Bybelskool
https://bybelskool.com/eenvoudige-luistersiklus/
Export date: Fri Apr 16 7:50:07 2021 / +0000 GMT

Eenvoudige luistersiklus


Kies vir jou 'n teks of 'n Bybelboek wat jy gaan gebruik. Dit is beter om 'n korter gedeelte te gebruik of ten minste net op 'n vers of selfs frase te fokus uit die gedeelte wat jy lees. Dit sal ook goed wees as jy op een gedeelte fokus vir die hele twee weke. Deur elke dag vir twee weke lank op een gedeelte te fokus, sal jou 'n diep begrip gee van wat God daarmee in jou lewe wil doen.

Ek gee vir jou Psalm 27 aan die onderkant van hierdie bydrae, asook veertien beloftes uit die Bybel, afhangende van jou keuse. Jy kan natuurlik enige gedeelte gebruik.

Gebruik dan die vyf stappe van hierdie eenvoudige weergawe van die geestelike lees wat op die luistersiklus van die Seisoen van Luister gebaseer is.

1. OPENINGSGEBED

U nooi my uit en ek kom nou opnuut by U rus. U praat met my en ek is oop om U weer te hoor.

2. RUS

Raak bewus van jou diepste behoeftes.  Dit kan 'n vraag, 'n behoefte, 'n seer, 'n dankbaarheid ... wees.  Gee dit in gebed aan God.

3. LEES

Lees 'n Skrifgedeelte, hardop indien moontlik.  Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl jy lees.  Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou? Soms hou dit verband met jou behoeftes.  Soms is dit nuwe gedagtes wat God jou gee.

4. LUISTER

Kies een gedagte om oor na te dink.   Wat beteken dit prakties vir jou?  Watter moontlikhede maak God vir jou oop?

5. LEEF

Wat lê die Here nou op jou hart?  Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar of ontgin?  Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af, bv: "U roep en stuur my en ek sal nuut leef." Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.

Psalm 27


Die Here my lig en my heil!
 'N PSALM van Dawid.
1Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?

2As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.

3Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

4Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

5Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op 'n rots.

6En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.

7Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.

8Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!

9Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!

10Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.

11Here, leer my u weg en lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande.

12Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.

13o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … .

14Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!

Jy kan my kommentaar by Bybelskool op die Psalm hier bereik. 1

14 Beloftes van die Here



  • Dag 1: "Hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Korintiërs 1:20).

  • Dag 2:As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Johannes 15:7).

  • Dag 3: "Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde.” (Hand 21:8).

  • Dag 4: "My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus." (Filippense 4:19).

  • Dag 5: "Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.” (1 Konings 8:54-61)

  • Dag 6:As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14).

  • Dag 7: "Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spreuke 3:6).

  • Dag 8: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33).

  • Dag 9:En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).

  • Dag 10:Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” (Psalm 130:5-6).

  • Dag 11: "U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.” (Psalm 5:4).

  • Dag 12:Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge in die hart van die see wankel nie; sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim, berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela” (Psalm 46:2-4).

  • Dag 13:Ja, 'n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” (Psalm 84:12).

  • Dag 14:Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagliedere van Jeremia 3:25-26).

Links:
  1. https://bybelskool.com/psalm-27-31-vertrou-god-wee s-sterk-en-vol-moed/
Post date: 2018-06-14 14:49:37
Post date GMT: 2018-06-14 12:49:37

Post modified date: 2018-06-14 16:45:34
Post modified date GMT: 2018-06-14 14:45:34

Export date: Fri Apr 16 7:50:07 2021 / +0000 GMT
This page was exported from Bybelskool [ https://bybelskool.com ]
Export of Post and Page has been powered by [ Universal Post Manager ] plugin from www.ProfProjects.com