Bybelskool
https://bybelskool.com/galasiers-3-ons-is-kinders-van-god-deur-geloof-sola-fide/
Export date: Wed Dec 19 13:15:31 2018 / +0000 GMT

GALASIËRS 3 – Ons is kinders van God deur geloof – Sola Fide




Maarten Luther skryf oor Paulus se skerp en sarkastiese toon in hoofstuk 3 dat ‘n mens ‘n soort “afstand en koelheid” opmerk by hom. Hy noem hulle nie sy broers en susters soos hy gewoonlik doen nie. Hy spreek hulle as “Galasiërs” aan om hulle te herinner aan hulle dwaasheid in geloof.  Hy wonder wie hulle “getoor het” om van die ervaring van die Gees se krag in hulle lewens wat deur geloof werk te eindig by die dwaasheid om deur die wet te probeer om hulle vlees in toom te hou.  Dit sal mos nooit werk nie!

Die rede vir sy skerp toon is dat dit nou maar eenmaal só is dat daar telkens slegte dinge is wat aan individuele Christene en selfs hele gemeentes bly vasklou. Die feit dat ‘n mens die genade van die Here ervaar het, verander jou nie skielik in 'n nuwe en perfekte skepsel nie. Dele van die ou natuur en sy korrupte geaardheid bly voortbestaan. Die Gees van God kan nie alle menslike gebreke in jou met een slag oorwin nie. Heiligmaking duur tyd.

En dan kan jy die verkeerde keuse maak.  Jy kan dink dat die wet jou gaan help.  Maar Paulus wil dié gedagte in die kiem smoor.  Vandaar die beklemtoning van geloof as die enigste manier nie net om jou verhouding met God te herstel nie, maar ook op die pad van heiligmaking te vorder.

Kom ons lees wat Paulus hieroor skrywe:


Die Galasiërs se eerste ervaring van die evangelie

1 O, julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor? Julle voor wie se oë Jesus Christus so duidelik as gekruisigde geteken is! 2 Net dit wil ek van julle weet: Het julle die Gees ontvang op grond van die nakoming van die wet of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het? 3 Is julle so dwaas? Julle het met die krag van die Gees begin; gaan julle nou met menslike krag eindig? 4 Het julle vergeefs soveel beleef? Indien wel, dan was dit inderdaad tevergeefs! 5 Gee Hy dan vir julle die Gees en verrig Hy kragtige dade onder julle op grond van die nakoming van die wet of op grond van julle geloof in wat julle gehoor het?

Die Skrif bewys die evangelie

6 Soos van Abraham gesê is: “Abraham het God geglo en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” 7 So moet julle besef: Die mense wat op geloof staatmaak, is kinders van Abraham. 8 En omdat die Skrif dit vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek, het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.” 9 Daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën. 10 Trouens, diegene wat op die nakoming van die wet staatmaak, val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie by alles wat in die boek van die wet geskryf staan, hou en dit uitvoer nie.”  11 En dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig word nie, is duidelik, want: “Wie geregverdig is op grond van geloof, sal leef.” 12 En die wet is nie gegrond op geloof nie; inteendeel: “Wie dit nakom, sal daardeur leef.”  13 Christus het ons vrygekoop van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” 14 Die doel was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus na die nasies sou gaan, en dat ons die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Die voorrang van die verbond bo die wet

15 Broers, ek gee 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. 16 En die beloftes is aan Abraham en sy Nakomeling toegesê. Daar staan nie “en aan die nakomelinge” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Nakomeling” —dit is Christus. 17 Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos en daardeur die belofte tot niet nie. 18 Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het vir Abraham deur 'n belofte begenadig.

Die voorrang van die geloof bo die wet

19 Hoekom dan die wet? Die wet is bygevoeg met die oog op die oortredinge; dit is gegee totdat die Nakomeling sou kom aan wie die belofte gemaak is; dit is beskik deur middel van engele, deur die tussenkoms van 'n middelaar. 20 Maar 'n middelaar beteken dat daar nie net een betrokke is nie, en God is tog één!  21 Is die wet dan in stryd met die beloftes van God? Hoegenaamd nie! Want as daar 'n wet gegee sou wees wat lewend kon maak, sou die vryspraak in der waarheid op grond van die wet kon geskied. 22 Maar die Skrif het alles onder die sonde ingeperk sodat die belofte wat op geloof in Jesus Christus gegrond is, gegee kon word aan diegene wat glo.  23 Voordat hierdie geloof gekom het, was ons onder die toesig van die wet, ingeperk met die oog op die geloof wat in die toekoms geopenbaar sou word. 24 Die wet was dus ons oppasser met die oog op Christus, sodat ons deur geloof vrygespreek kon word. 25 Maar noudat die geloof gekom het, staan ons nie meer onder die toesig van 'n oppasser nie.

Gelowiges is kinders en erfgename van God

26Julle is immers almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus, 27 want julle wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek. 28 Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus! 29 En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte erfgename.   (BDV)

Wie het julle getoor met die wet?

Paulus begin met 'n skoot sarkasme om die Galasiërs te ruk uit hulle onbegrip: “Wie het julle getoor?”  Want Paulus kan dit doodgewoon nie glo dat mense wat deur geloof in Jesus Christus die wonder van die Heilige Gees ontvang, só afvallig kan raak dat hulle by gehoorsaamheid aan die wet kan eindig nie.  In hoofstuk 5 sal hy die ander kant beklemtoon dat mense nie by die genade moet begin en weer by die sonde moet eindig nie.

In hoofstuk 2 het hy vir hulle gewys dat Titus nie besny is nie, want sy geloof in die Here Jesus Christus was genoeg.  Hy het vir hulle van sy publieke teenstand vertel teen die skynheiligheid van Petrus en Barnabas wat ewe skielik soos Jode begin optree het, toe van die Jode hulle neuse opgetrek het vir die etes saam met gelowiges uit die heidene.  En hy het vir hulle ook vertel van die heerlike werklikheid van Jesus Christus wat in hulle woon en wat só ‘n werklikheid is dat dit is asof hulle nie meer leef nie, maar Christus in hulle.

Dit is die gedeelde ervarings van alle gelowiges.  Dat Jesus in ons kom woon. Dat ons die krag van die Gees ontvang.

Maar hoe op aarde, sê Paulus, kan julle dink dat dit deur die gehoorsaamheid aan die wet kan gebeur?  Die wet is ‘n belangrike deel van die Bybel.  Dit het ‘n baie belangrike funksie, soos hy verder op sal uitbrei in vers 19-25, veral in die funksie as ‘n toesighouer en oppasser sodat ons die wonder van Christus nie sal mis nie.

Die wet is soos twee heinings langs die pad wat keer dat ‘n mens nie van die pad na en saam met Christus afwyk nie.  Maar die wet kan jou nie die werklikheid van Christus gee nie.  Net geloof kan dit doen.

God se werk in hulle het 'n werklikheid geword deur die geloof en die krag van die Heilige Gees, nie deur die wet of hulle eie krag nie.  Die krag van die evangelie het in hulle lewens losgebars deur hulle geloof in Christus.  Sola fide.

Paulus herinner hulle aan hulle eerste ervaring van geloof

Ek weet nie hoe gereeld jy terugdink aan jou eerste ervaring van geloof nie.  Maar, dit is wat Paulus hier met die Galasiërs doen. Dink ‘n bietjie terug hoe dit gekom het dat julle deel van die geloofsgemeenskap geword het.  Julle was heidene, nie wetsgehoorsame Jode nie.  En julle het die boodskap van die Here Jesus Christus as gekruisigde omarm en die vergifnis en nuwe lewe wat Hy gee omhels.  En julle die Heilige Gees ontvang en die pad saam met ons begin loop. Ons kan selfs ook van die verhale lees in Handelinge 13-14.

Jy kan self terugdink aan jou eerste ervaring van die Here Jesus Christus.  Ek kan jou wed dat dit nie was omdat jy die wet gehoorsaam het nie.  Dit sal eerder wees dat jy bewus geword het van jou sonde deurdat jy juis nie die wet kon hou nie, en genade en vergifnis nodig gehad het.  En toe jy in geloof jou vertroue op die Here Jesus Christus geplaas het, toe het daar ‘n las van jou skouers afgeval, die wete dat Hy jou vergewe het, dat Hy nou in jou kom woon, dat Hy nou jou metgesel word, dat Hy van nou af jou Here en Leidsman sal wees.

En dit is so belangrik om hieraan herinner te word, want anders eindig jy met die krag van jou menslike vlees, en ontbeer jy die krag van die Heilige Gees wat aan jou gegee is vanweë jou geloof en vertroue in die Here Jesus Christus.

Natuurlik het jou bekering ingesluit dat jy begin het om die Here Jesus te volg en sy woorde ter harte te neem, en jy het die Woord begin lees en vanuit die beloftes daarin begin leef.  Maar jou saligheid was nie afhanklik van jou gehoorsaamheid aan die wet nie.  Dit was iets wat God vir jou gegee het dié dag toe jy begin glo het in die Here Jesus Christus.

Skrifberoep bepaal ons geloof

Paulus bly egter nie net by hulle ervaring van geloof nie. Want, dit is subjektief.  Nee, hy gebruik ses aanhalings uit die Skrif om vir hulle die waarheid daarvan te onderstreep.  Hy is terdeë bewus van die valse evangelie wat van die Joodse dwaalleraars versprei en wou hulle dwase Skrifgebruik aan die kaak stel, sodat hy hulle kan troef met ‘n verantwoorde Skrifgebruik.

Volg dit saam met my in die Bybel:

1.  In vers 6 haal Paulus uit Genesis 15:6 aan: “Abraham het God geglo en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Hy wou teenoor die Joodse skynheiliges beklemtoon dat geloof die beginpunt is van ‘n verhouding met God, nie die wet nie.  Hy wou hê hulle moet besef dat die mense wat op geloof staatmaak, in der waarheid die kinders van Abraham is.

Sy teenstanders het daarteenoor geleer – heel moontlik op grond van Gen. 17:13 – dat dit nie net om die geloof gaan nie, maar ook en veral oor die besnydenis; dat die besnydenis 'n “blywende verbond” is wat ook deur die heidene nagekom moet word, soos dit daar inderdaad staan.

Maar Paulus troef dit deur ook uit Genesis aan te haal, maar uit ‘n vroeër teks, uit Genesis 15:6, waar Abraham se geloof vóór sy besnydenis aangehaal word.  Die gebeurtenis gaan na sy mening die verhaal van Genesis 17 oor die besnydenis vóóraf en is daarom van meer deurslaggewende betekenis!

In Romeine 4:13 vv. sou Paulus nog meer hieroor skrywe om dié punt finaal te onderstreep.  Paulus beklemtoon dus dat geloof 'n belangriker respons is as die nakoming van die besnydenis, geïllustreer in die lewe van Abraham: “dié wat glo, (is) kinders van Abraham”.

2.  In vers 8 haal hy die Skrif uit Genesis 12:3 aan wat volgens hom vooruit gesien het dat God die heidene op grond van geloof sou vryspreek. Daarom het die Skrif die evangelie reeds vooraf aan Abraham verkondig: “In jou sal al die nasies geseën word.”  En daarom word die mense wat glo, saam met die gelowige Abraham geseën.

3.  In vers 10 haal hy uit Deuteronomium 27:26 aan wat dié gedagte bevestig dat diegene wat op die nakoming van die wet staatmaak, eintlik val onder 'n vloek, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat nie by alles wat in die boek van die wet geskryf staan, hou en dit uitvoer nie.” Jy is dus gedoem as jy die wet probeer nakom.

4.  In vers 11 haal hy uit Habakuk 2:4 aan wat dié gedagte nog verder onderstreep dat niemand op grond van die wet voor God geregverdig kan word nie, want die profeet het verkondig: “Wie geregverdig is op grond van geloof, sal leef.” Die lewe lê in die geloof, nie in die wet opgesluit nie.

5.  In vers 12 haal hy uit Levitikus 18:5 aan en onderstreep verder dat die wet teenoor die geloof staan, en daarom nie daarop gegrond kan wees nie, want die wet kan nie vir jou die oorvloed van lewe gee wat die geloof in Jesus Christus kan nie. Sy stelling uit Levitikus kan eintlik vir albei, die wet en die geloof, geld: “Wie dit nakom, sal daardeur leef.” As jy die wet nakom, is dit al wat jy het, en jy sal daardeur leef, of meer korrek, daardeur sterf, omdat daar ‘n vloek rus op elkeen wat die wet probeer nakom en nie daarin slaag nie.  Net Jesus Christus kon dit doen.  Daarom is die geloof die enigste manier om die vloek van die wet te ontglip.

6.  In vers 13 haal hy uit Deuteronomium 21:23 aan waarmee hy die wonderlike waarheid verkondig dat Christus ons vrygekoop het van die vervloeking van die wet toe Hy vir ons vervloek is, want daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang.” Die doel daarmee was dat die seën wat Abraham ontvang het in Christus Jesus na die nasies sou gaan, en dat almal die Gees wat beloof is, deur die geloof sou ontvang.

Dít is die wonderlike werklikheid van geloof.  En niemand moet julle anders leer nie, sê Paulus. En julle moet niemand glo wat nie met hierdie konsekwente boodskap van die Bybel werk nie.  Jy hoef nie geleerd te wees om dié dinge te verstaan nie.  Dit is helder in die Skrif.

Die voorrang van die verbond bo die wet

Maar Paulus is nie klaar nie.  Hy weet dat hulle nog meer ammunisie nodig het om die Joodse dwaalleraars die hoof te bied.  Daarom gee hy hulle nog ‘n aanhaling in vers 16, dié keer uit Genesis 12:7 (vgl. soortgelyke ooreenkomste in Gen. 13:15; 17:7; 24:7).  En dié keer argumenteer hy dat die verbond bó die wet in rangorde geld.  Hy koppel dit aan 'n voorbeeld uit die daaglikse lewe, dié van iemand se testament.  Nadat dit bekragtig is, kan niemand dit ongeldig maak of bepalings byvoeg nie.  Dit is geldig en die enigste basis van beoordeling vir wat met die bemakings uit die testament kan gebeur.

En volgens Genesis 12:7 word daar in die enkelvoud van Abraham se saad gepraat, en hoewel ‘n mens dit as nakomelinge kan vertaal, om sin te maak daarvan in Genesis, kan Paulus met reg sê, die eintlike bedoeling van Genesis is om van Een Nakomeling te praat, en dít is Christus, die ware Nakomeling van Abraham.

Die verbond is dus van krag in die Een Nakomeling, dit is Christus. Die wet wat daarna gegee is, kan nie die testament van God wat in Jesus Christus van krag word, tot niet maak nie.  Die wet kan nie die genade wat God aan Abraham deur ‘n belofte toegesê het, vervang nie.

Watter rol speel die wet dan?

Paulus weet dat dit daarom noodsaaklik is om die rol van die wet uit te spel, want as die verbond geldig is sonder die wet, en die geloof ‘n mens deel van God se verbond maak, hoekom was die wet dan nodig?

En onthou, vir die gelowiges uit die Joodse volk was dit geen klein saak nie, want hulle identiteit as die Godsvolk was letterlik op die spel, in terme van die unieke kenmerke wat hulle gemeenskapslewe gekenmerk het: die besnydenis, die reinheidswette veral rondom hulle dieet, en die nakoming van feeste veral die Sabbat.

Paulus weet egter dat sulke argumente die dood in die pot is vir geloof in God onder die heidennasies.  As jy eers 'n Jood moet word voor jy regtig 'n Christen kan wees, word die sentrale betekenis van die Christus-evangelie versaak en word nie net 'n kulturele kenmerk 'n voorwaarde vir geloof  gemaak nie, maar word wetsgehoorsaamheid beklemtoon bo die genade wat deur die geloof werk.

En dit kan nie.  Dit rand die betekenis van die vryheid wat Christus gebring het van die wet in sy wese aan.  En dit maak van die Christelike geloof 'n eksklusiewe Joodse beweging wat nie universele impak kan hê nie, omdat dit nie die heidennasies kan insluit nie.

So watter rol speel die wet dan?  Wel, sê Paulus, die wet was bedoel as 'n tydelike maatreël totdat hierdie nakomeling, Christus, die vryspraak van die vloek van die wet sou bring, en almal dit deur die geloof kon ontvang.  “Die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van die geloof in Jesus Christus.

Die wet was ‘n noodsaaklikheid weens die sonde.  Dit was gegee as ‘n toesighouer, as ‘n oppasser, as ‘n begeleier om gelowiges te help kies tussen goed en kwaad, tussen wat die Here se goedkeuring wegdra en wat teen sy wil was.

Die wet was daarom nie in stryd met die beloftes van God wat deur geloof ontvang kon word nie.  “Hoegenaamd nie!” sê Paulus.  Die wet was net nie genoeg nie, weens die sondigheid van die mense.  Die wet kon nie keer dat mense steeds afdraai van die pad wat God vir hulle aangedui het.  Hulle het die heinings langs die pad geïgnoreer en verwerp en selfs verander sodat hulle kon leef volgens hulle eie begeertes.

Net Christus kon die ware vryheid bring waarin ‘n mens God se wil nie nakom omdat daar ‘n geen-toegang bordjie op die heinings langs die pad geplaas is nie, maar omdat hulle van binne af deur Christus skoongemaak sou word deur sy vergifnis en verlossing.

Die wet se funksie as ‘n beperker van die boosheid – soos Calvyn daaroor gepraat het – het dus in Christus onnodig geraak.  Waar die wet dít wat jy in jou binneste wou doen, gekeer het, as jy jou daaraan gesteur het, maar niks kon doen om die begeerte na die sonde uit te wis nie, het geloof in Christus vir ons daardie vryheid kom gee.

Calvyn sou aangaan om te sê dat almal wat in geloof in Christus van binne af gereinig is, sal daarom inderdaad die wet kan nakom, maar nie langer as ‘n manier om die sonde te beperk nie, maar as ‘n manier om in dankbaarheid in alles te leef soos God wil.  Nie omdat jy bang is vir die wet nie, maar omdat jy vry is van die sonde wat jou liefde vir God en jou naaste aan bande gelê het.

Paulus sou nog verder hieroor skryf in Romeine 1-8 en nog meer uitbrei oor die wonderlike werk van die Heilige Gees om ons in die vryheid wat God gee, te laat lewe, soos hy wel in Galasiërs 5 sou begin aanroer het.  En hy sou later vir Timoteus in sy eerste pastorale brief nog meer sê oor die positiewe funksie van die wet, iets wat ‘n neerslag gevind het in ons eie belydenisskrifte, veral in Nederlandse Geloofsbelydenis 25 en die derde deel van die Heidelbergse Kategismus.

Maar dit is genoeg vir nou.  Paulus se punt is gemaak.  En hy sluit sy oorsig oor die voorrang van geloof af met ‘n ongelooflike boodskap in vers 26-29.

Gelowiges is kinders en erfgename van God

Die wonderlike waarheid van die Christendom is dat ons: “almal kinders van God is deur die geloof in Christus Jesus.”  Daarvan is ons doop ‘n teken.  Daarvan is ons lewe in Christus ‘n teken: “want ons wat in Christus gedoop is, het Christus soos 'n kleed aangetrek.”  Die doop is die seël van ons inlywing in die liggaam van Christus, maak nie saak op watter tyd dit gebeur het nie.  Ons lewe in Christus is die teken van ons inblywing in die liggaam van Christus.

En omdat ons gedoop is en omdat ons in die Here Jesus Christus lewe, kan ons saam met Paulus die wonderlike werklikheid vier: “Daar is nou nie meer Jood of Griek, nie meer slaaf of vryman, nie meer man of vrou nie, want julle almal is één in Christus Jesus!

En op die koop toe: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle nakomelinge van Abraham en ooreenkomstig die belofte erfgename.

Die praktiese implikasie hiervan is geweldig. 

Dit is nie meer die besnydenis wat die onderskeidende teken van die Godsvolk is nie.  Daardie rol word nou deur geloof vervul.  Elkeen wat glo, behoort aan Christus en is daarom nakomelinge van Abraham en deel van die verbondsbeloftes van God.

Dit beteken ook dat in Christus is almal één.  Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie.  In Christus Jesus is almal nou één.

Die oomblik as jy in die vryspraak deur die geloof gedeel het, is jy ook in gemeenskap met elke ander mens wat in die vryspraak van die geloof gedeel het.  En daar is geen onderskeid nie.  Ras of etnisiteit of taal of sosiale status of geslagtelikheid is nie meer bepalende elemente in ons Christelike identiteit nie, net die geloof in Christus Jesus.  'n Mens kan dit nie sterk genoeg sê nie: In Christus Jesus is almal één!

En heiligmaking word nie deur gehoorsaamheid aan die wet bereik en bewerk nie, slegs deur die geloof in die Here Jesus Christus en in die begeleiding van die Heilige Gees om die werke van die vlees dood te maak en Hom toe te laat om die vrug van die Gees in jou aan die werk te sit, dít waaroor hoofstuk 5 en 6 gaan uitbrei.

Sola fide!
Post date: 2017-05-29 10:00:15
Post date GMT: 2017-05-29 08:00:15

Post modified date: 2017-05-29 07:24:42
Post modified date GMT: 2017-05-29 05:24:42

Export date: Wed Dec 19 13:15:31 2018 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com