This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export date: Sat Jul 24 10:28:00 2021 / +0000 GMT

Eksodus 28 – Die priesters se klere dra die boodskap van gesag en toewyding



Volgende aan die beurt is die instruksies aan Moses om sy broer Aäron en sy seuns, Nadab, Abihu, Eleasar en Itamar aan te stel om die Here as priesters te dien.  God se roeping van dié familie moet dus bevestig word deur die formele aanstelling soos ons in Eksodus 39:1-31 sal lees.  Die instruksies fokus veral op die uiterlike reiniging en kleredrag wat in die diens van die Here nodig sou wees.

Die feit dat dieselfde tipe kosbare materiaal voorgeskryf word vir die klere as wat in die bou van die tabernakel gebruik sou word, dra die boodskap dat die priesters se hele lewe gestempel word deur die heiligheid wat aan God se woonplek op aarde verbind word.  Hulle gesag lê in God se roeping en in die toewyding aan sy instruksies vir die lewe.

Dit is verder opmerklik hoeveel simboliek daar in die detail van die klere en toebehore aanwesig is, onder andere deur die verbande wat gelê word met ander dele van die Skrif in die detail van bv. die edelgesteentes en die blom op die tulband van Aäron.  Dit stimuleer ‘n mens se verbeelding as ‘n mens agterkom dat bv. die edelgesteentes wat hier gebruik word beide aan die onskuld van die tuin van Eden sowel as aan die herstelde skepping van die nuwe Jerusalem herinner.  Só ook die blom op die tulband van Aäron wat aan die genade van die NT Hoëpriester, Jesus Christus, herinner.  Nie dat al dié verbande op hierdie stadium al toeganklik vir die Israeliete was nie, maar mettertyd in die loop van die heilsgeskiedenis wel dié betekenisse vir ons gekry het.

Daar is agt kledingstukke en toebehore wat beskryf word:

Borssak

Die borssak is geweef van gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne waarop vier rye edelgesteentes in goud gemonteer is: karneool (rooi kornalyn – BDV), topaas, smarag, turkoois (malagiet – BDV), saffier, jaspis (akwamaryn – BDV), hiasint (barnsteen – BDV), agaat, ametis, chrisoliet, oniks, opaal (jaspis – BDV), een vir elke stam van Israel.  Die borssak is gebruik in regsake en simbolies gedra net bó die hart van Aäron.

Daarom is die urim en tummim daarbinne gehou wat op een of ander manier ‘n “ja” of “nee” boodskap gedra het (vgl. Num. 27:21; Deut. 33:8; 1 Sam. 14:41 (LXX); 28:6).  Dit was in gebruik tot ná die ballingskap (Esra 2:63; Neh. 7:65).  Sommige dink die stene het gegloei na gelang van die antwoord, veral omdat dit soms geen beslissing opgelewer het nie (1 Sam. 28:6).  Ander dink dat dit twee verskillende kleure gehad het wat ‘n “ja” of “nee” antwoord verteenwoordig het.  Dit word egter nêrens presies beskryf nie, so die gebruik daarvan bly onseker vir ons.

Ses van die edelgesteentes wat hier genoem word (karneool, topaas, chrisoliet, opaal, saffier, smarag) kom ooreen met die innemende beskrywing van die fondamente van die stad van God in Openbaring.  Daar word ook ses ander genoem (agaat, sardoniks, beril, chrisopaas, hiasint, ametis) wat die twaalf fondamente van die muur van die stad vorm.  Dié fondamente stel die twaalf apostels van die Here Jesus se werk voor wat ingetrek is in die herskepping van die nuwe hemel en aarde (Openb. 21:14 – vgl. my bydrae: Openbaring 21 – God skep hemel op aarde vir sy volk, die Nuwe Jerusalem), ‘n soortgelyke metafoor as dié van die twaalf aartsvaders wat op die borssak aangebring is, die “fondament” van die Godsvolk van die OT.  God se verbintenis met sy geroepenes word daarmee gesimboliseer sowel as die feit dat Hy hulle getuienis gebruik het in die oprigting van die Godstad.

Al nege van die edelgesteentes wat in Esegiël 28:13 genoem word (karneool, topaas, chrisoliet, opaal, saffier, smarag, jaspis, oniks, en turkoois), kom ooreen met die edelgesteentes wat hier in Eksodus genoem.  Net hiasint, agaat en ametis word nie daar genoem nie.  In Esegiël word dié edelgesteentes as ‘n simbool van die heerlikheid van God se tuin Eden gebruik (in ‘n profesie téén die koning van Tirus, Etbaäl III – vgl. my bydrae: Esegiël 26:1-28:24 – ‘n Woord teen Tirus en Sidon – 586 v.C.).

Die onskuld van die bestaan in die paradys word daarmee deel van ‘n mens se verbeeldingsvlug dat die edelgesteentes in Eksodus ook die versugting na die sondelose staat in die tuin van Eden voorstel.  Die Here word dus nie net herinner aan die name van die aartsvaders deur die edelgesteentes nie, maar ook aan die herstel wat nodig is om die geloofsgemeenskap in ‘n onafgebroke verhouding met Hom te bring, iets wat natuurlik in die Openbaring van Johannes verder geneem word.

Skouerkleed (efod)

Die skouerkleed of efod is ook geweef van gouddraad en blou, pers en bloedrooi wolstof en linne, met ‘n gordel van dieselfde materiaal, waaraan twee bande vasgewerk is waarop twee oniksstene vasgemaak is waarop die twaalf name van die stamvaders gegraveer was.  Die skouerkleed het die Here aan die stamvaders herinner.

Mantel

Die mantel is geweef van blou wolstof met aan die soom granaatjies van blou, pers en bloedrooi wolstof gemaak wat met goue klokkies afgewissel is.  Aäron moes dit dra wanneer hy in die heiligdom in- en uitgaan om sy bewegings aan te kondig.

Tulband

Die tulband is geweef van fyn linne.

Blom op die tulband

Op die tulband was ‘n goue blom waarop die woorde: “Aan die Here gewy”, gegraveer was.  Dit het die boodskap gedra dat God se genade genoeg was vir die skuld van die volk.  “He'll take on any guilt involved in the sacred offerings that the Israelites consecrate, no matter what they bring. It will always be on Aaron's forehead so that the offerings will be acceptable before GOD.” (Peterson, The Message).

Dit laat ‘n mens onmiddellik dink aan die genade van ons Here Jesus Christus, die Hoëpriester by uitnemendheid van die NT, soos Hebreërs so uitvoerig betoog.  Dit is immers deur Hom wat die oorvloedige genade van God aan ons verskyn het: “Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie.” (Hebr. 9:11).

Soos Johannes sê: “Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (Joh. 1:16-17).

En soos Paulus so roerend betoog: “Deur Hom het ons in die geloof ook die vrye toegang verkry tot hierdie genade waarin ons nou vasstaan.” (Rom. 5:2).

Geweefde priesterklere

Die res van die priesterklere is geweef van fyn linne met ‘n gordel.

Serp en kopdoeke

Elkeen het ook ‘n serp en kopdoek gekry wat geweef is van fyn linne.

Linnebroeke

Elkeen het ook ‘n halfmas “onder”-broek van fyn linne gekry wat tot by die bobene gestrek het.

Die priesterlike klere het dus aan die een kant hulle gesag gesimboliseer in die roeping wat die Here hulle gegee het om in sy diens te staan namens en in die plek van die volk.  Aan die ander kant het die ooreenkoms van die materiale met dié van die tabernakel die boodskap gedra dat hulle net afgeleide gesag het.  Hulle het die Here self by die volk verteenwoordig.  “In sum, every article of the sacral vestments made the same point, each with its own specific accent: Yahweh is here, we are his, and we must both know this and show this.” (Durham, Exodus).

 

 


Post date: 2017-03-18 04:00:34
Post date GMT: 2017-03-18 02:00:34
Post modified date: 2017-03-18 06:41:47
Post modified date GMT: 2017-03-18 04:41:47

Powered by [ Universal Post Manager ] plugin. MS Word saving format developed by gVectors Team www.gVectors.com