This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Wed Jun 16 16:14:31 2021 / +0000 GMT

Eksodus 32 – Die tragedie van die goue bulkalf en die toorn van Jahwe



Die episode van die goue bulkalf staan vir altyd as ‘n herinnering aan die eerste en grootste versoeking vir die Godsvolk om ander gode náás Jahwe te aanbid, om God op hulle eie terme te aanbid en nie op Syne nie.  Die gevolge daarvan kan altyd in die moreel-etiese konsekwensies gesien word.  Waar ander of eensydige “prentjies” van God as verklaring vir Hom gebruik word, kan sy wil vir die lewe (die Tora) geïgnoreer word soos ons hier in die onvermydelike “losbandigheid” van die volk kan sien, die tweede grootste versoeking vir die Godsvolk.

Jou Godsbeeld bepaal jou mensbeeld.  Waar jy sekere aspekte van God bo ander verhoog, bv. die klem vandag op God se genade en insluiting, sal jy geneig wees om sonde oor te sien en sondige praktyke goed te keur, dinge wat deur ander aspekte van ‘n Bybelse Godsbeeld aangespreek word, bv. God se toorn en verkiesing.  God se genade maak net sin in die lig van sy toorn, soos Romeine 1-3 so helder uitlê.  God se insluiting maak net sin in die lig van die verkiesing, soos Romeine 9-11 so helder uitlê.

Lees dus hierdie gedeelte met groot aandag, omdat hier fundamentele aspekte van ons Godsverhouding neergelê word.  Die tragedie van die goue bulkalf – Eks. 32:1-6 – word opgevolg deur die toorn van God – Eks. 32:7-14.  Dit is alleen wanneer ‘n mens dít goed begryp dat jy die triomf van die genade en vergifnis van God – Eks. 32:15-35 kan raaksien in die gedeelte: “Toe het die Here daarvan afgesien om die ramp waarvan Hy gepraat het, oor sy volk te bring.

Die tragedie van die goue bulkalf – Eks. 32:1-6

Die volk se probleem was nie met Moses se leierskap nie, maar met sy afwesigheid.  Hulle het gekies om nie self met God te kommunikeer nie, al het Hy hulle daardie opsie gegee, en al het hulle die Tien Gebooie aanvanklik direk en gesamentlik hoorbaar ontvang.  Hulle wou eerder deur Moses werk ... en nou is Moses afwesig.  Hulle herinnering aan God se stem het vervaag.  Iets moes in die plek daarvan kom.

Hulle konfronteer daarom vir Aäron met die duidelike opdrag: “Staan op en maak vir ons gode wat voor ons uit kan gaan.”  Let op die meervoud.  Dit is nie enkelvoud soos die NAV dit vertaal nie. Die werkwoord wat met “gode” verbind word, is ook in die meervoud wat dit duidelik maak dat hulle hier “gode” wil hê, nie net 'n “god” nie.  Daarmee oortree hulle alreeds die eerste en tweede gebod (geen afgode en geen afgodsbeelde nie).

Vir die Israeliete was dit egter ‘n logiese stap om by die veelgodery van die kulture van hulle tyd aansluiting te vind, maar terselfdertyd Jahwe as die God van die gode te aanbid.  Hulle het gedink dat hulle Hom só kan eer, maar in werklikheid het hulle Jahwe se uniekheid en onvergelyklikheid in gedrang gebring.  Die Skeppergod kan nie deur enigiets in die skepping voorgestel word, selfs nie deur die mens wat Hy uitgekies het as sy verteenwoordigers nie.

Met die goue oorringe van die vroue en die mans maak Aäron toe ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf, ‘n heel algemene voorstelling wat vir gode van daardie tyd gebruik is, bv. die Egiptiese Apis en die Kanaänitiese Baäl.

Let op hoe die volk dié beeld met God self vereenselwig: “Hier is jou gode wat jou uit Egipte bevry het, Israel!”  Let weereens op die meervoud, anders as in die NAV.  Let ook op dat hierdie “gode” verbind word aan die bevryding uit Egipte, iets wat hulle geweet het van Jahwe af kom.  Hulle distansieer hulle dus nie heeltemal van Jahwe af nie, maar vereer Hom saam met die afgod wat Aäron vir hulle gebou het.

Dit is die begin van die sinkretisme van die volk van Israel waarmee hulle vir eeue gesukkel het tot by die ballingskap.  Sinkretisme is die gesamentlike aanbidding van meer as een god.  Hulle los dus nie volledig die Jahwe aanbidding nie, maar dien saam met Hom ook die “gode” wat hulle self gemaak het.

Met die skeuring van die ryk van Salomo lees ons dat Jerobeam in die Noord-ryk terugkeer na hierdie tradisie van die goue kalf en in oorleg met sy raadgewers twee goue kalwerbeelde laat maak het. Die een was bedoel vir Bet-El (verbind met Jakob aan die suidelike grens tussen Benjamin en Efraim) en die ander vir Dan (noordelike grens).  Hulle het selfs ‘n “reis” agter die beeld aan na Dan onderneem, moontlik as ‘n simboliese aktualisering van die woestyntyd, kan jy nou meer!  (1 Kon. 12:26-33).

Die profeet Amos het skerp teen hierdie afvalligheid deur afgodediens by hierdie heiligdomme in opstand gekom (Am. 5:5; 7:13), soos ook Hosea (Hos. 10:15).  Hierdie afvalligheid lei uiteindelik tot die eerste ballingskap waarin die Assiriërs die Noord-ryk weggevoer het.  Dit het die einde van die tien noordelike stamme beteken, behalwe vir ‘n paar mense wat by die Suid-ryk aangesluit het in koning Hiskia se tyd.

Die profeet Jeremia het die volk van die Suid-ryk ook konstant gewaarsku teen dieselfde tipe oortredings wat by Bet-El gepleeg is (Jer. 48:13), wat interessant genoeg nie die ballingskap van die Suid-ryk kon verhoed nie, maar tog gelei het daartoe dat ná die ballingskap die Suid-ryk uiteindelik van die sinkretisme van die vorige millennium genees is.  ‘n Mens hoor nooit weer daarvan ná die ballingskap nie.

Aäron bevestig die idee van sinkretisme deurdat hy ‘n altaar voor die beeld bou en afkondig: “Môre is daar fees tot eer van die Here (Jahwe).”  Daarmee oortree hy ook die derde gebod deur God se Naam in gedrang te bring.  Die beeld word dus geassosieer met Jahwe en saam met Hom aanbid en sy Naam ontheilig.  En dit is presies wat sinkretisme so ‘n destruktiewe sonde maak.  Nie net word afgode as “gode” náás Jahwe aanbid nie, nie net word sy Naam ontheilig nie, maar skuif die volk se moreel-etiese gedrag op die ou end van ‘n gehoorsaamheid aan die duidelike openbaring van die wet wat hierdie unieke Jahwe gegee het, na ‘n eie-gemaakte godsdiens waar die gehoorsaamheid aan die wet gesystap kan word, of ten minste gerelativeer kan word aan die hand van die idees van die “ander gode”.

Geen wonder dat die volk dus in hulle feesviering “losbandig” (ṣǎ·ḥēq – “speel” met seksuele betekenis soos Isak en Rebekka in Gen. 26:8, en in die beskuldiging van Josef deur Potifar se vrou in Gen. 39:14,17) begin te kere gaan het nie, ‘n oortreding van die sewende gebod (egbreuk en alle verwante sondes wat die huwelik in gedrang bring).  Dit was immers aanvaarbaar vir die afgodskulture van hulle tyd.

Dit leer ons dat afgodery en losbandigheid altyd saamgaan, omdat waar God saam met ander “prentjies” van Hom aanbid word, hoe aanvaarbaar dit ook al vir die kulture is waarbinne die Godsvolk lewe, sy wil vir die lewe ook altyd geïgnoreer sal word.

Die toorn van God – Eks. 32:7-14

Die sonde van die volk gaan egter nie ongesiens by die Here verby nie.  Let op hoe die Here Hom distansieer van die volk deur Moses in te lig dat “jou volk” iets vreesliks gedoen het en die pad verlaat het wat God vir hulle aangewys het deur die Tien Gebooie.

God se reaksie op die afvalligheid van sy volk is dat sy toorn ontvlam oor die opstandigheid van die volk.  Hy wou hulle nou vernietig en eerder met Moses ‘n nuwe nasie begin.  God wil selfs nie hê dat Moses Hom moet keer nie.

Moses se eerste reaksie op die afvalligheid van sy volk was om by die Here te pleit om nie in sy toorn die volk heeltemal te vernietig nie.  Hy vra dat die Here aan die een kant sal dink aan die effek op die nasies wat God van boosheid sou kon beskuldig.  Hy vra aan die ander kant dat die Here die volk genadig sal wees op grond van die beloftes wat Hy aan die aartsvaders gegee het dat hulle ‘n groot nasie sal word in die beloofde land.

Die Here se reaksie op Moses se pleitrede is om af te sien van die ramp van totale vernietiging waarvan Hy gepraat het, hoewel dit nog net die begin was van sy reaksie.

Die triomf van die vergifnis en genade van God – Eks. 32:14-35

Moses se tweede reaksie op die afvalligheid van die volk was om in woede te reageer.  Die twee plat klippe wat weerskante met die Tien Gebooie beskryf is moes dit ontgeld, sowel as die kalf wat tot fyn stof gemaal en in die water gegooi is vir die volk om te drink.

Moses se derde reaksie was om Aäron ernstig aan te spreek oor die groot sonde waartoe hy die volk laat begaan het.  Aäron verontskuldig homself deur die volk te beskuldig en te maak asof die bulkalf amper magies uit die vuur te voorskyn gekom het!

Moses se vierde reaksie was om dié wat “vir die Here is” na hom toe te laat kom en die doodstraf uit te deel deur die Leviete ongeag of dit familie, vriende of bure is.  Die Leviete het rondom hom kom staan wat impliseer dat hulle nie deelgeneem het aan die feesvieringe nie en sy bevel uitgevoer.  Almal wat deelgeneem het aan die verbreking van die gebooie, waarskynlik veral die leiers, is met die swaard doodgemaak.  Dit het die godsdienstige funksie van die Leviete bevestig, omdat hulle onpartydig vir die Here opgetree het.

Moses se vyfde reaksie was om die volk aan te spreek oor hulle ernstige sonde en sy voorneme om vir hulle in te tree bekend te maak: “Miskien kry ek by Hom vir julle vergifnis vir julle sonde.

Moses se sesde reaksie op die afvalligheid van die volk was om die Here namens die volk om vergifnis te smeek en homself as ‘n offer in hulle plek aan te bied: “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het.”  Die feit dat die Here van die ramp van totale uitwissing afgesien het, het nog nie die verhouding tussen die volk en Hom herstel nie.

Die Here se reaksie op dié smeking was ‘n baie terughoudende een waarin ‘n mens agterkom dat sonde regtig ‘n destruktiewe mag is wat nie deur ‘n eenvoudige proses ter syde gestel kan word nie.  Dit deurbreek die verhouding met God en verduister sy teenwoordigheid by sy mense.  Hy is nie bereid om Moses se aanbod te aanvaar nie, maar gee hom tog die opdrag om die roeping wat die Here vir hom gegee het, verder uit te voer.

Let op hoe die Here steeds rekenskap van die volk wil eis, dat Hy hulle steeds nog wil straf vir hulle sonde.  In die volgende hoofstuk sal Hy bekend maak dat Hy later sal besluit wat Hy met hulle sal doen, al oortuig Moses Hom tog om uiteindelik sy intrek in die Tabernakel te neem by die voltooiing daarvan in hoofstuk 40.  En ons weet dat uiteindelik die volk nie bereid was om die Here te volg in die beloofde land in nie, en hierdie geslag in die woestyn dood is.

Soos Psalm 106 die tragiese ironie uitspel: “By Horeb het hulle 'n kalf gemaak, voor 'n god van metaal gekniel. Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van 'n bees wat gras vreet. So het hulle vir God, hulle redder, vergeet.” (Ps. 106:19-21 – vgl. my bydrae: Psalm 106 – Verlos ons, Here ons God!).

Die feit dat God genade bewys, moet ‘n mens nooit verlei om te dink dat die sonde nie ‘n ernstige verbreking van die Godsverhouding is nie.  Selfs wanneer God sy genade bewys, soos hier, laat Hy nooit sy aandrang op gehoorsaamheid aan sy geopenbaarde wil vaar nie, want dit bly die weg na die lewe.  Sy genade is altyd die ruimte wat Hy skep waarin ‘n nuwe verhouding met Hom en met die geloofsgemeenskap kan begin en floreer.

Die volk het hier die genadige ruimte gekry dat God bereid was om ‘n verdere pad met hulle te stap, maar op die lang duur sou hulle voortdurende koppigheid die genade dwarsboom.

Moses sou later net voor die Intog terugdink oor hierdie afvalligheid van die volk en die nuwe geslag sterk aanspreek om te leer uit die lesse van die verlede en te kies om die Here te gehoorsaam (Deut. 9:1-29).  “Moenie vergeet hoe julle die Here julle God kwaad gemaak het in die woestyn nie.”  Hy lig daar ook die sluier oor die volhardende intersessie wat dit van hom geverg het om die Here van sy toorn oor hulle te laat afsien.  Die genade wat die Here in antwoord op gebed bewys, moet ons dus altyd tot gehoorsaamheid en vertroue inspireer, sodat die genade nie tevergeefs is nie.

 

 


Post date: 2017-03-23 04:00:07
Post date GMT: 2017-03-23 02:00:07
Post modified date: 2017-03-23 05:40:53
Post modified date GMT: 2017-03-23 03:40:53

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com