Gemeentes in die weegskaal

‘n Boodskap van Jesus

Die boek Openbaring is die belangrikste boodskap wat Jesus Christus aan sy kerk gegee het. Dit is sy openbaring aan gelowiges en gemeentes, die kerk van die eindtyd.

Openbaring is gerig aan alle diensknegte van Jesus Christus en ook spesifiek aan die sewe gemeentes in die provinsie Asië – Efese, Smirna, Pergamum, Tiatira, Sardis, Filadelfia en Laodisea. Die sewe gemeentes is verteenwoordigend van die kerk van alle tye.

Dit was ’n tyd waar keiserverering ’n hoogty gevier het. Daar was groot druk op Christen gelowiges. Hulle is nie net vervolg nie – soms openlik en bloedig, en ander kere meer subtiel – maar ook blootgestel aan die verleiding om kompromieë met hulle omgewing se waardes, houdings en lewenstyl aan te gaan.

Die Christene was egter nie net onder skoot van die Romeine nie. Daar was ook ’n aktiewe veldtog teen die Christene vanuit die Joodse sinagoges wat die Christene as ketters beskou het en met venyn en vyandigheid hanteer het.

Sewe briewe van Jesus

Die Here Jesus dikteer vervolgens aan Johannes sy onderskeie boodskappe aan die sewe gemeentes. Belangrik, dié briewe is Jesus se woorde, nie Johannes s’n nie. Jesus begin met ‘n brief aan Efese, die naaste gemeente aan die eiland Patmos waar Johannes in ballingskap opgesluit is. Dan vervolg die briewe aan die ander ses gemeentes die een na die ander soos jy dit met ‘n posbode in ‘n sirkelroete sou laat aflewer: Smirna 60 km noord van Efese aan die Middellandse See, Pergamum so 100 km noord-oos van Smirna, Tiatira so 60 km suid-oos van Pergamum, Sardis so 45 km suid van Tiatira, Filadelfia so 45 km suid-oos van Sardis, en laastens Laodisea so 65 km suid-oos van Filadelfia.

Dit was dus werklike gemeentes en werklike briewe, hoewel die boodskap daarin bedoel was vir al sewe gemeentes, en só eintlik alle gemeentes van alle tye raak. Elke gemeente waar hulle ook al is, kan hulle meet aan wat Jesus hier skrywe en daaruit neem wat van toepassing is op hulle om óf tot inkeer te kom óf te volhard op die pad wat die Here vir hulle gewys het.

‘n Mens kan selfs aan tye in die kerkgeskiedenis dink waar hierdie briewe aan die hele kerk van daardie tyd geskryf sou kan word. Die brief aan Sardis sou goedskiks aan leiers uit die Reformasie geskrywe kon gewees het, ‘n tyd van só ‘n grootskaalse doodsheid dat ‘n John Wycliffe, ‘n Johannes Hus, ‘n Maarten Luther en ‘n Johannes Calvyn regtig standpunt moes inneem, teen groot persoonlike koste, sodat die kerk tot besinning kon kom.

Die brief aan Filadelfia sou goedskiks aan die NG Kerk in die laat 1800’s geskrywe kon gewees het waar die invloed van die liberalisme afgeweer is, teruggekeer is na die Bybelse waarhede, gelei deur John en Andrew Murray, wat in die 19de eeu gelei het tot die grootste sending ontwaking wat ons ooit in ons kontinent ervaar het. Tot in Nigerië het ons kerk die oop deure vir die evangelie benut, ‘n Bybel belt geskep in Tivland wat ‘n buffer teen die Islamitiese opmars gevorm het.

Dit is daar wat Christene by die honderde op die oomblik vermoor word. Mense wat uit ons sendingwerk gebore is, maar vandag moet ly vir hulle geloof. En niemand dink aan hulle nie! Ook nie ons wat hulle geestelike vaders is nie.

Hoe dit ook al sy, hierdie briewe is bedoel vir die gemeentes aan wie dit geskryf is. Dit is bedoel ook as ‘n boodskap vir elkeen van die ander. Dit is bedoel vir gemeentes van alle tye.

Hier is ‘n opsomming van Jesus se boodskap aan die sewe gemeentes.

Laai die volle boek hier af in pdf formaat. Dit is gebaseer op ‘n Pinksterreeks wat ek by La Rochelle gemeente in Bellville Junie 2019 gelewer het.

Luister dus na wat die Gees vir die gemeentes sê deur hierdie sewe briewe van Jesus.

1. Efese die liefdelose gemeente

Die stad Efese (naby Selçuk) was nie net die belangrikste stad in Wes-Turkye nie, maar het ook die belangrikste gemeente in daardie geweste gehuisves. Die gemeente is deur Paulus op sy derde sendingreis gestig (Hand 19). In daardie tyd was Efese ‘n hawestad aan die rivier Cayster wat ongelukkig mettertyd toegeslik het. Dit was ‘n groot handelsentrum waar die Romeinse goewerneur gebly het. Vier handelsroetes het daardeur gegaan. Daar was ook ses tempels wat die keisers vereer het. Efese was bekend as die “lig van Asië”. Veral die tempel van Artemis (Diana in Latyn) was besonders. Trouens, dit was een van die sewe wonders van die antieke wêreld.

Die gemeente van Efese se leer en lewe was onberispelik, hulle het volhard onder moeilike omstandighede, hulle het suiwerheid in leer en ‘n onberispelike morele lewenswandel nagejaag, maar hulle het hulle entoesiasme en Gees-drif verloof.

Maar nou, skaars dertig jaar na hulle stigting, was hulle nie meer gewortel en gegrondves in die liefde nie (Ef. 3:17-19). Hulle was baie besig met die dinge van die Here, maar nie meer so baie met die Here van die dinge nie.

Hulle uitstaande kenmerke het nie swaar genoeg geweeg in die weegskaal van die Here Jesus nie. Die gebrek aan hulle eerste liefde het die ander positiewe dinge in diskrediet gebring.

Jesus sê daarom vir hulle, keer terug na die liefde vir God, julle eerste liefde, wat die Gees in julle geskep het dié dag toe julle My leer ken het en in My begin glo het. Want, hulle het só besig geraak  met die uitvang van valse leraars en die herkenning van valse leringe dat hulle innige intieme verbondenheid aan die Here verflou het.

Dit is wat gebeur as jy jou nie meer verwonder aan wie Jesus is en wat Hy doen nie. En die gevolge daarvan bly nie uit nie. Jy raak bakleierig en rigied. Jy verloor die vreugde in die Here, en jou werk vir die Here raak pligpleging.

Die waarheid is, waar die liefde vir God vervaag, kan die liefde vir die gemeente en die liefde vir ‘n verlore gaande wêreld nie volgehou word nie. Jou geestelike energie en motivering kan nie kom uit dié dinge waartéén jy is nie, maar moet kom uit dié dinge waarvóór jy is.

2. Smirna die getroue gemeente

Smirna – die moderne stad Izmir – was en is ‘n pragtige stad, ‘n hawestad aan die Hermusrivier aan die Egeïese See. Die groot Griekse digter Homerus is met die stad geassosieer. Hulle was bekend vir hulle wetenskapsbeoefening, vir goeie wyn, pragtige geboue, groot welvaart en vir medisyne. Daar was onder andere ‘n groot tempel van Asklepius, die god van medisyne. Hierteenoor was die gemeente in Smirna arm. Hulle was so arm dat hulle eintlik niks gehad het nie. Hulle was brandarm. Waarskynlik weens die teenstand wat hulle van die Jode en die owerhede ervaar het – soos op baie plekke in die Romeinse ryk – wat baie keer konfiskering van hulle bates en eiendom tot gevolg gehad het.

Maar, Smirna was getrou, selfs en veral in vervolging. Smirna het staande gebly al was hulle in die spervuur. Hulle was ‘n klippie in die skoen van die Jode. Hulle was ‘n steen des aanstoots vir die owerhede. Want, Smirna wou nie inval by die heersende heidense verering van die keiser nie, selfs nie by die ooreenkomste wat die Jode gesluit het met die owerhede ter wille van hulle relatiewe godsdiensvryheid nie.

In Jesus se weegskaal is hierdie arm gemeente daarom een van die top gemeentes. Smirna kry net lof van die Here. Die voorganger en gemeente in Smirna word geprys deur Jesus en dit vir hulle “rykdom”. Want, Jesus meet rykdom nie in terme van geld nie. Smirna se rykdom is dat hulle ryk is in getrouheid.

Jesus waarsku hierdie top gemeente van Hom dat daar nog ‘n groter vervolging is wat wag. Die grootste teenstand, sê Jesus, gaan kom van die verdrukking deur die duiwel self, God se groot teenstander. Die duiwel sal homself nie kan keer nie. Hy sal die blote bestaan van ‘n gemeente in Smirna wil uitwis.

Hulle hoef egter nie te vrees nie, sê die Here Jesus, want al gaan sommige van hulle weens die duiwel se werk in die gevangenis gegooi word, sal dit vir ‘n beperkte tyd wees. Jesus sal dit temper. Hulle sal ná die uitmergelende tyd van verdrukking die oorwinnaarskrans van die lewe ontvang.

3. Pergamum die liberale gemeente

Pergamum, die amptelike hoofstad van dié gebied, was ‘n groot stad wat bekend was vir ‘n hele paar dinge. Dit was een van die plekke waar Asklepius, die god van gesondheid – gesimboliseer deur ‘n slang (mediese simbool) – aanbid is. Pergamum het ook een van die grootste biblioteke gehad in dié tyd met ongeveer 200 000 boeke en bronne, wat net oortref is in grootte deur die een in Alexandrië. Hulle het uitgemunt in die produksie van boeke, veral op die velle van diere, wat vereer is deurdat die moderne woord perkament van die stad se naam, Pergamum, afgelei is. Vandag is dit die stad Bergema.

Die grootste uitstaande kenmerk van Pergamum was egter dat dit een van die hoofsentrums van keiseraanbidding in die streek was, met ’n reuse-altaar vir Zeus Soter, die verlosser god. Hierdie altaar het ‘n wrede doel gedien. Daar is 24 uur elke dag, 7 dae ‘n week, mense op dié massiewe altaar geoffer. Die mense is binne in ‘n brons bul vasgebind, ‘n vuur is onder die bul aangesteek, en dan is die persoon lewendig soos in ‘n oond gebraai. Die gille het uit die bul weerklink wat dit laat klink het asof die bul lewe. Grusaam. Alles ter ere van Zeus.

Midde-in hierdie uitdagende omgewing – die plek waar die Satan bly, daar waar die troon van Satan is, so verskriklik was die plek, sê Jesus – het die voorganger en die gemeente aan die Here getrou gebly selfs toe Antipas, een van die gemeente se getroue getuies, die hoogste prys vir sy getrouheid moes betaal.

Daarom spreek die Here hulle aan om voort te gaan daarmee en nie toe te laat dat valse leringe die gemeente soos suurdeeg infiltreer en verstrik word in afgodery en onsedelikheid. Soos Bileam stel dié mense ‘n strik vir die gemeente, leer hulle die gemeente om van die afgodsoffers te eet en hulle onsedelik te gedra. Dit is ook wat die Nikolaïete die mense in Efese geleer het. Hulle het nou ook aanhangers in Pergamum verwerf.

Hierdie mense het dus van die kerk ‘n “wêreld-vriendelike” kerk probeer maak. Hulle het die waardes en lewenstyl van die samelewing binne die kerk aanvaarbaar gemaak, en só die gelowiges verlei om “wêreld-gelykvormig” te raak. Vriendskap met die wêreld is egter vyandskap met God. Daar is nie kompromie moontlik met die wêreld se waardes en wêreldse immoraliteit nie.  Ons is immers vreemdelinge in hierdie wêreld en vermy vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel.

Die gemeente word dus opgeroep om op te tree teen dié mense wat nie meer aan Jesus se leringe getrou was nie, en die leer van Bileam aangehang het. ‘n Klein bietjie suurdeeg beïnvloed ‘n groot hoeveelheid meel.

4. Tiatira die korrupte gemeente

Tiatira – die moderne stad Akhisar – was bekend vir sy groot hoeveelheid gildes of vakbonde waarom die lewe in die stad gedraai het. Vakbonde vir die klerebedryf, vir die bakbedryf, vir die leerlooiers, vir die pottebakkersbedryf, vir dié wat met linne gewerk het, vir dié wat met wol gewerk, vir skoenmakers, vir kopersmede en slawehandelaars.

Lidia van Filippi, die vrou wat met pers wol handel gedryf het, was byvoorbeeld van Tiatira afkomstig (Hand 16:12-15). Omdat die gode aan dié gildes verbind was, het dit die werksituasie van Christene baie bemoeilik. Want as jy aan een van die gildes behoort het, was jy gekonfronteer met die gode wat die gilde aanbid het. En dit was ‘n dilemma!

Jesus prys Tiatira vir vyf kenmerke van hulle gemeente lewe. Hulle dade, liefde, diens, geloof en volharding wat op die koop toe steeds in ’n groeiende fase is. Hulle latere werke oortref hulle eerste werke. Hulle was ‘n gemeente wat uitgeblink het in sosiale hulp en barmhartigheid. By hulle was jy altyd welkom. Is jy ingesluit en voor omgegee.

Maar in die weegskaal van die Here Jesus het Hy agtergekom dat hulle insluitende karakter beteken het dat hulle nie ‘n goeie oordeel aan die dag gelê het nie. Spesifiek het hulle ook onsedelikheid en afgodery toegelaat, weens die impak van een persoon in die gemeente. Isebel, die een wat haarself ‘n profetes noem, maar dit nie is nie. Die gemeente het gereken dat hulle haar insluit om te kan wys dat hulle alles en almal kan akkommodeer. Dat hulle verdraagsaam is, en niks daarvan sal oorkom nie.

Die probleem is dat onsedelikheid en afgodery die twee kernsake is wat ‘n kerk kan korrumpeer, wat die ortodokse leer en lewe verander in ‘n “anything-goes” leer en lewe waar enigiets en enigiemand toegelaat word om te glo en te leef soos hulle wil in die naam van diversiteit en verdraagsaamheid. Gewoonlik is dit dan ook dié mense wat eenheid bó alles stel. Niemand word uitgesluit nie. Geen dissipline. Geen poging om “in die liefde by die waarheid te bly nie.” Nee, ‘n Gods-water-oor-Gods-akker benadering. Maak vir almal ruimte in die kerk, al dink hulle nie soos ek nie.

Jesus is daarom onwrikbaar daaroor dat dié leringe nie geduld kan word nie. Want dit rand die gemeente in sy diepste wese aan. Dié wat daarom kies om aan God getrou te bly, wat in opstand kom teen die leringe van Isebel en nie daarmee saamgaan nie, hulle spring dié oordeel vry. Hierdie gelowiges, sê Jesus, sal geen ekstra “las” opgelê word, soos die eerste “sinode” in Handelinge 15 ook besluit het.

Jesus beklemtoon dus, soos die eerste “sinode”, net hierdie twee ononderhandelbare goed. Die morele kant van die wet – geen onsedelikheid – en die geestelike kant van die wet – geen afgodery. Dit is wat Noag se verbond geleer het. Dit is wat Moses se verbond geleer het. Dit is wat die nuwe verbond ook vir ons leer.

Die gelowiges wat luister, wat enduit volhard in die ortodokse boodskap van die Woord, sê Jesus, sal uiteindelik seëvier. Hulle sal saam met Jesus oor die nasies reageer.

God laat nie met Hom speel nie. Hy laat nie met Hom spot nie. Hy sal nie sy oordeel onbepaald uitstel nie. Hy sal dié wat teen Hom in opstand is soos kleipotte stukkend slaan met ‘n ysterstaf  (in ’n sinspeling op die Messiaanse belofte in Psalm 2).

5. Sardis die gevrekte gemeente

Sardis – vandag die klein dorpie Sart – is sowat 45 km suid van Tiatira geleë in die voetheuwels van die berg Tmolus, naby die Paktolusrivier. Die rivier was ‘n bron van groot goud neerslae, wat Sardis een van die rykste stede in die antieke wêreld gemaak het. Dit was vroeër die hoofstad van die Lidiaanse ryk, wie se koning Kroesos (595-546 vC) nog steeds ‘n maatstaf vir rykdom is. Hy was stinkryk. Ons lees nie in die Bybel van stigting van die gemeente in Sardis nie. Dit is waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese.

Die gemeente was egter in ’n tragiese geestelike toestand. Hulle het die naam dat hulle lewe, maar hulle is eintlik geestelike lyke. Buite blink. Binne stink. Die lidmate van die gemeente van Sardis is dus nog op die boeke. Die gemeente Sardis is nog ‘n gemeente in die ring. Maar, dit is al. Daar gaan niks aan nie. Die mense kom nog kerk toe, maar niemand word deur die prediking of die werk van die gemeente verander nie.

Tog, sê Jesus, as jy mooi kyk, is daar ‘n paar mense wat nog tekens van lewe toon. As jy mooi kyk, haal hulle nog asem. Maar hulle sal baie vinnig gered moet word, ander is dit klaarpraat met hulle. En is die gemeente verlore. Die paar amper-dooies het eerstehulp nodig, KPR, kardiopulmonêre resussitasie.

Hulle dade is in die oë van God net nie goed genoeg nie. Al raad is om geestelike KPR  toe te pas met die volgende vyf stappe: 1) Wees wakker! 2) Versterk die oorlewendes. 3) Verbind hulle aan die Bybel. 4) Bewaar die boodskap. 5) Bekeer jou.

Anders is dit verby met die gemeente. Jesus sal kom op ‘n tyd wat hulle dit nie verwag nie – soos ‘n dief in die nag – in oordeel oor hulle onbekeerlikheid. Die oordeel word nie uitgespel nie, wat dit onheilspellend maak, juis omdat Jesus nie sê presies wat Hy gaan doen met hulle nie.

Die kerkgeskiedenis vertel ons dat Sardis geluister het. ‘n Paar dekades later het biskop Mileto daar opgetree en groot werk gedoen om die kanon van die Bybel vas te stel en ook die parallelle tussen die OT en die NT uit te wys. Hy het ‘n groot invloed op die vroeë kerk gehad.

6. Filadelfia die gehoorsame gemeente

Filadelfia – Alaşehir – is ongeveer 45 km suidoos van Sardis, in die Cogamis-riviervallei. Die stad was bekend vir sy landbou – veral sy wingerde. Die bekermheer god van die stad was Dionisos, die god van wyn. Daar was ook ‘n tempel ter ere van keiser Tiberius waarvan ons by Jesus se geboorte lees. Uit dankbaarheid vir Rome se hulp om die stad te herbou ná ‘n groot aardbewing, het hulle die stad sy naam na Neocaesarea (“Nuwe stad van Caesar”) vir ‘n paar jaar. Soos die ander kerke in Klein-Asië, is die gemeente waarskynlik gestig tydens Paulus se bediening in Efese. Filadelfia was dus steeds ‘n heidense omgewing waarin die afgode en die keiseraanbidding die publieke verbeelding gevorm het.

Maar, die gemeente het hulle nie daardeur laat afsit nie. Hulle het hulle aan die Here verbind, man en muis, en in alles aan Hom en sy woord gehoorsaam geleef. Die stad was bekend as ‘n sentrum wat ‘n groot rol gespeel het om die Griekse taal en denke te versprei. Nou sou hulle die gemeente word wat op ‘n veerkragtige manier die Christelike geloof versprei. Hulle sou spesifiek effektief raak in hulle bediening aan die Jode wil dit voorkom.

Wat ons moet raaksien, is dat dit ‘n gemeente was wat wel aanvegting van buite ervaar het, maar nie van binne af nie. Almal het saamgetrek en in liefde by die waarheid gebly. Almal het saamgewerk en in die liefde die waarheid verkondig, selfs al het dit vir hulle sommige deure in die Joodse gemeenskap toe gemaak.

Soos Smirna ‘n getuie vir Jesus kon wees in vervolging – omdat hulle doodgewoon onwrikbaar was in hulle getrouheid aan die Here – só kon Filadelfia ‘n getuie wees weens die oop deure wat Jesus vir hulle gee – omdat hulle doodgewoon onwrikbaar was in hulle gehoorsaamheid aan die Here.

‘n Mens moet mooi hieroor nadink. Die enigste twee gemeentes in Openbaring wat vertrou kan word met ‘n getuienis na buite is gemeentes wat getrou is in vervolging (Smirna) en gehoorsaam is aan sy woord (Filadelfia). Getrouheid en gehoorsaamheid. Twee kante van dieselfde munt.

7. Laodisea die louwarm gemeente

Die stad Laodisea is die laaste stad op die antieke posroete van Klein-Asië, ‘n belangrike handelsentrum. Die mense was welvarend en voorspoedig, ‘n spilpunt vir die bankdienste in die streek. Die stad het ook in die vervaardiging van sagte, swart wol gespesialiseer waarvan luukse klere en matte gemaak is. Die stad was daarby ‘n leier in antieke medisyne. ‘n Mediese skool in die omgewing het ‘n oogsalf ontwikkel wat oral in die Grieks-Romeinse wêreld verkoop is. Hulle watervoorsiening was egter uiters swak.

Die skerpste oordeel van Jesus word gereserveer vir die gemeente van Laodisea. Laodisea se dade was  nóg hier nóg daar, nóg koud, nóg warm. Soos Sardis was hulle dade doodgewoon net nie goed genoeg nie. Miskien het jy al die idee gehoor dat dit beter sou wees dat hulle koud was. Want, as hulle geestelik koud was, dan kon hulle nog tot bekering gelei word. Maar, dit is nie wat daar staan nie. Jesus sê, was julle maar koud of warm!

Jesus verwys hier na iets wat die mense van Loadisea goed geken het. Hulle watervoorsiening. Die water van Laodisea was nie so lekker koud soos dié heerlike koue waterbronne van Kolosse nie, so tien km oos van hulle. Die water van Laodisea was ook nie so warm soos die heerlike warm waterbronne van Hiërapolis nie, so tien km noord van hulle. Laodisea se water het van die Denizli-bronne gekom en nadat dit oor ’n kalkkrans gestort het, louwarm en onsmaaklik by hulle aangekom. Nie koud nie. Ook nie warm nie. Louwarm.

Net so, hou die Here nie van mense wat louwarm is nie. Wat nie warm of koud is nie. Want hulle deug nie vir sy doeleindes nie. Wat doen die Here met mense wat nie geestelik is waar Hy hulle kan gebruik nie? Hy spoeg hulle uit sy mond. Soos louwarm koffie of water.

Daarom raai Jesus hulle aan: 1) Om eerder ryk in God te word – suiwer goud van Hom te koop. 2) Om onberispelik te lewe – wit klere om hulle onsedelikheid te bedek. 3) Om in geestelike insig toe te neem – salf vir hulle oë te koop. Dit was metafore wat spesifiek op die drie uitstaande kenmerke van die stad gemik was – die bankwese, die klerebedryf, en die mediese skool.

Hulle geestelike lewe was so louwarm en onsmaaklik soos hulle water! ‘n Toonbeeld van onverskilligheid. Die oplossing was om God ywerig te begin gehoorsaam, aan sy stem gehoor te gee, die geestelike deur van hulle persoonlike en gemeentelike lewe vir Hom oop te maak en in gemeenskap met Hom te leef.

Natuurlik kon Laodisea aanstoot neem aan hierdie skerp boodskap. Wat eintlik die dinge waaroor hulle trots was in hulle stad, gebruik om hulle aan te spreek. Wat nog te sê, hulle te herinner aan die water wat hulle geweet het nie lekker gesmaak het nie. Jesus verduidelik egter vir hulle hoekom Hy so skerp is. Want, elkeen wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek! Jesus sê hiermee dat Hy met hulle geassosieer is, dat Hy hulle Here is, en daarom doen Hy die moeite om hulle aan te spreek. Want, dit is wat die Vader met sy kinders doen. Trouens, tugtiging is ‘n teken van God se teenwoordigheid in jou lewe!

Appèl

‘n Mens sou die vraag kon vra, hoekom dié sewe briewe met die brief aan Laodisea af te sluit? Hoekom nie dit só skryf dat ‘n mens die boodskap aan Smirna of Filadelfia in jou gedagte kan hou nie? Die gemeentes wat volhard het, wat getrou was, wat ‘n belofte van oorwinning gekry het, wat ‘n oop deur vir die evangelie gekry het.

Die rede is dat die laaste uitnodiging van Jesus vir alle tye betekenisvol is. Dat Hy eintlik by elke gemeente se deur staan en vra om in te kom. Vir Laodisea sal dit beteken dat hulle weer die warmte van God se teenwoordigheid sal ervaar. Vir Efese sal dit beteken dat hulle die eerste liefde weer herontdek. Vir Sardis sal dit beteken dat hulle weer sal herleef uit hulle gevrekte gemeentewees. Vir Pergamum en Tiatira sal dit beteken dat hulle van die skande van dwaalleer verlos sal word.

Hulle sal ervaar wat vir Smirna en Filadelfia al reeds ‘n werklikheid geword het. Dat die Here reeds daar is juis in hulle vervolging, en hulle die oorwinning sal laat behaal. Dat Hy die deur vir die evangelie oopmaak, soos hulle die deur vir Hom oopgemaak het.

Mag jy die genade ontvang om die klop van Jesus in jou lewe te hoor en Hom in te nooi. Mag julle as gemeente die genade ontvang om die klop van Jesus te hoor, om in sy teenwoordigheid te floreer, en die oop deur van die evangelie na hierdie wêreld te benut.

Chris van Wyk

View all posts in this series

Openbaring, Sewe briewe


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (3)

  • Ja, baie dankie vir verduideliking, dit maak dinge meer duidelik wat so belangrik is om die pad van die Here te loop vir ons elke dag lewe. Die liefde wat alles verander en waarna ons almal soek, wat skynbaar so moeilik is om te vind en tog ook so maklik.

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: