Skip to main content

Genesis 23

Sara begrawe in Makpelagrot as vervulling van die landsbelofte

Teks en konteks

Ses en dertig jaar ná Sara aan Isak geboorte gegee het (2066 vC), is sy oorlede in Kirjat-Arba (2030 vC), dit is Hebron, die stad waar Dawid later koning sou word. Sy het egter nie haar seun Isak se huwelik met Rebekka meegemaak nie. Dit sou wel Abraham se voorreg wees soos ons in hoofstuk 24 lees. Abraham, wat nege jaar ouer was as Sara (Gen. 17:1, 17) sou nog nege en dertig jaar leef en selfs weer trou met Ketura en ses kinders by haar verwek voordat hy in 1991 vC oorlede is (Gen. 25).

Abraham onderhandel met die Hetiete oor die stuk grond van Efron sodat hy haar in die Makpelagrot kan begrawe. Ons sien in die onderhandelinge ‘n tipiese Midde-Oosterse transaksie waar Efron die stuk grond eers gratis aanbied en dan half terloops die prys aankondig: “Moenie dat ons stry oor ‘n stukkie grond wat vier en ‘n half kilogram silwer werd is nie”, waarop Abraham dan die vier en ‘n half kilogram silwer vir hom afgeweeg het en die enigste eiendom bekom wat hy ooit in die land Kanaän sou besit, behalwe vir die enkele waterput wat hy gegrawe het, die enkele boom wat hy geplant het, sowel as die vier altare wat hy opgerig het.

Die graf van Sara, waarin Abraham ook later begrawe is (Gen. 25:7-10), het egter nie net ‘n simboliese band met die land verteenwoordig nie. Met die kooptransaksie en deur hulle begrafnis in die Makpelagrot het ‘n konkrete band tussen hulle en die land tot stand gekom wat ‘n enorme teologiese impak gehad het in die tradisie waartoe dit aanleiding gegee het. Hierdie land was nou die land wat die Here aan die aartsvaders gegee het: “Dit is U, ons God, wat die vroeëre inwoners van hierdie land voor u volk Israel uit verdryf het en die land aan die nageslag van u vriend Abraham as ’n blywende besitting gegee het.” (2 Kron. 20:7). Die graf was een van die getuienisse daarvan.

Die klein en amper onopsigtelike vervulling van die belofte in terme van die Makpelagrot het in die volksbewussyn ‘n definitiewe konkrete verbintenis van God aan sy belofte verteenwoordig. Moses kon in Egipte daarop aanspraak maak om die volk te motiveer om die uitdaging nie net van die Uittog uit Egipte aan te pak nie, maar ook die Intog in die beloofde land, om dit as vervulling van die belofte in besit te neem: “Ek sal julle bring na die land toe wat Ek met ’n eed aan Abraham, Isak en Jakob belowe het. Ek sal dit julle eiendom maak. Ek is die Here.” (Eks. 6:7).

Betekenis

Sara word in Jesaja as die moeder van die volk geëer: “Dink aan Abraham, julle voorvader, aan Sara wat vir julle in die wêreld gebring het.” (Jes. 51:2). Dit op sigself is al ‘n groot genoeg aanleiding daartoe om Sara se nagedagtenis te eer.

Jesaja gebruik haar egter daarby as ‘n voorbeeld van volharding wat die volk moet inspireer om nie op te hou met die begeerte om reg te doen en na die wil van die Here te vra nie. Hy moedig hulle aan om tussen al die sleg uit die verlede, dinge waarvoor hulleself ook veranwoordelik is, te soek na dié dinge wat lewe gegee het en dit weer te omarm.

Die ballingskap was vir Israel immers ‘n reinigingsproses om die bewussyn van God te herstel. En die raad wat Jesaja vir hulle gee, is om moed te skep uit dit wat in hulle verlede lê. In hulle verlede lê die Here se roeping van die aartsouers, Abraham (vader van vele) en Sara (prinses) en hulle gehoorsaamheid. Net soos Hy hulle toe geseën het, net soos Hy die belofte aan hulle vervul het, al het dit bloedsweet gekos en ‘n kwarteeu se geduld, net soos hulle uiteindelik ‘n stuk konkrete eiendom in die beloofde land bekom het, so gaan God dit nou weer vir Sion, vir die volk, doen.

Trouens, die boodskap van seën is nie eksklusief net vir Israel bedoel nie, maar is ook die goeie nuus vir al die volke en nasies, sê Jesaja. Dit wil sê, dié boodskap is ook vir ons. En in ons as gelowiges het die Here sy Heilige Gees gegee as ‘n: “waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos.” (Ef. 1:14).

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

  • Chris van Wyk on Jeremia 19:14-20:18 – Vervloek is die dag waarop ek gebore isDie presiese betekenis van die term "blok" is onduidelik. Dit word gewoonlik geïnterpreteer as verwysend na een of ander instrument of plek van inperking en straf, bv. 'n inperking wat beweging beperk, gewoonlik beskryf as bestaande uit 'n raamwerk met gate waarin die voete (en soms die hande) van '…
  • ELRETHA VAN DER MERWE on Jeremia 19:14-20:18 – Vervloek is die dag waarop ek gebore isDag. Dankie vir die verduideliking van die doel van die Blok waarin Jeremia vas geskroef was in die Benjaminspoort. Ek kry nou meer begrip daarvoor. Verstaan ek reg dis soos 'n persoon wat se hande beidekante van sy kop in n stuk hout vas gemaak is of is dit iets anders. Baie Dankie
  • Chris van Wyk on HoogliedEk sal jou registreer. Jy moet net op die skakel in die e-pos wat vir jou gestuur word van Wordpress af, klik, om dit goed te keur. Ek sal jou selnommer ook by Whatsapp byvoeg.
  • Anne Enslin on HoogliedEk leer so baie by julle sal graag wil aansluit.
  • Chris van Wyk on Eksodus 30Jy kan by YouVersion se Bible app die 2020-vertaling gratis op jou selfoon kry.
  • Willie on Eksodus 30Baie dankie vir die uitleg wat jy gee hoofstuk vir hoofstuk. Ek het egter ñ probleem. Ek het die afrikaans en engelse vertaling vers vir vers gekry. Dit wil voorkom asof dit deur een of ander app direk vertaal is in afr. Waar kan ek die nuwe afrikaanse vertaling kry om op my selfoon af te laai asseb…
  • Chris van Wyk on Jesaja 1 – Julle ken My nieHi, dit is Bybels, ja. Ek verduidelik dit hier: https://bybelskool.com/category/uitverkiesing/
  • Joan on Jesaja 1 – Julle ken My nieKan u asb vir my die uitverkiesing verduidelik? Is dit Bybels?
  • Frank Pronk on Psalm 46Hallo Chris Ja ek glo dat ons almal n versugting het na die nuwe bedeling en die Nuwe Jerusalem. Ek wil iets deel wat ek vroeer die maand baie duidelik in my gees gekry het terwyl ek geslaap het . Die woorde het as volg gekom. " Die sewende wonderwerk van die sewende wereld - is die Israeliete" Ek d…
  • Chris van Wyk on Psalm 71Sy het die Here gedien met haar hele hart en eerder my met huisbesoek bemoedig as wat ek dit vir haar gedoen het. Sy was een van die pilare van ons geloofgemeenskap.
  • Neels Fourie on Psalm 71More dr vertel my meer van tannie phoebe
  • Chris van Wyk on 1 Kronieke 28-29Groete!
  • Wansen Engelbrecht on 1 Kronieke 28-29Baie dankie. Groetnis Wansen Engelbrecht Klerksdorp
  • Chris van Wyk on Genesis 1:1-2:3Is dit op 'n selfoon?
  • Johan Kirsten on Genesis 1:1-2:3Middag Chris. Ek merk dat as jy op die "menu" hierbo tik, die blok wat aan die linkerkant verskyn, blanko is. Daar is wel "onsigbare" skakels wat jou na die verskillende bladsye neem. Groete. Johan