Haggai 2:1-9 – Werk, want Ek is by julle

31 Oktober

Haggai eggo ná die ballingskap die boodskap van hoop in Sefanja wat vóór die ballingskap gelewer is. Hy bemoedig die volk met die herbou van die tempel ná die ballingskap. Hy bemoedig die volk dat hulle kan volhard met hulle werk, want die Here het belowe dat Hy met hulle is. Hy sal dinge laat uitwerk as hulle net naby Hom bly en aan Hom gehoorsaam bly, presies dít wat Sefanja reeds in sy hoofstuk 3 belowe het.

Hy lewer vier profesieë. Die eerste profesie was aan die twee leiers, die aangewese goewerneur van Juda, Serubbabel, en die hoëpriester Jesua gerig (Hag 1:1). Dit was bedoel om te verduidelik dat hulle slegte situasie aan hulle ongehoorsaamheid tov die herbou van die tempel verbind is. Almal, ook die volk, het begeesterd daarop gereageer. Die tweede profesie, ‘n maand later, was steeds aan die twee leiers, sowel as aan almal wat van die volk oorgebly het, gerig (Hag 2:1). Dit was bedoel om hulle te bemoedig in hulle werk. Hulle reaksie is egter nie aangeteken nie. Die derde profesie, twee maande daarna, was gerig aan die priesterkorps (Hag 2:11). Dit word in die vorm van ‘n gesprek tussen Haggai en die priesters aangebied, waarop die Here sy belofte van reiniging en seën aan hulle rig. Die vierde profesie, nog op dieselfde dag, was aan Serubbabel, die goewerneur, gerig om hom van God se omvattende beskerming vir hom as uitverkore seëlring te oortuig (Hag 2:22). Sy reaksie word nie aangetoon nie. Gesamentlik dien die vier profesieë dus as bemoediging van die hele teruggekeerde geloofsgemeenskap van Juda om God hulle prioriteit te maak, soos Hy inderdaad dit met hulle gedoen het.

Ons lees net die tweede profesie.

Haggai 2:1-9 – Werk, want Ek is by julle

1Op die een-en-twintigste dag van die sewende maand het die woord van die Here gekom by monde van die profeet Haggai: 2“Sê vir Serubbabel, seun van Sealtiël en streekgoewerneur van Juda, en vir Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester, en vir dié wat oorgebly het van die volk, 3‘Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie? 4Daarom, hou moed, Serubbabel,’ is die uitspraak van die Here. ‘Hou moed Josua, seun van Jehosadak en hoëpriester! Hou moed, volk van die land, is die uitspraak van die Here. Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 5Dit is die belofte wat Ek teenoor julle afgelê het toe julle uit Egipte getrek het: My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.’ ” 6“Die Here, Heerser oor alle magte het immers gesê, ‘Nog een keer, binnekort, sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. 7Ek sal al die nasies laat bewe en hulle sal kom met al hulle skatte en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vul,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. 8‘Aan My behoort die silwer en aan My behoort die goud,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte. 9‘Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore,’ sê die Here, Heerser oor alle magte. ‘En op hierdie plek sal Ek vrede gee,’ is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.”

Op die 21ste dag van die sewende maand, die Joodse maand Tishri (‘n mens kan dit presies dateer, in ons terme, as 17 Oktober 520 vC), kom die woord van die Here weer tot Haggai. Dit is vier weke ná hulle met die werk begin het, waarin hulle waarskynlik die meeste van die tyd aan die opruim van die rommel van die vorige ruïnes spandeer het. Dit is ook aan die einde van die Loofhutte fees wat aan die einde van die oestyd gehou is. Hulle het dus weereens tyd gehad om op die Here te fokus ná al die harde werk tot dusver. Weereens word die woord van die Here deur ‘n paar vrae ingelei, maar dié keer gerig aan al die mense: “Wie onder julle het oorgebly wat hierdie huis van die Here in sy vroeëre heerlikheid gesien het? En wat sien julle nou daarvan? Lyk dit nie na niks teen die vorige een nie?

Die Here is dus baie bewus van die gesprekke wat onder die volk gevoer is en waarin die moedeloosheid wou-wou oorneem. God se plek sou volgens hulle nooit weer wees soos dit vroeër was nie. En onthou, Salomo se tempel, wat ironies genoeg ook in die sewende maand in gebruik geneem is (1 Kon 8), was ‘n verstommende luukse gebou. Die Here praat hulle deur sy profeet egter moed in: “Werk, want Ek is by julle, is die uitspraak van die Here, Heerser oor alle magte.” Die bouwerk kan en móét nou in alle erns begin.

Let op hoe die Here hulle met twee sleutelboodskappe bemoedig. Die eerste is ‘n belofte wat van altyd af vir hulle geld en ook nou in hulle lewe bevestig sal word: “My Gees sal altyd in julle midde bly. Moenie bang wees nie.” Sagaria sou ‘n bietjie later hierby aansluit en vir Serubbabel met dieselfde woorde bemoedig: “Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees.” (Sag 3:6). Die tweede is ‘n toekomsvisie wat die bou van die tempel in ‘n heel ander en heerliker lig stel: “Die heerlikheid van hierdie huis sal groot wees, nog groter as tevore… En op hierdie plek sal Ek vrede gee.” Dié visie word in ‘n konteks van eskatologiese tekens beskryf – hemel en aarde, see en land bewe, nasies bring geskenke – wat die eindtyd wat met Jesus aangebreek het en met sy wederkoms voleindig sal word, in die visier van dié profesie bring. Hoewel die volk van 520 v.C. dié visie beswaarlik volledig kon verstaan, het dit hulle bemoedig. Hulle is uitgenooi om hulle oë te vestig op wat kom, nie net op wat was met Salomo se tempel nie. God se Gees sou hulle na sy toekoms met hulle begelei. Watter bemoediging!

Lees meer: https://bybelskool.com/haggai-21-9-god-bemoedig-almal-om-moed-te-hou-want-hy-is-by-hulle/

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (4)

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: