Bybelskool
https://bybelskool.com/efesiers-31-21-god-vervul-ons-met-krag-geloof-liefde-insig-ervaring-en-sy-volheid/
Export date: Sun Apr 21 7:11:23 2019 / +0000 GMT

Efesiërs 3:1-21 – God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en Sy volheid


In hoofstuk 2 het ons drie van Paulus se vier gevolgtrekkings oor die kerk gelees, wat voortvloei uit die baie belangrike stelling oor die kerk in hoofstuk 1:22-23: dat God Jesus oor alles in hemel en aarde aangestel het, en dat die kerk sy liggaam is: “die volheid van Hom wat alles in almal vervul”.
Ons lees vandag die vierde gevolgtrekking: “Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus” in 3:1-13, waarna ons een van die mooiste gebede in die Bybel – 3:14-21 – sal lees, waarin Paulus vra dat die hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet. RUS
  • Raak bewus van jou diepste behoeftes.
  • Gee dit in gebed aan God.
HOOR
  • Lees die Skrifgedeelte.
  • Dink na oor wat jou daarin tref.
  • Lees my paar verhelderende opmerkings.
Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – 3:1-13 Let op dat Paulus die gelowiges uit die heidene nie net bemoedig van vers 2 af nie, maar dit in ‘n konteks van ‘n gebed doen: “Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie ...”.  Dit is vanuit sy perspektief op wie God is en wat Hy doen, dat Hy die boodskap van insluiting bring.  Hy wil hulle dus aanmoedig om nie te luister na mense wat moontlik ‘n ander boodskap aan hulle bring, dat hulle tweedehandse burgers van die koninkryk, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie. Die geheimenis wat aan Paulus openbaar is, is die goeie boodskap wat hy aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel word van die Godsvolk.  Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef.  Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (3:9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word. Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie.  Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou.  Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand 21:27-29).  Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was.  Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien. Mag Christus in julle harte woon, gewortel en gegrondves in die liefde – 3:14-21 Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word.  Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tusen hulle gesmee het, te handhaaf.  Hier is sy fokus egter om dit van God te vra. Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges praat.  Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken.  Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde.  Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21. En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het.  Hy spel dit in ses  bedes uit:
  • Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  • Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  • Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  • Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in.  Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit.  Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die  breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  • Maar insig is nog nie alles nie!  In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, dws dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  • En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in 1:23.
En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer!  Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid. LEEF
  • Wat is die Here besig om jou te leer?
  • Sluit met gebed af – en gebruik miskien vir 'n week hierdie ses bedes as die struktuur van jou gebede: bid vir krag, geloof, liefde, insig, ervaring en volheid – nie net vir jouself nie, maar vir almal wat jou pad kruis.
Post date: 2012-02-06 00:00:03
Post date GMT: 2012-02-05 22:00:03

Post modified date: 2012-02-06 00:00:03
Post modified date GMT: 2012-02-05 22:00:03

Export date: Sun Apr 21 7:11:23 2019 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com