruis-evangelie van baie groot belang, die reiniging van sondes, maar dit het uitgemond in die verhoging na die hoogste status moontlik, die sittingsreg aan die regterhand van God, die Majesteit in die hoogtes, waarmee ’n verwysing na Ps.110:1 gemaak word, soos in die res van die hoofstuk weer uitgespel sal word. 

Daarom is die Seun hoog bo die engele verhef,  en is Hy nie net die erfgenaam van alles nie, maar het Hy ‘n Naam geërf wat uitnemender as enigiemand s’n is, die engele ingesluit.

1:5-14 – Die Seun is belangriker as die engele

Die skrywer vergelyk die Seun vervolgens met die engele, waarskynlik om ’n groeiende beheptheid met die aanbidding van engele hok te slaan, en wys hoe onvergelyklik die Seun in wese met die engele is. Hy gebruik sewe aanhalings uit die OT om sy punt te staaf:

  • GOD HET DIE SEUN VERWEK: Dit is iets wat nooit van die engele gesê kan word nie:  “Jy is my Seun;  vandag het Ek jou verwek.”  Hulle is geskep.  Die Seun is verwek.  Die skrywer haal hier uit Ps. 2:7 aan (en sal dit weer doen in hfst. 5:5), soos Paulus dit ook in Hand 13:33 in sy toespraak in Antiogië in Pisidië op sy eerste sendingreis doen.  Dit was ’n belangrike argument om die voorrang van die Seun te bevestig.  Hy is kwalitatief anders as skepsels van die Skepping.
  • GOD IS DIE SEUN SE VADER: Die argument word sterker gemaak met ’n aanhaling uit die belofte aan Dawid in 2 Sam. 7:14 wat hier op die Seun van God van toepassing gemaak word: “Ek sal vir Hom ‘n Vader wees  en Hy sal vir My ‘n Seun wees.”  Vgl. my hantering van 2 Samuel 7: God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag.
  • DIE ENGELE MOET DIE EERSGEBORENE AANBID: Wat God doen, is altyd iets wat reaksie uitlok, in dié geval aanbidding.  Let op die feit dat die skrywer sê dat God die Eersgeborene weer in die wêreld inlei.  Dit het te make met sy toekomsperspektief op die Seun se wederkoms wanneer al die engele van God Hom moet aanbid. Dit is ’n aanhaling uit die Griekse vertaling van Deut. 32:43 waarvan die reël in ons Hebreeuse grondteks ontbreek.  Vgl. ook Ps. 97:7 waar van die afgode gepraat word wat die Here moet aanbid.  Lees meer daaroor in my hantering van Psalm 97: Verbly julle, liefhebbers van die Here.
  • GOD SPAN ENGELE IN: Die engele se rol is in die natuur:  “Hy maak sy engele stormwinde  en sy dienaars vuurvlamme,” en soos hy netnou sal verduidelik, ten bate van die gelowiges.  Met hierdie aanhaling uit Ps. 104:5 wys hy net nog dieper die kwalitatiewe onderskeid tussen die Seun en die engele.  Vgl. my hantering van Psalm 104 – Hoe groot is U, hoe groot is U!.
  • DIE SEUN HEERS AS GOD: Die skrywer gaan nog dieper in op die voorrang van die Seun met ’n langer aanhaling uit Ps. 45:7-8 wat op die Seun van toepassing gemaak word in die konteks van ’n huweliksviering van die koning wat deur geregtigheid en vreugde vergesel word.  Vgl. my hantering van Psalm 45: Huwelikslied vir die koning en koningin.
  • DIE SEUN IS MEDESKEPPER: In die langste aanhaling van almal word Ps. 102:26-28 ingespan om die Seun as medeskepper van God te vereer: “U bly dieselfde en u jare sal nie tot ‘n einde kom nie.”  Vgl. my hantering van Psalm 102: Hy sal ons gebed nie minag nie.
  • DIE SEUN SIT AAN GOD SE REGTERHAND: Hy sluit sy beskrywing van die voorrang van die Seun en sy boodskap af met ’n aanhaling uit Ps. 110:1 (soos in vers 3) as heenwysing na die Seun vir wie God die ere posisie aan sy regterhand gegee het: “totdat Ek jou vyande ‘n voetbank vir jou voete gemaak het.

Die skrywer som sy standpunt op deur in vers 14 al die engele te beskryf as “dienende geeste wat uitgestuur word ter wille daarvan om hulle wat die verlossing sal beërf, by te staan.” Die engele is nie net minder belangrik as die Seun nie.  Hulle is dienende geeste wie se hooftaak die bystand aan die verlostes is (sowel as in die natuur). 

Hebreërs 2-3:11 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing en die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis

Die skrywer vervolg met sy openbaring van Jesus en fokus hulle aandag op sy alles oortreffende rol in hulle verlossing en belydenis met die volgende twee boodskappe:

2:1-18 – Jesus is die Leidsman van ons verlossing

Die toekoms van die mensdom is in die hande van Jesus Christus.  Dít is waarom die skrywer soveel klem daarop lê om die gemeente aan te moedig om in ’n verhouding met Hom te kom en te bly.  En die verhouding is veral moontlik deur gefokusde aandag te gee “aan dit wat ons gehoor het,” die oorgelewerde boodskap van die Here Jesus Christus.  Dán voorkom die gemeente dat sommige nie dalk wegdryf van Hom nie.

Die les is in die verlede reeds deur die volk van die eerste verbond geleer dat die boodskap “wat deur engele verkondig is,” inderdaad bindend was.  Hiermee verwys die skrywer na die tradisie dat Moses die wet deur die middelaarskap van engele ontvang het, soos Lukas en Paulus onder andere daaroor geskryf het (Hand. 7:38,53; Gal. 3:19).   Met die verbreking van die verbond het die oordele daarvan in werking getree.  Só is die boodskap van Christus ook in die nuwe verbond bindend.  Die gemeente sal net tot hulle eie skade dié “groot verlossing verontagsaam.”

Die rede daarvoor is dat die Here Jesus self hierdie verlossing verkondig het tydens sy aardse bediening, en dat dit “daarna aan ons bevestig (is) deur hulle wat dit gehoor het.”  Daarvan kan die skrywer en die gemeente getuig.  Daarbenewens was daar “tekens en wonders en allerhande kragtige dade en deur gawes van die Heilige Gees” wat bevestig het dat die verlossing van God afkomstig was.  

Hier verwys die skrywer na die Pinkster gebeure en die werkende gawes van die Gees in die gemeente.  Maar let op dat dié tekens net ’n begeleidende en bevestigende rol het om mense aan die verlossing en belydenis van Jesus Christus as Leidsman bekend te stel.  Die tekens en gawes word nooit ’n fokus op sigself nie.  Dit wys altyd heen na die werklikheid van ’n verhouding met Jesus.

Jesus is daarom die Leidsman van hulle verlossing, want die toekoms van die mensdom is aan Hom verbind.  En die skrywer bewys dit met ’n uitleg van Psalm 8 wat hy op Jesus van toepassing maak (vgl. my hantering van Psalm 7-8 – God gee om vir sy mense en verhoor hulle gebede).  God het immers nie die wêreld wat kom aan engele onderwerp nie. Sy plan was volgens Psalm 8 eintlik nog altyd dat die mens die kroon van sy skepping sal wees, en dat alles aan hulle onderworpe sou wees. 

Dit is egter iets wat nog nie ’n werklikheid geword het nie, behalwe dat ons iets daarvan kan raaksien in Jesus, die een wat met heerlikheid en eer gekroon is.  Hy is vir ’n kort rukkie “minder as die engele gemaak,” sodat Hy sy verlossingswerk kon afhandel en ter wille van almal die dood kon ervaar. 

Dit is die weg van verlossing wat God in sy wysheid gekies het, om die Leidsman van hulle verlossing “deur lyding tot volmaaktheid” te bring. Dit het ’n eenheid tussen die Leidsman en sy volgelinge gebring wat hulle nie net heilig maak nie, maar familie maak!

Drie verdere aanhalings uit die OT word dan in die mond van Jesus geplaas wat:

  1. Psalm 17 en 22 – God verontagsaam nie die gebed van die hulpelose nie);
  2. Jesaja 11-12 – God gee nooit moed op nie);
  3. Jesaja 8 – Leef met ontsag en oortuiging).

Met Jesus se vereenselwiging en solidariteit met dié wat Hy verlos, het Hy deur sy dood die duiwel se mag oor gelowiges – deur die dood – gebreek.  Dit bewys dat God nie oor die engele besorg was nie, maar oor die mense wat Abraham se nageslag is, die gelowiges.

Daardeur het Jesus, die Seun van God, nie net die Leidsman van die gelowiges geword om hulle te verlos nie, maar ook die barmhartige en getroue Hoëpriester wat volkome vir hulle sondes versoening kon doen, en hulle kan help wanneer hulle in versoeking kom om van Hom af weg te dwaal.

Boodskap en betekenis

God praat op baie maniere – in die skepping, deur sy Gees, deur gebed, deur insigte, deur geloofsonderskeiding in die geloofsgemeenskap, deur gawes, deur roeping, deur omstandighede.  Maar die belangrikste manier waarop Hy praat, is deur Sy Seun, die Een wat ook die Woord van God genoem word.  Dit is Hy wat ons verlos.  Dit is Hy wat ons lei.  Na Hom moet ons dus bo alles luister.

Dit beteken ook dat die Seun die maatstaf is waarteen ons alle spreke van God moet beoordeel.  Dit is immers die Seun se stem waarna die Heilige Gees ons wil laat luister (3:7-8, 15; 4:7).  Die Seun is dus nie net die een vir wie ons direk leiding en onderskeiding moet vra, soos die res van dié belangrike brief-boodskap wel gaan uitspel nie.  Alles wat ons in die evangelies en in die res van die Bybel van Hom lees, help ons onderskei om die stem van die Seun te herken.  Dit is wat dit beteken om volwasse te word in ons aanvoeling: “deur gewoonte geoefen, om te kan onderskei tussen goed en kwaad.” (hfst. 5:14).

LUISTER

Dink na oor wat God vir jou hiermee wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of doen daarmee? Wat is die kern van die boodskap van dié teks vir jou dag en lewe? Dit help jou sin maak van jou eie ervarings in die lig van God se Woord.

LEEF

Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Geniet Sy teenwoordigheid. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit.

View all posts in this series

Leesrooster 2021


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Goeie more Ds Chris,
    Dankie dat ek uit Namibië ook ń vraag kan vra.
    Hoe moet ń mens Hebreërs 6:4-9 verstaaan?
    Baie dankie
    Groete
    Karin de Kock

    • Hi Karin, jy kan kyk by https://bybelskool.com/hebreers-511-620-gaan-voort-na-volwassenheid-en-hou-stewig-vas-aan-die-hoop-wat-voorle/ Daar skryf ek onder andere:

      Die begin kwessies van die Christelike geloof kan ’n mens verhinder om geestelik volwasse te word. Hoekom? Nie net omdat hulle só vasgevang kan word daarin dat hulle nie geestelik volwasse word nie, maar omdat dit eintlik onmoontlik is om iemand wat van dié dinge afvallig geword het – nádat hulle die hemelse gawe gesmaak het, deel gekry het aan die Heilige Gees, die goeie woord van God gesmaak het, sowel as die kragte van die komende bedeling – om dié mense weer opnuut tot bekering te bring. Hulle het wat hulleself betref eintlik die Seun van God opnuut gekruisig en openlik tot skande gemaak, sê die skrywer.

      Die boodskap het dan nie sy vrug in hulle gedra nie, en deur weereens op die begin kwessies te fokus, gaan nie maklik enige verandering by hulle bring nie. Dit sal net ’n wonder van God wees wat in sulke gevalle mense tot inkeer kan bring.

      Ek hou van die manier waarop William Lane dit sê: “If those who have enjoyed a full and authentic Christian experience should then fall away, a renewal to repentance is impossible” (Word kommentaar). Let op die “if” en die “should“, want die skrywer dink nie só iets is regtig moontlik nie.

      Hy sê wel: “Dit is immers onmoontlik om hulle wat eenmaal verlig is, wat die hemelse gawe gesmaak, en deel gekry het aan die Heilige Gees, en wat die goeie woord van God gesmaak, en ook die kragte van die komende bedeling, en tog afvallig geword het, weer opnuut tot bekering te bring, aangesien hulle wat hulleself betref, die Seun van God opnuut kruisig en openlik tot skande maak,” (Hebr. 6:4-6 in BDV).

      Hoekom sou ons dit só erg wees, as ‘n mens ter wille van die argument sou bedink? Want dit sou beteken dat die lewende God aktief teengestaan word. Dit is egter iets wat eintlik nie kan gebeur nie.

      Daarom is die skrywer nie regtig bekommerd oor die geloofsgemeenskap in Rome nie, want hy is oortuig dat hulle die pad met God na volwassenheid sal stap: “Maar selfs wanneer ons só praat, geliefdes, is ons, wat julle betref, oortuig van beter dinge wat betrekking het op verlossing.” (Hebr. 6:9). Die Here is immers nie onregverdig nie, sien raak wat hulle vir Hom en vir die ander “heiliges” doen. Hy wil net baie graag hê dat elkeen van hulle enduit dieselfde ywer sal toon om die wedloop wat vir hulle voorlê te voltooi, soos dié wat hulle voorgegaan het. In hfst. 11-12 sal hy verder daaroor uitbrei.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: