Galasiërs 3:15-29 – Elkeen wat aan Christus behoort, is erfgename ooreenkomstig die belofte

14 Junie

Galasiërs 3:15-29 – Elkeen wat aan Christus behoort, is erfgename ooreenkomstig die belofte

15Broers, ek noem ‘n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. 16En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat ‘n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat ‘n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is Christus. 17Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. 18Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur ‘n belofte geskenk. 19Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredings; dit is gegee totdat die Saad sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele en deur die tussenkoms van ‘n middelaar. 20‘n Middelaar beteken egter dat daar nie net een betrokke is nie; maar God is één! 21Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar ‘n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die vryspraak eintlik op grond van die wet kon geskied. 22Maar die Skrif het alles onder die sonde ingesluit, sodat die belofte wat op geloof in Jesus Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo. 23Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingesluit met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. 24Die wet was dus ons oppasser, met die oog op Christus, sodat ons deur geloof geregverdig kon word. 25Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van ‘n oppasser nie. 26Want deur die geloof is julle almal kinders van God in Christus Jesus, 27want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek. 28Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer manlik en vroulik nie; want julle almal is één in Christus Jesus! 29En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.

Paulus het die hoofstuk begin deur die Galasiërs te herinner aan hoe dit gekom het dat hulle deel van die geloofsgemeenskap geword het. Hulle was heidene, nie wetsgehoorsame Jode nie. Hulle het dus sonder die wet net deur geloof in Christus alleen tot bekering gekom. Met ‘n aanhaling uit Genesis 12:7 in vers 16 (vgl soortgelyke ooreenkomste in Gen 13:15; 17:7; 24:7) argumenteer Paulus dat dit moontlik was omdat die verbond van Abraham bó die wet in rangorde geld. Want, dit was op geloof en vertroue gebaseer. Hy koppel dit aan ‘n voorbeeld uit die daaglikse lewe, dié van iemand se testament. Nadat dit bekragtig is, kan niemand dit ongeldig maak of bepalings byvoeg nie. Dit is geldig en die enigste basis van beoordeling vir wat met die bemakings uit die testament kan gebeur. En volgens Genesis 12:7 word daar in die enkelvoud van Abraham se saad gepraat, en hoewel ‘n mens dit as nakomelinge kan vertaal, om sin te maak daarvan in Genesis, kan Paulus met reg sê, die eintlike bedoeling van Genesis is om van Een Nakomeling te praat, en dít is Christus, die ware Nakomeling van Abraham. Die verbond is dus van krag in die Een Nakomeling, dit is Christus. Die wet wat daarna gegee is, kan nie die testament van God wat in Jesus Christus van krag word, tot niet maak nie. Die wet kan nie die genade wat God aan Abraham deur ‘n belofte toegesê het, vervang nie. Elkeen wat dus in Christus glo, is deel van die verbond met Abraham en daarom erfgename van die beloftes van God.

So watter rol speel die wet dan? Wel, sê Paulus, die wet was bedoel as ’n tydelike maatreël totdat hierdie nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang. “Die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.” Die wet was ‘n noodsaaklikheid weens die sonde. Dit was gegee as ‘n toesighouer, as ‘n oppasser, as ‘n begeleier om gelowiges te help kies tussen goed en kwaad, tussen wat die Here se goedkeuring wegdra en wat teen sy wil was. Die wet was daarom nie in stryd met die beloftes van God wat deur geloof ontvang kon word nie. “Hoegenaamd nie!” sê Paulus. Die wet was net nie genoeg nie, weens die sondigheid van die mense. Die wet kon nie keer dat mense steeds afdraai van die pad wat God vir hulle aangedui het. Hulle het die heinings langs die pad geïgnoreer en verwerp en selfs verander sodat hulle kon leef volgens hulle eie begeertes. Net Christus kon die ware vryheid bring waarin ‘n mens God se wil nie nakom omdat daar ‘n geen-toegang bordjie op die heinings langs die pad geplaas is nie, maar omdat hulle van binne af deur Christus skoongemaak sou word deur sy vergifnis en verlossing. Die wet se funksie as ‘n beperker van die boosheid – soos Calvyn daaroor gepraat het – het dus in Christus onnodig geraak. Waar die wet dít wat jy in jou binneste wou doen, gekeer het, as jy jou daaraan gesteur het, maar niks kon doen om die begeerte na die sonde uit te wis nie, het geloof in Christus vir ons daardie vryheid kom gee. Calvyn sou aangaan om te sê dat almal wat in geloof in Christus van binne af gereinig is, sal daarom inderdaad die wet kan nakom, maar nie langer as ‘n manier om die sonde te beperk nie, maar as ‘n manier om in dankbaarheid in alles te leef soos God wil. Nie omdat jy bang is vir die wet nie, maar omdat jy vry is van die sonde wat jou liefde vir God en jou naaste aan bande gelê het.

Die wonderlike waarheid van die Christendom is dat ons: “almal kinders van God is deur die geloof in Christus Jesus.” Daarvan is ons doop ‘n teken. Daarvan is ons lewe in Christus ‘n teken: “want ons wat in Christus gedoop is, het Christus soos ‘n kleed aangetrek.” Die doop is die seël van ons inlywing in die liggaam van Christus, maak nie saak op watter tyd dit gebeur het nie. Ons lewe in Christus is die teken van ons inblywing in die liggaam van Christus. En omdat ons gedoop is en omdat ons in die Here Jesus Christus lewe, kan ons saam met Paulus die wonderlike werklikheid vier: “Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus!” En op die koop toe: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte erfgename.

Lees meer (preek): https://bybelskool.com/galasiers-3-ons-is-kinders-van-god-deur-geloof-sola-fide/

Beloftes


Chris van Wyk

Ek is gemeenteleraar by Somerstrand gemeente, Port Elizabeth. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am pastor at Summerstrand congregation, Port Elizabeth. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments (2)

Maak 'n opmerking

%d bloggers like this: