God se beloftes aan ons

Die Bybel is vol beloftes van God aan die mens

Herbert Lockyer noem 7 487 spesifieke beloftes van God tot mens, gebaseer op die werk van Everet Storms (All the Promises of the Bible).

Hierdie beloftes wissel van breë seëninge van vrugbaarheid aan die mensdom in die algemeen tot spesifieke verbonde met mense soos Noag, Abraham, Isak en Jakob en hulle nageslagte. Dit betrek die korporatiewe en gemeenskapslewe sowel as persoonlike en individuele lewens. Wat van hierdie beloftes van God uitstaan, is dat hulle oorvloedig en divers is, en bedoel is om alle areas en fases van die lewe te dek: tydelik, materieel, fisies, huwelik- en familiegewys, geestelik en ewig.

Selfs waar hierdie beloftes vloeke is wat straf en vernietiging behels, pas hulle in die groter skema van God se genade en voorsienigheidin, byvoorbeeld met die idee van ‘n oorblyfsel in die ballingskap, soos Jesaja so raak sê: “En Ek sal ’n nakroos uit Jakob laat voortkom en uit Juda die erfbesitter van my berge; en my uitverkorenes sal dit erflik in besit neem en my knegte daar woon.”(Jes 65:9).

Die OT gebruik verskillende woorde om die beloftes oor te dra

In die OT word hierdie beloftes gewoonlik nie verwoord deur ‘n spesifieke Hebreeuse woord vir belofte nie.

Baie keer kan ‘n mens die belofte van stellings aflei, net soos dit beskryf word, byvoorbeeld die eerste fundamentele stelling oor God se skeppende handeling met die begin van tyd, ruimte en materie: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.”(Gen 1:1).

Hierdie stelling word gevolg deur twee ander stellings. Die eerste is ‘n beskrywende stelling wat ‘n moedelose karakter dra: “En die aarde was woesen leeg, en duisternis was op die wêreldvloed. “Die tweede is ‘n beskrywende stelling wat ‘n beloftekarakter het: “en die Gees van God het gesweef op die waters.”(Gen 1:2). Die hoop wat hierdie tweede stelling laat ontvlam, van die Gees wat die duisternis verdryf, word dan vervul as God se Woord oor die leë duisternis weerklink: “’Laat daar lig wees’en daar was lig.”(Gen 1:3).

Hierdie vervulling wek die verdere verwagting dat God sal seën en voorsiening maak vir Sy skepping soos vervul word deur die tien skeppende dade van die eerste skeppingsverhaal wat oor die ses skeppingsdae uitgesprei is, en wat uitloop op die seën van alle lewende dinge: “Wees vrugbaar en vermenigvuldig” (Genesis 1:22,28), herhaal deur presies dieselfde woorde na die vloed (Gen 8:17; 9:1), en later aan die patriarge (Gen 35:11).

Dikwels word drie baie gewone woorde gebruik wat in die konteks die deurslaggewende beloftes van God oordra. Dit is die woorde sê, praat, en sweer wat gebruik kan word in die betekenis van ‘n belofte.

Ons kry ook meer spesifieke woorde in Hebreeus wat God se toekenning of oordrag van iets weergee wat in terme van die inhoud daarvan ‘n belofte vorm. Die woorde gee, en stel / veroorsaak word op hierdie manier gebruik en funksioneer as ‘n literêre motief wat as ‘n merker vir die beloftes gebruik kan word.

Die naaste wat ons aan die woord belofte kom in die Hebreeus is die gebruik van die naamwoord verbond saam met óf die werkwoorde bevestig óf maak (gee).

Ons sien hierdie belofte in die ander verbonde met die aartsvaders, Isak (Gen 17:19,21) en Jakob (Gen 31:54; Eks 2:24), sowel as die verbond met Moses en die volk van Israel (Eks 19:5; 24:8). Ons sien dit ook in die verbond met Dawid (2 Kron 7:18; 2 Sam 7:11) sowel as in die nuwe verbond (Jer 31:31-34; Hebr 7:22; 8:6-13) in die NT deur die bloed van die Here Jesus Christus (Mrk 14:24; Matt 26:28; Luk 22:20).

Die verbond met die aartsvaders het God se drie beloftes van land, nageslag en om tot ‘n seën vir die nasies te wees, bevestig. Die verbond met die Eksodus-volk het sy teenwoordigheid met hulle bevestig. Hy sou hulle God wees en hulle sou aan Hom behoort as Sy volk.

Met al hierdie woorde het die OT God se beloftes oorgedra as die verklaring, aankondiging of versekering van wat Hy sou doen, gee, bewerk, of veroorsaak, dat ‘n spesifieke ding of gebeurtenis plaas sou vind.

Hierdie beloftes en hul verskillende vervullings het die grondslag gelê vir gelowiges deur die eeue om hul vertroue in God te stel en te verwag dat Hy ook Sy beloftes aan hulle sal vervul, waarvan die Psalms op omvattende wyse uitdrukking is.

Die NT gebruik meer spesifieke woorde om God se beloftes oor te dra

In die NT is die woorde vir die beloftes van God hier meer spesifiek: epaggelia, epaggellomai en epaggelma wat ongeveer 62 keer gebruik word om die betekenis van God se beloftes oor te dra (BAGD, NAS). Hierdie woorde fokus hoofsaaklik op die inhoud van wat beloof word, wat gedoen of gegee sal word, hoewel die feit van die belofte ook altyd relevant bly (Louw-Nida). Hierdie woorde kan dus ook die betekenis van ‘n proklamasie, beroep doen op of aankondiging oordra aan, of ‘n eis of bevel vir iets om te gebeur.

Maar nog steeds kan die inhoud van ‘n belofte in die NT ook gekoppel word aan enige gesegdegesprek of gesweer van God, soos in die OT, waar iets belowe, aangekondig, gegee, geëis, verkondig, bekend gestel of gebied word .

Dit kan ook afgelei word uit die bedoeling van sekere stellings. Johannes se evangelie begin byvoorbeeld met dieselfde frase as Genesis 1: “In die begin”. Dit dra daarom dieselfde belofte van God se Woord wat lig in duisternis sal bring, soos in die begin, só ook nou, soos ons kon sien in die Woord wat mens geword het in die Here Jesus Christus en sy tuiste onder ons kom maak het (Joh 1:1-14).

Daar is dus duisende beloftes van God wat die Skrif deursuur wat ons vir onsself kan toeëien

Aan die een kant, is daar dus duisende beloftes van God wat die Skrif deursuur en wat ons vir onsself kan toeëien.

Soos Petrus in sy tweede brief sê aan God se uitverkore volk wat as vreemdelinge in die noordelike provinsies van Turkye gewoon het, dat: “Hy ons die grootste en kosbare beloftes (epangelmata) geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het wat deur begeerlikheid in die wêreld is.” (2 Pet 1:4).

En ons moet al hierdie beloftes ernstig opneem en daarop reageer, aangesien hulle die inhoud van ons geestelike groei bevat: “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” (2 Pet 1:5-7).

Inderdaad: “Want as hierdie dinge by julle aanwesig is en toeneem, dan laat dit julle nie ledig of onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie; want hy by wie hierdie dinge nie aanwesig is nie, is blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet.” (2 Pet 1:8-9).

Neem maar die talle beloftes in die Psalms wat in die liturgie van oud-Israel gelowiges blootgestel het aan wie God vir hulle is en wat Hy bereid is om vir hulle te doen.

Vergelyk byvoorbeeld Psalm 1. Dit lei die hele Psalmboek in met die belofte van God se seën vir dié wat hulle vreugde vind in God se Woord (vers 1-2). Hierdie gelowiges sal floreer in sy teenwoordigheid (vers 3), terwyl die teenoorgestelde die goddeloses sal geld (vers 4-5). God se belofte vir dié wat sy Woord op prys stel en dit leef, is dat die Here hulle pad “ken” (soos dit in die Hebreeus staan) en hulle op daardie pad sal lei (vers 6). Soos Peterson vertaal: “GOD charts the road you take.” (The Message). Ek sal netnou ‘n stuk plaas oor beloftes wat ‘n bietjie breër daarop sal ingaan.

Dieselfde geld vandag nog vir ons as gelowiges. Ons dien dieselfde God en kan dieselfde beloftes aangryp en van God verwag dat Hy dit aan ons sal vervul.

Al hierdie beloftes kan ook opgesom word in die openbaring en terugkeer van ons Here Jesus Christus

Aan die ander kant kan al hierdie duisende beloftes opgesom word in een belofte, die openbaring van die koninkryk van ons Here Jesus Christus, soos ons in die NT lees. Soos Jesus self gesê aan die begin van sy bediening op aarde: “Die tyd is vervul (die tyd wat belowe is) en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie.” (Mark 1:15; vgl Luk 1:70; Hand 2:30).

Hierdie beloftes kan ook opgesom word in die wederkoms van ons Here Jesus Christus, soos Petrus op die Pinksterdag oortuigendverklaar: “Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het (elalēsen) deur die mond van al sy heilige profete.” (Hand 3:21).

Petrus praat later in sy tweede brief met sommige spotters wat vra: “Waar is die belofte van sy wederkoms? Want vandat die vaders ontslaap het, bly alles soos dit was van die begin van die skepping af.” (2 Pet 3:4).

Petrus het skerp op hulle gereageer en gesê: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.” (2 Pet 3:9).

Dit, sê Petrus, terwyl ons weet dat hierdie wêreld uiteindelik vernietig sal word: “Maar ons verwag volgens sy belofte (epangelma) nuwe hemele en ’n nuwe aarde, waarin geregtigheid woon.”(2 Pet 3:13).

Dit is ook die manier waarop Paulus oor al die beloftes (epangeliai) van God skryf. Hulle is vervul in Christus. In sy brief aan die Galasiërs sit Paulus die seëninge wat God belowe het: “Aan Abraham en sy saad”, uit Genesis 12:7 en identifiseer die “saad” as Christus. Hy wys pertinent op die Hebreeuse enkelvoud van  rǎ’ (“saad“): “Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.”(Gal 3:16; vgl Luk 1:55; Hand 3:25).

Dit is die goeie nuus van die evangelie wat Paulus aan Jode sowel as heidene verkondig het: “wat Hy tevore beloof het (proepēngeilato) deur sy profete in die heilige Skrifte aangaande sy Seun wat gebore is na die vlees uit die geslag van Dawid.” (Rom 1:2-3). Sy beloftes word vervul in die belofte van sy Eniggebore Seun.

In sy latere (vierde) brief aan die Korintiërs kon Paulus dus skryf: “Want hoeveel beloftes (epangeliai) van God daar ook mag wees, in Hom is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.”(2 Kor 1:20).

Toe Paulus voor koning Agríppa gebring is om verhoor te word, kon hy dus die beskuldiging teen hom opsom as ‘n aanval op die belofte wat aan die voorouers gemaak is: “En nou staan ek tereg oor die hoop op die belofte wat aan die vaders deur God gedoen is, waartoe ons twaalf stamme wat God aanhoudend dag en nag dien, hoop om te kom; oor hierdie hoop, koning Agríppa, word ek deur die Jode beskuldig.” (Hand 26:6-7).

Hierdie belofte was: “Maar omdat ek hulp van God verkry het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en spreek niks buiten wat die profete en ook Moses gesê het dat sou gebeur nie: dat die Christus moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en ’n lig aan die volk en die heidene sou verkondig.” (Hand 26:22-23).

Christus is dus die spilpunt van God se belofte, die opsomming van alles wat God verkondig en voorsien het in die skepping en geskiedenis van hierdie wêreld vir die mensdom. En Hy sal ook die spilpunt van die nuwe skepping wees wat gebaseer is op God se belofte.

Of God se beloftes sy seëninge of sy verbonde openbaar het, sy teenwoordigheid of sy voorsienigheid behels het, hulle verwys almal na die realiteit van die openbaring van die Here Jesus Christus. In Hom hou al die beloftes stand, verlede, hede en toekoms.

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (6)

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: