Genesis 13 – God herhaal sy belofte van die land en ‘n groot nageslag aan Abram

4782847Hierdie hoofstuk vertel vir ons van die feit dat Abram as ‘n geseënde man terugkom uit Egipte – 13:1-4 – maar dan in die uitdaging wat sy rykdom en ‘n botsing van belange met sy broerskind inhou, vasloop – 13:5-7.  Dié uitdaging word aan die een kant in ‘n gesprek tussen Abram en Lot beslis waarin Lot die beste deel van die land kies – 13:8-13 – maar dan ook aan die ander kant tot ‘n verdere bepalende belofte van die Here lei in terme van land en nageslag – 13:14-18.  Abram erf eintlik die hele aarde, en sy nageslag verwerf ‘n unieke status as die geseëndes van die Here.

Abram trek terug na Kanaän – 13:1-4

Abram trek terug uit Egipte na Kanaän om die roeping wat die Here vir hom het, opnuut op te neem.  Ten spyte van sy liederlike lafhartige leuens in die krisis van hongersnood leer hy dat God vertrou kan word selfs wanneer dit broekskeur gaan.

Hy kom as ‘n ryk man terug uit Egipte!  Hoeveel besittings hy reeds gehad het, en hoeveel farao vir hom gegee het, kan ‘n mens nie sê nie, maar dit is duidelik dat sy rykdom uiteindelik substansieel was.  Hy was ryk aan vee, silwer en goud.

Abram trek weer van plek tot plek en roep die Naam van die Here aan in die land.

Abram word uitgedaag deur rykdom en ‘n botsing van belange – 13:5-7

Gou word Abram egter voor ‘n volgende toets gestel, hoe om ‘n vreedsame naasbestaan te verseker met sy nefie Lot wat ook self ‘n groot rykdom opgebou het.  Hulle rykdom het ‘n botsing van belange teweeg gebring.  Die katalisator vir die krisis was ‘n getwis tussen hulle veewagters.

Hierdie konflik laat ’n mens diep nadink oor die wedywering oor grond, soos ons in ons land nou alreeds ’n paar eeue ervaar.  Trouens, grond is iets wat regdeur die wêreld ’n kritiese rol speel in die handhawing van goeie onderlinge verhoudinge, al dan nie.  Sonder ‘n tuiste in die land waar jy woon, kan niemand ’n gelukkige naasbestaan met ander hê nie.

Twee belangrike gesprekke beslis die uitkoms van dié krisis tussen hulle.  Die eerste is die gesprek tussen Abram en Lot waarin Lot die beste deel van die breër landstreek van Kanaän kies in die Jordaanvallei – 13:8-13.  Die tweede is die gesprek tussen die Here en Abram waarin die Here sy belofte van seën herhaal in terme van ‘n tuiste in die land en ‘n toekoms vir sy nageslag – 13:14-18.

Die gesprek tussen Abram en Lot – 13:8-13

‘n Mens leer uit Lot se keuse dat wat op die oog af na ‘n: “tuin van die Here” lyk (let op die parallel met die tuin van Eden!), en boonop vir Lot herinner aan die plek waarvandaan hulle so pas gekom het, “soos Egipte”, dat dit nie altyd die beste keuse is nie.  Die skrywer se kort opmerking oor Sodom laat ‘n rilling by jou ruggraat afgaan:  “Die inwoners van Sodom was sleg: hulle het baie gesondig teen die Here.” En, ‘n mens weet wat kom met die verhaal van Lot se ontvoering (Gen. 14) en sy uiteindelike verlossing uit die ramp wat Sodom en Gomorra tref (Gen. 19).

Die gesprek van die Here met Abram – 13:14-18

Wanneer Abraham beteuterd agterbly met die droër dele, is dit asof ’n mens die idioom hoor: “Nice guys come second”.  Dit is egter presies hoe God baie keer werk deur dié een wat in die skadu gestel word, van ‘n blywende oplossing te voorsien.

Die Here nooi Abram uit om ‘n “bird’s eye view” te neem, want die Here gee vir hom die land rondom hom, vir sover as wat hy kan sien: “Die hele land (aarde?) wat jy sien, gee Ek vir altyd aan jou en jou nageslag.” (onthou dat die woord vir land en aarde presies dieselfde is …).

Aan die belofte van land word ook die belofte van ‘n nageslag gekoppel.  Al sou Lot, sy broerskind, nou nie meer noodwendig sy erfgenaam wees nie, het die Here nog nie sy plan laat vaar nie om ‘n nageslag vir Abram te voorsien waarin die hele aarde geseën sal word: “Trek nou deur die land, deur se lengte en breedte, want Ek gee dit vir jou.

Hierdie keer gehoorsaam Abram die Here en gaan woon by die groot bome van Mamre by Hebron waar hy ‘n altaar vir die Here bou om Hom te aanbid. Die Amoriet Mamre, saam met sy twee broers, sou vir Abram ondersteun om Lot te gaan red in die volgende hoofstuk.  Hy het dus ook goeie buurmanskap in Mamre gevind.

Boodskap

Een van die wonderlike aspekte van hierdie verhaal in Genesis 13 is die interessante ooreenkomste wat daar met ander Bybelse verhale is.  Daar is bv. ooreenkomste met die verhaal van die slawerny in Egipte en die Uittog terug na die land Kanaän sowel as met dele van die verhaal van die koms van die koninkryk in die NT.

  • Dink aan die swaar plae van Genesis 12 wat die farao oortuig het om Sarai vir Abram terug te gee, en die soortgelyke plae in Eksodus 7-12 wat die farao oortuig het om die volk van Israel te laat trek na die beloofde land. ‘n Mens sien dieselfde proses in die plae van die eindtyd in Openbaring – vgl. veral die inhoud van die trompette – wat die finale koms van die koninkryk van God voorafgaan (Openb. 6-16).  Dit is waarom Jesus ook vir ons geleer het om nie net negatief te kyk na allerhande “plae” wat die wêreld tref nie: “Al hierdie dinge is geboortepyne, die begin van die nuwe tyd.” (Matt. 24”8).
  • Dink aan die rykdom waarmee Abram terugkeer na Kanaän en dieselfde gebeure in die Uittog, soos in Eksodus 12:35-36. ‘n Mens sien dieselfde proses in die terugkeer uit ballingskap, hoewel dit daar as ‘n vrywillige gawe geteken word wat deur koning Kores as ‘n proklamasie uitgereik is (Esra 1:2-11).  Geen wonder dat Jesus ons aanraai om eerder op God en die koms van sy koninkryk te fokus, want: “dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.” (Matt. 6:33).

Die verhaal nooi ons dus uit om hierdie verhaal nie net te sien as ‘n beskrywing van God en die pad wat Hy met mense stap in die verlede op spesifieke geleenthede nie, maar as voorbeeldverhale van die pad wat Hy met alle gelowiges stap.

Jy kan dit self van toepassing maak op die konflikte wat jy tans beleef, sowel as die uitdagings wat ons in ons land het.

View all posts in this series

Genesis


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

  • Chris, waar trek ons die lyn as dit kom by die term “Antieke Israel?” Dit moet verseker na Gen 12 wees, want Israel was nog nie daar nie. Sou mens Patriargale tydperk ongeveer 2500 vC tot 1000 vC (Verenigde Koninkryk ) kon afbaken? Ek weet dat datering problematies is!

    • Hi Herman, ja, Israel as ‘n antieke nasie neem eers vorm aan met die Uittog uit Egipte. Volgens my datering rondom 1450 vC. Dit is dus nie net ná Genesis 12 nie, maar ná Eksodus 12. Ek noem ‘n hele aantal bewyse daarvoor https://bybelskool.com/inleiding-eksodus-die-hoop-op-verlossing/ . Dit is dus ná die tyd van die aartsvaders: Abraham, Isak en Jakob, en die twaalf seuns wat na Egipte toe trek.

      Die datering van die aartsvadertydperk wat vir my die meeste sin maak (op grond van die interne gegewens van die Bybel self) is in die sogenaamde Middel Brons tydperk van ongeveer twee millenia v.C. Dit word ondersteun deur die argeologiese gegewens van stede en plekke wat in die loop van Genesis 12 en verder genoem word. Die name van die patriarge en van hulle gebruike kom ooreen met inligting wat in buite-Bybelse data beskikbaar is. Selfs die feit dat hulle gebruike gehandhaaf het wat in latere wette verbied is – soos Abraham wat met sy half-suster Sarai trou (Gen. 20:12), iets wat in Lev. 18:9,11; 20:17 verbied word, en Jakob wat met twee bloedsusters trou (Gen. 29:21 vv.), iets wat in Lev. 18:18 verbied word – getuig van die oudheid van dié tradisies van die aartsvaders.

      Die feit dat die verhale dus uiteindelik neergepen is net soos dit oorgelewer is, sonder om dit te verander en in lyn te bring met die wet wat eers later gekom het, getuig van die oudheid van dié tradisies. Soos De Vaux hieroor sê: “One is bound to conclude that these traditions have a firm historical basis” (Early History).

      ‘n Mens kan die datering van die vorming van die volk van Israel uitwerk op grond van die vaste punt wat 1 Konings 6:1 gee vir die datum van die Eksodus. Daar staan: “Vier honderd en tagtig jaar nadat die Israeliete uit Egipte getrek het, vier jaar nadat Salomo koning van Israel geword het, het hy begin bou aan die tempel van die Here. Dit was in die maand Sif, die tweede maand.” Die datum van hierdie vierde jaar van Salomo is 966 v.C. wat met inligting uit buiteBybelse Assiriese lyste ooreenkom. Die begin van die Eksodus wat 480 jaar tevore was, kan dus op grond van hierdie inligting op 1446 v.C. vasgestel word.

      Dit word verder ondersteun deur van die nuutste argeologiese ontdekkings, onder andere deur die voorkoms van die naam “Israel” op die Merneptah Stele uit die 13de eeu sowel as die soortgelyke naam “Israel” op die voetstuk van ‘n standbeeld uit die 15de eeu v.C. wat onlangs ontdek is. Ek brei in my skrywe in Eksodus by bogenoemde skakel meer uitvoerig daarop uit.

      Hierby moet ‘n mens dan die tyd in Egipte tel (430 jaar volgens Eks. 12:40) wat beteken dat Jakob na Egipte is ongeveer in 1876 v.C., tien jaar ná Isak se dood. Jakob is op daardie stadium 130 jaar oud soos hy vir die farao te kenne gee (Gen. 47:9), wat beteken hy is in 2006 v.C. gebore (Gen. 25:26). Abraham was weer 100 jaar oud toe Isak vir hom gebore is wat beteken dat Abraham in 2166 v.C. gebore is.

      Dit beteken ‘n mens kan die verhale in Genesis 12-50 as volg dateer as jy die verdere gegewens in die boek in ag neem:

      Abaham 2166-1991 v.C.
      Isak 2066-1886 v.C.
      Jakob 2006-1859 v.C.
      Josef 1915-1805 v.C.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: