Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin het

655804-breathtaking-space-artDie aartsvaders het nou al verskillende altare gebou om hulle aanbiddingsplekke te merk.  Hier lees ons van die eerste opdrag wat die Here self gee vir ‘n aartsvader om ‘n altaar te bou.  In taal wat herinner aan ‘n pelgrimstog sê God vir Jakob: “Maak jou klaar en gaan na Bet-El toe en bly daar. Bou vir My daar ’n altaar. Ek is die God wat daar aan jou verskyn het toe jy vir jou broer Esau gevlug het.

Die opdrag was nie net om hom te herinner aan die belofte wat hy self gemaak het met sy reis na Haran nie, hoewel hy ook duidelik verbind aan: “die God wat my gebed verhoor het toe ek in die moeilikheid was en wat by my was waar ek ook al gegaan het.

Dit is in die eerste plek om seker te maak dat Jakob en sy familie hulle reinig van alle afgodsbeelde wat nog by hulle was.  Dit het natuurlik Laban se afgodsbeeldjies ingesluit wat Ragel gesteel en saamgebring het na Kanaän toe.

Ná die afgodsbeelde en ook oorringe begrawe is onder die groot boom by Sigem en het hulle die trek aangedurf.  Die verwysing na oorringe is nie so duidelik nie, behalwe dat twee latere verhale verwys na oorringe wat gebruik is om afgodsbeelde te maak.

Miskien wou Jakob voorkom dat daar weer afgode van die oorringe gemaak word, soos dit die geval was met die goue kalf in die woestyn van Aäron (Eks. 32:2-4), en die efodbeeld wat Gideon ná sy oorwinning oor die Midianiete gemaak het (Rigt. 8:24-27).  Die volk is by beide geleenthede verlei om afgode te aanbid.

Dit is interessant hoe die Here Jakob se gehoorsaamheid eer deur die volke van die omgewing bang te maak vir Jakob en sy seuns sodat hulle nie agtervolg is en verantwoordelik gehou is vir die uitwissing van Sigem en sy mense nie.

Met die aankoms by Bet-El is die siklus voltooi.  Die Here het sy gebede vir beskerming beantwoord en Jakob het sy gelofte kom betaal.  Die Here herhaal aan hom sy beloftes van vroeër sowel as sy naamsverandering,  Hy voeg ‘n nuwe belofte by van konings waarvan hy die voorvader sou wees.

Bet-El is egter ook die plek waar Debora, die vrou aan wie Rebekka as kind gedrink het, begrawe is onder die groot boom wat hulle Huilboom genoem het. Die eerste van drie hartseer gebeure in die verloop van ‘n baie kort tyd.

Die volgende hartseer gebeure het Jakob met gemengde gevoelens gelaat.  Aan die een kant is sy twaalfde en laaste seun gebore, maar sy lieflingvrou, Ragel, is met die bevalling dood.  Hy verander die naam wat sy die seun gegee het, Ben-Oni – seun van my smart – na Ben-jamin – seun van my regterhand.  Dit was op die pad na Efrata naby Bethlehem.

Die hoofstuk sluit af met ‘n stukkie familiegeskiedenis waarin die derde hartseer verhaal vertel word, dié van Ruben wat gemeenskap gehad het met Bilha, sy pa se slavinvrou. Miskien wou hy voorkom dat Ragel se slavinvrou nou bó sy ma Lea verhef word.  Miskien wou hy sy pa se gesag uitdaag.  ‘n Mens weet nie.

Al wat die skrywer sê oor die saak: “Israel het dit te hore gekom”, sonder om verder daaroor uit te brei.  Jakob het ‘n manier gehad om nie dadelik te reageer op iets negatiefs nie, soos stadig-werkende gif, en ‘n mens dink by voorbaat dat Ruben êrens aan die pen sal ry vir dié onverskoonbare skande wat hy oor Jakob bring.

Die feit dat Ruben probeer om verantwoordelikheid te neem vir die situasie wanneer die broers in opstand kom teen die voortrekkery van Josef (Gen. 37:21-22), en uiteindelik dit regkry om volle verantwoordelikheid te neem vir Benjamin toe dié Egipte toe ontbied word (Gen. 42:37), spaar hom egter nie die gramskap van sy pa.

Op Jakob se sterfbed begin Jakob om Ruben te prys: “Ruben, jy is my eersgeborene, my krag en die eersteling van my sterkte; die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag!” (Gen. 49:3).  Maar laat dan die giftige geweld van sy vervloeking op Ruben los: “Maar jy sal nie langer die vernaamste wees nie, want soos stormwater was jy onstuimig: jy het jou vergryp aan ’n vrou van jou vader, jy het my bed verontreinig toe jy daarin geklim het.” (Gen. 49:4).

Geen wonder dat Levitikus later presies hierdie tipe bloedskande verbied, dié met die tweede vrou van jou pa (Lev. 18:8).  Bloedskande saam met al die ander vergrype aan seksualiteit buite die veilige ruimte van die huwelik om was sterk afgewys.

Die laaste mededeling in die hoofstuk is van Jakob se besoek aan sy pa Isak wat op dié stadium in Abraham se oorspronklike plek by Mamre, dit is Hebron, gebly het.  Isak is in die hoë ouderdom van honderd en tagtig jaar dood. Hy het ’n vol lewe gehad, sê die skrywer en is deur sy twee seuns Esau en Jakob begrawe.

Boodskap

Weereens kan ‘n mens nie anders as om die refrein deur die boek Genesis raak te sien nie.  Die belangrikste twee goed wat die Godsverhouding en die geloofsgemeenskap se onderlinge verhoudinge in gevaar gestel het, was afgodery en onsedelikheid.

Ek het nou al ‘n hele paar keer daaroor geskryf, en wil dit nie herhaal nie, behalwe om net te onderstreep dat dié boodskap van Genesis, soos dit in wette in Levitikus uiteindelik neergelê het, die identiteit en moraliteit van die volk van God gestempel het, soos dit van niks anders geld nie.  Dit is daarom ook in die hart van die Tien Gebooie opgeneem.

Die eerste tafel van die wet kan opgesom word in ‘n aandrang op ‘n onverhandelbare lojaliteit aan God wat alle afgode daarmee van die tafel afhaal. Die tweede tafel van die wet kan opgesom word in ‘n aandrang op ‘n onverhandelbare lojaliteit aan die naaste, wat ouers insluit, wat moord en steel uitsluit, wat egbreuk en valse getuienis uitsluit, en jou begeerte na iets van jou naaste van die tafel afhaal.

Ek is eintlik net verstom met die integriteit waarmee die Bybel aan mekaar gesit is. Die verhale in Genesis illustreer die wette in die res van die Pentateug.  Die riglyne wat God gee vir die lewe is nie uit die lug gegryp nie.  Dit is ingebed in die lewe van die volk.  En ‘n mens ignoreer die geopenbaarde wil van God op eie risiko.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Beste Chris

    Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen “vervloek,” maar hoekom het die aartsvaders nie hul vaderlike pligte nagekom nie? Dit het elke keer tot verdeling en teenspoed gely.

    • Hi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder ‘n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se opstand teen Dawid tree Dawid ook nie sterk op nie wat waarskynlik ook aan sy nalatigheid te danke is. Dit bring selfs sy koningskap in gevaar. Die verhale moedig ons dus aan om in ons eie vaderskap gehoorsaam aan God se wil te lewe.

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Ronel, dit hang af wat die selgroepe doen. As dit net daar is vir die bestaande lidmate sal dit die gelowiges opbou, maar nie die gemeente groei nie. As daar 'n strategie is om ongelowiges te bevriend en te evangeliseer - uiteraard waar dit moontlik is in julle konteks - dan is kleingroepe 'n wes…
  • Ronel on OpenbaringDs Chris, wat is u mening oor selgroepe in die gemeente die belangrikste manier is om die evangelie in n gemeente uit the brei en gemeente getalle te vergroot? Sal graag u mening wil hoor. Ons is tans in die VAE in Al Ain. Hier is ongeveer 35 verskillende dominansies van gelowiges waarvan ons Suid A…
  • Chris van Wyk on OpenbaringHi Marelize, ja, jy kan dit hier aflaai: https://bybelskool.com/ek-kom-gou-n-boek-oor-openbaring-deur-chris-van-wyk/. (direkte skakel na die boek: https://ngkerksomerstrand.co.za/wp-content/uploads/2020/05/Ek-kom-gou.pdf) Daar is ook 'n skakel na 9 video's wat ek gemaak het oor Openbaring vir 'n Pin…
  • Marie Elizabeth on OpenbaringHi Chris Is dit moontlik om die studie materiaal tov die boek Openbaring as een n boek te onvang? Ons wil met die boek as bybelstudie begin maar wil nie elke hoofstuk apart aflaai nie Laat weet asb? Groete Marelize Van Niekerk Cell: 083 321 4666
  • Chris van Wyk on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Mike, "ewige tente" of "ewige woonplekke" in Lukas 16:9 verwys na die lewe by God in die hemel (vgl Joh 14:2). Paulus skryf ook hieroor in 2 Korintiërs 5:1 en gebruik 'n ooreenstemmende metafoor vir die onverganklike liggaam wat ons in die hemel van God sal ontvang. Hy noem dit 'n "ewige gebou" o…
  • Mike on Lukas 16:1-13 – God vertrou ons met die ware rykdom as ons betroubaar is met aardse rykdomHi Chris, verduidelik vir my wat word bedoel met die woorde, "ewige tente".
  • Chris van Wyk on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetHi Petrus, in albei gevalle het die broers wel opgetree, maar in Dina se geval heeltemal oorboord gegaan, en in Tamar se geval sonder 'n regsproses. Dat Jakob en Dawid nie self opgetree het nie is waarskynlik te wyte aan nalatigheid, hoewel die Bybel nie hulle gedagtegang uitspel nie. Met Absalom se…
  • Petrus on Genesis 35 – Jakob voltooi sy verbintenis aan God by Bet-El waar alles begin hetBeste Chris Ek is weer by Genesis en met die Jakob verhaal is daar iets wat my opval: Jakob and Dawid se dogters is onteer en seuns was in opstand teen hul vaders, maar is nie gestraf vir hulle oortredings nie. Dit blyk ook uit ander verhale. Jakob het Ruben met sy seen "vervloek," maar hoekom het d…
  • Chris van Wyk on Psalm 29Dankie Tertia, my voorreg en plesier.
  • Tertia Botha on Psalm 29Dr Chris dankie dat jy met jou kennis en wysheid my sommer ook vandag toerus. Vandag word ek opnuut herinner van God se krag bo die natuur maar ook God se stem in die natuur!! Alledaagse herinneringe aan ons GOD wat alles goed geskep het en steeds daaroor heers.
  • Chris van Wyk on Inleiding op OpenbaringHou moed Amanda! Lees wat ek geskryf het vir Yvonne oor Psalm 103:5: https://bybelskool.com/psalm-1031-5-loof-die-here-wat-al-jou-siektes-genees/comment-page-1/#comment-29597
  • Chris van Wyk on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesHi Yvonne Vers 5 moet in die konteks van die Psalm uitgelê word. Die eerste vyf verse vorm 'n eenheid: 1 Van Dawid. Loof die Here, o my siel, ja, alles wat in my is, sy heilige Naam! 2 Loof die Here, o my siel, en moenie enige van sy weldade vergeet nie – 3 Hy wat al jou sondeskuld vergewe, wat al j…
  • amanda on Inleiding op Openbaringhoe ( op aarde ) gaan God se koninkryk op aarde so gevestig word, dat Hy uiteindelik deur almal as Alleenheerser erken gaan word. Elkeen is so besig om sy eie ding te doen, dat dit byna onmoontlik klink. Dis vir my n moedelose gedagte.
  • Yvonne on Psalm 103:1-5 – Loof die Here wat al jou siektes geneesEk wil graag meer weet oor psalm 103vers 5
  • Chris van Wyk on 1 Samuel 28Hi Elsa, die doderyk is in twee gedeel. Kyk in Lukas 16 vir 'n beskrywing daarvan.
%d bloggers like this: