Esegiël 45-46
God herstel die land, regeerders, offers, feeste en grondbesit
Waar die vorige vier hoofstukke (40-44) gefokus het op die tempel en die wyse waarop dit die hele lewe gaan struktureer, fokus die volgende vier hoofstukke op die land en die wyse waarop die geloofsgemeenskap nie net op ‘n regverdige wyse baat sal vind by die verdeling daarvan nie, maar veral ook sal deel in lewe wat God vir hulle in die hele grondgebied vanuit die tempel sal gee (45-48). Soos Allen sê: “If chaps. 40–48 begin with theological architecture, they end with theological geography.” (Word).
Teks en konteks
Esegiël fokus op ses goed:
Esegiël 45:1-8 – Die verdeling van die land word vanuit die sentrale belang van die heiligdom gedoen. ‘n Stuk grond van 120 km2 word gereserveer in die middel van die land vir die heiligdom van die Here sowel as ‘n gewyde gebied vir die priesters en Leviete waar hulle kan bly. Die regeerder se grond is aan weerskante daarvan geleë van die wesgrens teen die see tot by die oosgrens aan die Jordaan. Let op hoe dit ‘n gelyke deel is as die grondgebied van die ander stamme (hfst. 47-48) en dat die erfreg nie na iemand anders kan gaan nie (46:16-18). Die regeerder mag nie grond gebruik om mense te beloon sodat sy eie mense daardeur benadeel kan word nie. Dit voorkom korrupsie en uitbuiting sowel as onderlinge kompetisie. Die grond van die gewone burgers kan ook op geen manier deur die regeerders afgevat word nie. ‘n Mens hoor hier die verhaal van Nabot weerklink!
Esegiël 45:9-12 – Die regeerders word vermaan om geweld en verdrukking te laat staan en reg te laat geskied in die gemeenskap sowel as om self reg te doen. Dit sluit in dat hulle moet sorg dat die regte maatstawwe in die ekonomie gebruik word.
Esegiël 45:13-17 – Die offergawes moet aan die regeerders gegee word om dit namens hulle tydens die groot feestye, die nuwemaansfeeste en op die sabbatte vir versoening aan te bied. Hierdie offergawes is van ‘n baie kleiner omvang as in die verlede: 1,7% van die koring en gars, 1% van die olie, en 0,5% van die kleinvee, en net uit die waterryke dele van die land. Al die mense in die land moet hierdie offergawes lewer wat die heiligdom en die bedienaars daarvan in stand kan hou.
Esegiël 45:18-46:15 – Die wyse waarop die offers gebring moet word by die feeste word uitgespel. Die sluit ‘n bul vir die jaarlikse Nuwejaarsreiniging van die heiligdom in, interessant genoeg vir onwetende of onkundige sondes. Dit sluit die verskillende offers vir die groter feeste in: bv. die paasfees (45:21) en die loofhuttefees (45:24). Daarby kom ook die gereelde kleiner vieringe: die daaglikse brandoffer, die weeklikse sabbatte, en die maandelikse nuwemaansfeeste. Daar is ook ruimte vir vrywillige offers. ‘n Interessante riglyn is die ordelike deurbeweeg van aanbidders van een poort na die teenoorgestelde poort wat opeenhoping en verwarring sou voorkom, sowel as dat die regeerder as ‘n gewone aanbidder gereken sal word op dié dae!
Esegiël 46:16-18 – Die regeerder mag sy grond net binne sy familie laat vererf. Enige grond wat as ‘n guns of beloning vir iemand gegee word, moet uiteindelik weer terugkom na die familie om seker te maak dat daar geen versoeking is tot onregverdige bevoordeling of kompetisie onderling nie. Die regeerder mag ook nie ander gelowiges se grond afvat nie.
Esegiël 46:19-24 – Die kookplekke vir die priesters en Leviete word aangewys sodat daar ‘n ordelike en gewyde omgang met die onderskeie offers kan wees.
Boodskap en betekenis
Esegiël se visie is vir ‘n bedeling waar die aanbidding van God die sentrale punt van die gemeenskapslewe sal wees. Almal dra op ‘n ordelike en bekostigbare wyse daartoe by. Almal deel op ‘n regverdige wyse in die voordele daarvan. Die geestelike lewe baat dus by die gawes van die gewone lewe. Die gewone lewe baat by die gawes van die geestelike lewe.
God seën dus sy mense sodat hulle self ook tot ‘n seën kan wees. En die wonder gebeur dat uit die oorvloed waarmee God hulle seën, kan hulle die ruimte in stand hou vanwaar God se teenwoordigheid regdeur die lewe ‘n impak kan maak.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Louisa Meyer
Ek staan al hoe meer verwonderd oor die volledigheid van Godse woord en die relevansie van elke gedeelte. Baie dankie.
Chris van Wyk
👍