Bybelskool
https://bybelskool.com/geloofsgewoontes/
Export date: Fri Aug 23 2:27:55 2019 / +0000 GMT

Geloofsgewoontes



Drie basiese geloofsgewoontes


Hier is die drie basiese geloofsgewoontes wat deur die eeue gelowiges gehelp het in geloofsvorming.

  1. Die eerste is die daaglikse ondersoek in gebed.

  2. Die tweede is die geestelike lees van die Bybel.

  3. Die derde is die beoefening van die teenwoordigheid van God.


Soos ‘n mens groei in die beoefening van hierdie drie geloofsgewoonte verdiep jou geloof en groei jy in geestelike volwassenheid.

1. Die daaglikse ondersoek in gebed


Die eerste geloofsgewoonte fokus op selfondersoek.

Dit lê jou diepste motiverings en bedoelings in die lewe bloot sodat jy deur God se krag daarvan verlos kan word.  Deur die eeue is daar drie basiese dinge geïdentifiseer wat veral in dié suiweringsproses gebeur.  Jy raak bewus van jou hoogmoed, wellus en gierigheid en word daarvan verlos.

2. Die geestelike lees van die Bybel


Die tweede geloofsgewoonte is die geestelike lees van die Bybel.

Dit laat God se Woord toe om tot in die diepste dele van jou menswees te skyn. Jy lees nie net die Woord vir inligting nie, maar dink ook na oor die praktiese betekenis van die teks vir jou lewe en word deur die Woord gevorm en verander.

3. Die beoefening van die teenwoordigheid van God


Die derde geloofsgewoonte het te make met die ervaring dat God se wil en strewe jou lewe so vol maak dat die lewe vir jou Christus word.

Jy leer om elke dag al hoe meer bewustelik in die teenwoordigheid van die Here te lewe, totdat jou hele lewe deur God gestempel word.

Al drie hierdie geloofsgewoontes is belangrik. 'n Mens kan kies om jou dag af te sluit met die daaglikse ondersoek, die dag te begin met die geestelike lees van die Bybel en deur die dag te fokus op die beoefening van die teenwoordigheid van God. Of jy kan kies om die eerste twee te kombineer in jou stiltetyd (soos ek dit verkies) en steeds die derde geloofsgewoonte te beoefen deur die dag.

Joernaal


Vir al drie hierdie geloofsgewoontes is dit belangrik om een of ander vorm van joernaal te hou.  Dit help jou om jou gedagtes neer te skryf en só op ‘n geestelike reis te gaan met die Here.

‘n Joernaal help jou om gefokusde aandag te gee aan die dinge wat gebeur in jou lewe.  Dit help jou om bewustelik en sistematies te reflekteer oor jou verhouding met die Here. Soos Psalm 16:8 sê: “Ek hou die Here altyd voor oë.”  Dit help jou veral om God se teenwoordigheid en betrokkenheid in jou lewe te begin raaksien.  Benewens die feit dat die neerskryf van jou ervarings jou help om dit te verwoord, vorm dit mettertyd ‘n skriftelike rekord van jou verhouding met God.

‘n Joernaal kan daagliks of weekliks gehou word.  Dit is baie persoonlik en moet aanpas by jou lewensfase of manier van werk.  Soos Adele Calhoun sê: “Journaling is a way for you to be with God and your thoughts, not an exercise in language arts.”  Daarom moet jy dit ook so eerlik as moontlik doen, sodat jy God se pad met jou kan raaksien.  In die periodieke nadenke en refleksie oor wat jy geskryf het, kom jy herhalende temas in jou lewe agter wat jou sal help om jou behoeftes, frustrasies en verwagtinge in lyn met God se doel en wil vir jou lewe te bring (Fil. 4:4-9).

‘n Joernaal is ook veral waardevol wanneer jy deur tye van verandering gaan en dit jou kan help om rigting binne jou veranderende omstandighede te vind.  God is immers betrokke in alles wat met jou gebeur, ook in tye van verandering.  ‘n Joernaal help jou om veral die herhalende patrone en rigting van God se werk in jou lewe raak te sien.

‘n Joernaal kan baie verskillende vorme aanneem.  Hier is ‘n paar idees:

  • Begin deur net jou ervarings daagliks of weekliks neer te skryf.

  • As daar artikels is wat ‘n betekenisvolle impak op jou verhouding met God gehad het, oorweeg om dit te versamel en in jou joernaal te plak met jou kommentaar daarby (in 'n boek of elektronies).

  • Sommige mense vind dat daar gedigte of aanhalings is wat hulle tref en help in hulle reis met God.  Skryf dit neer of plak dit in jou joernaal.

  • Ander mense werk meer visueel en sal baat vind om simbole of grafika van die dinge wat hulle raak in hul reis met God in ‘n joernaal te plaas.

  • Fokus óf op jou private verhouding met God óf op jou persoonlike reis in jou werk of bediening. Jy kan dit ook afwissel of kombineer.

  • Skryf jou gebede in jou joernaal neer.  Dit help jou om God se antwoorde op jou gebede raak te sien.

  • Jy kan ook fokus op dinge waaroor jy dankbaar is– ‘n dankie-sê joernaal (gratitude journal).  Jy kan dit ook met ander reisgenote deel – hetsy in jou familie- of vriendekring.

  • Neem van tyd tot tyd bestek op van wat jy geskryf het, en probeer patrone of fases in jou verhouding met God raaksien.  Bring dit in gebed na die Here en vra vir insig en wysheid.

  • Jy kan só ‘n joernaal ook hou in jou nadenke oor iemand ná aan jou, ‘n kind se gesegdes en ervaringe in die grootword proses, wat ‘n besondere geskenk kan wees as hy of sy mondig word of die volwasse lewe begin.


Hoe jy dit doen, kan baie verskil, maar dat jy dit op een of ander manier doen, is belangrik. Kies dus 'n manier wat vir jou sal werk en kombineer dit met die daaglikse ondersoek óf die geestelike lees van die Bybel.

Kies 'n geloofsgewoonte


Ek stel voor dat jy die geloofsreis as volg doen:

  1. Week een tot twee doen jy elke dag die daaglikse ondersoek soos ek dit voorskryf.

  2. Week drie tot vier konsentreer jy op die geestelike lees aan die hand van die voorbeeld wat ek gee.

  3. Week vyf tot ses konsentreer jy op die beoefening van die teenwoordigheid van God volgens een of meer van die voorbeelde wat ek gee.


Herhaal na ses weke nog twee keer


Na ses weke herhaal jy nog twee keer die proses en gebruik elke twee weke van die ander voorbeelde wat ek by die onderskeie geloofsgewoontes gee. Jy sal agterkom dat daar voorbeelde is wat vir jou beter werk as ander.

Ná jy 18 weke op hierdie reis was, sal die geloofgewoontes goed genoeg ingeoefen wees om dit deel van jou normale geloofsreis te maak.

Begin hier


Klik op die inleiding van die geloofsgewoonte wat jy gaan beoefen om jouself te oriënteer. Daarna klik jy op die skakels hieronder soos jy vorder met die proses. Elke twee weke sal ek 'n ekstra geloofspraktyk laai by elke geloofsgewoonte wat jy dan kan inspan op jou geloofsreis.

Geniet!


Daaglikse ondersoek


Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 1-2. Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 7-8. En die derde een in week 13-14. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.


Geestelike lees


Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 3-4.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 9-10. En die derde een in week 15-16. Ek volstaan met dié drie geloofspraktyke.




Beoefen die teenwoordigheid van God


Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 5-6.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 11-12. En die derde een in week 17-18. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.

Links:
  1. https://bybelskool.com/inleiding-daaglikse-onderso ek/
  2. https://bybelskool.com/daaglikse-ondersoek-stop-ne em-waar-luister/
  3. https://bybelskool.com/gebed-van-die-hart/
  4. https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-vir-el ke-dag/
  5. https://bybelskool.com/daaglikse-of-weeklikse-tye- van-afsondering-en-stilte/
  6. https://bybelskool.com/eenvoud/
  7. https://bybelskool.com/drie-vaste-gebedstye-met-by belteks/
  8. https://bybelskool.com/selfbeheersing/
  9. https://bybelskool.com/inleiding-geestelike-lees-v an-die-bybel/
  10. https://bybelskool.com/eenvoudige-luistersiklus/
  11. https://bybelskool.com/volle-luistersiklus/
  12. https://bybelskool.com/geloofsonderskeiding/
  13. https://bybelskool.com/inleiding-beoefen-die-teenw oordigheid-van-god/
  14. https://bybelskool.com/beoefen-die-teenwoordigheid -van-god/
  15. https://bybelskool.com/geloofsgemeenskap/
  16. https://bybelskool.com/omgee-en-dienslewering/
  17. https://bybelskool.com/bemoediging/
  18. https://bybelskool.com/getuienis/
  19. https://bybelskool.com/vrygewigheid/
Post date: 2018-06-14 11:14:15
Post date GMT: 2018-06-14 09:14:15

Post modified date: 2018-06-16 09:35:54
Post modified date GMT: 2018-06-16 07:35:54

Export date: Fri Aug 23 2:27:55 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com