Bybelskool
https://bybelskool.com/eksodus-627-725-egipte-sal-besef-ek-is-die-here-deur-die-plae-wat-ek-stuur/
Export date: Sun Aug 25 5:30:46 2019 / +0000 GMT

Eksodus 6:27-7:25 – Egipte sal besef Ek is die Here deur die plae wat Ek stuur


Die pas versnel met twee verdere gesprekke wat God eers met Moses alleen het (Eks. 6:27-7:7) en daarna met Moses en Aäron (Eks. 7:8).  God kies ‘n patroon van optrede waarin Aäron op ‘n gelyke vlak met farao in gesprek tree met Moses wat die eintlike gesagspersoon is.  Moses word daarmee amper vergelykbaar met die gode van Egipte.  Hy tree soos ‘n god vir farao op, al is Moses natuurlik nog weer onderworpe aan die Here self, wat geen gelyke het nie!  God se soewereiniteit word daarmee verkondig.  Daarna tree die Here met beide Moses en Aäron in gesprek (Eks. 7:8) waarna hulle die opdrag van die Here in farao se teenwoordigheid uitvoer (Eks. 7:9-13), maar sonder enige verandering aan sy kant.

Dit gee aanleiding tot die eerste van die tien plae wat gemik was daarop om God se gesag teenoor beide farao en die gode van Egipte ten toon te stel as ‘n getuienis aan die latere nageslagte van die Here se soewereine mag oor die wel en wee van al die mense op aarde.

Let op dat die Here herhaal dat Hy die Here is, wat dié gesprek aan al die voriges koppel.  Dit is ook die diepste rede vir die tekens en wonders wat in Egipte gedoen gaan word: “As Ek Egipte tref, sal hulle besef dat Ek die Here is, en dan sal Ek Israel tussen hulle uit laat trek.

Let ook op dat Moses en Aäron presies uitvoer wat die Here hulle beveel.  Dit is die tipe toewyding wat God nie net van leiers vra nie, maar van almal wat deel uitmaak van die Godsvolk.

Ek het reeds iets gesê oor die slang (daar staan nie in die grondteks “groot” nie).  Die Hebreeuse woord kan ook vir krokodil gebruik word en in die lig van Egiptiese towenaars wat soms ook met krokodille in hulle towerkunsies gewerk het, is dit moontlik dat dit eerder ‘n klein krokodil was.

Selfs toe die towenaars se slange/krokodille deur Aäron s'n opgevreet is, het farao egter nie van standpunt verander nie, en geweier om die volk te laat trek.

Dit lei onmiddellik tot die eerste plaag.

Iets in die algemeen oor die plae

Uit die teks is dit duidelik dat die volgende tien plae aangekondig en in werking gestel word as deel van God se bevrydingsaksie:

  1. Water word bloed

  2. Paddas

  3. Muggies

  4. Steekvlieë

  5. Pessiekte

  6. Swere

  7. Hael

  8. Sprinkane

  9. Drie dae duisternis

  10. Eersgeborenes sterf


Daar is duidelik ‘n patroon van drie stelle van drie plae elk met die laaste plaag in ‘n kategorie van sy eie, as ‘n mens die kommunikasie met farao as maatstaf neem.  Met elkeen van die drie stelle word daar met die eerste twee plae in elke stel ‘n waarskuwing aan farao gegee, terwyl die laaste plaag onaangekondig en onverwags gebeur.

  • Farao word gewaarsku met die eerste plaag van die water wat bloed word, sowel as met die tweede plaag van die paddas, maar nie met die derde plaag van die muggies

  • Farao word gewaarsku met die vierde en vyfde plae van die steekvlieë en pessiekte, maar die sesde plaag van die swere kom onaangekondig, hoewel die laaste een in sy teenwoordigheid gebeur.

  • Farao word gewaarsku met die sewende en agste plae van die hael en sprinkane, maar nie met die negende plaag van die drie dae duisternis Hy word wel gewaarsku oor die tiende en laaste plaag, die een waar al die eersgeborenes van die Egiptenare sterf, maar hy het selfs tóé nie na die waarskuwing geluister nie.


Dit is ook interessant dat die eerste stel van drie plae deur Aäron en sy staf (Eks. 7:19; 8:1, 12), die tweede stel van drie plae deur God self in die eerste twee gevalle en die derde deur Moses (Eks. 8:20: 9:6, 10), en die laaste stel van drie plae deur Moses aan die orde gestel word, twee keer met sy staf en die laaste keer daarsonder (Eks. 9:22-23; 10:12-13, 21).  Die laaste plaag word deur God self in werking gestel onafhanklik van Moses en Aäron.

Dit is dus ‘n hoogs gestileerde beskrywing van wat plaasgevind het.

Die versoeking om die plae net natuurlik te verklaar

Die versoeking is daar om die plae te interpreteer as God se manier om natuurlike prosesse in te span om die mag van sy woord ten toon te stel, soos talle geleerdes doen (vgl. bv. Ziony Zevit in sy artikel: “Exodus in the Bible and the Egyptian Plagues.  Can we make sense of the Biblical plagues? 1”).

Die eerste ses plae, sowel as die agste, kan met die Egiptiese ekosisteem verbind word.  Die sewende, en die laaste twee plae pas egter nie in nie.

  1. Die hewige reën wat baie keer in die hooglande van Ethiopië neersak, bring rooi klei deur die Nyl na Egipte (getuienis daarvan kom ook in ‘n Egiptiese teks uit ongeveer 2 050 v.C voor: “Die aanmanings van Ipu-Wer”). Groot hoeveelhede klei in die water laat die visse van suurstofgebrek vrek – die eerste plaag.

  2. Die dooie visse maak die paddas siek wat uit die water vlug na koeler areas in die huise waar hulle egter op hulle beurt vrek – die tweede plaag.

  3. Dit veroorsaak die vermeerdering van muggies – die derde plaag.

  4. Dit veroorsaak ook die vermeerdering van steekvlieë – die vierde plaag.

  5. Die muggies en steekvlieë laat op hulle beurt ‘n pessiekte los onder die vee – die vyfde plaag.

  6. Die pessiekte tref ook mens en dier met swere wat in oop sere oopbars – die sesde plaag.

  7. Haelstorms kom nie baie voor in Egipte nie – die sewende plaag – wat nie lekker in die patroon inpas nie.

  8. Sprinkane kom wel in Egipte voor – die agste plaag.

  9. Die negende plaag – ‘n tasbare duisternis – kan met ‘n stofstorm verbind word, iets wat gereeld van die weste af vanuit die Sahara oor Egipte waai (getuienis daarvan kom ook in ‘n Egiptiese teks uit min of meer dieselfde tyd voor: “Die profesie van Nefer-Rohu”).

  10. Die tiende plaag – die dood van die eersgeborenes – pas glad nie in die patroon in nie.


Die probleem met só ‘n natuurlik verklaring is dat dit dan eintlik geensins ‘n Goddelike teken aan farao sou gewees het nie.  As bv. die kleur van die water slegs uit die hoër voorkoms van klei verklaar kon word, veral omdat dit gereeld gebeur het, sou farao nie vir Moses en Aäron gevra het om van die plae te stop nie, soos hy bv. met die plaag van die paddas en die steekvlieë gedoen het nie.  ‘n Blote natuurlike verklaring kan dan ook nie die feit verklaar dat die plae ophou wanneer Moses tot die Here daaroor bid nie.

Dit is ook duidelik dat farao en sy mense gou agterkom dat dit die “staf van God” was wat die plae gebring het, en dit ook kon staak op sy bevel.  Dit is ook duidelik dat die skaal waarop die plae die land getref het sonder enige vorige vergelykbare gebeure was.  Die plae het tot groot en wydverspreide ellende aanleiding gegee.

Die plae was dus duidelik wondertekens, soos Walter Kaiser sê: “God does use natural features in miracles, but to be miraculous signs they cannot simply coincide with natural phenomena.

Die plae was ‘n oordeel oor die gode van Egipte

Wat wel waar is, is dat die plae ‘n bevestiging was dat God nie net teen die farao en sy mense opgetree het nie, maar ook teen die veelgodedom van Egipte.  Dit sou vir die Egiptenare mettertyd duidelik word dat die God van Moses en Aäron die magteloosheid van hulle eie gode demonstreer.

Trouens, in die verdere nadenke oor wat regtig hier gebeur het, verklaar die skrywer van Numeri dat die plae in Egipte baie spesifiek ‘n oordeel oor die gode van Egipte verteenwoordig het: “Dit is hoe die Here die oordeel oor hulle gode voltrek het.” (Num. 33:4).

Talle van die plae kan daarom met van die gode van Egipte verbind word waarmee hulle onmag ten toon gestel word:

  • Die eerste plaag van bloed kon gemik gewees het teen die god Khnum, wat as skepper van water en die lewe gereken is, of teen Hapi, die god van die Nyl, of teen Osiris, wie se bloedstroom gereken is as die Nyl.

  • Die tweede plaag van paddas kon teen Heket, die godin van die geboorte van kinders, gemik wees wat met die simbool van ‘n padda voorgestel is.

  • Die vyfde plaag teen die vee kon gemik gewees het teen Hathor, die godin van die hemelruim, wat met ‘n koei voorgestel is of teen Apis, die simbool van vrugbaarheid en as ‘n bul voorgestel is.

  • Die sewende en agtste plae, hael en sprinkane, kon teen Seth gemik wees, die god wat van homself in die wind en met storms laat hoor het, of teen Isis, die godin van die lewe, of teen Min wat ook met vrugbaarheid geassosieer was en daarom ‘n beskermer van die plantegroei en hulle oes opgetree het.

  • Die negende plaag van duisternis kon teen verskeie gode gemik wees – Amon-Re, Aten, Atum of Horus – wat almal met die son geassosieer was.

  • Die laaste en tiende plaag van die dood van die eersgeborenes kon teen Osiris, die god wat spesifiek met faroa geassosieer was en ook as die regter van die dood opgetree het, gemik wees. Interessant genoeg is daar ook ‘n ou Egiptiese tradisie wat met die dood van die eersgeborenes van die gode verbind word – onthou farao is ook as ‘n god gereken – soos ‘n mens in die berugte “Kanibaal Gesang” uit ongeveer 2 300 v.C. kan lees, sowel as in variasies daarvan wat op sommige doodskiste uit die era aangebring is.


Die plae is wondertekens van God self

Die plae is dus doodgewoon wondertekens van God wat nie in die eerste plek aan natuurlike gebeure verbind word nie, maar aan sy kragtige ingrype in die verlossing van sy mense waarin die natuur wel ingespan word.  Die plae is wondertekens soos reeds met die eerste tekens wat aan Moses met die aanvang van sy roeping gegee is die geval was: die staf wat in ‘n slang verander, sy hand wat wit van melaatsheid word en dan weer gesond raak, en die water wat op die grond in bloed verander.

Die plae is ook nie net ‘n oordeel oor Egipte nie, maar ‘n manier waarop God Homself bekend gestel het aan die mense van Egipte.  Hulle het telkens die opsie gehad om voor God se gesag te buig, maar farao het daarvoor telkens nee gesê.  Ook Israel moes leer dat die Here God is, en in Eks. 14:31 is dit presies wat beskryf word.  Die plae het hulle geloof in God versterk.

Eerste plaag: water in bloed

Let op dat die water nie net in die Nyl in bloed verander nie, maar in die kanale, riviere, moerasse en damme, selfs in die hout- en klipbakke wat in die mense se huise was.  Dit beteken as sodanig dat ‘n natuurlike verklaring vanuit die water van die Nyl wat verkleur het, nie genoegsaam die wonderteken verklaar nie.

Interessant is dat die towenaars wel dieselfde tipe wonderteken kon doen, maar nie die wonderteken van die Here kon verander of omkeer nie.  Hulle het nie eers probeer nie, want hulle het waarskynlik geweet dit sou onmoontlik wees.  Die wonderteken het sy volle tyd, sewe dae, geduur, voor die volgende plaag die mense van Egipte getref het.

Die leed vir die Egiptenare het hiermee in alle erns begin.  Hulle moes tevrede wees met syferwater waarvoor hulle in gate langs die Nyl gegrawe het.  Maar farao het nie bes gegee nie.  En dit sou die leed van Egipte eksponensieel met elke volgende plaag vermeerder.
Links:
  1. http://www.biblicalarchaeology.org/daily/biblical- topics/exodus/exodus-in-the-bible-and-the-egyptian -plagues/
Post date: 2017-01-30 04:00:34
Post date GMT: 2017-01-30 02:00:34

Post modified date: 2017-01-30 05:49:42
Post modified date GMT: 2017-01-30 03:49:42

Export date: Sun Aug 25 5:30:46 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com