This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Apr 16 7:37:05 2021 / +0000 GMT

Haggai 1:1-15 – God bemoedig die leiers om die bou van die tempel ‘n prioriteit te maak



prayer-shawl Op 29 Augustus 520 v.C., die eerste dag van die sesde maand, die Joodse maan-maand Elul, 19 jaar ná die volk in 539 v.C. van Babel af teruggekeer het, kom die woord van die Here tot Haggai. Dit is bedoel vir die twee leiers van die volk, die goewerneur Serubbabel en die hoëpriester Jesua.

Dit is belangrik om te onthou dat die Jode dié tyd die fees van die nuwe maan gevier het. Hulle was dus nie te besig om aan die dinge van die Here aandag te gee nie, en sy woorde ter harte te neem nie.

Haggai bevraagteken die standpunt van die volk dat die bouwerk aan die tempel nie ‘n prioriteit is nie. Hy doen dit met ‘n vraag van die Here: “Is dit nou die tyd vir julle om in pragtige huise te woon terwyl my huis in puin lê?” Daarmee ontbloot God hulle verkeerde prioriteite wat tot gevolg het dat dinge ekonomies nie vir hulle wil vlot nie, al is hulle nou al amper twee dekades terug in die land: “Julle is soos ‘n dagloner wat sy loon in ‘n stukkende beursie steek.” Uitstekende metafoor wat die strawwe van die verbond uitbeeld (Deut. 28-30)!

Die Here stel dus onomwonde vir hulle die standaard, dít wat Jesus in die Bergrede eeue later ook sou beklemtoon. Dien die Here en sorg dat sy teenwoordigheid bo alles bewaar word in die geloofsgemeenskap. Dan sal hulle die sorg van die Here op alle terreine van die lewe ervaar: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

Vir Haggai en sy mense was die fokus op die bou van die tempel, die fisiese simbool van God se teenwoordigheid in Jerusalem. Waar dít herstel sou word, dáár sou hulle die seën van die Here ook ekonomies en sosiaal ervaar, trouens: “oor alles waarmee die mens hom besig hou.

Die effek van hierdie boodskap was dat die twee leiers moed geskep het en die volk gemotiveer het om die werk aan die tempel voort te sit en klaar te maak. Hoekom? Want hulle het die woord van die Here “ter harte geneem”. Dit het die volk met soveel ontsag vervul dat hulle ongeveer drie weke later, op die 24ste dag van Ellul, die 21ste September 520 v.C., met die werk begin het. Hulle het dus hulleself in hierdie tyd gereed gekry vir die groot taak wat vir hulle gewag het.

 

 


Post date: 2015-03-18 00:01:20
Post date GMT: 2015-03-17 22:01:20
Post modified date: 2015-03-18 04:06:35
Post modified date GMT: 2015-03-18 02:06:35

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com