This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Fri Apr 16 8:58:21 2021 / +0000 GMT

Eksodus 37 – Besaleël neem die voortou met die maak van die heilige toebehore van die tabernakel



Dit is duidelik dat Besaleël die voortou geneem het met die meeste van die items wat in die volgende drie hoofstukke beskryf word.  Oholiab word net in hoofstuk 38 genoem, saam met ‘n opmerking oor die ander vakmanne.

Soos ek reeds gesê het, die oorhoofse doel van die Tabernakel is om ‘n heiligdom vir die Here op te rig dat Hy daar tussen sy mense kan woon.  Die Trek met sy Tora vind sy diepste betekenis in die teenwoordigheid van die Here in die Tabernakel.

Hoewel God dus verborge sou wees agter die tentdoek, sodat sy heiligheid nie soos ‘n vuur die onheiligheid van sy volk sal verteer nie, kon Hy met die nodige reinigingsrituele en offers te enige tyd geraadpleeg word.

Ek herinner julle ook weereens aan die nuwe waardering wat dit vir ons gee van die wonderlike werklikheid wat ons in die NT in Jesus Christus te beurt geval het.  Nie net het Jesus gesê: “As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.” (Joh. 14:23).  Met die koms van die Heilige Gees het ons liggame letterlik ‘n tempel geword waar die Heilige Gees sy intrek geneem het: “Of besef julle nie dat julle liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.” (1 Kor. 6:19-20).

Netsoos die Israeliete het ons dus die woorde van God wat ons ter harte moet neem.  En die opdrag om heilig te lewe sodat ons die wonder van God se teenwoordigheid na waarde kan geniet en Hom met ons hele wese kan verheerlik.

Die maak van die ark van die verbond – Eks. 37:1-9

Die instruksies vir die maak van die ark van die verbond is gegee in Eks. 25:10-22. Binne die verbondsark moes die “getuienis van die verbond” – die kliptafels met die wet wat nou vir ‘n tweede keer deur God geskryf is – kom wat die duidelike boodskap gee dat alle raad wat God aan die volk sou gee, begrond sou word op die Tien Gebooie.  Die twee gerubs was ‘n simbool van God se heerlike teenwoordigheid en heerskappy.

Die maak van die tafel vir die offerbrood – Eks. 37:10-16                 

Die instruksies vir die maak van die tafel vir die offerbrood is in Eks. 25:23-30 gegee.  Die feit dat dit só altyd in God se teenwoordigheid sou wees, sou beteken dat al die offers sy aandag sou geniet en die verhouding met sy mense sou versterk.

Die maak van die kandelaar – Eks. 37:17-24          

Die instruksies vir die maak van die kandelaar is in Eks. 25:31-40 gegee.  Dit het die betekenis aan die volk oorgedra dat die Here nie slaap of sluimer nie, maar altyd as hulle Beskermer sou optree.

Die maak van die wierookaltaar – Eks. 37:25-28 

Die instruksies vir die maak van die wierookaltaar is in Eks. 30:1-10 gegee.  Dit was ‘n besondere gewyde item in die Heiligste deel van die Tabernakel.  Die wierookaltaar was ‘n voorafskaduwing van die gebede van die heiliges in die NT wat met lof, geregtigheid en oordeel te make het, soos dit deur die voorbidding van die Heilige Gees (Rom. 8:26-28) en die Here Jesus Christus self versterk en uitgevoer word (Hebr. 9:24).

 

 


Post date: 2017-03-27 04:02:38
Post date GMT: 2017-03-27 02:02:38
Post modified date: 2017-03-27 05:06:45
Post modified date GMT: 2017-03-27 03:06:45

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com