Efesiërs 3:1-12 – Ons het deur geloof vrymoedige toegang tot God
30 Desember

Efesiërs 3:1-12 – Ons het deur geloof vrymoedige toegang tot God
1Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene. 2Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. 3Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. 4Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. 5Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is nie, 6naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. 7Van dié evangelie het ek ‘n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. 8Aan my, minder as die geringste van al die heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, 9en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. 10Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, 11ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here. 12In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, ‘n seker en vrymoedige toegang tot God. 13Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek.
Paulus gaan verder om in hoofstuk 3 al die gelowiges uit die heidene te bemoedig dat hulle nie tweedehandse burgers van die koninkryk is, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie. Hulle deel dus in al die seëninge van God wat daar in Christus Jesus en deur die werk van die Heilige Gees is. Dit is die goeie boodskap wat hy nou aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel van die Godsvolk word. Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef. Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (vers 9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word (vers 10).
Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie. Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou. Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand 21:27-29). Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was. Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat dit in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien.
Die hart van sy boodskap aan hulle is daarom die belofte dat hulle deur hulle geloof in Jesus ‘n seker en vrymoedige toegang het tot God (vers 12). Hulle is deel van die binnekring! Hulle kan daarom met vrymoedigheid tot God nader in gebed en Hom vertrou om nie net na hulle te luister nie, maar om hulle lewens met sy genade en liefde vol te maak. En om deur hulle aan die wêreld, selfs aan die magte, te wys dat hulle deur Hom uitgekies is om deel van die liggaam van Christus te wees.
Lees meer: https://bybelskool.com/efesiers-31-21-god-vervul-ons-met-krag-geloof-liefde-insig-ervaring-en-sy-volheid/
Carel Smith
Chris, dankie vir jou getroue uitleg van ons Here se lewende evangelie! Dit is vir so baie mense ‘n kragtige bemoediging!
Chris van Wyk
Dankie Carel, ek eer jou kameraadskap in die Here!
Retha Roux
Baie dankie Chris. Ons behandel reeds in Bybelstudie Efesiërs en môre is dit Hoofstuk 3.
Baie dankie vir die mooi samevatting en verstaanbare uiteensetting van elke hoofstuk.
Ek is baie bevoorreg om al baie jare reeds deel van die epos afdeling van jou leringe te kan wees.
Seënbede
Chris van Wyk
Dit bly my voorreg, Retha. Geniet!