Ester 9-10
God red die Jode deur die leierskap van Mordegai en Ester
Die dertiende dag van Adar breek toe aan met die tafel gedek vir grootskaalse oorlog. Omdat die Jode egter voorbereid was, kon hulle weerstand bied en het hulle hul vyande oorweldig. Niemand kon voor hulle standhou nie.
Een van die redes vir die omkeer van die situasie was natuurlik dat Mordegai nou ‘n hoë posisie aan die hof van die koning beklee het en hy mag oor die goewerneurs van die provinsies gehad het. Trouens dit het bekend geword dat hy al hoe meer mag kry. Niemand wou dus van hom ’n vyand maak nie en al die leiers, verteenwoordigers, goewerneurs en ander in diens van die koning het die Jode daarom uitgelos oral in die 127 provinsies waar hulle in beheer was.
Daar was egter steeds gevegte. Selfs in die vestingstad Susan het die Jode vyf honderd man doodgemaak, waaronder lede van die familie van Haman. Interessant genoeg word daar ’n paar keer gesê dat die Jode nie op die oorwonne vyande se besittings beslag gelê het nie.
Selfs die koning het ’n heilige ontsag gekry vir die weerstand van die Jode, sodat hy vir Ester sê: “Is daar iets wat jy nog wil vra? Dit sal aan jou gegee word. Het jy ‘n verdere versoek? Dit sal uitgevoer word.” Dit illustreer sy wispelturigheid en beginselloosheid. Hy is eintlik maar net besorg oor homself en hoe dinge homself gaan raak.
Ester is egter nie links nie en vra dat die Jode in Susan nog ’n dag toegelaat word om hulle self te verdedig, waarskynlik omdat sy meer eerstehandse kennis gehad het van die weerstand wat hulle daar ondervind het. Sy vra ook dat ’n voorbeeld gemaak word van die tien seuns van Haman wat eintlik alreeds doodgemaak is, maar nou ook verder verneder word deur hulle aan die galg te laat ophang.
Nog drie honderd man is daarom in Susan doodgemaak, maar weereens nie op hulle besittings beslag gelê nie. In totaal is vyf en sewentig duisend man doodgemaak in die Jode se verdedigingsproses reg deur die ryk.
Die 14de dag (15de dag in Susan, omdat hulle oorlog langer geduur het) is daarom ’n dag van feesviering en vreugde gemaak, weens die noue ontkoming van die Jode. Uit vreugde het hulle ook die gebruik gevestig dat dit ’n feesdag is waarop hulle aan mekaar eetgoed stuur uit dankbaarheid vir die oorwinning.
Die Purimfees
Mordegai het hierdie feesdag geformaliseer deur al die gebeure te laat neerskryf (hy is daarom ook waarskynlik die skrywer van die boek Ester) en briewe te stuur aan al die Jode in al die provinsies van koning Ahasveros, naby en ver, en die Jode te gelas om voortaan elke jaar die veertiende en die vyftiende van die maand Adar te vier as dae waarop die Jode die bedreiging deur hulle vyande afgeweer het. Dit is ook bevestig deur ’n brief van Ester. Die Jode moes hierdie twee dae, dae van feesviering en vreugde maak, en aan mekaar eetgoed en aan die armes geskenke stuur. Dit het toe só ‘n vaste gebruik geword, iets wat vandag nog só gevier word.
Daar was ook ’n geestelike kant met voorskrifte oor hoe hulle moes vas en na God om hulp moes roep. Eintlik staan daar in die gebruikte grondteks nie die woord God nie, maar wel die volgende sin: “soos hulle vir hulself en hul nageslag die voorskrifte aangaande die vastyd en die daarby behorende weeklag vasgestel het.” Die weeklag het natuurlik met God te make, maar dit word nie eksplisiet só gestel nie.
Een van die voorskrifte vir die fees is dat die boek Ester telkens voorgelees moet word om die geskiedenis in hulle geheue te verfris. Daarby is een van die tradisies dat die Jode geleer word om elke keer dat Haman se naam genoem word, uit te roep: “Vervloek is Haman!” Elke keer wat Mordegai se naam gelees is, moet hulle uitroep: “Geseënd is Mordegai!” Die voorskrif lui verder, dat daar op dié fees baie wyn gedrink mag word, om die waarheid te sê, soveel wyn, het die rabbi’s gesê, totdat niemand meer die verskil sou ken tussen “vervloek is Haman” en “geseënd is Mordegai” nie. Kan jy nou meer!
Die boek sluit af met ’n paar verdere mededelings oor Ahasveros se regering, gekenmerk deur dwangarbeid, asook oor Mordegai se hoë pos, die tweede in bevel onder die koning, soos in die annale van die konings van Medië en Persië aangeteken is: “Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.”
Die boodskap van die boek
Die diepste indruk wat die boek op my laat, is dat God op ongelooflike fyn beplande maniere teenwoordig is in alles wat rondom ons en met ons gebeur. Soos Richard Niebuhr sê: “God is acting in everything that is happening to you. So respond to everything that happens as if to respond to God’s action” (Responsible Self). Dit is ’n baie raak beskrywing van wat ons in dié boek Ester aantref, al word God se naam nie een keer eksplisiet genoem nie.
God se hand is in alles teenwoordig, verborge en amper onopvallend, maar werklik en deurslaggewend. Hy laat die regte ding op die regte tyd gebeur, want Hy wil: “alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet.” (Rom 8:28). Dit doen hy deur omstandighede, onverwagte wendinge en die keuses van mense, ook jou eie keuses. Ons noem dit God se voorsiening. Hy IS die voorsienigheid! Buitengewone toevallighede is eintlik Godsvallighede!
Die boek leer ons ook hoe EEN persoon ’n verskil kan maak. Dit is ten diepste wat leierskap is, die besluit om ’n verskil te maak en dit uit te voer al bars die bottel. God gebruik ons waar ons is, al is ons alleen. Dit help natuurlik om ’n ondersteuningsnetwerk te hê soos Mordegai dit vir Ester is. En daar is dinge wat Ester kon doen, wat Mordegai nie kon nie en omgekeerd. Maar een mens wat doen wat God vra, wat met oorleg en wysheid optree en nie terugdeins van die verantwoordelikheid om dit te doen nie, maak ’n groot verskil, veral waar dit gedoen word in vertroue op die Here. Sela!
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Francois du Toit
Ds Chris kan jy asb lig werp op wie die ware Israel is, die nuwe Jerusalem en die herbou van die tempel. Die boodskap van die boek Ester is baie aktuel gesien wat op die oomblik in Israel en Gaza afspeel en die sterk steun wat Christelike Sionisme en hulle siening dat die vestiging van die staat Israel in 1948 die vervulling van ‘n bybelse profesie is geniet, veral in Amerika.
Is my lees van Galasiers 3 en 6 (en Romeine 11) dat die OT profesiee in Jesus Christus vervul is en die alle gelowiges die nageslag van Abraham en die ware volk van God is? Ingesluit is die gelowige Jode maar nie die hele nasie nie. Verder die “nuwe Jerusalem” is nie gebonde aan n spesifieke geografiese ligging maar verwys na die hele nuwe skepping en die nuwe of millenium tempel nie n nuwe gebou is nie maar gestalte kry in Jesus, die kerk en die gelowiges.
Chris van Wyk
Jy is reg in jou lees van die Bybel. Die ware Israel was nog altyd die gelowiges, in die ou bedeling sowel as in die nuwe bedeling. Blote afstamming gee nie die deurslag in die geestelike lewe nie: “Want nie almal wat uit Israel afkomstig is, is die ware Israel nie.” (Rom 9:6) Gelowiges is kinders van die belofte en nie blote vleeslike kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore word nie, soos die verhaal van Abraham en Sara met Isak bewys (Gen 18:10,14; 21:12). Daaroor het Paulus ook al in Galasiërs 4 geskryf met Sara en Hagar as voorbeelde van hierdie onderskeid. Ook Romeine 10 beklemtoon dat die regte verhouding met God, vir sowel Jode as nie-Jode, slegs deur geloof in Christus moontlik is. In Romeine 11 gee hy sewe perspektiewe om die betekenis daarvan ook vir vandag uit te lê:
Die eerste perspektief is dat God nie die Israeliete verwerp het nie en steeds sorg dat daar ‘n oorblyfsel is wat volhard. Dit is die ongehoorsames wat hulleself uitskakel deur nie in die Here Jesus Christus te glo nie. Hulle het die weg van geloof verwerp (Rom 11:1-6).
Die tweede perspektief is dat daar ‘n onderskeid is tussen die uitverkorenes van Israel en die “res”, want die uitverkorenes glo, en die “res” van Israel verwerp die weg van die geloof (Rom 11:7-10).
Die derde perspektief is dat die Israeliete nie so geval het dat verlossing onmoontlik vir hulle geword het nie. Hulle val het immers verlossing vir nie-Jode beteken. Die nie-Jode kan moontlik op hulle beurt sommige uit die Israeliete tot inkeer kan bring as die Jode agterkom wat dit vir nie-Jode beteken om in die regte verhouding met God te kom (Rom 11:11-12).
Die vierde perspektief is dat Paulus hoop dat die verlossing van nie-Jode sommige Jode sal prikkel om in Christus te glo. Dit sal niks anders wees as lewe uit die dood (Rom 11:13-15)!
Die vyfde perspektief is dat die feit dat nie-Jode gered word deur geloof, en Jode verlore gaan weens ongeloof nie tot selfverheffing aanleiding moet gee nie (Rom 11:16-21).
Paulus gebruik hier die metafore van ‘n baksel deeg en ‘n mak olyfboom om dit te illustreer.
Die eerste gedeelte van die baksel deeg het volgens die wet aan die Here behoort en is aan Hom geoffer (Num 15:17-21; vgl ook die soortgelyke gebruik met die graanoffer: Num 2:14-15). Daardeur is die hele baksel van dié deeg geheilig.
Op soortgelyke wyse het die geloof van die eerste Jode ‘n heiligende invloed op die hele volk, soos dit ook deur die metafoor van die mak olyfboom geïllustreer word. Die wortel heilig die takke.
Dit is waarom die nie-Jode wat tot geloof kom, soos wilde olyftakke ingeënt kan word op die mak olyfboom. Die ongelowige Jode word weer van die mak olyfboom afgebreek weens hulle ongeloof. Die enigste manier om deel van die mak olyfboom te bly, is immers om in geloof te volhard.
Dit beteken egter nie dat gelowige nie-Jode hulle teenoor ongelowige Jode kan verhef nie. As nie-Jode soos wilde olyftakke ingeënt kon word op die mak olyfboom deur geloof, sal dit ook kan gebeur met die mak olyftakke wat deur hulle ongeloof afgebreek is.
Op almal rus die verantwoordelikheid om in geloof te bly, sodat hulle nie uitgebreek word nie. Ontsag teenoor God moet ons verhouding met Hom stempel, nie hooghartigheid teenoor ander nie.
In aansluiting by die vorige perspektief brei Paulus in die sesde perspektief op God se goedheid sowel as sy strengheid (sy “kindness” en sy “harshness”) uit. God is streng met dié wat afvallig word deur ongeloof en goed vir dié wat in geloof in die verhouding met Hom volhard. Almal moet dus in God se “goedheid” bly deur in geloof te volhard (Rom 11:22-24).
Die sewende perspektief lig alle gelowiges in oor die misterie van die verharding wat oor Israel gekom het. Die verharding was sodat die volle getal van die heidene tot geloof kon kom. Daaruit moet nie afgelei word dat God al die Jode verwerp het nie (Rom 11:25-32).
Paulus haal beloftes uit Jesaja en Jeremia aan om sy punt te maak: “Die Redder sal uit Sion kom, en Hy sal die goddeloosheid uit Jakob verwyder. En dit sal my verbond met hulle wees wanneer Ek hulle sondes wegneem.” (Jes 59:20-21; 27:9; Jer 31:33-34)
Die beloftes van vergifnis en reiniging is natuurlik reeds vervul in die kruisdood van die Here Jesus Christus, maar dit bly steeds van krag vir almal uit Israel wat nog tot geloof sal kom, soos dit inderdaad ook vir gelowiges uit die heidene van krag bly: “Op hierdie manier sal die hele Israel verlos word.”
Die gawes en roeping van God is immers onherroeplik. Dit sal tot die voleinding so bly.
Paulus sluit hierdie uiters belangrike boodskap oor die toekoms van die Jode af met sy finale gevolgtrekking:
“God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon.”
Die tempel en die millenium en die nuwe Jerusalem is dus dinge wat met die wederkoms te make het, en nie met die aardse bestel nie.