This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Aug 23 2:29:01 2019 / +0000 GMT

Geloofsgewoontes



Drie basiese geloofsgewoontes

Hier is die drie basiese geloofsgewoontes wat deur die eeue gelowiges gehelp het in geloofsvorming.

  1. Die eerste is die daaglikse ondersoek in gebed.
  2. Die tweede is die geestelike lees van die Bybel.
  3. Die derde is die beoefening van die teenwoordigheid van God.

Soos ‘n mens groei in die beoefening van hierdie drie geloofsgewoonte verdiep jou geloof en groei jy in geestelike volwassenheid.

1. Die daaglikse ondersoek in gebed

Die eerste geloofsgewoonte fokus op selfondersoek.

Dit lê jou diepste motiverings en bedoelings in die lewe bloot sodat jy deur God se krag daarvan verlos kan word.  Deur die eeue is daar drie basiese dinge geïdentifiseer wat veral in dié suiweringsproses gebeur.  Jy raak bewus van jou hoogmoed, wellus en gierigheid en word daarvan verlos.

2. Die geestelike lees van die Bybel

Die tweede geloofsgewoonte is die geestelike lees van die Bybel.

Dit laat God se Woord toe om tot in die diepste dele van jou menswees te skyn. Jy lees nie net die Woord vir inligting nie, maar dink ook na oor die praktiese betekenis van die teks vir jou lewe en word deur die Woord gevorm en verander.

3. Die beoefening van die teenwoordigheid van God

Die derde geloofsgewoonte het te make met die ervaring dat God se wil en strewe jou lewe so vol maak dat die lewe vir jou Christus word.

Jy leer om elke dag al hoe meer bewustelik in die teenwoordigheid van die Here te lewe, totdat jou hele lewe deur God gestempel word.

Al drie hierdie geloofsgewoontes is belangrik. 'n Mens kan kies om jou dag af te sluit met die daaglikse ondersoek, die dag te begin met die geestelike lees van die Bybel en deur die dag te fokus op die beoefening van die teenwoordigheid van God. Of jy kan kies om die eerste twee te kombineer in jou stiltetyd (soos ek dit verkies) en steeds die derde geloofsgewoonte te beoefen deur die dag.

Joernaal

Vir al drie hierdie geloofsgewoontes is dit belangrik om een of ander vorm van joernaal te hou.  Dit help jou om jou gedagtes neer te skryf en só op ‘n geestelike reis te gaan met die Here.

‘n Joernaal help jou om gefokusde aandag te gee aan die dinge wat gebeur in jou lewe.  Dit help jou om bewustelik en sistematies te reflekteer oor jou verhouding met die Here. Soos Psalm 16:8 sê: “Ek hou die Here altyd voor oë.”  Dit help jou veral om God se teenwoordigheid en betrokkenheid in jou lewe te begin raaksien.  Benewens die feit dat die neerskryf van jou ervarings jou help om dit te verwoord, vorm dit mettertyd ‘n skriftelike rekord van jou verhouding met God.

‘n Joernaal kan daagliks of weekliks gehou word.  Dit is baie persoonlik en moet aanpas by jou lewensfase of manier van werk.  Soos Adele Calhoun sê: “Journaling is a way for you to be with God and your thoughts, not an exercise in language arts.”  Daarom moet jy dit ook so eerlik as moontlik doen, sodat jy God se pad met jou kan raaksien.  In die periodieke nadenke en refleksie oor wat jy geskryf het, kom jy herhalende temas in jou lewe agter wat jou sal help om jou behoeftes, frustrasies en verwagtinge in lyn met God se doel en wil vir jou lewe te bring (Fil. 4:4-9).

‘n Joernaal is ook veral waardevol wanneer jy deur tye van verandering gaan en dit jou kan help om rigting binne jou veranderende omstandighede te vind.  God is immers betrokke in alles wat met jou gebeur, ook in tye van verandering.  ‘n Joernaal help jou om veral die herhalende patrone en rigting van God se werk in jou lewe raak te sien.

‘n Joernaal kan baie verskillende vorme aanneem.  Hier is ‘n paar idees:

Hoe jy dit doen, kan baie verskil, maar dat jy dit op een of ander manier doen, is belangrik. Kies dus 'n manier wat vir jou sal werk en kombineer dit met die daaglikse ondersoek óf die geestelike lees van die Bybel.

Kies 'n geloofsgewoonte

Ek stel voor dat jy die geloofsreis as volg doen:

  1. Week een tot twee doen jy elke dag die daaglikse ondersoek soos ek dit voorskryf.
  2. Week drie tot vier konsentreer jy op die geestelike lees aan die hand van die voorbeeld wat ek gee.
  3. Week vyf tot ses konsentreer jy op die beoefening van die teenwoordigheid van God volgens een of meer van die voorbeelde wat ek gee.

Herhaal na ses weke nog twee keer

Na ses weke herhaal jy nog twee keer die proses en gebruik elke twee weke van die ander voorbeelde wat ek by die onderskeie geloofsgewoontes gee. Jy sal agterkom dat daar voorbeelde is wat vir jou beter werk as ander.

Ná jy 18 weke op hierdie reis was, sal die geloofgewoontes goed genoeg ingeoefen wees om dit deel van jou normale geloofsreis te maak.

Begin hier

Klik op die inleiding van die geloofsgewoonte wat jy gaan beoefen om jouself te oriënteer. Daarna klik jy op die skakels hieronder soos jy vorder met die proses. Elke twee weke sal ek 'n ekstra geloofspraktyk laai by elke geloofsgewoonte wat jy dan kan inspan op jou geloofsreis.

Geniet!

Daaglikse ondersoek

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 1-2. Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 7-8. En die derde een in week 13-14. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.

View all posts in this series

Geestelike lees

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 3-4.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 9-10. En die derde een in week 15-16. Ek volstaan met dié drie geloofspraktyke.

View all posts in this series

Beoefen die teenwoordigheid van God

Lees die inleiding hieronder en fokus op die eerste geloofspraktyk in week 5-6.  Herhaal met die tweede een wanneer ek dit plaas in week 11-12. En die derde een in week 17-18. Ek gee daarna ook ekstra geloofspraktyke indien jy nog verder wil werk hieraan.

View all posts in this series

 

 


Post date: 2018-06-14 11:14:15
Post date GMT: 2018-06-14 09:14:15
Post modified date: 2018-06-16 09:35:54
Post modified date GMT: 2018-06-16 07:35:54

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com